Sunday, February 15, 2015

'n Christen in Suid-Afrika



Niemand sal stry dat ons ons in ‘n baie uitdagende tyd in Suid-Afrika bevind nie. Die vraag is: wat van hier af verder? Hoe kies ons om te reageer? Natuurlik gaan ons nie almal presies dieselfde reageer nie, want ons is almal anders, maar ek dink vir ons, wat sê dat ons gelowiges is, is dit baie belangrik om te vra in watter rigting gaan ons God toelaat om ons te lei. en daardie rigting glo ek wys die Evangelie vir ons redelik duidelik.

Wanneer jy hier lees wil ek vra dat jy sal bewus wees van jou ego, dat jy sal probeer oop en ontvanklik wees vir die stem van God se Gees en sal bewus wees van die moontlike hardheid van jou eie hart. Moenie te gretig met my saamstem nie. Moet ook nie te gretig van my verskil nie. Luister net.
Ek sou baie tekste kon kies om by te gaan stilstaan om ons te help om te onderskei in watter rigting God ons roep, maar ek kies intensioneel hierdie spesifieke tekste.

Neem jou kruis op
Die eerste teks nooi ons om elke dag ons kruis op te neem.
Lukas 9: 23 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, 24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou”.
Dis maklik om te sê verloën jouself, neem elke dag jou kruis op, sterf aan jouself en volg vir Jesus. Maar ek dink nie ons het enige idee wat Hy van ons vra nie.Wat vra dit van ons as Christene in 2015 in Suid-Afrika?

Sou dit dalk vra dat wanneer ‘n golf van moedeloosheid en negatiwiteit en hooploosheid my weer wil  tref, elke oggend van voor af kies om nie daaraan toe te gee nie?

Sou dit dalk vra dat ek finaal vir myself sê: Ek woon in Afrika. Elke keer as my hart klop is dit die son en stof en plattelandse vlaktes wat deur my hart vloei en nie die sneeu en papawers en katedrale van Europa waarna baie van ons nog steeds genieties smag nie?

Sou dit dalk vra dat ek my rassisme en haatspraak en bitterheid elke dag op die altaar te sit en oor en oor opoffer en prysgee?

Hier moet ons baie mooi onderskei tussen krtiek en rassisme en haatspraak. Ek is geweldig krities oor baie dinge in ons land en ek dink ook ons moet wees. Dis deel van ons taak om op te staan en te praat as dinge nie reg is nie. Maar ongelukkig verwar baie mense net te maklik kritiek met rassisme en haatspraak. Dis nie dieselfde ding nie. Verder kan kritiek ook maklik verander in verdoemende en hooplose taal en daarvan moet ons baie bewus wees. Kritiek is soos sout: dit kan maklik die kos bederf, terwyl dit eintlik veronderstel was om dit beter te maak.

Vers 24 van Lukas 9 sê as jy krampagtig aan jou idee van lewe gaan vasklou verloor jy die lewe, want jou krampagtige poging druk die potensiaal van lewe dood in elke verband van jou lewe. Maar as jy bereid is om hierdie diepgewortelde goed prys te gee, te laat sterf, elke dag jou kruis van voor af op te neem daaroor, kom daar moontlikheid vir lewe.

‘n Mens kan ons gelukkig nie ‘n Christen en ‘n rassis wees nie, al wil jy hoe graag.
In hierdie land gaan niks verander as al God se kinders nie hierdie radikale pad begin stap nie. En dalk stap God nou met jou die pad terwyl jy hier lees.

Hou op omkyk
Terwyl hulle kilometers op lang grondpaaie stap van een dorp na ’n ander het daar baie gesprekke tussen Jesus en sy dissiples plaasgevind. Op ’n dag is daar onder ander hierdie dinge tussen hulle gesê.

57 Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”
58 Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”
59 Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”
60 Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
61 Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” 62 Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Die tweede gedeelte, ook uit Lukas 9, vra amper nog ’n moeiliker ding en dit is om op te hou omkyk.
Die eerste dissipel verklaar so amper romanties dat hy Jesus sal volg waar Hy ook al gaan. Dis amper asof Jesus vir hom sê jy het geen idee wat jy nou kwytraak nie: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.” Jesus self het nie eers ’n plek wat Hy huis kan noem nie.

Die twee daaropvolgende gedeeltes is baie moeilik. Dis beeldspraak waarmee Jesus vir ons probeer sê dat om Jesus te volg gaan baie meer van jou vra as wat jy gedink het. Jy sal nie aan die konvensionele stem van die samelewing kan toegee nie. Ons kan nie kies watter van Jesus se opdragte ons wil uitvoer en Hom op ons eie voorwaardes dien nie. As ons aanhou terugkyk na hoe dinge altyd was, kan ons nie vir Jesus volg nie, want dan is ons hart eintlik nog by die verlede en beslis nie by dit waarheen God ons nooi nie, al is dit hoe swaar. As jou hart nog behoort aan die verlede sal jy baie sukkel om jouself te gee aan dit wat in die toekoms lê.

Dit is vir ons die maklikste ding om in argumente en rusies en te verval oor ons verskillende standpunte. Een ding weet ek en dit is dat Lukas 9 sê ons kan nie aanhou terugkyk nie.
Dalk het jy of jou familie of vriende persoonlik baie gely in die voorafgaande twintig jaar. Dalk bevind jy jou tans in ’n baie moeilike situasie binne die politieke bestel. In ons land is daar oral mense met baie pyn.

Tog moet ons aanvaar die ou Suid-Afrika is verby.

God roep ons wat nou in hierdie land bly om te besef dat ons geen ander keuse het as om vorentoe te kyk en deur storms en chaos en beurtkrag en baie gemors te ploeg en saam te bou aan iets nuuts nie. Geen ander keuse nie.

My man, Jaco skryf op ’n stadium:
Dis belangrik dat “gewone Christene” by die werk en in die breër samelewing 'n profetiese stem laat hoor. Dat elkeen wat vir Jesus volg weet dat hy/sy geroep word om 'n lig te wees op donker plekke en op te staan vir geregtigheid, van die direksie vergadering waar besluit word om mense af te dank sodat die base steeds hulle reuse salarisse en bonusse kan kry tot waar maatskappye besluite neem wat potensieel skadelik is vir die ekologie.
Ons profetiese stemme sal egter net outoriteit hê (ons sal slegs gehoor word), as ons praat vanuit 'n posisie van selfopoffering en diens. St Franciscus van Assisi se sterkste profetiese stem was nie sy woorde nie, maar sy radikale leefstyl. Mense praat vandag selde oor wat hy gesê het, maar onthou die alternatief wat hy geleef het. Wanneer iemand soos hy egter wel gepraat het, het mense gestop en geluister.

Die alternatief vir 'n profetiese stem by die werk is dat kerkmense altyd net by die kerk (en in restaurant en om braaivlesivure) onder mekaar staan en moan oor al die ongeregtigheid in ons land - en stilbly by die plekke waar dit regtig saakmaak.

Hy vertel ook die verhaal van die klein monnik en die magtige Rome.

Teen die jaar 400nC kon ʼn mens begin praat van “ʼn Christendom” sonder om te oordryf. Die kerk was nie meer meer ʼn weerlose sekte sonder politieke en ekonomiese status en mag nie, sy was nou ʼn heerser. Deel van die magtige Romynse ryk. Selfs die koning, Honorius, was ʼn Christen.
In die middel van die Romeinse magsvertoon was die kolloseum. ʼn Wrede plek waar mense mekaar in die openbaar doodgemaak het tot vermaak van ʼn skare toeskouers.
Wat week vir week daar afgespeel het was egter meer as net wrede vermaak, dit was ʼn tentoonstelling politieke en ekonomiese mag. Die gladiators wat tot die dood toe teen mekaar en allerhande wilde diere moes veg, was krygsgevangenes en slawe wat besit is deur politici en ryk besigheidsmanne. Baie van die meer as vyftigduisend toeskouers wat die gevegte met groot entoesiasme bygewoon het, het hulleself Christene genoem. Koning Honorius het dikwels van die gevegte self bygewoon.
In daardie tyd het daar ʼn monnik gelewe wat ʼn ernstige probleem begin ontwikkel het met die hele doodmaak-terwille-van-vermaak-en-geldmaak bedryf - hy was glo 'n klein koddige mannetjie met 'n swart kleed. Die Christendom het vir hom al hoe minder na Christus begin lyk. Baie Christene het waarskynlik diep in hulle eie harte sy ongemak gedeel, maar niemand het ʼn idee gehad oor hoe jy so  'n eeue oue tradisie in die Magtige Rome verander nie. 
Daar is baie stories en teorieë oor wat presies gebeur het op daardie dag in 404. Daar was een of ander optog en die klein monnik het homself glo vir die eerste keer voor die ingang van die volgepakte kolloseum bevind. Om een of ander rede het hy ingegaan. Hy het sy sitplek ingeneem en 'n ruk lank net daar gesit en kyk. Iets moes op stadium in hom gebreek het, want die volgende oomblik het hy die trappe af, die arena in gestorm en tussen die twee gladiators gaan staan en geskree: “In Jesus naam, hou op!”
Die skare was stomgeslaan. 'n Stilte het oor die plek toegesak. Na 'n ruk wou die twee vegters weer begin veg, maar die monnik het heen en weer tussen hulle gehardloop en geskree: “In Christus naam, hou op!” Aanvanklik het die skare dit glo heel komies gevind en gelag, later het dit hulle egter begin irriteer. Mense het begin skree dat die vegters hom moet doodsteek, sodat die skouspel kan aangaan. Van hulle het hom met klippe begin gooi.
Die een vegter het nader gestap en hom met sy swaard in die maag gesteek, toe hy op sy knieë val het die skare nog klippe en bakstene wat in die kollusuem rondgelê het opgetel en hom gestenig. Met sy laaste asem het hy glo gehyg, “In Christus naam hou op.”
Die monnik se naam wat Telemachus.
Wat ʼn tragiese verhaal sou jy sê. Wat ʼn sinnelose tragedie. Maar die storie eindig nie daar nie!
Hierdie dag in 404nC is aangeteken in die geskiedenis as die datum van die laaste gladiatorgeveg in die kolloseum in Rome. Daar word vertel dat koning Honorius so geraak is deur die selfopoffering en dapperheid van Telemachus, die klein monnik, dat hy stiergevegte net daar en dan verbied het.
Die onmoontlike het gebeur in die magtige Rome. Nie deur magsvertoon nie, maar deur iets in gans die teenoorgestelde gees, deur weerlose passie en selfopoffering.

Ons sal antwoord op U roepstem
Die meeste van ons onthou nog die woorde van die Stem goed en ons almal weet hoe dit in die afgelope tyd amper ‘n burgeroorlog ontketen het, maar daar is twee sinne in daardie lied wat ek dink God self voor ons wil kom neersit. Nie vir die Suid-Afrika wat was nie, maar vir die een wat ons nou het.
Die woorde het so gelui:

Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika.

Ons is nie in die eerste plek veronderstel om Suid-Afrikaners te wees nie, maar Christene, volgelinge van Jesus… Daarom MOET ons die woorde verander:

Ons sal antwoord op U roepstem, ons sal offer wat U vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – vir ‘n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika.

En hoe kan ons dit sê: Omdat ons onverskrokke glo in die woorde van Psalm 46:
2 God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
4 al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela
9 Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:
10 die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.

My toevoegingtjie:
Die oorlog in ons harte laat hy tot bedaring bring.
Hy help ons om kreatiewe planne te maak en aan te hou om te veg om lewe te bring, al dreig vrees en onreg en ongeregtigheid en geweld soms soos ’n tsunami op die horison.

11 Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Thursday, February 12, 2015

Een skakering donkerder







In die afgelope week gons die sosiale media en media behoorlik oor die fliek “Fifty Shades of Grey” wat Vrydag, 13 Februarie vrygestel word en op die gelyknamige trilogie gebaseer is. Ek gaan nou nie hier verduidelik waaroor die boeke gaan as jy dit nie gelees het nie. Dit kan mens sommer maklik Google.
Ekself het ook nie die boeke gelees nie en ek beplan nie om die fliek te kyk nie.
Onmiddelik sal kritici sê dat ek mos dan nie ‘n opinie kan uitspreek nie.
Gewoonlik sal ek saamstem, maar in hierdie geval is ek van mening dat dit nie nodig is om die boeke te lees of die fliek te sien, voor jy ‘n opinie mag hê nie. Waarom sê ek so?


As ‘n twintigjarige student was ek saam met ‘n groep studente op ‘n toer in die buiteland. Op een sonnige somerse middag is ‘n klompie van ons Suid-Afrikaners by een van die studentehuise ontvang. Op ‘n stadium wou ek ‘n draai gaan loop en stap toe niksvermoedend in die toilet in. Net daar, binne ‘n paar minute, word ek toe brutaal en terloops van my jeugdige seksuele onskuld gestroop. Voor my op die deur, langs my teen die mure, onder my op die vloer, bo my teen die dak, letterlik oral is die hele plek toegeplak met die mees walglike, kru en skrikwekkende pornografie wat jy jou moontlik kan indink. Om die saak te vererger lê daar boonop ‘n stapel halfoop pornografiese tydskrifte verstrooi.
Ek was te oorweldig om nuuskierig te wees. Totaal verbyster en geskok het ek my oë so half-en-half probeer toeknyp, gedoen wat ek moes doen en so vinnig as moontlik daar uitgevlug. Maar dit was te laat. Die skade is gedoen. In daardie enkele minute is daar ‘n lêer in my kop geskep wat ek nooit weer kon uitwis nie. Die beelde het vir weke en maande daarna op die mees onvanpaste tye deur my kop geflits en dit vir my vormende seksuele identiteit baie moeilik gemaak om self te besluit wie sy is.


Hierdie gebeure het direk daartoe aanleiding gegee dat ek, jare later, as getroude volwasse vrou van 40 en ma van twee kinders en na eindelose ander “blootstellings” oor die afgelope 20 jaar die standpunt inneem dat ek nie na skadelike of geweldadige seksuele, sadomasochistiese (soos onder andere in “Fifty Shades of Grey”) of pornografiese materiaal en destruktiewe vorme van erotika wil kyk nie.
Hoekom nie?
Is dit omdat dit tradisioneel sou sonde wees of omdat ek teen die verobjektifering van die menslike liggaam is of omdat ek “outyds” is of omdat ek teen enige vorm van subtiele geweld teen vroue is? Gedeeltelik ja, maar nie in die eerste plek nie. Ek wil nie daarna kyk nie, omdat ek oortuig is dat dit sleg is vir my en iets in my doodmaak en skeeftrek en vergiftig wat God eintlik as baie goed en mooi gemaak het.


Daar is nie een van ons wat nie ‘n seksuele wese is nie. Die vraag is wie is ek binne my seksualiteit? Ek glo dat daar ‘n fyn verwantskap tussen seksualiteit en spiritualiteit is. Wat anders is seksualiteit as ons menslike smagting na eenwording met iets of iemand groter as onsself? En waarom is die mensdom so behep met seks? Waarom staan mense tou vir ‘n kaartjie vir die fliek? Is dit omdat ons eintlik maar dierlik is of omdat ons nuuskierig is of is dit dalk eerder omdat ons probeer om deur seks of die seksuele ‘n diep en groot gat in ons wese te vul? Omdat ons probeer om een te word met iets of iemand wat ons diepste alleenheid en smagting na sin kan bevredig? ‘n Mens sou vir ure hieroor kon debatteer.


Wanneer elke mens gebore word is ons binnewêreld soos ‘n sagte, onbewerkte stuk land met die mees vrugbare grond waarin oneindige potensiaal geleë is. Hierdie binnewêreld bestaan uit alles wat my maak wie ek is. My seksualiteit, my waardes oor dinge soos materialisme, snobisme en rassisme, my selfbeeld, my Godsbeeld en spiritualiteit en nog ‘n horde ander onsigbare dinge. Daarom probeer enige goeie ouer sy of haar kind se binnewêreld so lank as moontlik ongeskonde hou en beskerm. Maar iewers begin dit verander. Iewers word ons binnewêreld ons eie verantwoordelikheid.
En wanneer dit eers gebeur het moet ek self besluit wat ek met daardie stukkie heilige grond doen. Wil ek dit bewerk en in ‘n lewegewende ruimte omskep? Sien ek kans om die onkruid wat vansself opkom aanhoudend uit te trek? Of laat ek toe dat enigiemand enige gemors en afval en onkruid op my grond kom stort. Staan ek dalk en kyk hoe daardie stukkie heilige grond mettertyd in ‘n ashoop verander, wat jaar na jaar een skakering donkerder word?


Daar is baie mans en vroue wat sukkel met pornografie en komplekse seksuele probleme. Ons samelewing is vol seksuele geweld en ander vorme van geweld teen vroue en kinders. Terselfdertyd is egskeidingsyfers hoër as ooit en die grense van jongmense se seksuele gewoontes en voorkeure was nog nooit so wyd nie. Dit wil voorkom asof daar iets groots fout is met die morele vesel van ons gemeenskap.


Dalk het jy reeds die boeke gelees of die fliek gekyk. Dalk wonder jy of jy moet. Miskien moet jy net eers vra hoekom. Hoekom wil jy dit doen? Wat gaan die uitkoms daarvan op jou stukkie heilige grond wees? As ek sê dit het geen effek op my nie, is dit nie iemand se plek om my voor te skryf nie, maar is ek dan ook bereid om te erken dat ek dalk oneerlik of naïef oor die uitwerking daarvan op my sou kon wees? Dalk kom die vraag of ek en God dieselfde droom vir daardie stuk land het hier op die tafel.


As ek hierdie vrae klaar geantwoord het, neem ek natuurlik die verantwoordelikheid vir my besluit. Ek dink daar is ‘n goeie kans dat God sou droom dat die dinge wat ek op my heilige grond toelaat aan die kant van groei en lewe sal staan.  En dat ek God sal toelaat om weer en weer die grond van my binnewêreld te bewerk, ongeag van wat al deur ander of myself daar gelos is, want vir God bly daardie grond altyd heilig.


Wat ek hier skryf is my persoonlike opinie en dit is wat ek sal antwoord as iemand my vra hoe ek voel oor “Fifty Shades of Gray”. Jy voel dalk heeltemal anders. Soveel skakerings, soveel opinies…







                                                                                        

Saturday, February 7, 2015

Om die rede bly ek hoop




Ons weet al te goed dat elkeen van ons ons eie idee het van hoe ons graag wil hê die lewe moet verloop, maar dat dit nie altyd so werk nie. Ons weet nie watter uitdagings en moeilikhede ons nog in ons lewens moet trotseer nie. Wat ons wel weet is dat ons as God se kinders, soos alle mense, aan die uitdagings van die lewe onderworpe is. Daar is niks wat ons uitsluit van die gebrokenheid van ons menslike realiteit nie.

‘n Verhouding wat onherstelbaar beskadig is en tot ‘n einde kom.
‘n Dreigende miskraam.
‘n Finansiële krisis.
Die skrikwekkende nuus dat jy jou werk verloor het.
Komplekse gesinsverhoudings.
Trauma van ‘n ernstige aard.
Die virus wat jou takel en op die rand van die dood laat draai.
As ons maar daarvan gevrywaar kon wees, maar helaas…

Die vraag is: Wat doen ons wanneer hierdie dinge gebeur?
Iemand verduidelik in die week vir my dat sulke omstandighede soos ‘n sleurstroom of baie sterk seestroom is. Jy kan so hard probeer as wat jy wil om daar uit te kom, maar jy kan nie. Al wat jou te doen staan is om toe te laat dat die stroom jou maar saamneem en wag tot die stroom jou vanself teruggooi op die strand, in die wete dat God ook in die stroom saam met jou teenwoordig is.



Dis eers wanneer ‘n mens terugkyk en die tyd al verloop het dat ons as God se kinders met dankbaarheid kan sien dat selfs die moeilikste omstandighede die voorbereiding was vir waar ons ons vandag bevind. Dan kan ons ons hele lewe in die groter perspektief van God se genade leef, al is dit vir ons hoe swaar.

Henri Nouwen stel dit so: As long as we keep dividing our lives between events and people we would like to remember and those we would rather forget, we cannot claim the fullness of our being as a gift of God to be grateful for. 

Klaagliedere 3 sê dit anders: 21 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Alles wat my lewe voorafgegaan het, het van my die mens gemaak wat ek vandag is en daarom bly dit altyd my keuse of uitdagende omstandighede my gaan vernietig en of ek gaan toelaat dat God my daardeur transformeer, al is daardie proses hoe pynlik. Ek nooi jou: gaan sit stil by God met jou lewe sodat jy kan bewus word hoe Hy jou oor jare voorberei het vir waar jy nou is.