Friday, January 15, 2016

Die dogtertjie en die klippie



In verlede week gaan stap ek een laatmiddag in ons buurt. Deur die een heining sien ek toe hierdie toneel afspeel:
‘n klein blonde krulkop dogtertjie (ek dink nie sy is al 2 jaar oud nie) met mollige beentjies staan met haar t-hempie en doek en tandekraletjies om die nek by die kraan in hulle tuin met water wat uit die kraan drup. Haar mamma sit langs haar met kruisbene op die grond en gee vir haar klippies aan wat sy onder die druppels uit die kraan afspoel. Een vir een spoel sy die klippies af en gee dit weer vir haar mamma terug. En dan vra sy met haar klein stemmetjie: Wie se klippie, Mamma? En die mamma sê: Jou klippie, sussie.

Daar is soveel in hierdie toneel wat my raak:
die klein dogtertjie in haar onskuld en onverdorwenheid en die veiligheid en koestering wat sy duidelik by haar mamma beleef;
die mamma se sorgsaamheid en deernis en geduld en liefdevolle verwondering vir haar dogtertjie;
en natuurlik die water wat die klein tuinklippies se grond afwas.
Hoeveel keer vergeet ons nie dat God soos daardie mamma is en ek en jy soos die dogtertjie. Ons verstaan maar nog min, sal ook nooit alles verstaan nie, maar wat ons kan verstaan is dat God met onbeskryflike sorgsaamheid en deernis en geduld en liefdevolle verwondering na ons kyk en met ons besig is. Ons vergeet dit maklik. Te maklik. Ons word so maklik geïndoktrineer deur stemme wat sê dat ons beter moet doen, dat ons nie goed genoeg is nie, dat ons dit nie maak nie, dat ons vergeet wie ons is: God se geliefde kindertjies.
Dis vir ons wat God soos die sorgsame mamma die woorde van Openbaring 2:17 sê: Ek sal ook vir hom/haar ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom/haar bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie.

Die klippie verwys waarskynlik terug na twee gebruike in die wêreld van die Bybel.
Die een waar iemand wat vrygespreek is in ‘n hofsaak ‘n wit klippie kry as teken van die vryspraak. God het my en jou as sy kinders reeds vrygespreek deur Jesus en ons hoef nooit weer na stemme te luister wat ons van die teendeel probeer oortuig nie.


Die ander was die gebruik van “vriedskapsklippe” (Latyn: tesserae). As jy aan ’n persoon jou wit vriendskapsklippie gee‚ waarop sekere tekens en letters geskrywe staan‚ beteken dit dat jy hom die gasvryheid van jou huis aanbied en hom in jou lewe innooi. As hy jou vriendskapsklippie neem‚ is dit sy toegangskaartjie tot jou huis‚ jou tafel en jou familiekring. God het reeds aan ons elkeen ‘n wit vriendskapsklip oorhandig, met ‘n naam op wat net vir my bedoel is, waarmee Hy sê dat ons nie net welkom is by Hom nie, maar deel word van sy familiekring en ‘n spesiale naam dra as sy kind.

As ek en jy hierdie beeld regtig verstaan sal ons nooit weer wonder wie ons is nie, nie weer wonder wie ons moet wees nie en ons nie weer laar mislei deur al die baie ander stemme wat ons anders wil laat dink oor onsself nie.
Voor God wil ek altyd die klein dogtertjie met die klippie by die kraan wees wat vra: Wie se klippie, Mamma?
Want ek weet God gaan antwoord: Jou klippie, sussie.

Op pad na revolusie



So staan ons weereens aan die begin van ‘n nuwe jaar met baie tekens van genade op verlede jaar se pad en meer as genoeg bakens van hoop op die nuwe jaar se roete. Op Oujaarsdag kuier ons en uit die bloute vra Mathilda: “Wat is ‘n New Year’s revolution”. Ons almal lag lekker en ek sê : “Nie revolution nie, resolution.” Maar na so rukkie dink ek, sy’s dalk reg. Miskien is ‘n nuwe jaar veronderstel om ‘n geleentheid vir ‘n revolusie te wees – in die manier hoe ek dink, in my verhouding met God, en in my hele manier van leef.

Soos ek hier skryf is dit Woensdag, 6 Januarie. Die dag van Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. In een van die baie tradisies van die Christendom word Epifanie ook verbind met die verskyning van God aan die drie wyse manne uit die Ooste. Soos die manne van die Ooste bereid moes wees om hulle bekende wêreld te verlaat nooi God ons ook aan die begin van die jaar om die dinge van die ou jaar agter te los en op nuwe, onbekende en onbegane paaie te reis in die vertroue dat God ons sal lei na waar Hy wil hê ons moet wees.
Ruth Haley Barton skryf so oor die wyse manne se reis na die onbekende land:

O God,
who am I now?
Once, I was secure
in familiar territory
in my sense of belonging
unquestioning of
the norms of my culture
the assumptions built into my language
the values shared by my society.

But now you have called me out and away from home
and I do not know where you are leading.
I am empty, unsure, uncomfortable.
I have only a beckoning star to follow.

Journeying God,
pitch your tent with mine
so that I may not become deterred
by hardship, strangeness, doubt.
Show me the movement I must make
toward a wealth not dependent on possessions
toward a wisdom not based on books
toward a strength not bolstered by might
toward a God not confined to heaven
but scandalously earthed, poor, unrecognized…

My gebed is dat iets van hierdie gebed in elkeen van ons se lewe sal waar word in hierdie jaar en dat 2016 se Nuwejaar toe inderdaad die begin van ‘n “New Year’s Revolution” was, omdat die Gees van Christus die Gids op ons pad is.