Wednesday, March 20, 2013

Genoeg is genoeg


Een van die groot vrae in die tyd waarin ons leef is: Wat is genoeg? Ons kan net van sekere dinge nie genoeg kry nie. Ons wil net nog en nog en nog hê.
Anders as in baie ander westerse wêrelddele beleef ons in SA twee werklikhede:
die een werklikheid is uitenemende welvaart en klaarblyklik sonder enige materiele behoeftes. Die ander werklikheid is vol tekorte, gebreke en ontberings.
Baie van ons beleef inderdaad ons eie krisisse en groot spanning oor die ekonomie en dit wat in die wêreld aan die gang is.Tog sê Sendingwetenskaplikes dat as jy by jou yskas verbystap op pad na jou spoeltoilet is jy onder die 10% rykste mense in die wêreld.

Ons moet baie mooi besef dat God nie rykdom of armoede idealiseer nie.
Dit is toestande wat nog altyd deel was van die wêreld, maar God wil nie noodwendig hê dat ek ryk of arm moet wees nie. As ons vanoggend vir God sou kon vra: Here, moet ek ryk of arm wees, wat dink jy sal die Here antwoord?
Hy sal waarskynlik iets sê soos: ek wil nie he jy moet ryk of arm wees nie.
Ek wil he jy moet genoeg he.
En wat is genoeg sal ek vra.
Jy sal weet.
Of sal ons?

In Eksodus 16 lees ons die verhaal van die Israeliete wat so gekla het omdat hulle nie kos het nie en hoe God vir hulle kos voorsien deur elke dag vir hulle manna te gee. ‘n Baie belangrike reel was dat daar niks van die manna gebere mag word nie.
Maar hulle wou nie na Moses luister nie en het besluit dat dat hulle dit gaan bere.
Tot hulle verbasing het dit deur die nag gevrot. Moses was vreeslik kwaad omdat hulle dit gedoen het, want al wat dit beteken het is dat hulle nie die Here vertrou het nie. Dat hulle gulsig was en nie tevrede was dat dit wat hulle kry tog genoeg is nie.

Tevredenheid is om maklik genoeg te hê. Om tevrede te wees met dit wat die lewe na jou kant laat kom en nie heeltyd beter en beter en meer en meer te wil he nie.
Gandhi het waarskynlik die waarheid gepraat toe hy gese het: “There is enough for everyone’s need, but there is not enough for everyone greed”.

Die Israeliete was veronderstel om elkeen net te vat soveel as wat hulle nodig het.
Is daar ‘n kans dat ons met dieselfde gulsige gesindheid as die Israeliete leef?
Een van die grootste uitdagings in hierdie tyd en in ons land vir gelowiges, is om nie soos die wêreld te word nie, maar om ‘n baie belangrike Christendeug aan te leer en dit is soberheid. Die woord soberheid beteken om met ‘n gesindheid van matigheid te leef.
Om nie oordadig te wees nie

Om maklik tevrede gestel te woorde.

Om met ander woorde maklik te sê: Genoeg dankie.

In 'n groef




Een van die mees algemene tendense by ons mense is dat ons in groewe beland of vasgevang raak in ‘n sekere manier van doen. So sal ons in ons lewe aanhou om dinge te doen, sonder om ooit regtig mooi te dink hoekom ons dit doen. Dis nie net gewoontes wat groewe kan word nie. Dis ook die manier hoe ons na die wêreld kyk wat ‘n groef kan word. Ons verval so in ‘n sekere denkpatroon dat dit vir ons onmoontlik raak om eers te dink dat ons ooit anders daaroor sou voel.

In Handelinge 9 loop ons vir Saulus, wat later Paulus sou wees, raak. Saulus was op daardie stadium een van die mees ywerige Jode wat jy kon kry. Volgens hom was die Evangelie oor Jesus loutere snert en het hy uit sy pad gegaan om enigeen wat hierdie Evangelie verkondig op die wreedste moontlike maniere te martel.
Terwyl hy op pad was na Damaskus om al die gelowiges daar te gaan arresteer verskyn daar uit die bloute, ‘n helder lig, helderder as die son uit die hemel aan hom. Presies wat gebeur het weet ons natuurlik glad nie, maar God het sy hele lewe omgekeer en hom in sy spore gestuit.
Vir die drie dae wat Paulus blind was was hy soos ‘n dooie, totaal geskok en verbyster oor wat met hom gebeur het. Boonop was die gelowiges ontsettend bang vir hom en wou hulle nie iets met hom te doen hê nie. Tog het Ananias geluister na God en na Paulus gegaan om vir hom te gaan bid.
Die Bybel sê in vers 18: Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien.

Hoe baie sal ons dit nie van ander mense sê nie: Ek wens die skille wil van sy of haar oë afval.

Om op ‘n nuwe manier te begin dink, om op God se manier te begin dink, is nie iets wat sommer maar net vanself gebeur nie. Dis ‘n geweldige pynlike ding, want dit beteken dat jy moet afskeid neem van dinge soos jy altyd gedink en geglo het dit is. Dit neem tyd om die ou groewe en die ou manier van dink en doen te groet maar as dit gebeur, as jy skielik deur God se oë na die wêreld begin kyk, is mens gewoonlik verbaas om te sien hoe duidelik baie dinge in fokus begin kom.
Wat beteken dit prakties om met nuwe oë te kyk?
Dit beteken onder andere dat ek bietjie op ‘n afstand van myself gaan staan en vra: Hoekom doen ek wat ek doen? Hoekom het ek so vreeslike humeur? Hoekom is ek so liggeraak en kleinserig?
Dit beteken ook dat ek ophou om my so te laat ontstel deur my familie of vriende se onderlinge gevegte en so bietjie terugstaan en met God se oë kyk en vra: Wat gebeur hier? En kies om nie deel van die getwis en baklei te wees nie.
Dit beteken veral in ons tyd dat ek ten spyte van my bangheid en onsekerheid oor wat in ons land aangaan nie al meer en meer rassisties raak nie, maar dat ek bietjie terugstaan en vra: Here, wat is U plan met hierdie mooi land van ons en wat kan ek doen om dit beter te maak?

Om met God se oë te kyk in hierdie tyd sal wees om te sê ek kies om nou anders te praat en anders op te tree as mense om my. En ons kan dit doen, want ons glo Jesus het opgestaan en daarom het ek hoop vir môre. Daarom kan ek bid dat God vandag oral mense se harte, ook myne, sal draai om met nuwe oë na mekaar te kyk.







Monday, March 18, 2013

Net een lewe



Het jy al daaroor gedink dat jy net een lewe het? Na hierdie lewe kry jy nie weer ‘n kans nie. As jy met hierdie een droogmaak kan jy hom nie gaan inruil vir ‘n nuwe een nie. Dis wat jy het: hierdie een lewe. Ons het geen idee hoe lank ons gaan leef nie. Natuurlik is die lewe nie net altyd maanskyn en rose nie. Soms is ons lewe besaai met swaarkry en hartseer.

Juis as mens swaarkry kom mens onder die besef dat die lewe ‘n kosbare, baie brose geskenk is. Die lewe is doodeenvoudig te kosbaar is dat jy dit deur jou vingers kan laat glip. Dis iets wat so broos is dat jy baie versigtig daarmee moet werk, want elke dag, dag vir dag sypel dit weg, soos water in sand.

Prediker 2 beaam dit: Jy het net een lewe, maar waarmee kies jy om hierdie een lewe vol te maak?
Kingsley Holgate, die bekende avonturier, vertel op ‘n stadium die storie van ‘n vriend van hom wat by ‘n tafel sit en voor hom ‘n paar klippies uitpak.Elke klippie het ‘n dekade van sy lewe verteenwoordig. So begin hy toe een vir een die klippies oor sy skouer weggooi vir elke dekade wat reeds verby is tot daar net een of twee klippies voor hom gelê het. Elkeen van ons kry ook ‘n handvol klippies. Presies hoeveel sal ons nou nie weet nie. Maar as hulle weg is is hulle weg. Hoeveel klippies het jy dalk oor? Ons weet nie. Hierdie storie onderstreep Prediker 2 se boodskap dat die lewe ongelooflik kort is. Die lewe is te kosbaar om droog te maak. Te kosbaar om dit te mors. Te kosbaar om iemand anders se lewe te probeer leef.
Miskien moet ons ophou om onsself met ander te vergelyk.
Dalk moet jy ophou om drome te droom om al meer soos ander te word en begin om al meer jy te word. Dalk moet jy begin om al meer te soek na God se plan met jou en jou lewe. Aan die einde van jou lewe is die vraag: Waarvoor gaan jy onthou word? Wie gaan jou mis? Gaan mense agterkom dat jy nie meer daar is nie, of gaan dit hoegenaamd geen effek hê nie?
God stap met ons elkeen ‘n unieke, besondere pad.
Meistre Eckhart, die ou Mideleeuse teoloog en mistikus, het hieroor gesê:
Mind your own path. Do not mind the path of others. No one is called to God by the same path.
My pad is nie jou pad nie. God is nie op dieselfde manier op pad met jou as met my nie.

Die meeste van ons, sê Prediker, fokus waarskynlik op die verkeerde goed. Die beste vraag is nie hoe kan ek meer en meer suksesvol wees en al ryker word nie? Hoe kan ek myself verdoof met allerhande plesiertjies sodat die lewe darem tog net lekker is nie?

Die beter vraag is hoe kan ek nader en nader kom aan God se droom vir my lewe?
Waaraan kan ek tyd spandeer wat regtig sinvol is?

Die lewe is te kort om nie te probeer uitvind hoe jy joune die beste kan leef nie.

Friday, March 8, 2013

Die vrug van 'n kontemplatiewe lewe




Waarvan praat ons hier?

Wat beteken die term kontemplasie? ‘n Eenvoudige definisie van kontemplasie is “liefdevolle teenwoordigheid vir wat voor hande is”. In ‘n Christen konteks beteken dit dat omdat ons in God “leef beweeg en is” (Hand 17:28), beteken hierdie teenwwordigheid dat ons Christus in die ganse skepping vind (Ef 1:23). Met ander woorde: Christen kontemplasie beteken dat ons God in alle dinge vind en alle dinge in God. Broer Lawrence, die 17e eeuse Karmeliet, het dit genoem “the living gaze that finds God everywhere”.

Soos ons weet word kontemplasie binne die tradisie ook gebruik om na pertinente soort gebed te verwys en word die term sterk geassosieer met stilte – selfs (verkeerdelik) met onttrekking uit die wêreld. In ‘n klassieke sin beteken dit egter veel eerder ‘n onmiddelike en ontvanklike teenwoordigheid vir die wêreld, om dinge te verstaan en liefdevol te reageer op die wêreld soos dit is. Kontemplasie is dus nie noodwendig stil en eenkant nie. Dit behoort ook baie aktief en betrokke te wees.

In die tradisie waarbinne ek my tans bevind is daar ‘n kommerwekkende tendens aan die ontwikkel, naamlik dat geloofsleiers ‘n kontemplatiewe spiritualiteit dalk nie regtig verstaan nie en hulle daarom al meer uit die wêreld begin onttrek. So word dit ‘n verskoning om so ver denkbaar van die wêreld te gaan staan. ‘n Kontemplatiewe spiritualiteit haal my beslis nie uit die wêreld uit nie.

Om reg te laat geskied aan die term kontemplasie beteken dus dat ek nie kan praat van “kontemplasie en aksie” asof dit twee verskillende dinge is nie. In die Christentradisie was aktiewe betrokkenheid in die wêreld nog altyd deel van kontemplasie. Mens sou op die meeste kon praat van twee aspekte van kontemplasie, naamlik ‘n eksterne en ‘n interne aspek. Ek gebruik graag twee beelde om die verhouding tussen die inwaartse en uitwaartse aspekte van kontemplasie te beskryf.

Asemhaling

Om te kan asemhaal moet ek tog kan in- en uit-asem, nie waar nie? As ek net sou in-asem, sal ek flou word, as ek net sou uit-asem ook. Asemhaling vind eers plaas as beide die in- en uit-asem aanwesig is.

‘n Munt

‘n Munt toon aan die een kant die waarde van die geldstuk en aan die ander kant die landswapen. As een van die twee kante nie daar is nie sal die munt onbruikbaar en vals wees. So is dit ook met kontemplasie: twee gelykwaardige, ewe belangrike kante.

Leah Rampey van die Shalem Institute skryf: In this sense, contemplation is an all-embracing quality of presence, including not only our own inner experience but also directly perceiving and responding to the situation and needs of the world around us. Rather than trying to balance contemplation and action, it is more accurate to see contemplation in action, undergirding and embracing everything. In this way, all our thoughts and actions can be joined together in prayerful openness and loving responsiveness.
It is contemplation-or at least a contemplative attitude-that grounds our presence in the real world. For example, in the three paths mentioned above, the direct seeing-and-responding of contemplation keeps each centered in direct responsiveness to real situations.
Without this grounding in things-as-they-are, the way of knowing can lose itself in intellectual abstraction, the way of acting can succumb to blind missionary zeal or burnout, and the way of feeling can give way to self-absorbed sentimentality.


Watter stappe volg ek om ‘n kontemplatiewe persoon te word?

Om op ‘n kontemplatiewe manier te leef is nie iets wat mens kies nie. Jy kan as’t ware nie ‘n program uitwerk en aan die einde daarvan ‘n diploma ontvang in die kontemplatiewe lewenswyse nie. God gee dit. Dit gebeur met jou. God gee dit, mettertyd, verniet aan jou. Jy kry dit nie sommer goedsmoeds nie. Dit kom na jou wanneer jy al diep spore in die spiraal van jou eie lewe getrap het en jy geleer het om op ‘n nuwe manier te kyk…

Jy kan al die boeke oor die onderwerp lees, eindelose retreats en pelgrimstogte meemaak en nog steeds nie ‘n kontemplatieewe persoon wees nie. Om hierdie pad te loop sal jou lewe vra (Matteus 16), want dit gaan vra dat jy die eerste Groot Gees van die Christen kontemplatiewe pad sal volg: Jesus self.

Wanneer Jesus in Johannes 14:6 sê “Ek is die weg, en die waarheid en die lewe” dan maak hy nie soseer ‘n teologiese uitspraak nie. Hy gee ‘n beeld. As jy soek na die weg na God, die waarheid oor God en die lewe in God, volg Hom. Jesus was ‘n revolusionêr, hy het Hom in stilte afgesonder, Hy was ‘n profeet wat opgestaan en gepraat het oor ongeregtigheid, Hy het “solitude” omarm, Hy was ‘n sosiale transformeerder, Hy het na binne gereis, Hy was lief vir die armes, die siekes en die gemarginaliseerdes en Hy het oral waar hy kon innerlike transformasie aangemoedig.


Hoe meer jy begin ontdek wat vir Jesus belangrik was, hoe meer sal dit vir jou belangrik word. Of anders gestel: Hoe nader ek kom aan God se hart, hoe nader kom ek aan God se pad.


Verdere vrug van ‘n kontemplatiewe lewe

Ons kan die lys van vrug van ‘n kontemplatiewe lewe nog eindeloos langer maak. Ek gaan vandag by enkele botsels aan die boom stilstaan. Mens kan ook die beeld van ‘n kaleidoskoop gebruik waar die prentjie voor jou oë letterlik elke keer verander as jy die lens selfs ‘n millimeter draai. Met ander woorde – ‘n eindelose moontlikheid van perspektiewe is moontlik. Ons beskou slegs enkeles.

Ter wille van verstaan kan mens die vrug van ‘n kontemplatiewe lewe dalk in drie kategorieë opdeel:

Spirituele bewuswording, Geestelike groei en Innerlike transformasie
Spirituele bewuswording

Bewustelikheid

Ek raak al meer bewus van die heiligheid van die oomblik. Sue Monk Kidd sê: A fine space separates us from experiencing life as nowhere or now here. Die meeste van die tyd is ons in ons koppe besig om ons voor te berei om te leef, terwyl die realiteit is dat die suikersakkie heeltemal reg is: Life is what happens while we are making other plans. Jean Pierre de Caussade het gemeen dat daar niks belangriker is as om die huige oomblik te soek en te aanvaar nie. Bewustelikheid leer my ook van geduld, wil my help om te besef dat alles in die wêreld nie onmiddelik in my skoot hoef te val nie en dat ek tevrede kan wees met waar ek is, want wat ek nou het is my hele lewe. Bewustelikheid help my ook om diep in myself stil te word en oop te wees vir die stem van God se Gees.

Vreugde

“Delight can emerge from and exist along with our scars. Delight can become a way of life, a way of journeying” (Sue Monk Kidd). Daar bestaan die persepsie dat ware heiliges vreeslik vroom en ernstig is. Die vrug van ‘n kontemplatiewe lewe is dat jy oop raak vir pret en grappies, graag lag en soek na die vreugdes van die lewe in die kleinste en mees alledaagse dinge, juis omdat mens soms sukkel om dit in die groot dinge te vind. Die grappies van jou kinders, die kleur van die lig teen sonsondergang, die sagte bries en die reuk van reën vroeg in die oggend, die geluid van die voëls in die bome, ‘n skoenlapper wat onverwags op jou been kom sit, die warm son op jou vel op ‘n wintersdag, en so kan ek eindeloos aanhou. Om God toe te laat om jou hart deur hierdie klein vreugdes te ontvries. Om vreugde te vind en vreugde te leef, in die kleinste hoekies van die lewe.

Terugkeer na die aarde

Daar begin by my die bewuswording ontstaan dat die aarde die wieg is waarbinne alle lewe tot stand kom en groei. Ek begin besef dat alles wat lewe in stand hou in die aarde opgneem is, aan die aarde verbind is en deur die aarde gevoed word. Ek besef dat selfs ek, soos Hildegard van Bingen gesê het, soos ‘n fyn draad in die web van die heelal ingeweef is. Ek besef skeilik my nietigheid en verganklikheid en raak bewus van honderde wat elke dag sterf en die bevoorregtheid van my klein aardse bestaan. Die natuur, elke stukkie van die skepping, is God se kunswerk, en ek besef dat ek ‘n eksponent is van die kunstenaar wat steeds aan die werk is.


Eenvoud

Om my brood te eet
in eenvoud en blydskap;
Om arm van gees te wees
in daardie sin wat beteken:
onopgeslik: weelde.

- Sheila Cussons

‘n Belangrike vrug is die Christendeug van soberheid. Die woord soberheid beteken om met ‘n gesindheid van matigheid te leef. Om nie oordadig te wees nie en om maklik tevrede gestel te word. Om met ander woorde maklik te sê: Genoeg dankie.

Ek ontdek hoe meer goed ek wil hê, hoe meer ek streef na nog besittings, hoe vinniger word my lewe ‘n groot swart gat waar ek behep raak met my eie lewe, my eie behoeftes, my eie alles.

1 Joh 2: 15-17 sê dit maak jou so vol dat daar nie plek is vir God se volheid in jou lewe nie. Ek ontdek dat hierdie begeer ding, wil hê ding, nie goed is vir my nie, dis nie gesond nie en dit steel my aandag van waar God wil hê jy moet fokus. Ek kom agter dis ‘n truuk om jou fokus van God af weg te vat en my nie juis gelukkig maak nie.

Jannie du Toit sing die woorde so aangrypend:

Eenvoud is die vreugde van die lewe
dis gee en neem net wat daar is
dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood
wat liefde is.

Geestelike groei

Deernis

Dink maar aan die waarheid van hierdie woorde:

Ubi caritas, et amor, Deus ibi est

Hoe meer deernis ek ontwikkel hoe meer verstaan ek van ander.Ek raak meer bereid om die ander kant van die storie te hoor. Ek begin op ‘n nie-dualistiese manier dink, wat behels dat die hele lewe nie net in wit en swart of reg en verkeerd ingedeel is nie.



Hart vir gebrokenes en randfigure

Die dinge wat God se hart sou ontstel begin ook mettertyd my hart ontstel. Ek raak al minder wêreldvreemd en raak lief vir mense by wie ek nooit sou droom om betrokke te raak nie. Hoe vryer ek raak van die vasgekoektheid van die wêreld, hoe ontvankliker word my hart. Ek ontdek om van myself vir ander te gee is nie so erg en so bedreigend nie. Ek ontdek ek kan sowaar die vryheid in myself vind om diep, diep om te gee en selfs lief te word vir die randfigure. Ek raak vrygewig met my goed en myself en leef al minder suinig – met myself en met my goed.

‘n Bekende ets van Fritz Eichenberg kan ons hier hep. Die kunswerk se titel is “Jesus in the bread line”.


Catherine of Siena het gesê:

The secret of Christian contemplation
is that it faces us with Jesus Christ
toward our suffering world
in loving service and just action

Voortgaande groei
Die geestelike lewe is waarskynlik nie soos ons tradisioneel dink, ‘n leer wat jy moet klim om uiteindelik eendag te arriveer nie, en in die proses klim jy maar voortdurend twee trappe op en val vyf terug. Die geestelike lewe is waarskynlik eerder ‘n spiraal waarbinne al die materiaal van my lewe, goed en sleg, soos ‘n skag opgeneem is, en ek beweeg op en af teen die spiraal en al om en om die materiaal van my lewe. Telkens kom ek by dieselfde punte uit. Sekere dinge verdwyn net nooit uit my lewe nie. Tog kom ek agter dat ek mettertyd “anders” by die punte verbygaan en dat die effek wat dit in die verlede op my gehad het net nie meer so geweldig groot is nie.



Groei hou nooit op nie. Ons sal voortdurend groei. Juis daarom arriveer ons op aarde nooit nie. Kyk maar na die stadige en sekere proses van groei in die natuur. Jy kan nie sit en kyk hoe iets groei nie, maar as jy ‘n week of ‘n maand of ‘n jaar later daar kom, staan jy verstom oor die groei wat plaasgevind het.

Sue Monk Kidd praat van ‘n hysbak spiritualtiteit vs ‘n kokon spiritualiteit. ‘n Hysbak spiritualiteit wil net ‘n knoppie druk en so vinnig as moontlik kom waar ek wil wees. ‘n Kokon spiritualiteit laat toe dat ek omvou word in ‘n groter proses, gee my oor aan hierdie proses, en gee God die kans om sy werk in my te doen, al neem dit hoe lank.

Innerlike transformasie

Egtheid

Op ‘n mooi sonskyndag het die kunsblom agter die venster vir die sonstraal gevra: Bewonder jy my nie? Die sonstraal het geantwoord: Van ver af val jy sag op die oog, maar ek sien jy is nie wat jy voorgee om te wees nie. Jy het kleur sonder geur, vorm sonder lewe, en al lyk jy so baie soos die Magrietjies in die veld wat ek daagliks besoek, is jy net ‘n namaaksel. Al koop baie mense jou vir hoe jy lyk is jy eintlik maar ‘n bedrieër.

Hoe langer mens die pad stap hoe meer ontdek mens hoe moeilik dit is om die dinge wat jy sê te doen. Scott Peck wat as een van die grootste Christen skrywers van die afgelope eeu gesien word sê onder andere dat hy nie ‘n guru is uit wie se handel en wandel mense vir God ontdek nie nie, hy is maar, soos duisende predikante, ‘n leermeester wat nog moet leer om te doen wat hy vir ander sê om te doen. Dis natuurlik ‘n problematiese stelling. Dit laat vra mens die vraag: Hoe heilsaam is dit om te werk met die konsep van ‘n publieke en private teologie? Die hoop van die kontemplatiewe pad sal wees dat die diskrepansie tussen die twee mettertyd sal verklein en dat my buitewêreld en binnewêreld in balans sal kom.

Deursigtigheid

Deursigtigheid sou beskryf kon word as die proses waardeur ek al meer deurskynend van binne af word. Dit beteken dat dit wat binne in my aan die gang is, al minder troebel en onkenbaar word en dat dit al makliker vir myself en ander mense word om te sien wat my diepste motiewe en vrese en oortuigings is.

Die implikasie hiervan is natuurlik dat dit wat binne my aangaan beslis nie altyd strook met dit wat ek na buite wys nie. Dis in elk geval beslis nog waar van my.En as deel van die proses van deursigtigheid is hierdie tipe spanning baie goed, want dit maak dat ander se reakie op die tweespalt in my motiewe en my optrede my tot inkeer bring en tot bekering laat kom van myself. As hierdie proses van al meer deursigtig word aanhou, is daar al minder spanning tussen wat binne my aan die gang is en dit wat ek doen en sê.

Ek verander dan van ‘n mens wat sekere goed DOEN sodat ander hopelik op ‘n sekere manier oor my dink, na iemand wat op ‘n sekere manier IS en nie eers dink oor wat ek doen nie, want dit begin vanself gebeur.

Deursigtigheid gaan beslis nie oor perfeksie nie. Dit gaan wel daaroor om al meer bewus te raak van my motiewe, al meer te weet wat regtig hier binne aangaan, en al meer leer om openlik te wees oor die feit dat ek nie perfek is nie.

Richard Rohr het op ‘n keer gesê: One need to have at least one embarrassing moment a day. So groei ek in die besef dat ek nie perfek is nie, maar dat God voortdurend in my aan die werk is.

Selfkennis

Ek sal nooit vergeet toe Sr Mary die dag vir ons gesê het: The road to God is through self-knowledge. Ek het natuurlik gedink sy gaan sê: The road to God is through Jesus. Tog het ek mettertyd begin agterkom wat sy bedoel.

Baie gelowiges is gekant teen te veel selfkennis, want hulle voel selfkennis is eintlik maar selfbeheptheid. Dit ten spyt is ek regtig oortuig dat diepgrondige selfkennis ‘n absoluut essensiële deel van my verhouding met God is.

Dit sê ek onder andere omdat ek in my werk sien hoe mense wat nie hulleself werklik leer ken nie, vasval en vasgekoek raak in hulle eie onvermoë om te sien wie hulle is en hoe hulle optree. En of ons dit nou wil weet of nie, elkeen van ons is ongelooflik blind vir ons motiewe en optrede.

Die diepste doel van selfkennis is transformasie.
Hoe kan jy deur die Here getransformeer word as jy nie weet wat dit is wat jy moet laat sterf nie?
Hoe kan jy groei in die manier hoe jy ander mense hanteer as jy blind is en nie belangstel om uit te vind hoe jou manier van doen ander mense laat voel nie?
Hoe kan kan jy jouself al meer raaksien voor God as jy nie bereid is om van jou kritiese gees of valse nederigheid of jou oordrewe fokus op sukses of jou selfbeheptheid of jou vrees vir mense of jou vermyding van konflik of jou manipulasie of jou traagheid om inisiatief te neem bewus te word en jou daarvan te bekeer nie?
Hoe beter ek myself begin ken, en hoe meer ek begin agterkom wat daai dinge is wat ek nie wil sien nie, hoe meer gaan ek begin sien wat die effek is wat ek op ander mense het.
Hoe beter ek myself ken, hoe vryer kan ek tussen ander leef omdat ek al meer weet wat my verkeerde knoppies druk en hoe meer kan ek myself in vryheid gee vir ander en vir die wêreld om my. Hoe beter ek myself ken hoe deursigtiger gaan ek word en hoe naatloser gaan ek begin leef.

In die verhaal Les Miserables is daar ‘n toneel aan die einde waaar die bloeddortsige kaptein aan die einde van die hoofkarakter se lewe vir hom vra: Who are you? Uiteindelik, na baie jare se wegkruip en identiteitverdoeseling, antwoord hy sonder om te skroom: I am Jean Valjean… En skielik is hy vry! Die oomblik toe hy homself wys vir wie hy is, word hy bevry van wie hy nie is nie. Anders gestel: We all suck at being copies of other people. Daarom word ons geroep om die beste original te wees wat ons kan wees. Daar is een ding wat ek beter kan doen as enigiemand anders: Ek kan myself wees.

Die storie word vertel van die Woestynvader, kom ons noem hom vader Pumen. Hy het gesê dat wanneer hy aan die einde van sy lewe kom gaan God nie vir hom as Pumen vra: Waarom was jy nie Moses nie? Hy gaan ook nie vra: Pumen, waarom was jy nie Elia of selfs Jesus nie. Hy gaan vra: Pumen, waarom was jy nie Pumen nie?

Ons arriveer nooit nie, maar... Alhoewel ons nooit arriveer nie en op aarde maar altyd op pad is, en daarom sekerlik voel dat daar maar nog min van heirdie vrug in my lewe sigbaar is, is ek seker dat jy, as jy mooi kyk, al enkele botsels van die belofte van vrug aan die takke van jou lewe groei. Onthou: dit is God wat laat groei. Gee mee, sodat God kan doen wat Hy wil doen.