Baie mense vra: Waar is God in die proses van
die Enneagram? Wat maak die Enneagram anders as kwasi-sielkunde? Hoekom moet
ons so krap en delf in onsself? Kan ons nie net fokus op die positiewe en
daardie negatiewe dinge wat ons in elk geval nie van bewus is nie in vrede los
nie?
Ek is diep oortuig dat God graag sou wou sien
dat ons werklik insig in onsself ontwikkel. Baie Christene skram so van
selfsinsig weg dat mens eintlik wonder of hulle bang is vir wat hulle daar gaan
vind. Hulle sal dikwels sê dat hulle maar net die Here vertrou en alles aan die
Here oorlaat, maar dis ongelukkig nie hoe dit werk nie. Gaan kyk mooi: daar
bestaan nie ‘n mens op aarde wat ‘n diep pad van groei gestap het en nie deur
die donker, onbekende, selfs skrikwekkende, vallei van die binnewêreld moes
gaan nie.
Dit is my binnewêreld, en daarmee saam my
persoonlikheid, wat bepaal hoe ek optree en mense behandel; en dis my
binnewêreld en persoonlikheid wat God se transformasie en nuutmaking nodig het.
Daar’s nie ‘n ander manier nie. Sover dit my persoonlikheid aanbetref, gryp God
nie magies met ‘n towerstaf in my lewe in nie. Hy neem my saam deur die donker,
dikwels vreesaanjaende vallei, want daar’s maar een manier om anderkant uit te
kom. Sonder diepgrondige selfkennis, refleksie oor ander se reaksie op my en waarneming
van my gedrag, kom daar nie insig nie.
Die diepste doel van selfkennis is
transformasie. Hoe kan jy deur die Here getransformeer word as jy nie weet wat
dit is wat jy moet laat sterf nie? Hoe kan jy groei in die manier hoe jy ander
mense hanteer as jy blind is en nie belangstel om uit te vind hoe jou manier
van doen ander mense laat voel nie? Hoe kan kan jy jouself al meer raaksien
voor God as jy nie bereid is om van jou kritiese gees of valse nederigheid of
jou oordrewe fokus op sukses of jou selfbeheptheid of jou vrees vir mense of
jou vermyding van konflik of jou manipulasie of jou traagheid om inisiatief te
neem, bewus te word en toelaat dat God dit stelselmatig transformeer nie?
God wil graag die kloof tussen jou binnewêreld
en buitewêreld oorbrug. Hoe beter ek
myself begin ken, en hoe meer ek begin agterkom wat die dinge is wat ek nie wil
sien nie, hoe meer gaan ek begin sien wat die effek is wat ek op ander mense
het. Hoe beter ek myself ken, hoe vryer kan ek tussen ander leef omdat ek al
meer weet wat my verkeerde knoppies druk en hoe meer kan ek myself in vryheid
gee vir ander en vir die wêreld om my. Hoe beter ek myself ken, hoe
deursigtiger gaan ek word en hoe naatloser gaan ek begin leef.
As ek vir jou ‘n stukkie kerswas gee
sal jy dit redelik maklik kan stukkend druk. ‘n Albaster sal bietjie moeiliker
gaan. Die sal jy met ‘n hamer moet stukkend slaan. ‘n Stuk marmer gaan ‘n
aansienlik groter uitdaging wees, maar met ‘n skerp beitel en hamer sal jy ‘n
merk kan maak. Maar ‘n diamant is ‘n ander storie. As jy ‘n diamant wil vorm
het jy uitsonderlike toerusting en vaardigheid in die hand van ‘n Vakman nodig.
Ons binnewêreld is soos die rowwe diamant. Daaroor moet ons nie naïef wees nie. As jy dapper genoeg is om die ingewikkelde en uitdagende instrument van kennis oor jouself in die hande van ‘n Vakman oor te gee sal jy gou agterkom dat jy tegelykertyd bewus raak van gawes wat diep verskuil lê en waarvan jy dalk voorheen onbewus is. Beide die skadu en die gawe (of die drif en die deug/vice or virtue) is nodig om die diamant in sy volle
glorie te laat skitter.
Of soos iemand eenmaal gesê het:
Everybody wants to be a diamond, but very few are willing to get cut.
Of soos iemand eenmaal gesê het:
Everybody wants to be a diamond, but very few are willing to get cut.
No comments:
Post a Comment