Ek stap by Waverley se Checkers uit en voor my storm ‘n woedende tannie
verby met drie pakkies en ‘n verdwaasde
omie agterna. Sy sis deur haar tande: Hierdie is is wragtag die mees patetiese
#$%@& winkel wat ek nog ooit gesien het. Sy storm voort. En die omie op
‘n draffie agter haar.
En ek sê vir myself: Ek dink nie hierdie is regtig die mees
patetiese #$%@& winkel wat ek nog
ooit gesien het nie. Ek was ook nou net daarbinne. En my ervaring was heel
aangenaam. Trouens is my ervaring hier meestal heel aangenaam, en ek kom een
maal per week hier. Toe dink ek: Dalk
voel sy elke keer hierdie is regtig die mees patetiese #$%@& winkel wat sy
nog ooit gesien het, want dalk kom sy ook een maal per week hier. Maar aan die
ander kant beleef sy dalk vandag net ‘n werklike slegte dag en ek sal mos nou
nooit weet presies wat alles vooraf in haar dag gebeur het en wat op daardie
oomblik in haar gemoed en hart aangaan nie.
Wat ek wel besef is dat ons persepsies inderdaad ons werklikheid bepaal.
En dat hierdie persepsies nie noodwendig op die werklikheid gebaseer is nie,
maar uit en uit op my manier van dink. Hoeveel keer was ek nie al self in
situasies waar ek na maande en selfs jare se vaste oortuiging besef dat die
sogenaamde realiteit waaraan ek vasklou en waarvoor ek kwaad is regtig net in
my kop bestaan het nie. En dit is nogal ‘n vernederende besef, want dit beteken
dat ek nie net onnodig vir jare ander mense se lewe hel gemaak het oor hoe ek
dink nie, maar dat veral ek ‘n gevangene was van my eie skewe manier van dink.
Bewustelikheid in my verhouding met God gaan onder andere ook daaroor om
al meer daarvan bewus te word dat die realiteit dalk anders daaruit sien as wat
ek dink en dat ek oop genoeg raak om daarvan oortuig te word, selfs al voel dit
onmoontlik. Die eerste stap om die hok se deurtjie oop te maak is om te vra: Is daar ‘n kans dat hoe ek hieroor dink op
‘n onwaarheid gebaseer is?, en dan werklik oop te wees vir die proses wat
volg.
Dalk nooi God my om nie net hierdie tyd van die jaar te reflekteer oor
gebeure en verhoudings en keuses nie, maar ook om te reflekteer oor die
oortuigings en persepsies van ander en myself en die lewe, en toe te laat dat
my persepsies al meer in lyn kom met God se manier van kyk en dink oor die lewe
as sulks.
No comments:
Post a Comment