Ek bly al 22 jaar in
Pretoria. Na 22 jaar ken mens ‘n plek redelik goed. Tog moes ek so ruk gelede
een laatmiddag, in die spitsverkeer, met ‘n dreigende donderstorm in die
agtergrond, na twee totaal uiteenlopende plekke aan weerskante van die stad ry.
Interessant genoeg was beide plekke in areas waarmee ek glad nie goed bekend is
nie. Ek was al in die omgewing van die eerste plek, maar nie genoeg dat ek hoegenaamd
weet hoe dinge in daardie gebied inmekaarsteek nie. Die tweede plek, waar ek
net na donker moes wees, was vir my totaal onbekend.
Gelukkig het ek ‘n baie
goeie GPS en met die adres ingetik is ek gou op koers. Om tot by die eerste
plek te kom was nie ‘n uitdaging nie, want ek het min of meer geweet waarheen
ek op pad was. Maar om by die tweede plek uit te kom was ‘n heel ander storie.
Toe ek die adres van die tweede bestemming ingetik het en begin ry, het ek baie
gou besef dat ek nou glad nie weet waar ek is. Dat ek nog minder weet waarheen
ek op pad is. Anders as die eerste keer, toe ek nog ‘n vae idee gehad het, was
ek nou volledig oorgelewer aan die GPS se onbekende instruksies op ‘n nog meer
onbekende roete en moes ek doodeenvoudig draai wanneer sy sê draai en aanhou
waaneer sy sê aanhou.
As ek vir iemand moes verduidelik waar ek was sou ek nie weet
wat om te sê nie. Daardie aand het die term terra incognita, of te wel
onbekende land, nuwe betekenis gekry. En tog, soos te verwagte, bevind ek my toe
na 40 minute se kronkels en draaie in sterk skemer met reën op die ruit en nat
paaie, heeltemal betyds op die regte plek.
Is dit nie maar presies hoe
die lewe werk nie? Dikwels is ons op bekende paaie en voel ons redelik
seker van die pad. Ander kere is ons op minder bekende paaie, maar voel tog nie
verdwaal of verlore nie. Maar soms bevind ons ons op plekke waar ons nog nooit
was nie. Dis in sulke tye dat God ons nooi om Hom blindelings te vertrou, soos
ek met die GPS daardie someraand. Dan kan ek nie my eie kop volg nie, want
die uiteinde sal eenvoudig wees dat ek verdwaal in my eie insigte. Dan kan ek
nie my eie planne beraam in ‘n poging om die noodwendige oorgawe te systap nie.
Dan het ek geen ander keuse as om te fokus, te luister en tree vir tree in die
oomblik teenwoordig te wees en te doen wat die volgende tree van my verwag nie.
Die dilemma is dat ons
dikwels met God se roete aanwysings stry, al sê God dat Hy met al ons paaie
goed bekend is (Ps 139). As ons so maklik met ons werklike GPS’e stry of
doelbewus ander rigtings inslaan, al hoor ons oor en oor die woorde:
Recalculating… , hoeveel te meer probeer ons nie eksperts van ons eie lewenspad
wees nie. Gelukkig sê Jesus dat Hy self die pad (Joh. 14:6) is en dat ons in
vertroue moet leer om Hom te volg, want dis Hy wat ons sal neem na die plek
waarheen God met ons pad is.
No comments:
Post a Comment