Ons
mense is tog so geneig om alles in kategorieë te wil indeel. So asof ons voel dat ons beter beheer het oor
dinge as ons weet in watter boks dit inpas. So verdeel ons ook in ons
verhouding met God die hele lewe in kategorieë van heilig en wêrelds of sakraal
en sekulêr.
Ek
onthou so goed hoe die jaarlikse kerkkonsert verdeel is in die geestelike en
die beestelike deel, met die beestelike deel na pouse, want dit was pret. As
die geestelike deel na pouse was, sou net die dominee, die kerkkantoor tannie
en die hoof-ouderling en hulle gesinne gebly het. Miskien is dit nou regtig tyd
dat ons hierdie uiters gebrekkige verdeling van die realiteit laat vaar.
Richard
Rohr is van mening dat ons manier van leef wêrelds of sekulêr word wanneer ons
bloot op die oppervlak van die lewe funksioneer. Hy sê: It’s not that the sacred is here and the profane is over there.
Everything is profane if you live on the surface of it, and everything is
sacred if you go into the depths of it – even your sin.
Hiermee
bedoel hy dat as ek die moed sou hê om die binnewerke van my eie sondigheid en
gebrokenheid en foute te betree, sal ek vir God daarbinne ontdek. Karl Rahner
het hierna verwys as die mistiek van die alledaagse. Maar as ek op die
oppervlak leef, selfs op die oppervlak van dinge wat met God verband hou, soos
die Bybel, die kerk en ander geestelike dinge, vervlak ek dit tot iets wat glad
nie heilig of sakraal is nie, maar word dit juis as gevolg van die vlakheid
daarvan wêrelds en sekulêr, selfs goddeloos.
Daarom
is die onderskeid vir iemand wat diep en eg met God op pad is, nie tussen
heilig en wêrelds nie, maar tussen kunsmatige en oppervlakkige dinge aan die
een kant en diep en egte dinge aan die ander kant. Die dieptes nooi ons altyd
dieper en wanneer mens die dieptes van enige saak begin verken, kan mens nie
anders as om God en sy diep prosesse daar te ontdek nie, selfs in oënskynlike
alledaagse dinge.
No comments:
Post a Comment