Ek lees vroeër in die week weer hierdie woorde in 1 Petrus 1: 15: Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hewe lewenswandel heilig wees. Ek wonder onmiddellik: Wat beteken heilig wees nou eintlik?
Natuurlik is daar die semantiese betekenis van die
woord. Die
Hebreeuse woord vir heilig is "qodesh" en beteken
"afgesonderdheid of afsonderlikheid”. Mens kan die woord ook vertaal as "andersheid
of transendente". In die Nuwe Testament is die woord vir heilig
"hagios" en beteken afgesonder en werd om te vereer.
Dis goed en wel om te weet wat heilig beteken, maar op ‘n manier help dit mens nie regtig nie. Dis vir ons maklik om te dink dat God heilig is, maar hoe op aarde kan ons heilig wees?
Dalk is een van die probleme dat ons in ons
onderbewussyn heilig wees ook sien as perfek wees, sonder gebrokenheid en
foutloos. Weereens is dit maklik om só oor God te dink, maar dis tog mos nou nie waar van
ons nie, want ons is allesbehalwe perfek, ons is gebroke en vol foute. So hoe
kan ek dan heilig wees? As mens heiligheid so verstaan sal niemnad van ons ooit
heilig wees nie.
Vir baie lank loop ons al met die idee dat mense wat heilig is so half verhewe is bo die aarde en nooit iets verkeerd doen nie. Dis natuurlik ook ‘n bedreigende gedagte, dat iemand anders heilig is en ek nie, want as iemand dan nou so vlekkeloos is en ek is nie, voel ek heeltyd dat ek dit net nie maak nie. Al probeer ek hoe hard sal ek dit net nooit regkry om regtig heilig te wees soos sekere heilige mense waarvan ek weet nie. En dan diskwalifiseer ek myself sommer onmiddellik van enige potensiële heiligheid.
Vir baie lank loop ons al met die idee dat mense wat heilig is so half verhewe is bo die aarde en nooit iets verkeerd doen nie. Dis natuurlik ook ‘n bedreigende gedagte, dat iemand anders heilig is en ek nie, want as iemand dan nou so vlekkeloos is en ek is nie, voel ek heeltyd dat ek dit net nie maak nie. Al probeer ek hoe hard sal ek dit net nooit regkry om regtig heilig te wees soos sekere heilige mense waarvan ek weet nie. En dan diskwalifiseer ek myself sommer onmiddellik van enige potensiële heiligheid.
So wat presies sou Petrus dan bedoel as hy sê ons moet heilig wees soos God heilig is? Dalk lê die antwoord nie in ons populistiese verstaan van die woord nie, wat ons altyd laat voel dat ons te kort skiet. Miskien moet ons eerder ons verstaan soek in die feit dat God anders is as ons en ons wêreld – soos die woord se betekenis ons leer. Wanneer ons begin verstaan dat God anders is kan ons begin sien dat God se heiligheid juis daarin lê dat Hy ons roep na ‘n vorm van bestaan wat meer is soos wat Hy is, so anders soos Hy. As ek van hierdie roepstem van God bewus word wat my roep om ook soos God heilig te wees, om so anders soos God te wees, word heiligheid nie meer ‘n kriteria waaraan ek onmoontlik kan voldoen nie, maar word dit ‘n roepstem, ‘n smagting, ‘n droom van ‘n ander manier van bestaan.
Dan gaan heiligheid skielik nie meer daaroor dat ek aan ‘n sekere kriteria moet voldoen om heilig te wees of sekere dinge nie doen nie en daarom nie heilig is nie. As ek heiligheid begin verstaan as ‘n roepstem om so anders soos God te wees, word dit iets wat my nader trek, my lok en my wil insluit in Sy groter realiteit, wat inderdaad baie anders is as die wêreld waarbinne ons leef. Dit bring mee dat ek nie net wíl heilig wees nie, maar besef dat my hele lewe en lewenstyl met verloop van tyd heilig kán wees, omdat God graag wil sien dat my realiteit met syne begin versmelt en ek my vrywillig begin oorgee aan God se manier van wees.
Dis dan waneer ek God se heiligheid in my verhoudings kan begin leef.
Wanneer ek begin sien hoeveel heilige grond daar in en om my is.
Dat ek na my lewe en ervarings kan kyk en kan sê: “Wat hier gebeur het is heilig”.
Wanneer ek verstaan dat God se heiligheid dalk
meer ‘n uitnodiging is tot ‘n kwaliteit van bestaan kan ek dalk begin insien
dat om heilig te wees dalk nie so onmoontlik is soos ek gedink het dit is nie,
maar dat ek in die gewone handel en wandel al meer so anders soos God kan wees, en dus per definisie heilig word.
Die skrywer, Henry Miller, het dalk ‘n punt beet gehad toe hy gesê het: “We must be holy without holiness (ons tradisionele verstaan van heiligheid). We must be whole, complete. That’s being holy. Any other kind of holiness is false, a snare, and a delusion.”
Ek vermoed Willem Nicol deel ook hierdie verstaan van heilig word wanneer hy hierdie woorde skryf: “Wanneer ‘n mens nie meer dink jy is beter as ander nie, en nie meer beter as hulle hoef te wees nie, is jy vry! Jy hoef niks meer weg te steek nie, maar kan oop en deursigtig leef. Jy kan ontspanne voortleef sonder kamoeflering en vertonings en pogings om iets besonders te wees; sonder die gedryf om gedurig beter as ander te lyk; sonder die drif om altyd te wen. Jy word dan ‘n mens wat onopvallend, eenvoudig leef. Die heiliges lyk gewoonlik soos gewone mense.”
Mag ons by God leer
om te leef uit die heiligheid van ons andersheid.
No comments:
Post a Comment