Hierdie skildery van Carl Spitzweg is weereens fassinerend in die eenvoud en eerlikheid daarvan. Aanvanklik moet mens fyn kyk, maar as jy dit sien voel dit amper of jy self die wag uitgevang het.
Stel jou voor hoe die wag heel verveeld daar gestaan het en die
middagsonnetjie al warmer op hom neergebak het. Hoe hy al vaker word en heel
terloops ‘n plannetjie begin bedink. Skielik besef hy dat dit glad nie so
slegte plan is nie en dat hy dit inderdaad sal kan doen. Hy soek ‘n stok en plant
dit. Dan maak hy doodseker dat niemand hom van onder die dorp af beloer nie en
hy trek vinnig sy baadjie uit en hang dit om dit stok en met een sekere
beweging swiep hy sy hoed van sy kop af oor na sy stok-verteenwoordiger. Hy buk
af en sluip hande viervoet tot in die skadu van die rankplant, vlei hom neer in
die groen gras en raak lomerig-lui aan die slaap.
Mens kan nie help om te wonder hoeveel keer hiervoor of hierna
speel die toneel af nie. Mens kan ook nie help om te dink wanneer iemand hom
gaan uitvang en in hoeveel verskillende soorte moeilikhede hy hom dan gaan
bevind nie.
Ek vermoed ons almal is maar soms op een of ander manier die Slapende Wag. Vanuit die perspektief van innerlike transformasie is die dilemma nie noodwendig dat hy die middagslapie neem nie, maar die fyn berekende voorgee wat
daaragter lê. Hy besef waarskynlik dat dit in sy beste belang is om te máák asof hy op sy pos is, om die indruk te skep, terwyl hy werklik nie is nie.
Dit laat mens wonder hoe bewus elkeen van ons is van hierdie dinamika in onsself: die geneigdheid om ander onder die indruk te bring dat dinge anders is as wat dit werklik is. Sou ons kon sien hoe dikwels ons op subtiele maniere ander mislei, sodat hulle dalk dink dat ons meer spiritueel of meer toegewyd of meer opreg of meer betroubaar of iemand met meer integriteit is of flukser of eerliker as wat
ons werklik is?
Die dilemma hiermee is dat die voorgee so subtiel en fyn is dat ons onsself glo. God nooi ons op ‘n moeilike pad waar ons eerstens aan onsself sal erken dat ons nie altyd is wie ons voorgee om te wees nie en daarna vir onsself sal vra waarom ons ander so graag onder die indruk wil bring dat ons iemand is wat ons nie ten diepste is nie.
By God hoef ons nie voor te gee dat ons altyd op ons pos is nie. Ons mag maar ‘n middagslapie in die skaduwee neem.
By God hoef ons nie voor te gee dat ons altyd op ons pos is nie. Ons mag maar ‘n middagslapie in die skaduwee neem.
No comments:
Post a Comment