Niemand sal stry dat ons ons in ‘n baie uitdagende tyd in Suid-Afrika
bevind nie. Die vraag is: wat van hier af verder? Hoe kies ons om te reageer?
Natuurlik gaan ons nie almal presies dieselfde reageer nie, want ons is almal anders,
maar ek dink vir ons, wat sê dat ons gelowiges is, is dit baie belangrik om te
vra in watter rigting gaan ons God toelaat om ons te lei. en daardie rigting
glo ek wys die Evangelie vir ons redelik duidelik.
Wanneer jy hier lees wil ek vra dat jy sal bewus wees van jou ego, dat
jy sal probeer oop en ontvanklik wees vir die stem van God se Gees en sal bewus
wees van die moontlike hardheid van jou eie hart. Moenie te gretig met my saamstem
nie. Moet ook nie te gretig van my verskil nie. Luister net.
Ek sou baie tekste kon kies om by te gaan stilstaan om ons te help om te
onderskei in watter rigting God ons roep, maar ek kies intensioneel hierdie spesifieke
tekste.
Neem jou kruis op
Die eerste teks nooi ons om elke dag ons kruis op te neem.
Lukas 9: 23 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy
kruis opneem en My volg, 24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor,
maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou”.
Dis maklik om te sê verloën jouself, neem elke dag jou kruis op, sterf
aan jouself en volg vir Jesus. Maar ek dink nie ons het enige idee wat Hy van
ons vra nie.Wat vra dit van ons as Christene in 2015 in Suid-Afrika?
Sou dit dalk vra dat wanneer ‘n golf van moedeloosheid en negatiwiteit
en hooploosheid my weer wil tref, elke
oggend van voor af kies om nie daaraan toe te gee nie?
Sou dit dalk vra dat ek finaal vir myself sê: Ek woon in Afrika. Elke
keer as my hart klop is dit die son en stof en plattelandse vlaktes wat deur my
hart vloei en nie die sneeu en papawers en katedrale van Europa waarna baie van
ons nog steeds genieties smag nie?
Sou dit dalk vra dat ek my rassisme en haatspraak en bitterheid elke dag
op die altaar te sit en oor en oor opoffer en prysgee?
Hier moet ons baie mooi onderskei tussen krtiek en rassisme en
haatspraak. Ek is geweldig krities oor baie dinge in ons land en ek dink ook
ons moet wees. Dis deel van ons taak om op te staan en te praat as dinge nie
reg is nie. Maar ongelukkig verwar baie mense net te maklik kritiek met
rassisme en haatspraak. Dis nie dieselfde ding nie. Verder kan kritiek ook maklik
verander in verdoemende en hooplose taal en daarvan moet ons baie bewus wees.
Kritiek is soos sout: dit kan maklik die kos bederf, terwyl dit eintlik
veronderstel was om dit beter te maak.
Vers 24 van Lukas 9 sê as jy krampagtig aan jou idee van lewe gaan
vasklou verloor jy die lewe, want jou krampagtige poging druk die potensiaal
van lewe dood in elke verband van jou lewe. Maar as jy bereid is om hierdie
diepgewortelde goed prys te gee, te laat sterf, elke dag jou kruis van voor af
op te neem daaroor, kom daar moontlikheid vir lewe.
‘n Mens kan ons gelukkig nie ‘n Christen en ‘n rassis wees nie, al wil
jy hoe graag.
In hierdie land gaan niks verander as al God se kinders nie hierdie
radikale pad begin stap nie. En dalk stap God nou met jou die pad terwyl jy
hier lees.
Hou op omkyk
Terwyl hulle kilometers op lang grondpaaie stap van een dorp na ’n ander
het daar baie gesprekke tussen Jesus en sy dissiples plaasgevind. Op ’n dag is
daar onder ander hierdie dinge tussen hulle gesê.
57 Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al
gaan.”
58 Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”
58 Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”
59 Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe
om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”
60 Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
60 Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
61 Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my
familie by die huis te gaan groet.” 62 Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan
die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die
koninkryk van God nie.”
Die tweede gedeelte, ook uit Lukas 9, vra amper nog ’n moeiliker ding en
dit is om op te hou omkyk.
Die eerste dissipel verklaar so amper romanties dat hy Jesus sal volg waar
Hy ook al gaan. Dis amper asof Jesus vir hom sê jy het geen idee wat jy nou
kwytraak nie: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens
het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.” Jesus self het nie eers ’n plek wat Hy
huis kan noem nie.
Die twee daaropvolgende gedeeltes is baie moeilik. Dis beeldspraak waarmee
Jesus vir ons probeer sê dat om Jesus te volg gaan baie meer van jou vra as wat
jy gedink het. Jy sal nie aan die konvensionele stem van die samelewing kan
toegee nie. Ons kan nie kies watter van Jesus se opdragte ons wil uitvoer en
Hom op ons eie voorwaardes dien nie. As ons aanhou terugkyk na hoe dinge altyd
was, kan ons nie vir Jesus volg nie, want dan is ons hart eintlik nog by die
verlede en beslis nie by dit waarheen God ons nooi nie, al is dit hoe swaar. As
jou hart nog behoort aan die verlede sal jy baie sukkel om jouself te gee aan
dit wat in die toekoms lê.
Dit is vir ons die maklikste ding om in argumente en rusies en te verval
oor ons verskillende standpunte. Een ding weet ek en dit is dat Lukas 9 sê ons
kan nie aanhou terugkyk nie.
Dalk het jy of jou familie of vriende persoonlik baie gely in die
voorafgaande twintig jaar. Dalk bevind jy jou tans in ’n baie moeilike situasie
binne die politieke bestel. In ons land is daar oral mense met baie pyn.
Tog moet ons aanvaar die ou Suid-Afrika is verby.
God roep ons wat nou in hierdie land bly om te besef dat ons geen ander
keuse het as om vorentoe te kyk en deur storms en chaos en beurtkrag en baie
gemors te ploeg en saam te bou aan iets nuuts nie. Geen ander keuse nie.
My man, Jaco skryf op ’n stadium:
Dis belangrik dat “gewone Christene” by die werk en in die breër samelewing 'n profetiese stem laat hoor. Dat elkeen wat vir Jesus volg weet dat hy/sy geroep word om 'n lig te wees op donker plekke en op te staan vir geregtigheid, van die direksie vergadering waar besluit word om mense af te dank sodat die base steeds hulle reuse salarisse en bonusse kan kry tot waar maatskappye besluite neem wat potensieel skadelik is vir die ekologie.
Dis belangrik dat “gewone Christene” by die werk en in die breër samelewing 'n profetiese stem laat hoor. Dat elkeen wat vir Jesus volg weet dat hy/sy geroep word om 'n lig te wees op donker plekke en op te staan vir geregtigheid, van die direksie vergadering waar besluit word om mense af te dank sodat die base steeds hulle reuse salarisse en bonusse kan kry tot waar maatskappye besluite neem wat potensieel skadelik is vir die ekologie.
Ons
profetiese stemme sal egter
net outoriteit hê (ons sal slegs gehoor word), as ons praat vanuit 'n posisie
van selfopoffering en diens. St Franciscus van Assisi se sterkste profetiese
stem was nie sy woorde nie, maar sy radikale leefstyl. Mense praat vandag selde
oor wat hy gesê het, maar onthou die alternatief wat hy geleef het. Wanneer
iemand soos hy egter wel gepraat het, het mense gestop en geluister.
Die
alternatief vir 'n profetiese stem by die werk is dat kerkmense altyd net by
die kerk (en in restaurant en om braaivlesivure) onder mekaar staan en moan oor al die ongeregtigheid in ons land - en
stilbly by die plekke waar dit regtig saakmaak.
Hy
vertel ook die verhaal van die klein monnik en die magtige Rome.
Teen die jaar 400nC kon ʼn mens
begin praat van “ʼn Christendom” sonder om te oordryf. Die kerk was nie meer
meer ʼn weerlose sekte sonder politieke en ekonomiese status en mag nie, sy was
nou ʼn heerser. Deel van die magtige Romynse ryk. Selfs die koning, Honorius,
was ʼn Christen.
In die middel van die Romeinse
magsvertoon was die kolloseum. ʼn Wrede plek waar mense mekaar in die openbaar
doodgemaak het tot vermaak van ʼn skare toeskouers.
Wat week vir week daar afgespeel
het was egter meer as net wrede vermaak, dit was ʼn tentoonstelling politieke en
ekonomiese mag. Die gladiators wat tot die dood toe teen mekaar en allerhande
wilde diere moes veg, was krygsgevangenes en slawe wat besit is deur politici
en ryk besigheidsmanne. Baie van die meer as vyftigduisend toeskouers wat die
gevegte met groot entoesiasme bygewoon het, het hulleself Christene genoem.
Koning Honorius het dikwels van die gevegte self bygewoon.
In daardie tyd het daar ʼn monnik
gelewe wat ʼn ernstige probleem begin ontwikkel het met die hele
doodmaak-terwille-van-vermaak-en-geldmaak bedryf - hy was glo 'n klein koddige
mannetjie met 'n swart kleed. Die Christendom het vir hom al hoe minder na
Christus begin lyk. Baie Christene het waarskynlik diep in hulle eie harte sy
ongemak gedeel, maar niemand het ʼn idee gehad oor hoe jy so 'n eeue oue tradisie in die Magtige Rome
verander nie.
Daar is baie stories en teorieë
oor wat presies gebeur het op daardie dag in 404. Daar was een of ander optog
en die klein monnik het homself glo vir die eerste keer voor die ingang van die
volgepakte kolloseum bevind. Om een of ander rede het hy ingegaan. Hy het sy
sitplek ingeneem en 'n ruk lank net daar gesit en kyk. Iets moes op stadium in
hom gebreek het, want die volgende oomblik het hy die trappe af, die arena in
gestorm en tussen die twee gladiators gaan staan en geskree: “In Jesus naam,
hou op!”
Die skare was stomgeslaan. 'n
Stilte het oor die plek toegesak. Na 'n ruk wou die twee vegters weer begin
veg, maar die monnik het heen en weer tussen hulle gehardloop en geskree: “In
Christus naam, hou op!” Aanvanklik het die skare dit glo heel komies gevind en
gelag, later het dit hulle egter begin irriteer. Mense het begin skree dat die
vegters hom moet doodsteek, sodat die skouspel kan aangaan. Van hulle het hom
met klippe begin gooi.
Die een vegter het nader gestap en
hom met sy swaard in die maag gesteek, toe hy op sy knieë val het die skare nog
klippe en bakstene wat in die kollusuem rondgelê het opgetel en hom gestenig.
Met sy laaste asem het hy glo gehyg, “In Christus naam hou op.”
Die monnik se naam wat Telemachus.
Wat ʼn tragiese verhaal sou jy sê.
Wat ʼn sinnelose tragedie. Maar die storie eindig nie daar nie!
Hierdie dag in 404nC is aangeteken
in die geskiedenis as die datum van die laaste gladiatorgeveg in die kolloseum
in Rome. Daar word vertel dat koning Honorius so geraak is deur die selfopoffering
en dapperheid van Telemachus, die klein monnik, dat hy stiergevegte net daar en
dan verbied het.
Die onmoontlike het gebeur in die
magtige Rome. Nie deur magsvertoon nie, maar deur iets in gans die
teenoorgestelde gees, deur weerlose passie en selfopoffering.
Ons sal antwoord op U roepstem
Die meeste
van ons onthou nog die woorde van die Stem goed en ons almal weet hoe dit in
die afgelope tyd amper ‘n burgeroorlog ontketen het, maar daar is twee sinne in
daardie lied wat ek dink God self voor ons wil kom neersit. Nie vir die
Suid-Afrika wat was nie, maar vir die een wat ons nou het.
Die woorde
het so gelui:
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika.
Ons is nie in
die eerste plek veronderstel om Suid-Afrikaners te wees nie, maar Christene,
volgelinge van Jesus… Daarom MOET ons die woorde verander:
Ons sal antwoord op U roepstem, ons sal offer wat U vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – vir ‘n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika.
Ons sal lewe, ons sal sterwe – vir ‘n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika.
En hoe kan ons dit sê: Omdat ons onverskrokke glo
in die woorde van Psalm 46:
2 God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te
help in nood.
3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
4 al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela
3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
4 al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela
9 Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde
tot stand bring:
10 die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
My toevoegingtjie:
Die oorlog in ons harte laat hy tot bedaring bring.
Hy help ons om kreatiewe planne te maak en aan te hou om te veg om lewe te bring, al dreig vrees en onreg en ongeregtigheid en geweld soms soos ’n tsunami op die horison.
10 die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
My toevoegingtjie:
Die oorlog in ons harte laat hy tot bedaring bring.
Hy help ons om kreatiewe planne te maak en aan te hou om te veg om lewe te bring, al dreig vrees en onreg en ongeregtigheid en geweld soms soos ’n tsunami op die horison.
11 Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
No comments:
Post a Comment