Hoe wonderlik sou die wêreld darem gewees het as daar geen komplekse
verhoudings was nie. As ek nooit hoef sleg te voel oor enigiets wat tussen my
en ander gebeur nie en ek nooit met geknoopte derms hoef rond te loop oor een
of ander vorm van konflik tussen my en ander persone nie. Sommige van ons se
persoonlikhede maak natuurlik dat ons ons staal teen hierdie doodmenslike tipe
verhoudingsproblematiek en maklik sal sê “Dis soos water van ‘n eend se rug”,
maar vir die meeste van ons is dit ongelukkig nie die geval nie.
Ek weet van niemand wie se lewe nie elke nou en dan, en soms vir lang
tye aaneen, deur komplekse verhoudings geraak word nie. Die vraag is natuurlik
hoe reageer ek?
Dikwels wil ek graag die blaam vir my eie interne konflik op ander plaas
en sê dis sy of haar skuld dat ek nou so voel of dat my hele binnekant omgedop
is en my interne vrede versteur is, maar is dit die ander persoon se skuld? Is
die vraag nie eerder waarom ek so op die konflik of op die ander persoon se
woorde of optrede reageer nie? Wat is dit in myself wat maak dat die ander
persoon my so ontstel? Voel ek dalk geaffronteer omdat iets van die waarheid
uitgekom het en ek daarvan terugdeins? Hierdie is natuurlik nie eenvoudige vrae
nie, want dit vra dat ek sal gaan stilsit met myself en vra wat nou hier aan
die gang is. Dit vra dat ek myself waarneem en die waarheid oor hoekom ek so
voel in die oë kyk. En dis alles behalwe maklik.
Natuurlik mag ek ook ontdek dat ek heel geldige redes het om te voel
soos ek voel, maar ek vermoed dat ons meermale iets diepers oor onsself gaan
ontdek, en dit laat deins ons ego’s terug om by die wortel van ons reaksie uit
te kom.
Iemand het eenmaal gesê: Someone else cannot offend you. You can only take offence.
Dit klink dalk simplisites, maar ek is bevrees dis waar, veral as ons vanuit die hoek van die interne pad met God daarna kyk. Iemand anders kan my nie werklik aanstoot gee nie. Daar moet iets binne myself gebeur wat maak dat ek aanstoot neem.
Dit klink dalk simplisites, maar ek is bevrees dis waar, veral as ons vanuit die hoek van die interne pad met God daarna kyk. Iemand anders kan my nie werklik aanstoot gee nie. Daar moet iets binne myself gebeur wat maak dat ek aanstoot neem.
Die
vraag is dus nie of die ander persoon noodwendig reg met my gemaak het of my
seergemaak het of my nie in ag geneem het nie, maar wat ek maak met dit wat
gebeur het? As iemand inderdaad verkeerd opgetree het, moet ons dit met mekaar
uitklaar, want as God se kinders staan ons altyd aan die kant van eerlikheid,
openheid en deursigtigheid. Tog kan ek nie vir die ander persoon
verantwoordelikheid neem nie. Ek kan net verantwoordelikheid neem vir myself en
hoe ek uiteindelik kies om sin te maak van dit wat gebeur het of gesê is.
Miskien kan ek al meer bewus word dat ek altyd ‘n aandeel het in die
dinamika van ‘n spesifieke verhouding. Dalk het 1 Korinthiërs 13:5 die laaste sê: “Die
liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie
liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie". Of soos Richard Rohr
ons pynlik mooi herinner: “It’s never about
the other person. It is always about me. It’s never the other one that needs to
die. It’s me who need to die”.
No comments:
Post a Comment