Ek was ongeveer 35
jaar oud toe ek begin onthou het. Daar was soveel dinge uit die vorige deel van
my lewe wat net in die newels van my onderbewussyn weggesak het en skielik het
dit soos die sediment onder in ‘n poel water na bo begin spoel. Dinge uit my kinderdae,
gebeure uit my tienertyd en studentejare, komplekse of vasgeloopte verhoudings
van vroeër. Dinge wat ek voorheen óf glad nie onthou het nie óf geen betekenis aan geheg
het nie. Nou het dinge op ‘n nuwe manier begin sin maak met nuwe lig wat op ou
gebeure val. Vir die eerste maal het ek besef wat die effek van sekere gebeure
en interaksies met mense op die vorming van my binnewêreld was.
Waarom sou die dinge van die verlede belangrik wees op my dieper pad met God? Daar is tog redes hoekom mens is soos jy is. Of mens daarvan hou of nie, die issues wat jy wetend en onwetend mee rondloop kom mos van iewers af. Wanneer God met my besig is met ‘n proses van innerlike transformasie werk Hy nie net met dit wat op die tafel lê nie, maar veral ook met dit wat ver weggepak is. God se proses van innerlike transformasie gebeur ongelukkig nie net deur te sê: “Ag Here, help my” of “Ag Here, vat dit weg” nie. God antwoord natuurlik graag daardie gebede, maar Hy gebruik die proses van my psige, my bewussyn en onderbewussyn, my emosies en al die baie rakke wat oor jare in die biblioteek van my binnewêreld geakkumuleer het as die instrumente waarmee Hy my gebed antwoord.
So hy gaan jou help en
oor tyd gaan daardie dinge minder van ‘n effek op jou funksionering hê en kan
jy as vry mens leef, maar Hy gaan jou eie binnewêreld gebruik om jou te help en
nie een of ander magiese towerformule nie. Hy gaan dus vra dat jy daardie rakke
gaan afstof en begin uitpak, want dis daar waar die diepste transformasie
plaasvind.
Die meeste van ons is
maar benoud oor hierdie proses, want ons weet nie wat ons daar sal vind nie.
Tog is ek regtig oortuig dat ons nie nodig het om bang te wees nie, want God
het ‘n ongelooflike deernisvolle manier om met ons te werk. Wat sou die ergste wees
wat kon gebeur? Waarskynlik erge meosionele ongemak of pyn, maar jy gaan nie
doodgaan nie.
As God in liefde werk
beteken dit hoegenaamd nie dat dit nie ook ‘n konfronterende proses gaan wees
nie. Vir God om te doen wat Hy wil doen moet die klippe soms uitgekap word om
by die goud uit te kom en die tumors moet soms uitgesny word om genesing te
bring. ‘n Liefdevolle, lewegewende proses behels meermale pyn en altyd die
waarheid. Daarom is Jesus se woorde in Johannes 8:32 ook waar van ons interne
prosesse: Ons sal die waarheid ken en die waarheid sal ons vry maak. So klim af
met daardie trappe na die volgepakte rakke van jou binnewêreld, begin afstof en
uitpak en beleef hoe God jou juis daardeur kom vry maak.
No comments:
Post a Comment