‘n
Vrou met die naam Agnes werk al vir baie jare in my vriendin se huis en sy het
haar kinders help grootmaak. Oor die jare het sy al soveel keer vir my vertel
wat ‘n wonderlike vrou Agnes is en hoe lief sy en die kinders vir mekaar is,
maar dat Agnes nou maar eenmaal nie ‘n uitstekende huishoudster is nie. Die
huis is net-net skoon en meermale moes sy al vir Agnes mooi vra oor die
spinnerakke en stof op die vensterbanke. Selfs na sy gevra het was die verskil telkens
nie noemenswaardig nie. So spot die vriendin dan dat mens seker maar moet kies
tussen ‘n skoon huis en gelukkige kinders.
So
rukkie terug vertel sy toe een dag vir my die volgende verhaal. Sy kom een
middag by die huis en hier kry sy vir Agnes in die sitkamer, besig om te werk
dat die stof so staan, lank na die tyd wat sy gewoonlik klaar gewerk het. “Wat
maak jy, Agnes?", vra sy. Dis toe eers dat sy die bril op Agnes se neus sien,
die bril wat sy nooit dra nie.
So sê
Agnes dat sy die oggend in haar eie badkamer haar bril opgehad het, wat sy
eintlik net gebruik om naaldwerk te doen, want sy kan nie eintlik baie goed
lees nie, en toe sien sy skielik hoe vuil is die lysie van die wasbak. Heel geskok
kyk sy toe in die res van haar badkamer rond en kon nie glo hoe vuil dit is
nie. Sy dink toe dat as haar badkamer skielik so vuil lyk, hoe lyk die huis dan
nie waar sy elke dag werk nie. En groot was haar skok!
Sy
vertel toe hoe verskriklik sleg sy al heeldag voel, want oral waar sy kyk is
daar net spinnerakke en stof en is die huis doodgewoon vuil. Sy vra vir my
vriendin of dit haar dan nog nooit gepla het nie, waarop die vriendin antwoord:
“Maar, Agnes, dis wat ek nog die heeltyd vir jou probeer sê. Ek het al gedink
jy hoor my nie.” Arme Agnes! Sy het so skaam gekry en het die hele res van die
middag, elke keer as sy my vriendin sien net gesê hoe jammer sy is en dat sy
van nou af elke dag met haar bril op gaan werk. My vriendin het nie in haar
wildste drome kon dink dat die oorsaak van die jarelange probleem was dat Agnes
doodgewoon nie gesien het nie.
Na sy
vir my die storie vertel het kon ek nie anders as om weer daaraan te dink dat
ons elkeen baie blinder is as wat ons dink nie. Om die waarheid te sê besef
niemand van ons eers dat ons nie sien nie, tot die oomblik wat ons sien! Dan
besef mens skielik wat jy nie raakgesien het nie en dat daar dinge van jouself
is waarvan jy gewoon onbewus was. Ander mense was lankal daarvan bewus, want
hulle kyk anders na jou as jyself. Dis net jy wat nie gesien het nie. Natuurlik
gaan die oomblik van sien met ‘n redelike mate van ontnugtering gepaard en voel
mens maar vernederd, nes arme Agnes daardie dag.
Die kuns is natuurlik om nie die oomblik van
sien te vrees nie, maar om daarvoor te wag, want dis in daardie oomblik dat groei plaasvind en jy in jouself grense
verskuif. Ek glo dis waarom Jesus soveel wonderwerke gedoen het waar blindes se sig herstel word, want om te sien is nie so voor die hand liggend soos dit klink nie. Miskien moet ek meer bid “Ek wil sien, Here”, en dan soos Agnes daardie oggend, my bril opsit, en nie terugdeins vir die spinnerakke en stof in die hoeke van my lewe nie.
No comments:
Post a Comment