Die meeste van ons is bekend met die gedagte om ons lewe aan die Here oor te gee. Die ganse Bybel is vol daarvan. Ek wonder of ons die volle impak van die konsep verstaan?
Vanuit die ego en die eie
wil klink dit soos die allerverskriklikste gedagte om my lewe volledig aan die
Here oor te gee, want ek wil mos graag self in beheer wees, self besluit en
self die koers van my lewe bepaal. Wie op hierdie aarde, met ‘n gesonde menslike
verstand, sal in elk geval sy en haar lewe oorteken om deur Iemand anders
beheer te word?
Die interessante is natuurlik die denkfout wat hierdie beswaar onderlê, want as ons dit sê impliseer ons dat ons vry is en dat God, wanneer ons onsself aan Hom oorgee, van ons beheer neem en ons in marionette verander. Die vraag is of ons sogenaamde vryheid nie ‘n absolute illusie is nie? Is ons so vry soos ons dink ons is of is ons eintlik maar net vasgevang in ander denksisteme en in elk geval marionette in die hand van groter prosesse in die wêreld en onsself, sonder dat ons dit eers raaksien of besef.
Die interessante is natuurlik die denkfout wat hierdie beswaar onderlê, want as ons dit sê impliseer ons dat ons vry is en dat God, wanneer ons onsself aan Hom oorgee, van ons beheer neem en ons in marionette verander. Die vraag is of ons sogenaamde vryheid nie ‘n absolute illusie is nie? Is ons so vry soos ons dink ons is of is ons eintlik maar net vasgevang in ander denksisteme en in elk geval marionette in die hand van groter prosesse in die wêreld en onsself, sonder dat ons dit eers raaksien of besef.
Waarom sou Jesus so saak
daarvoor uitmaak dat ons ons lewe aan die Here moet oorgee, dat ons moet soek
na God se koninkryk en ons eie moet laat vaar, dat ons moet sterf aan onsself?
Waarom is dit so deurlopende tema, dat mens die gedagte van self-prysgawe, van
die aftekening van die illusie van beheer oor jouself letterlik om elke hoek en
draai in die Bybel vind? Waarom plaas Jesus soveel klem daarop dat as jy
krampagtig aan jou idee van jou lewe vasklou, verloor jy die lewe, maar juis as
jy jou idee van lewe laat gaan en deur Hom in besit geneem word, vind jy die
lewe?
Want God weet dat ons ten
diepste in elk geval aan toutjies dans, en Hy wil ons juis van ons sogenaamde
persepsies van vryheid en beheer kom bevry sodat ons deur onsself in Hom te
verloor ware vryheid en ware lewe kan vind. Hy wil ons nooi om ons eie wil ten
volle oor te gee aan sy beheer en gewillige marionette in Sy hand te word, want
God weet dat dit wat Hy vir ons beplan veel, veel meer lewegewend is as waarmee
ons ooit vorendag kan kom. (My unieke persoonlikheid en kreatiwiteit word in
elk geval dan eers ten volle ontsluit…) Dis net ons wat, voor ons ons aan Hom
oorgee en Hy van ons besit neem, sowaar dink dat ons ‘n beter rigting vir ons
lewe sal kan bepaal as God!
Die Here is al vandat ek 16
jaar oud is (natuurlik vroeër ook, maar toe was ek nie daarvan bewus nie) met ‘n intensionele, dieper pad met my besig (met ‘n 10 jaar
swerftog deur die woestyn daarby ingesluit). In die laaste weke is ek intens
daarvan bewus dat ek die heeltyd deur my lewe onder die indruk was dat ék sekere besluite geneem het, maar hoe meer ek
die verloop van my lewe beskou hoe meer sien ek dat God my ernstig opgeneem het
elke keer wat ek gesê het: “Vader, in U hande gee ek my lewe oor”.
As ons dit
verstaan noop God se Gees my om met oorgawe bid, soos Maria destyds ten
aanskoue van ‘n Engel in Lukas 1:38: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat
met my gebeur wat U gesê het.” Ten spyte van my ego en my gereelde onwillekeurige
weerstand waarvan ek meermale nie eers bewus is nie, weet ek dat daar vir my niks
beter is as om soos ‘n marionet te word in die hande van die Poppemeester nie.
No comments:
Post a Comment