‘n Ruk gelede stuur ‘n vriendin vir my hierdie prent wat my baie laat
dink het.
Ons weet al te goed dat die pad van die lewe nie vooruit geplavei is nie
en dat die lewe vreemde kronkels en draaie kan maak. Natuurlik kan ons ook deur
ons keuses bepaal in watter rigting hierdie kronkels en draaie ons gaan neem.
Soos iemand eenmaal gesê het: My keuses word my pad en my pad bepaal
uiteindelik my bestemming. Daarom is die keuses wat ons maak so belangrik, of
soos Erwin McMannes dit stel: Making choices is the most spiritual thing you
can do.
Daar is natuurlik ook ander minder hoopvolle maniere om oor ons
lewenspad te dink, naamlik dat die uiteinde van ons lewe deur die noodlot
bepaal word en dat ons nie veel sê het nie. As mens in God glo kom daar ‘n
radikale dimensie by ons verstaan, naamlik dat wanneer ek my lewe aan die Here
toevertrou het, ek nie alleenseggesnkap oor my lewe het nie. Selfs mense wat
glad nie met God assosieer nie kom soms op ‘n plek waar hulle besef dat God hulle
lewe lank nog met hulle besig was.
Die Bybel leer ons op baie plekke dat God graag vir ons die lyne van ons
pad wil verf en vir ons wil wys watter pad om te loop: in ‘n algemene, maar ook
in ‘n baie spesifieke sin.
Daar is met ander woorde ‘n algemene pad wat elke gelowige moet loop en dis redelik maklik om te ken. Jesus leer dit vir ons. Om dit te doen is natuurlik nie altyd so maklik nie. Dis die meer spesifieke pad waarmee die meeste van ons sukkel. Meister Eckhart se mooi woorde kom nou by my op: Do not follow the path of others, follow the path that God has given to you. Dis goed en wel dat ek as unieke mens met ‘n unieke persoonlikheid moet oop wees vir die unieke pad waarop God my nooi, maar hoe weet ek wat dit is? Hoe moet ek weet op watter pad God my roep?
Mens kan die vraag vanuit verskillende perspektiewe antwoord, maar dis
hier waar die belangrike konsep van om met onderskeiding te leef relevant raak.
Parker Palmer het eenmaal geskryf: Before I can tell my life what I want to do
with it, I must listen to my life telling me who I am. My persoonlikheid en
gawes en talente is ‘n goeie ‘n aanduiding van die pad waarop God my roep. Daar
is tog ‘n rede waarom ek is soos ek is, en dalk is daardie rede dat God my so
wil gebruik soos ek gemaak is en dat die kaart vir die pad waarop God my roep
nie êrens daarbuite lê nie, maar dat God die kaart in my DNA ingebou het.
Henri Nouwen sê dat sommige van ons iewers bewus word dat God ons op
spesifieke paaie roep, terwyl ander nooit daardie ervaring het nie, maar geroep
word op die groter pad van God se liefde en genade vir en
diens aan die wêreld. Wat ook al die aard van jou pad is, is ek van een ding
seker en dit is dat God ons altyd op paaie van Lewe wil lei, sodat ons weer die
pad na die Lewe vir baie ander kan oopmaak.
Die pragtige woorde van Jesaja 43 eggo al deur baie eeue dat God ons
altyd op paaie van Lewe wil lei: 1 Luister, so sê die Here wat
jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek
verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. 2 As
jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel
nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou
nie brand nie,… 5 Moenie bang wees nie, Ek is by jou. 16 So sê die Here, Hy wat
'n pad gemaak het deur die see, 'n deurgang deur die magtige waters,… 18 Maar
moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. 19 Kyk,
Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al
sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere
ontspring.
By God kan ons altyd oop wees vir nuwe paaie.
No comments:
Post a Comment