Die meeste van ons
voel maar effens ongemaklik met emosies, veral waar dit ons broos laat. Die
gemaklike, lewegewende emosies is vir niemand ‘n probleem. Dis die ongemaklike,
uitdagende emosies waarmee ons dikwels vasval. By Viam Dei praat ons elke nou
en dan daaroor dat dit mens niks in die sak bring om op ‘n dieper pad met God
weg te skram van ons emosies af nie. Inteendeel, dit verarm ons en bring mee
dat ons nie erkenning gee aan een van die groot aspekte van ons bestaan nie.
Die onderwerp van
emosies is soos die misterie van die lewe – nie onkenbaar nie, maar juis
eindeloos kenbaar. Ons sal nie by die einde daarvan kom nie. Om die rede trek
ek ‘n paar lyne wat my op die stadium help binne hierdie ongekarteerde
landskap:
- ·
Emosies is
net emosies. Moet dit daarom nie te ernstig opneem en daardeur oorweldig word
nie. Ek is nie my emosies nie. Daarom moet ek soms teen die rigting van my
emosies optree.
- ·
Terselfdertyd,
en paradoksaal teenoor bogenoemde, is my emosies juis een van God se grootste
gawes aan my. Telkens waneer ek bepaalde emosies ervaar is dit soos ‘n
boodskapper wat my wil bewus maak van wat diep binne in my aan die gebeur is.
- ·
Dit lyk
asof my emosies die sleutel sou kon hou vir die dieper plekke waarheen God my
wil neem, sodat ek diep bewus van my interne wêreld kan word en daarmee saam
kan beleef hoe God se Gees oor hierdie waters sweef.
- ·
Wanneer
dinge my diep roer en ek word stil daarmee, ontdek ek byna altyd iets van God
binne hierdie ervarings. Selfs die swaarder emosies soos verlatenheid,
isolasie, woede, vrees en angs (om maar ‘n paar te noem) kan my neem na God se
hart as ek net bereid is om in die emosie te gaan sit en te sien wat onder die
emosie lê.
- ·
Ek mag
nooit my emosies gebruik as die rede om ander of myself skade te berokken nie.
My emosies is veronderstel om as ‘n vlag te funksioneer in my dieper pad met
God en nie as ‘n wapen uit my emosionele ongemak uit nie.
- ·
Alhoewel
emosies geweldig sterk ervaar kan word en ons daarom dikwels terugdeins vir
sterk emosies en dit probeer vermy, sal my emosies my nie doodmaak nie. Die
ding om voor bang te wees is nie die emosie nie, maar die onuitgesorteerde
materiaal wat jaar in en jaar uit onder die emosie lê en broei (wat baie van
ons liefs ignoreer). Hoe vinniger ek leer om te vra waarom ek ‘n emosie ervaar,
hoe vinniger kan ek in die emosies inklim en hoe vinniger kan ek leer om te
sien dat daar onder die emosie iets lê waardeur God my sou wou transformeer
- · Wanneer ek my kwesbaarheid verdoof, sê Brené Brown, verdoof ek nie net die emosies wat my kwesbaar laat nie, maar ook al die ander emosies en kan ek binnekort nie meer die lewe geniet of dinge op ‘n diep vlak ervaar nie. God sou my eerder in my kwesbaarheid innooi. Dis juis deur Jesus se algehele kwesbaarheid dat daar vir ons lewe kon kom.
Hoe meer ontvanklik ek
is vir die hele spektrum van my emosies en al meer vertroud daarmee raak in my
verhuding met die Here, hoe ryker en meer lewegewend word die landskap
waarbinne ek lewe, al het ek nie ‘n kaart nie.
No comments:
Post a Comment