Thursday, May 19, 2016

Steen vir steen



Na baie wik en weeg het ons besluit om ‘n spesifieke deel van ons huis te verbeter. Enigeen wat al deur hierdie oefening is, sal weet hoe moeilik en frustrerend dit kan wees. Om alles te kroon loop dinge ook mos nie altyd soos jy beplan nie.

So gebeur dit toe dat die kontrakteur wat iets aan die dak moet verander nie sy werk kon doen voor die bouers begin het nie. Die bouers spring toe maar in en bou dat jy net sien sement en stene trek. ‘n Week later daag die dakmense op. Loutere chaos breek los, want die bouers het van die balke toegebou waaraan daar verander moet word. Die enigste oplossing? Breek die boonste deel van die splinternuut gepleisterde muur af! My hart wou byna gaan staan.

Deels oor die geweldige gemors wat dit gegenereer het, maar veral oor wat die bouer gaan sê waneer hy ‘n paar dae later weer opdaag om die laaste stuk klaar te maak... Wat my egter die meeste ontstel het was hoe vinnig dit geneem het om die spesifieke dele af te breek! Die vorige week is daar letterlik ure spandeer om die muur te bou. En binne minute (minder as ‘n halfuur) lê al daardie werk in die vorm van ‘n hoop bourommel op die grond. Ek wou huil! 
Vir die res van die dag loop ek in totale ontkenning dat dit so maklik kan wees om iets af te breek en dat dit so lank neem om iets te bou. Dit neem altyd baie langer om te bou as om te breek. Breek is maklik. Op ‘n manier kom breek vir ons natuurlik. Ons breek maklik deur ons woorde, die dinge wat ons dink en doen, ons lewenskeuses en deur hoe ons ander mense behandel.
Die moeilike ding is om elke dag intensioneel te bou, verantwoordelikheid te neem vir wie ek is en wat ek doen, en aan die einde van elke dag terug te kyk en te sien dat ek met moeite dit kon regkry om steen vir steen ‘n stukkie muur gebou te kry. Oor jare staan daar hopelik ‘n katedraal in my lewe, want katedrale neem letterlik ‘n leeftyd om gebou te word. Dink maar aan van die beste hedendaagse voorbeelde, Gaudi se Sagrada de Familia in Barcelona, waaraan daar al van 1882 af gebou word en wat waarskynlik eers na 2026 volledig voltooi sal wees.

Natuurlik gebeur dit ook dikwels met ons dat ons terugkyk en moet sien hoe daar na ‘n dag ‘n hoop bourommel lê. Óf deur my eie toedoen in my eie of ander se lewe, óf deur dit wat iemand anders wetend of onwetend aan my gedoen het. En as ek nie kies om iets met daardie bourommel te doen nie, sit ek helaas mettertyd met ‘n ruïne en nie met ‘n katedraal nie.

In die boek Nehemia sien ons hoe dit Nehemia se taak was om die stadsmuur van Jerusalem na die ballingskap te herbou. Dit was ‘n reuse taak maar deur slim keuses en intensionele planne kon hy dit regkry om die reuse stuk bouwerk in 52 dae af te handel. Sy belangrikste taak was egter nie net om die muur van die stad te herbou nie, maar om te help om vir die mense van Jerusalem weer ‘n stweige fondasie te gee waarop die mure van hule lewe gebou kon word. Om lewe moontlik te maak deur sy bouwerk.

Ons kry elkeen een kans om te lewe. Om ‘n lewe te leef is ‘n reuse verantwoordelikheid. Om elke dag ‘n paar stene op mekaar te stapel en die noodwendige bourommel wat die harde lewe genereer op te vee en die skade weer te herstel is geen eenvoudige taak nie, maar uiteindelik word dit ons lewenstaak en staan daar hopelik eendag ‘n katedraal – ‘n heilige plek, waar mense iets van God ervaar en wat ‘n veilige heenkome is vir myself en ander wanneer dit koud of warm of nat buite is.

Genadiglik leef ons as kinders van die Opstanding en is Klaagliedere 3 se woorde elke dag waar van 
ons:
21
Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Op ons familieplaas is daar ‘n koppie wat ek graag uitklim. Op die spesifieke plek waar ek verbystap staan daar ‘n muurtjie wat nie eers kniehoogte is nie, gebou uit leiklip en sement. Dit was my skoonma se droom om daar ‘n huisie te bou wat oor die rivier uitkyk. Voor sy haar huisie kon bou is sy oorlede. Maar haar leiklip muurtjie waarvan sy self die klippe aangedra en help lê het, sal nog vir baie jare daar staan as ‘n monument en herinnering dat sy ‘n droom gehad het om ‘n spesiale plek te bou en dat sy hard daaraan gewerk het tot sy nie meer kon nie. Wie weet, as sy kans gekry het, het daar dalk vandag ‘n katedraal gestaan.


No comments:

Post a Comment