Friday, August 12, 2016

‘n Roadtrip deur Ierland: Tot in my DNA




Soms kom mens iemand teë deur wie jy so gefassineer is dat jy jouself moet keer om nie openlik te staar nie.  So persoon was Doreta, een van die kelnerinne by ons een oornagplek. Wanneer jy haar aanvanklik sien lyk sy soos een van duisende mense. Daar is niks prominents wat haar op die oog af van ander mense sal onderskei as anders of besonders of buitengewoon nie. Tot jy haar vir ‘n hele rukkie dophou, soos ek twee oggende na mekaar kon doen.
Sy’s omtrent so oud soos ek, dit lyk of sy ‘n trouring dra en iets aan haar lyf sê dat sy dalk kinders het. Haar hare is in ‘n netjiese bolla vasgemaak en sy dra geen grimering nie. Haar klere laat mens dink aan iets wat mens in Downton Abbey sal sien - so bietjie uit ‘n ander era, funksioneel, stemmig. Sy werk gefokus en effektief. Skuif reg, dra aan, bedien. Uiters formeel. Tot sy by ons tafel kom en ons met haar oogkontak maak. Haar hele gesig ontplof in ‘n glimlag. Haar oë dans saam met haar stem wat sag en soet en hoflik vra wat sy kan bring, of alles reg is, hoe sy kan help. “Would you like to try the scrambled eggs with salmon or the eggs and bacon on Waterford blaa?” “Is everything to your liking, ma’am?”

Ek kan letterlik nie ophou om na haar te kyk nie. Sy fassineer my ongelooflik, maar hoekom? Dis dan wanneer ek die ander kelners sien en besef dis iets in hulle manier van doen. Dit lyk so half of hulle maar net ‘n werk doen, iets doen wat brood op die tafel kry, so half asof hulle nou maar daar is, maar wens hulle was elders. Met Doreta is dit anders. Dit lyk asof sy daar wil wees, dit lyk asof haar werk vir haar ontsettend lekker is en asof dit haar regtig diep vreugde gee om te sien dat haar gaste tevrede is. Om die waarheid te sê lyk dit asof hierdie diens aan ander deel is van wie sy is, asof sy dit nog altyd gdoen het en weer sal kies om dit te doen. Asof dit deel is van haar DNA. En dan besef ek, op die tweede oggend, d
ís wat haar onderskei van die ander kelners: sy gee haarself. Sy is anders as die ander en dit is deel van wie sy is, want sy gee haarself vir wat sy doen.

As God se kinders is party van ons dikwels soos die ander kelners wat maar net doen wat gedoen moet word. Ons is nie regtig hart en siel in wat van ons gevra word nie. Dit word tog veronderstel dat ons nie maar net ‘n stel geloofsoortuigings aanneem en met ons monde sê wat en dat ons glo nie. Dit vra dat ons hele wese deur hierdie oortuigings getransformeer word. Dat dit deel word van ons DNA.

Hoe ons moeilike omstandighede in ons lewe hanteer moet daardeur bepaal word, hoe ons optree wanneer ons verhoudings nie maanskyn en rose is nie, hoe ons maak wanneer ander ons seermaak of wanneer ons agterkom dat ons verkeerd teenoor iemand anders opgetree het. Hoe ons omgaan met ons geld en ons goed, met mag en status en posisie. Hoe ons optree wanneer ons siek of honger of moeg is. En so kan ons nog eindelose voorbeelde noem.

Om die waardes van die Evangelie van Jesus Christus deel van ons DNA te laat word, en om al meer die vergestalting van die beginsels van die Koninkryk te leef is iets wat waarskynlik ons lewe lank sal neem, maar dalk kan ons by Doreta van Kenmare leer: Ons word mettertyd anders as ander en wat ons doen word deel van wie ons is, wanneer ons begin om van onsself te gee.

‘n Road trip deur Ierland: Die voete van die Man op die bankie



Op die eerste dag in Dublin stap ons in die straat af en kom by die Christchurch Katedraal. Dis al laat en eintlik kan mens nie meer ingaan nie, maar dié aand is daar ‘n konsert en iemand beheer die toegang by die hek. Ons vra of ons net kan inkom om ‘n foto te neem, en skielik steek ons in ons spore vas. Hier op ‘n bankie, in die middel van die ingang, ten aanskoue van almal, lê ‘n kaalvoet man onder ‘n kombers en slaap. Ek dink: “Dis verskriklik! Die arme man...”, en toe “Dis ongelooflik dat hulle hom toelaat om hier te lê tusen al die mense wat verbystap, reg voor die kerk. So iets sal nie sommer by ons gebeur nie.” Ons kyk so half verbaas na mekaar. Dis wanneer ons twee treë nader gee dat ons besef hierdie is glad nie ‘n regte mens nie. Dis ‘n standbeeld, net ongelooflik realisties. Toe ons nog nader stap, draai my maag: die voete... Dis Jesus s’n. En dan besef ons hierdie standbeeld is nie van enige hawelose mens nie, maar van ‘n hawelose Jesus. My Jesus. Sonder blyplek onder ‘n kombers op ‘n bankie voor ‘n kerk.


Daardie Vrydagaand in Dublin het Timothy Schmalz, die beeldhouer, presies met ons reggekry wat hy wou. Om ons vir ‘n oomblik te laat stilstaan, te laat dink en kyk en ongemaklik te maak en weer te laat besef dat die mense wat op Jesus se agenda is ook op ons agenda behoort te wees.

Mens kan natuurlik nie anders as om dadelik aan Matteus 25 te dink nie.
“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38 En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

As volgelinge van Jesus kan ons nie daarvan wegkom dat Jesus Hom graag aan die kant van die verstotenes van die samelewing skaar nie, selfs al veroorsaak hulle dilemma vir ons groot morele en etiese dilemmas. Ons weet daar is nie eenvoudige oplossings en antwoorde nie. In hierdie opsig is dit ook waar dat ons dikwels so wroeg om die regte ding te doen, dat ons vergeet om in hart en gesindheid en optrede na aan Jesus te bly. As ons na aan Hom bly sal Hy ons help om Hom raak te sien in elke mens wat ons teëkom en om te groei in ‘n hart van deernis en liefde en dade van diens.

Op 1 Mei 2015 toe die standbeeld onthul is, is hierdie woorde deur die aartsbiskop gesê: “Throughout the world of today human beings are subjected to indignity, homelessness, trafficking and death simply for being alive and getting under the ideological skin of their oppressors. Every day for them is a Good Friday. They wait for the day of resurrection in hope and in fear, in trust and in betrayal, in darkness and in light. Homeless people draw us into their world – and rightly; we dare not abandon them. The 21st century is not yet an improvement on the 20th century. The Homeless Jesus is a reminder of their plight and terror, whatever their nationality or creed – and an icon of solidarity with them.”
So as jy weer by ‘n hawelose mens verbystap, moenie vergeet om na die persoon se voete te kyk nie. Dit mag jou dalk in jou spore stop.

‘n Road trip deur Ierland: In ysige wind en reën





Die Cliffs of Moher is een van daardie plekke wat mens se asem wegslaan omdat dit in werklikheid baie meer indrukwekkend is as op enige foto. John O’Donohue sê op ‘n stadium “a wild and rugged God created Ireland”. Die Cliffs of Moher is beslis in hierdie “wild and rugged” kategorie.

Vooraf het ons gehoor dat die weer in Ierland redelik wispelturig kan wees, en dat jy verkieslik waterdigte stapskoene en reënjasse moet saamvat. Aanvaklik het ek gewonder of dit so erg kan wees, maar die Sondag by Cliffs of Moher het my laat verstaan hoekom hulle dit sê.

Daar aangekom was dit een van die meer stormagtige dae wat mens kan beleef.  Die wind was ysig en die fyn motreën het alles soos ‘n swaar kombers toegevou. Ons was genadiglik nie die enigste lawwe mense wat die weer trotseer het nie. As dit nie vir die reënjasse was nie, was ons beslis deurnat, maar ons het beslis nie die regte skoene aangehad nie. (Daardie skoene sal nooit weer dieselfde wees nie.)

In die twee ure wat ons teen die plato bo-op die kranse op- en afgestap het, het die reën met tye in vlae oor ons getrek. Die wind was so sterk dat mens kon voel hoe jy van agteraf gedruk word. Vir die eerste keer het ek beleef hoe die wind so stormagtig onder op die see waai dat die seeskuim soos sneeu oor ons neergesif het. Daar was net ‘n baie dun klipversperring wat afstand geskep het tussen jou, op die gevaarlike gladde uitgetrapte modder voetpad, en die skerp hellings waarvoor hierdie kranse bekend staan. Om dit alles te kroon was daar selfs ‘n gedenkteken aan diegene wat hulle lewens daar verloor het. Die mis en reën was met tye so dig dat die magtige kranse net soos dowwe reuse uit die see verrys het.

En tog was hierdie een van die mees ongelooflike ervarings van my lewe. Ek moet eerlik sê dat ek regtig twyfel of ek in Suid-Afrika in sulke soort weer so tipe ekskursie sou aanpak. Na die tyd het ek gewonder of dit dieselfde effek op my sou gehad het as dit ‘n helder sonskyndag was? Wat was dit wat hierdie ervaring so buitengewoon gemaak het?
Op ‘n manier was dit juis die ekstreme omstandighede wat hiervan so besondere
ervaring gemaak het. Wat ‘n ongelooflike beloning was dit nie toe die wolke vir ‘n paar mintute lig en ons die kranse in volle glorie kon sien nie!

En dis toe dat ek die woorde van Jesaja 43: 2 onthou het: As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom, sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die hitte jou nie verskroei nie.

Hierdie vers maak dit nogal duidelik dat ons nie altyd van storms en diep waters gevrywaar word nie. Inteendeel. Dis maar deel van die lewe. Dis dikwels deel van die pad wat ons moet stap, of ons wil of nie. Maar dis te midde van die ysige wind en reën, ten aanskoue van die kranse en diep waters, dat God ons van sy teenwoordigheid verseker.  
Wanneer ons deur moeilike omstandighede moet gaan, is Hy by ons. Nie as nie, maar wanneer. Natuurlik is dit nie ‘n aangename gedagte nie. Wie van ons hou dan nou enigsins daarvan om onsself op sulke onseker plekke te bevind? Maar ons weet dat God nie net daar is in sonksyn en mooiweer nie, maar in alle omstandighede, en hoekom? Jesaja 43: 1 antwoord dit: Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My.  Al gaan ons ook deur wat, God ontmoet ons altyd te midde daarvan, en verander uitdagende omstandighede in aangrypende en lewensveranderende momente.


‘n Road trip deur Ierland: Céad míle fáilte




 

Ek is al vir jare gefassineer deur die spiritualiteit van die Keltiese Christene. Daar is soveel elemente in hulle spiritualiteit wat so mooi aansluit by die kontemplatiewe spiritualiteit. Ek sou bitter graag iewers iets van hierdie landskap, mense, ryk geskiedenis en diep spiritualiteit vir myself wou beleef. So besluit ek en my vriendin toe om die daad by die woord te voeg en self te gaan kyk.

Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nie! Een van die eerste dinge wat ons verras het toe ons in Ierland aanland was die vriendelike beampte by doene. Ons was so verbaas dat hy so bly was om ons in sy land te verwelkom. Min het ons geweet dat dit vir die Iere ‘n saak van eer is om as vriendelike mense bekend te staan. Taxibestuurders, mense op straat, kelners, winkelassistente. Selfs die bestuurder van die shuttle op pad terug lughawe toe was vol grappies en sy laaste woorde aan ons was dat hy ons beslis weer volgende jaar sien. Die uitdrukking “céad míle fáilte”, wat beteken ‘n honderd duisend maal welkom, verwoord iets van hierdie interne ingesteldheid.

Een oggend in Dublin was ons oppad iewers heen en het nie mooi geweet watter rigting om in te slaan nie. Nog voor ons self eers mooi kon besef wat gebeur was een die van plaaslike inwoners by om te vra waarheen ons wil gaan. Terwyl hy vir ons verduidelik waar die plek is wat ons soek, kom iemand anders verbygestap, hoor die gesprek en bied dadelik aan dat ons saam met haar kan stap, aangesien sy oppad is daarheen.

Die vriendelikheid van die Iere was vir ons so opmerklik dat ons later gespot het en gesê het as jy iemand teëkom wat jou nie vriendelik behandel nie, is daar ‘n baie goeie kans dat daardie persoon nie van Ierse nasionaliteit is nie, en dit was ook so. Jy kon dadelik hoor dat hierdie meer onvriendelike persoon se aksent drasties anders is as die gulhartige en vriendelike Iere s’n. Natuurlik is dit ‘n veralgemening om te sê dat alle Iere vriendelik is, maar mens kan nie anders as om die verwelkoming van vreemdelinge, inklusiwiteit en gulhartigheid oral te beleef nie.

Ek het heel week gewonder of mense dieselfde van ons as Christene sal sê. Sê nou dit was algemeen aanvaar dat alle Christene vriendelik, ontvanklik, aanvaardend, akkommoderend, vrygewig en hartlik is, en as jy dan iemand raakloop wat nie so is nie, kon jy sommer heel veralgemened aanvaar dat daardie persoon dan sekerlik nie ‘n Christen is nie.

In die Bybel is daar eindelose voorbeelde van hoe ons as God se kinders se gedrag en lewenstyl kwalitatief anders daar moet uitsien as die van die wêreld (sien byvoorbeeld Rom. 12:9-21, Joh. 13: 34-35, Ef. 4:32, 1 Pet. 4:9, Luk 6:31, Heb. 13:1-2, Gal. 5:22-23). Ongelukkig is dit so dat daar vandag baie Christene is in wie se manier van leef mens nie eintlik kan sien dat hulle anders is omdat hulle in Jesus glo nie. Hulle lyk maar soos alle ander mense wat nie noodwendig erns maak met God in hulle lewe nie.

Een teks wat praat oor hoe ons as Christene moet lyk is Kol 3:12-14 (Die Boodskap):
12 God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. 13 Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. 14 Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees.
Natuurlik besef ons dat ons nie net die mantel van gelowig wees kan dra nie, maar dat ons dit in ons diepste wese moet wees. Soos die Ierse taxibestuurder wat die dag vir ons gesê het: “We Irish are friendly. We pride ourselves in that.” Stel jou voor hoe sou dit wees as mense met ons te doen gehad het en hulle sou onmiddellik sê: “Ja nee, hulle is duidelik Christene, hulle hele optrede sê dit.” Dis beslis iets wat ons by die Iere kan leer.


'n Ander werklikheid



Ons mense gryp oral na allerhande nuwe dinge in ‘n poging om die leegheid binne onsself vol te maak.
Ons is geneig om te dink dat as ons net een of ander kosmetiese verandering op die oppervlak van ons lewe aanbring sal ons lewe meer sin maak. Ongelukkig is daar bitter min dinge op die oppervlak van my lewe wat werklik vir my diep lewensin kan gee. Die uitdaging is nie om wyer en groter en meer indrukwekkend te leef nie, maar juis om dieper te leef. Richard Foster het op ‘n keer gesê: The desperate need today is not for a greater number of intelligent people, or gifted people, but for deep people.


Ons het ‘n stereotipe idee oor wat dit beteken om ‘n diep mens te wees. Die oomblik as iemand by ‘n braaivleisvuur ‘n geprek voer wat nie heeltemal by die konteks inpas nie sal die persoon as “baie diep” beskryf word. Of ons dink dis wanneer iemand in ‘n bepaalde konteks kies om oor een of ander interne ervaring te praat en mens sien letterlik hoe die mense terugtrek en probeer om so ver moontlik van so persoon te gaan staan. Wat behels dit om dieper te lewe?

Om dieper te lewe beteken dat ek bewus is van ‘n Ander Realiteit as die een wat die sisteem van die wêreld van ons vra om te leef. Dit beteken dat ek al meer sal agterkom dat daar in my ‘n hele wêreld lê wat wag om ontdek en ontgin te word. Om dieper te lewe vra dat ek die agenda van my ego raaksien en meer bewus word van God se Agenda vir my en alle ander mense. ‘n Dieper lewe vra dat ek sal eerlik wees oor wat in my aan die gebeur is, dat ek oop sal wees om met dieper prosesse in my lewe besig te wees en nie net op die oppervlak van my eie lewe besig te wees terwyl ek die dieper dinge ontken of onder die mat invee nie. Om dieper te lewe is nie om die heeltyd doodernstig oor alles te wees nie, maar om teenwoordig te wees vir wat nou in my lewe gebeur. ‘n Dieper lewe is ook nie om heeltyd in ‘n sagte fluisterstem oor ernstige sake te praat nie, maar juis om nie bang te wees om die kwessies wat die lewe om my en in my na vore bring te takel en behoorlik daarmee te werk nie, selfs al vra dit ongemak of selfs interne pyn.

In Lukas 5 is daar hierdie interessante verhaal waar Jesus met Simon praat, wat later Petrus sou wees, nadat hulle ‘n hele nag geen vis gevang het nie: 4 “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” 5 “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” 6 En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. 7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. 

Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.
Hier gaan dit natuurlik oor die roeping van die dissipels, maar ek kan nie help om hierdie verhaal as ’n metafoor van Jesus se uitnodiging aan ons elkeen wat met Hom oppad is te sien nie: Om na die diep water van ons lewens te gaan, om die nette dieper uit te gooi, en te wag vir dit wat in die net beland en dan toe te laat dat Jesus daarmee werk sodat dit groot vrug kan oplewer in my en ander se lewe.
Daar is genoeg mense wat vir dekades op die oppervlak van hulle bestaan funksioneer. Die wêreld het nie mense nodig wat die oppervlak beter leer ken nie, maar mense wat bereid is om na die diep water te gaan en te ontdek dat daar ’n hele Ander Werklikheid onder die oppervlak lê.


Thursday, June 9, 2016

'n Waardevolle ontmoetingsplek


Life is difficult. Dit is die woorde waarmee M. Scott Peck se boek “The Road Less Travelled” begin.
Swaarkry is deel van die lewe. Een van die gemene delers tussen alle mense is die feit dat ons almal iewers swaarkry en as gevolg daarvan gebrokenheid ervaar.

Party van ons se persoonlikhede is so bedraad dat die moeilike dinge van die lewe vir ons maar net uitdagings en geleentheid tot groei is. Ons beleef nie werklik hoe ons swaarkry of gebroke is as gevolg van die die moeilikhede en uitdagings van die lewe nie. As ek so persoonlikheid het moet ek weet dat elkeen van ons gebrokenheid anders definieer. As ek my dalk nie met swaarkry of  gebrokenheid kan assosieer nie, is daar twintig ander mense om my wat wel oor iets swaarkry en daarvoor moet ek tog begrip kan hê, selfs al beleef ek dit nie in myself nie.

Die meeste van ons is egter wel daarvan bewus dat die lewe nie eenvoudig is nie. Ek beleef dat daar elke nou en dan iets is wat by my die bewustheid skep dat ek swaarkry en dat ek sukkel om te lewe. ‘n Belangrike vraag is hoe kan ek op swaarkry en gebrokenheid reageer?
Beslis nie deur daarvan weg te skram en te probeer maak of dit nie daar is nie en maar net my maskers op te sit nie.

Een manier om swaarkry of gebrokenheid te omarm is om dit in die oë te kyk en nie te vermy nie. Die eerste tree is nie ‘n tree weg van my pyn of swaarkry nie, maar juis ‘n tree na dit toe. Ons sukkel om sin te maak in tye van swaarkry in ons lewe wanneer ons dit nie kan raaksien as ‘n geleentheid vir groei nie; as‘n waardevolle plek waar God ons kan ontmoet en lei na ‘n dieper manier van bestaan.
Natuurlik beteken dit nie dat God die ingenieur of outeur van swaarkry is nie, maar die oomblik wanneer die pad van die lewe my deur swaarkry neem, staan God gereed om my daarin te ontmoet.

Henri Nouwen skryf: My own experience with anguish has been that facing it and living it through is the way to healing. I know now, at least, that attempting to avoid, repress, or escape the pain is like cutting of a limb that could be healed with proper attention. The deep truth is that our human suffering need not be an obstacle to the joy and peace we so desire, but can, instead, become the means to it.

Die groot geheim van die geloofspad is dat alles in my lewe , die lekker en die sleg, die goed en die swaar, alles ‘n rol kan speel om my God se mens te laat word. Daar is niks in my lewe wat God nie kan inspan nie. So al voel ek soms hoe die lewe my rondstamp en ongenadig behandel, kan ek ook my swaarkry of pyn of gebrokenheid as ‘n ontmoetingsplek met God sien en toelaat dat God regtig alles ten goede in my lewe laat meewerk. Die groot uitdaging is of ek die dapper stap gaan neem om met my swaarkry na God te kom en by Hom te bly sodat Hy kan doen waarmee Hy goed is.


‘n Vriendin het hierdie aanhaling van Richard Rohr met my gedeel, wat ons help om te verstaan hoe God ons in ons swaarkry ontmoet:

So God has to come indirectly, catching us off guard and out of control, when we are empty instead of full of ourselves. That is why the saints talk about suffering so much. They are not masochistic, sadistic, negative, morbid, or oppositional. The mystics have seen the pattern and, as Teresa of Ávila says in one place, it is not that you are happy for the suffering—who would be, who could be?—you are happy for the new level of intimacy that the suffering brought you to. You only know this after the fact, perhaps days or weeks or even years later. One day you realize, “God is so real to me now. How did I get here?” All you know is that you did not engineer or even imagine this. You were taken there when you were off guard.

Swaarkry stroop my en maak my weerloos en is allesbehalwe lekker of maklik, maar as ek sien hoe God my binne dit ontmoet, verander die kwalitatiewe aard van hoe ek selfs in sulke tye lewe.