Die Cliffs of Moher is een
van daardie plekke wat mens se asem wegslaan omdat dit in werklikheid baie meer
indrukwekkend is as op enige foto. John O’Donohue sê op ‘n stadium “a wild and
rugged God created Ireland”. Die Cliffs of Moher is beslis in hierdie “wild and
rugged” kategorie.
Vooraf het ons gehoor dat
die weer in Ierland redelik wispelturig kan wees, en dat jy verkieslik
waterdigte stapskoene en reënjasse moet saamvat. Aanvaklik het ek gewonder of
dit so erg kan wees, maar die Sondag by Cliffs of Moher het my laat verstaan
hoekom hulle dit sê.
Daar aangekom was dit een
van die meer stormagtige dae wat mens kan beleef. Die wind was ysig en die fyn motreën het
alles soos ‘n swaar kombers toegevou. Ons was genadiglik nie die enigste lawwe
mense wat die weer trotseer het nie. As dit nie vir die reënjasse was nie, was
ons beslis deurnat, maar ons het beslis nie die regte skoene aangehad nie.
(Daardie skoene sal nooit weer dieselfde wees nie.)
In die twee ure wat ons
teen die plato bo-op die kranse op- en afgestap het, het die reën met tye in
vlae oor ons getrek. Die wind was so sterk dat mens kon voel hoe jy van agteraf
gedruk word. Vir die eerste keer het ek beleef hoe die wind so stormagtig onder
op die see waai dat die seeskuim soos sneeu oor ons neergesif het. Daar was net
‘n baie dun klipversperring wat afstand geskep het tussen jou, op die
gevaarlike gladde uitgetrapte modder voetpad, en die skerp hellings waarvoor
hierdie kranse bekend staan. Om dit alles te kroon was daar selfs ‘n
gedenkteken aan diegene wat hulle lewens daar verloor het. Die mis en reën was
met tye so dig dat die magtige kranse net soos dowwe reuse uit die see verrys
het.
En tog was hierdie een van
die mees ongelooflike ervarings van my lewe. Ek moet eerlik sê dat ek regtig
twyfel of ek in Suid-Afrika in sulke soort weer so tipe ekskursie sou aanpak.
Na die tyd het ek gewonder of dit dieselfde effek op my sou gehad het as dit ‘n
helder sonskyndag was? Wat was dit wat hierdie ervaring so buitengewoon gemaak
het?
Op ‘n manier was dit juis
die ekstreme omstandighede wat hiervan so besondere
ervaring gemaak het. Wat ‘n
ongelooflike beloning was dit nie toe die wolke vir ‘n paar mintute lig en ons
die kranse in volle glorie kon sien nie!
En dis toe dat ek die
woorde van Jesaja 43: 2 onthou het: As jy
deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom,
sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die
hitte jou nie verskroei nie.
Hierdie vers maak dit nogal
duidelik dat ons nie altyd van storms en diep waters gevrywaar word nie.
Inteendeel. Dis maar deel van die lewe. Dis dikwels deel van die pad wat ons
moet stap, of ons wil of nie. Maar dis te midde van die ysige wind en reën, ten
aanskoue van die kranse en diep waters, dat God ons van sy teenwoordigheid
verseker.
Wanneer ons deur moeilike
omstandighede moet gaan, is Hy by ons. Nie as nie, maar wanneer. Natuurlik is
dit nie ‘n aangename gedagte nie. Wie van ons hou dan nou enigsins daarvan om
onsself op sulke onseker plekke te bevind? Maar ons weet dat God nie net daar
is in sonksyn en mooiweer nie, maar in alle omstandighede, en hoekom? Jesaja
43: 1 antwoord dit: Ek het jou by jou
naam geroep. Jy behoort aan My. Al
gaan ons ook deur wat, God ontmoet ons altyd te midde daarvan, en verander
uitdagende omstandighede in aangrypende en lewensveranderende momente.
No comments:
Post a Comment