Ons mense gryp oral na
allerhande nuwe dinge in ‘n poging om die leegheid binne onsself vol te maak.
Ons is geneig om te dink dat as ons net een of ander kosmetiese verandering op
die oppervlak van ons lewe aanbring sal ons lewe meer sin maak. Ongelukkig is
daar bitter min dinge op die oppervlak van my lewe wat werklik vir my diep
lewensin kan gee. Die uitdaging is nie om wyer en groter en meer indrukwekkend
te leef nie, maar juis om dieper te leef. Richard Foster het op ‘n keer gesê:
The desperate need today is not for a greater number of intelligent people, or
gifted people, but for deep people.
Ons het ‘n stereotipe
idee oor wat dit beteken om ‘n diep mens te wees. Die oomblik as iemand by ‘n
braaivleisvuur ‘n geprek voer wat nie heeltemal by die konteks inpas nie sal
die persoon as “baie diep” beskryf word. Of ons dink dis wanneer iemand in ‘n
bepaalde konteks kies om oor een of ander interne ervaring te praat en mens
sien letterlik hoe die mense terugtrek en probeer om so ver moontlik van so
persoon te gaan staan. Wat behels dit om dieper te lewe?
Om dieper te lewe
beteken dat ek bewus is van ‘n Ander Realiteit as die een wat die sisteem van
die wêreld van ons vra om te leef. Dit beteken dat ek al meer sal agterkom dat
daar in my ‘n hele wêreld lê wat wag om ontdek en ontgin te word. Om dieper te
lewe vra dat ek die agenda van my ego raaksien en meer bewus word van God se
Agenda vir my en alle ander mense. ‘n Dieper lewe vra dat ek sal eerlik wees
oor wat in my aan die gebeur is, dat ek oop sal wees om met dieper prosesse in
my lewe besig te wees en nie net op die oppervlak van my eie lewe besig te wees
terwyl ek die dieper dinge ontken of onder die mat invee nie. Om dieper te lewe
is nie om die heeltyd doodernstig oor alles te wees nie, maar om teenwoordig te
wees vir wat nou in my lewe gebeur. ‘n Dieper lewe is ook nie om heeltyd in ‘n
sagte fluisterstem oor ernstige sake te praat nie, maar juis om nie bang te
wees om die kwessies wat die lewe om my en in my na vore bring te takel en
behoorlik daarmee te werk nie, selfs al vra dit ongemak of selfs interne pyn.
In Lukas 5 is daar
hierdie interessante verhaal waar Jesus met Simon praat, wat later Petrus sou
wees, nadat hulle ‘n hele nag geen vis gevang het nie: 4 “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle
nette uit om te vang.” 5 “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur
geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” 6 En
toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou
skeur. 7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help.
Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.
Hier gaan dit
natuurlik oor die roeping van die dissipels, maar ek kan nie help om hierdie verhaal
as ’n metafoor van Jesus se uitnodiging aan ons elkeen wat met Hom oppad is te
sien nie: Om na die diep water van ons lewens te gaan, om die nette dieper uit
te gooi, en te wag vir dit wat in die net beland en dan toe te laat dat Jesus
daarmee werk sodat dit groot vrug kan oplewer in my en ander se lewe.
Daar is genoeg
mense wat vir dekades op die oppervlak van hulle bestaan funksioneer. Die wêreld
het nie mense nodig wat die oppervlak beter leer ken nie, maar mense wat bereid
is om na die diep water te gaan en te ontdek dat daar ’n hele Ander Werklikheid
onder die oppervlak lê.
No comments:
Post a Comment