Wat ‘n ongelooflike
ervaring was dit nie! Een van die eerste dinge wat ons verras het toe ons in
Ierland aanland was die vriendelike beampte by doene. Ons was so verbaas dat hy
so bly was om ons in sy land te verwelkom. Min het ons geweet dat dit vir die
Iere ‘n saak van eer is om as vriendelike mense bekend te staan.
Taxibestuurders, mense op straat, kelners, winkelassistente. Selfs die
bestuurder van die shuttle op pad terug lughawe toe was vol grappies en sy
laaste woorde aan ons was dat hy ons beslis weer volgende jaar sien. Die
uitdrukking “céad
míle fáilte”, wat beteken
‘n honderd duisend maal welkom, verwoord iets van hierdie interne
ingesteldheid.
Een oggend in Dublin was ons oppad iewers heen en het nie mooi geweet watter rigting om in te slaan nie. Nog voor ons self eers mooi kon besef wat gebeur was een die van plaaslike inwoners by om te vra waarheen ons wil gaan. Terwyl hy vir ons verduidelik waar die plek is wat ons soek, kom iemand anders verbygestap, hoor die gesprek en bied dadelik aan dat ons saam met haar kan stap, aangesien sy oppad is daarheen.
Die vriendelikheid van die Iere was vir ons so opmerklik dat ons later gespot het en gesê het as jy iemand teëkom wat jou nie vriendelik behandel nie, is daar ‘n baie goeie kans dat daardie persoon nie van Ierse nasionaliteit is nie, en dit was ook so. Jy kon dadelik hoor dat hierdie meer onvriendelike persoon se aksent drasties anders is as die gulhartige en vriendelike Iere s’n. Natuurlik is dit ‘n veralgemening om te sê dat alle Iere vriendelik is, maar mens kan nie anders as om die verwelkoming van vreemdelinge, inklusiwiteit en gulhartigheid oral te beleef nie.
Ek het heel week gewonder of mense dieselfde van ons as Christene sal sê. Sê nou dit was algemeen aanvaar dat alle Christene vriendelik, ontvanklik, aanvaardend, akkommoderend, vrygewig en hartlik is, en as jy dan iemand raakloop wat nie so is nie, kon jy sommer heel veralgemened aanvaar dat daardie persoon dan sekerlik nie ‘n Christen is nie.
In die Bybel is daar eindelose voorbeelde van hoe ons as God se kinders se gedrag en lewenstyl kwalitatief anders daar moet uitsien as die van die wêreld (sien byvoorbeeld Rom. 12:9-21, Joh. 13: 34-35, Ef. 4:32, 1 Pet. 4:9, Luk 6:31, Heb. 13:1-2, Gal. 5:22-23). Ongelukkig is dit so dat daar vandag baie Christene is in wie se manier van leef mens nie eintlik kan sien dat hulle anders is omdat hulle in Jesus glo nie. Hulle lyk maar soos alle ander mense wat nie noodwendig erns maak met God in hulle lewe nie.
Een teks wat praat oor hoe ons as Christene moet lyk is Kol 3:12-14 (Die Boodskap): 12 God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. 13 Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. 14 Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees.
Natuurlik besef ons dat
ons nie net die mantel van gelowig wees kan dra nie, maar dat ons dit in ons
diepste wese moet wees. Soos die Ierse taxibestuurder wat die dag vir ons gesê
het: “We Irish are friendly. We pride ourselves in that.” Stel jou voor hoe sou dit wees as mense met ons
te doen gehad het en hulle sou onmiddellik sê: “Ja nee, hulle is duidelik
Christene, hulle hele optrede sê dit.” Dis beslis iets wat ons by die Iere kan
leer.
No comments:
Post a Comment