Daar
is hierdie aanhaling van Neal Donald Walsch wat sê: “Life begins at the end of
your comfort zone.” Vir my is een van my grense, baie naby aan die einde van my
gemaksone, turbulensie.
So
ruk gelede is ek in ‘n vliegtuig op pad van die Kaap af. Alles gaan goed, tot
ons net duskant Johannesburg kom. Skielik word die vliegtuig toegevou in ‘n
donker, digte wolk en sonder enige waarskwuwing vlieg ons in die verskriklikste
storm in, met die mees angswekkende turbulensie. Dit voel asof die vliegtuig
soos ‘n speelding rondgeruk word. Daardie middag het ek regtig vir ‘n paar
minute gedink ons gaan dood en ek onthou hoe ek by myself gebid het: “Ag Here,
asseblief tog net nie so nie.” (Later het ‘n vriend wel verduidelik hoe
onwaarskynlik dit is dat turbulensie jou einde sal beteken…)
‘n
Ruk later bevind ek my weer in ‘n vliegtuig. Die keer baie hoër in die lug as
die vorige keer, iewers tussen Arabië en Europa. Die vliegtuig is donker. Ek
probeer slaap so goed ek kan. Skielik gaan die sitplekgordel-liggie aan en die
klokkie wat sê dat hier ‘n aankondiging oppad is lui. Die vlieënier sê: “Cabin
crew, please take your seats for severe turbulence ahead.” Skielik is ek wawyd
wakker, maar hou my oë styf toe en ek bid: “Ag Here, net nie weer nie.” Enkele
minute later begin die reuse vliegtuig heen en weer skud en my hart klop weer
in my keel. Iewers in hierdie ewigheid, wat waarskynlik nie langer as ‘n paar
minute was nie, maak ek my oë oop. Skuins voor my sit die lugwaardin. Sy kyk
vir my. Ewe koel en kalm, met gekruisde bene en ‘n salige glimlag, knik sy haar
kop – so asof sy wil sê: “Ek doen hierdie baie. Ons gaan OK wees.”
Of ons daarvan hou of nie, turbulensie, in watter vorm
ook al, is ‘n onlosmaaklike deel van ons lewens. Elke dag in eindelose
situasies word ons uit ons gemaksones geruk en dan het ek en jy die keuse of
ons daarteen gaan weerstand bied (wat terloops niks gaan help nie) en of ons
maar diep gaan asemhaal en fokus op God se groter realiteit binne die situasie.
Daar is nie een situasie in die lewe wat nie deur die Here in ons lewe vir
groei en transformasie aangewend kan word nie.
Dalk
help dit as ons binne-in die turbulensie kan onthou dat die son skyn aan die ander kant van hierdie wolk, al voel dit nie nou so nie.
Die siklus van die lewe, van goeie tye en swaar tye, van maklike dae en uiters uitdagende dae is
eenvoudig deel van die lewe – of ons daarvan hou of nie.
Dalk moet ons leer om meer gereeld stil te word en diep asem te haal en God te vertrou as die Een aan die stuur van die vliegtuig en ongeag van die situasie, oorgee aan Sy groter prosesse in ons lewe.
Die siklus van die lewe, van goeie tye en swaar tye, van maklike dae en uiters uitdagende dae is
eenvoudig deel van die lewe – of ons daarvan hou of nie.
Dalk moet ons leer om meer gereeld stil te word en diep asem te haal en God te vertrou as die Een aan die stuur van die vliegtuig en ongeag van die situasie, oorgee aan Sy groter prosesse in ons lewe.
No comments:
Post a Comment