Friday, March 8, 2013

Die vrug van 'n kontemplatiewe lewe




Waarvan praat ons hier?

Wat beteken die term kontemplasie? ‘n Eenvoudige definisie van kontemplasie is “liefdevolle teenwoordigheid vir wat voor hande is”. In ‘n Christen konteks beteken dit dat omdat ons in God “leef beweeg en is” (Hand 17:28), beteken hierdie teenwwordigheid dat ons Christus in die ganse skepping vind (Ef 1:23). Met ander woorde: Christen kontemplasie beteken dat ons God in alle dinge vind en alle dinge in God. Broer Lawrence, die 17e eeuse Karmeliet, het dit genoem “the living gaze that finds God everywhere”.

Soos ons weet word kontemplasie binne die tradisie ook gebruik om na pertinente soort gebed te verwys en word die term sterk geassosieer met stilte – selfs (verkeerdelik) met onttrekking uit die wêreld. In ‘n klassieke sin beteken dit egter veel eerder ‘n onmiddelike en ontvanklike teenwoordigheid vir die wêreld, om dinge te verstaan en liefdevol te reageer op die wêreld soos dit is. Kontemplasie is dus nie noodwendig stil en eenkant nie. Dit behoort ook baie aktief en betrokke te wees.

In die tradisie waarbinne ek my tans bevind is daar ‘n kommerwekkende tendens aan die ontwikkel, naamlik dat geloofsleiers ‘n kontemplatiewe spiritualiteit dalk nie regtig verstaan nie en hulle daarom al meer uit die wêreld begin onttrek. So word dit ‘n verskoning om so ver denkbaar van die wêreld te gaan staan. ‘n Kontemplatiewe spiritualiteit haal my beslis nie uit die wêreld uit nie.

Om reg te laat geskied aan die term kontemplasie beteken dus dat ek nie kan praat van “kontemplasie en aksie” asof dit twee verskillende dinge is nie. In die Christentradisie was aktiewe betrokkenheid in die wêreld nog altyd deel van kontemplasie. Mens sou op die meeste kon praat van twee aspekte van kontemplasie, naamlik ‘n eksterne en ‘n interne aspek. Ek gebruik graag twee beelde om die verhouding tussen die inwaartse en uitwaartse aspekte van kontemplasie te beskryf.

Asemhaling

Om te kan asemhaal moet ek tog kan in- en uit-asem, nie waar nie? As ek net sou in-asem, sal ek flou word, as ek net sou uit-asem ook. Asemhaling vind eers plaas as beide die in- en uit-asem aanwesig is.

‘n Munt

‘n Munt toon aan die een kant die waarde van die geldstuk en aan die ander kant die landswapen. As een van die twee kante nie daar is nie sal die munt onbruikbaar en vals wees. So is dit ook met kontemplasie: twee gelykwaardige, ewe belangrike kante.

Leah Rampey van die Shalem Institute skryf: In this sense, contemplation is an all-embracing quality of presence, including not only our own inner experience but also directly perceiving and responding to the situation and needs of the world around us. Rather than trying to balance contemplation and action, it is more accurate to see contemplation in action, undergirding and embracing everything. In this way, all our thoughts and actions can be joined together in prayerful openness and loving responsiveness.
It is contemplation-or at least a contemplative attitude-that grounds our presence in the real world. For example, in the three paths mentioned above, the direct seeing-and-responding of contemplation keeps each centered in direct responsiveness to real situations.
Without this grounding in things-as-they-are, the way of knowing can lose itself in intellectual abstraction, the way of acting can succumb to blind missionary zeal or burnout, and the way of feeling can give way to self-absorbed sentimentality.


Watter stappe volg ek om ‘n kontemplatiewe persoon te word?

Om op ‘n kontemplatiewe manier te leef is nie iets wat mens kies nie. Jy kan as’t ware nie ‘n program uitwerk en aan die einde daarvan ‘n diploma ontvang in die kontemplatiewe lewenswyse nie. God gee dit. Dit gebeur met jou. God gee dit, mettertyd, verniet aan jou. Jy kry dit nie sommer goedsmoeds nie. Dit kom na jou wanneer jy al diep spore in die spiraal van jou eie lewe getrap het en jy geleer het om op ‘n nuwe manier te kyk…

Jy kan al die boeke oor die onderwerp lees, eindelose retreats en pelgrimstogte meemaak en nog steeds nie ‘n kontemplatieewe persoon wees nie. Om hierdie pad te loop sal jou lewe vra (Matteus 16), want dit gaan vra dat jy die eerste Groot Gees van die Christen kontemplatiewe pad sal volg: Jesus self.

Wanneer Jesus in Johannes 14:6 sê “Ek is die weg, en die waarheid en die lewe” dan maak hy nie soseer ‘n teologiese uitspraak nie. Hy gee ‘n beeld. As jy soek na die weg na God, die waarheid oor God en die lewe in God, volg Hom. Jesus was ‘n revolusionêr, hy het Hom in stilte afgesonder, Hy was ‘n profeet wat opgestaan en gepraat het oor ongeregtigheid, Hy het “solitude” omarm, Hy was ‘n sosiale transformeerder, Hy het na binne gereis, Hy was lief vir die armes, die siekes en die gemarginaliseerdes en Hy het oral waar hy kon innerlike transformasie aangemoedig.


Hoe meer jy begin ontdek wat vir Jesus belangrik was, hoe meer sal dit vir jou belangrik word. Of anders gestel: Hoe nader ek kom aan God se hart, hoe nader kom ek aan God se pad.


Verdere vrug van ‘n kontemplatiewe lewe

Ons kan die lys van vrug van ‘n kontemplatiewe lewe nog eindeloos langer maak. Ek gaan vandag by enkele botsels aan die boom stilstaan. Mens kan ook die beeld van ‘n kaleidoskoop gebruik waar die prentjie voor jou oë letterlik elke keer verander as jy die lens selfs ‘n millimeter draai. Met ander woorde – ‘n eindelose moontlikheid van perspektiewe is moontlik. Ons beskou slegs enkeles.

Ter wille van verstaan kan mens die vrug van ‘n kontemplatiewe lewe dalk in drie kategorieë opdeel:

Spirituele bewuswording, Geestelike groei en Innerlike transformasie
Spirituele bewuswording

Bewustelikheid

Ek raak al meer bewus van die heiligheid van die oomblik. Sue Monk Kidd sê: A fine space separates us from experiencing life as nowhere or now here. Die meeste van die tyd is ons in ons koppe besig om ons voor te berei om te leef, terwyl die realiteit is dat die suikersakkie heeltemal reg is: Life is what happens while we are making other plans. Jean Pierre de Caussade het gemeen dat daar niks belangriker is as om die huige oomblik te soek en te aanvaar nie. Bewustelikheid leer my ook van geduld, wil my help om te besef dat alles in die wêreld nie onmiddelik in my skoot hoef te val nie en dat ek tevrede kan wees met waar ek is, want wat ek nou het is my hele lewe. Bewustelikheid help my ook om diep in myself stil te word en oop te wees vir die stem van God se Gees.

Vreugde

“Delight can emerge from and exist along with our scars. Delight can become a way of life, a way of journeying” (Sue Monk Kidd). Daar bestaan die persepsie dat ware heiliges vreeslik vroom en ernstig is. Die vrug van ‘n kontemplatiewe lewe is dat jy oop raak vir pret en grappies, graag lag en soek na die vreugdes van die lewe in die kleinste en mees alledaagse dinge, juis omdat mens soms sukkel om dit in die groot dinge te vind. Die grappies van jou kinders, die kleur van die lig teen sonsondergang, die sagte bries en die reuk van reën vroeg in die oggend, die geluid van die voëls in die bome, ‘n skoenlapper wat onverwags op jou been kom sit, die warm son op jou vel op ‘n wintersdag, en so kan ek eindeloos aanhou. Om God toe te laat om jou hart deur hierdie klein vreugdes te ontvries. Om vreugde te vind en vreugde te leef, in die kleinste hoekies van die lewe.

Terugkeer na die aarde

Daar begin by my die bewuswording ontstaan dat die aarde die wieg is waarbinne alle lewe tot stand kom en groei. Ek begin besef dat alles wat lewe in stand hou in die aarde opgneem is, aan die aarde verbind is en deur die aarde gevoed word. Ek besef dat selfs ek, soos Hildegard van Bingen gesê het, soos ‘n fyn draad in die web van die heelal ingeweef is. Ek besef skeilik my nietigheid en verganklikheid en raak bewus van honderde wat elke dag sterf en die bevoorregtheid van my klein aardse bestaan. Die natuur, elke stukkie van die skepping, is God se kunswerk, en ek besef dat ek ‘n eksponent is van die kunstenaar wat steeds aan die werk is.


Eenvoud

Om my brood te eet
in eenvoud en blydskap;
Om arm van gees te wees
in daardie sin wat beteken:
onopgeslik: weelde.

- Sheila Cussons

‘n Belangrike vrug is die Christendeug van soberheid. Die woord soberheid beteken om met ‘n gesindheid van matigheid te leef. Om nie oordadig te wees nie en om maklik tevrede gestel te word. Om met ander woorde maklik te sê: Genoeg dankie.

Ek ontdek hoe meer goed ek wil hê, hoe meer ek streef na nog besittings, hoe vinniger word my lewe ‘n groot swart gat waar ek behep raak met my eie lewe, my eie behoeftes, my eie alles.

1 Joh 2: 15-17 sê dit maak jou so vol dat daar nie plek is vir God se volheid in jou lewe nie. Ek ontdek dat hierdie begeer ding, wil hê ding, nie goed is vir my nie, dis nie gesond nie en dit steel my aandag van waar God wil hê jy moet fokus. Ek kom agter dis ‘n truuk om jou fokus van God af weg te vat en my nie juis gelukkig maak nie.

Jannie du Toit sing die woorde so aangrypend:

Eenvoud is die vreugde van die lewe
dis gee en neem net wat daar is
dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood
wat liefde is.

Geestelike groei

Deernis

Dink maar aan die waarheid van hierdie woorde:

Ubi caritas, et amor, Deus ibi est

Hoe meer deernis ek ontwikkel hoe meer verstaan ek van ander.Ek raak meer bereid om die ander kant van die storie te hoor. Ek begin op ‘n nie-dualistiese manier dink, wat behels dat die hele lewe nie net in wit en swart of reg en verkeerd ingedeel is nie.



Hart vir gebrokenes en randfigure

Die dinge wat God se hart sou ontstel begin ook mettertyd my hart ontstel. Ek raak al minder wêreldvreemd en raak lief vir mense by wie ek nooit sou droom om betrokke te raak nie. Hoe vryer ek raak van die vasgekoektheid van die wêreld, hoe ontvankliker word my hart. Ek ontdek om van myself vir ander te gee is nie so erg en so bedreigend nie. Ek ontdek ek kan sowaar die vryheid in myself vind om diep, diep om te gee en selfs lief te word vir die randfigure. Ek raak vrygewig met my goed en myself en leef al minder suinig – met myself en met my goed.

‘n Bekende ets van Fritz Eichenberg kan ons hier hep. Die kunswerk se titel is “Jesus in the bread line”.


Catherine of Siena het gesê:

The secret of Christian contemplation
is that it faces us with Jesus Christ
toward our suffering world
in loving service and just action

Voortgaande groei
Die geestelike lewe is waarskynlik nie soos ons tradisioneel dink, ‘n leer wat jy moet klim om uiteindelik eendag te arriveer nie, en in die proses klim jy maar voortdurend twee trappe op en val vyf terug. Die geestelike lewe is waarskynlik eerder ‘n spiraal waarbinne al die materiaal van my lewe, goed en sleg, soos ‘n skag opgeneem is, en ek beweeg op en af teen die spiraal en al om en om die materiaal van my lewe. Telkens kom ek by dieselfde punte uit. Sekere dinge verdwyn net nooit uit my lewe nie. Tog kom ek agter dat ek mettertyd “anders” by die punte verbygaan en dat die effek wat dit in die verlede op my gehad het net nie meer so geweldig groot is nie.



Groei hou nooit op nie. Ons sal voortdurend groei. Juis daarom arriveer ons op aarde nooit nie. Kyk maar na die stadige en sekere proses van groei in die natuur. Jy kan nie sit en kyk hoe iets groei nie, maar as jy ‘n week of ‘n maand of ‘n jaar later daar kom, staan jy verstom oor die groei wat plaasgevind het.

Sue Monk Kidd praat van ‘n hysbak spiritualtiteit vs ‘n kokon spiritualiteit. ‘n Hysbak spiritualiteit wil net ‘n knoppie druk en so vinnig as moontlik kom waar ek wil wees. ‘n Kokon spiritualiteit laat toe dat ek omvou word in ‘n groter proses, gee my oor aan hierdie proses, en gee God die kans om sy werk in my te doen, al neem dit hoe lank.

Innerlike transformasie

Egtheid

Op ‘n mooi sonskyndag het die kunsblom agter die venster vir die sonstraal gevra: Bewonder jy my nie? Die sonstraal het geantwoord: Van ver af val jy sag op die oog, maar ek sien jy is nie wat jy voorgee om te wees nie. Jy het kleur sonder geur, vorm sonder lewe, en al lyk jy so baie soos die Magrietjies in die veld wat ek daagliks besoek, is jy net ‘n namaaksel. Al koop baie mense jou vir hoe jy lyk is jy eintlik maar ‘n bedrieër.

Hoe langer mens die pad stap hoe meer ontdek mens hoe moeilik dit is om die dinge wat jy sê te doen. Scott Peck wat as een van die grootste Christen skrywers van die afgelope eeu gesien word sê onder andere dat hy nie ‘n guru is uit wie se handel en wandel mense vir God ontdek nie nie, hy is maar, soos duisende predikante, ‘n leermeester wat nog moet leer om te doen wat hy vir ander sê om te doen. Dis natuurlik ‘n problematiese stelling. Dit laat vra mens die vraag: Hoe heilsaam is dit om te werk met die konsep van ‘n publieke en private teologie? Die hoop van die kontemplatiewe pad sal wees dat die diskrepansie tussen die twee mettertyd sal verklein en dat my buitewêreld en binnewêreld in balans sal kom.

Deursigtigheid

Deursigtigheid sou beskryf kon word as die proses waardeur ek al meer deurskynend van binne af word. Dit beteken dat dit wat binne in my aan die gang is, al minder troebel en onkenbaar word en dat dit al makliker vir myself en ander mense word om te sien wat my diepste motiewe en vrese en oortuigings is.

Die implikasie hiervan is natuurlik dat dit wat binne my aangaan beslis nie altyd strook met dit wat ek na buite wys nie. Dis in elk geval beslis nog waar van my.En as deel van die proses van deursigtigheid is hierdie tipe spanning baie goed, want dit maak dat ander se reakie op die tweespalt in my motiewe en my optrede my tot inkeer bring en tot bekering laat kom van myself. As hierdie proses van al meer deursigtig word aanhou, is daar al minder spanning tussen wat binne my aan die gang is en dit wat ek doen en sê.

Ek verander dan van ‘n mens wat sekere goed DOEN sodat ander hopelik op ‘n sekere manier oor my dink, na iemand wat op ‘n sekere manier IS en nie eers dink oor wat ek doen nie, want dit begin vanself gebeur.

Deursigtigheid gaan beslis nie oor perfeksie nie. Dit gaan wel daaroor om al meer bewus te raak van my motiewe, al meer te weet wat regtig hier binne aangaan, en al meer leer om openlik te wees oor die feit dat ek nie perfek is nie.

Richard Rohr het op ‘n keer gesê: One need to have at least one embarrassing moment a day. So groei ek in die besef dat ek nie perfek is nie, maar dat God voortdurend in my aan die werk is.

Selfkennis

Ek sal nooit vergeet toe Sr Mary die dag vir ons gesê het: The road to God is through self-knowledge. Ek het natuurlik gedink sy gaan sê: The road to God is through Jesus. Tog het ek mettertyd begin agterkom wat sy bedoel.

Baie gelowiges is gekant teen te veel selfkennis, want hulle voel selfkennis is eintlik maar selfbeheptheid. Dit ten spyt is ek regtig oortuig dat diepgrondige selfkennis ‘n absoluut essensiële deel van my verhouding met God is.

Dit sê ek onder andere omdat ek in my werk sien hoe mense wat nie hulleself werklik leer ken nie, vasval en vasgekoek raak in hulle eie onvermoë om te sien wie hulle is en hoe hulle optree. En of ons dit nou wil weet of nie, elkeen van ons is ongelooflik blind vir ons motiewe en optrede.

Die diepste doel van selfkennis is transformasie.
Hoe kan jy deur die Here getransformeer word as jy nie weet wat dit is wat jy moet laat sterf nie?
Hoe kan jy groei in die manier hoe jy ander mense hanteer as jy blind is en nie belangstel om uit te vind hoe jou manier van doen ander mense laat voel nie?
Hoe kan kan jy jouself al meer raaksien voor God as jy nie bereid is om van jou kritiese gees of valse nederigheid of jou oordrewe fokus op sukses of jou selfbeheptheid of jou vrees vir mense of jou vermyding van konflik of jou manipulasie of jou traagheid om inisiatief te neem bewus te word en jou daarvan te bekeer nie?
Hoe beter ek myself begin ken, en hoe meer ek begin agterkom wat daai dinge is wat ek nie wil sien nie, hoe meer gaan ek begin sien wat die effek is wat ek op ander mense het.
Hoe beter ek myself ken, hoe vryer kan ek tussen ander leef omdat ek al meer weet wat my verkeerde knoppies druk en hoe meer kan ek myself in vryheid gee vir ander en vir die wêreld om my. Hoe beter ek myself ken hoe deursigtiger gaan ek word en hoe naatloser gaan ek begin leef.

In die verhaal Les Miserables is daar ‘n toneel aan die einde waaar die bloeddortsige kaptein aan die einde van die hoofkarakter se lewe vir hom vra: Who are you? Uiteindelik, na baie jare se wegkruip en identiteitverdoeseling, antwoord hy sonder om te skroom: I am Jean Valjean… En skielik is hy vry! Die oomblik toe hy homself wys vir wie hy is, word hy bevry van wie hy nie is nie. Anders gestel: We all suck at being copies of other people. Daarom word ons geroep om die beste original te wees wat ons kan wees. Daar is een ding wat ek beter kan doen as enigiemand anders: Ek kan myself wees.

Die storie word vertel van die Woestynvader, kom ons noem hom vader Pumen. Hy het gesê dat wanneer hy aan die einde van sy lewe kom gaan God nie vir hom as Pumen vra: Waarom was jy nie Moses nie? Hy gaan ook nie vra: Pumen, waarom was jy nie Elia of selfs Jesus nie. Hy gaan vra: Pumen, waarom was jy nie Pumen nie?

Ons arriveer nooit nie, maar... Alhoewel ons nooit arriveer nie en op aarde maar altyd op pad is, en daarom sekerlik voel dat daar maar nog min van heirdie vrug in my lewe sigbaar is, is ek seker dat jy, as jy mooi kyk, al enkele botsels van die belofte van vrug aan die takke van jou lewe groei. Onthou: dit is God wat laat groei. Gee mee, sodat God kan doen wat Hy wil doen.

Friday, February 22, 2013

Lewe uit die donker


Die krag van die donker

In elkeen van ons se lewe is daar een of ander area in ons lewe wat lei onder die krag van donker en dood. Dalk ‘n huweliksverhouding, dalk is jy deel van ‘n buite-egtelike verhouding. Suur verhoudings met kinders of familie. Jy voel dalkseergemaak en verontreg deur vriende of kollegas. Daar is dalk ‘n sonde wat jy aanhou doen wat die lewe uit jou laat sypel elke keer as jy dit doen. ‘n Slegte gewoonte wat jou van lewenskwaliteit beroof. ‘n Siekte wat jou hele lewe oorgeneem het. Jou verhouding met God het dalk ‘n futlose ritueel geword. Dalk het jy selfs gevoelens van bittherheid of wrok of haat teen God

Ons dink dikwels dat hierdie areas van donker jou lewe steel, maar bestaan daar dalk ‘n kans dat God juis hierdie donker dinge in jou lewe wil gebruik om vir jou lewe te gee?

Jesus se lewe

Een van die interessantste feite van Jesus se lewe is dat die belangrikste gebeure in sy lewe in die donker plaasvind: sy geboorte, sy arrestasie, sy dood; én sy opstanding.

Al is daar niemand van ons wat hou van die donker tye in ons lewe nie, bring dit dikwels buitengewone dinge in ons lewens na vore.

Numeri 17: Aäron se staf

Die verhaal oor Aäron se staf in Numeri 17 is ‘n interessante verhaal wat mens nie baie lees nie, maar wat jy dalk iewers uit jou Sondagskooldae onthou.

Dit vind diep in die swerftog deur die woestyn plaas. Van hulle het dalk al gedink dit gaan nie meer gebeur dat hulle die beloofde land gaan betree nie. Die Israeliete is baie weerbarstig en hardkoppig, baie soos ons, en weier om hulle aan Aäron te onderwerp. God sê: Bring die 12 kieries van die 12 stamleiers sodat Ek kan uitwys wie Ek kies.

Hierdie kieries was nie stokkies wat hulle sommer nou die dag gepluk het nie. Waarskynlikwas dit hulle ou wandelstokke waarmee hulle al vir baie jare besig is om deur woestyn te swerf. Hulle kry opdrag om die kieries oornag in die tent van ontmoeting te gaan neersit, daar waar hulle oortuig was God is.

Ek wonder wat het hulle gedink, wat gaan nou eintlik hier gebeur? Maar daar in die donker, in die diepste donker van die nag, gebeur daar iets wat niemand kon antisipeer nie.

Die volgende oggend het daar inderdaad iets ongelooflik met Aaron se kierie gebeur! Die hele stokou, droë kierie is vol botsels. En nie net dit nie. Dit dra ook bloeisels en ryp amandels. Stel jou dit voor! Wat 'n kragtige teken.

Ons besef dit nie altyd nie, maar dis presies hoe God met ons lewens werk. As ons dit kan waag om in die donker tye in ons lewe ons lewe voor God neer te lê, dan kom God juis in die donker en begin iets nuut in ons.

Nuwe lewe uit die donker

Dink maar aan jou eie lewe en jou pad met God. Hoeveel keer het God nie al iets nuuts in jou lewe begin juis in die donker tye, die swaarkry tye nie, waarsonder jy doodeenvoudig nie by die plek sou kom waarby God jou help kom het nie? Weereens: ons glo tog nie dat God die outeur van daardie donker tye is nie, maar die oomblik as die donker oor my toesak, kom God met sy Gees en is hy gereed om te begin met groot en mooi dinge doen.

Anders as met Aäron se kierie sien ons dit net nie altyd raak nie.

Nuwe oë vir nuwe tye

Ons sal nuwe oë moet kry om te begin sien wat God in die donker tye doen.

Dink maar aan die stad. Ons sien net tekens van verval, tweryl ons onvermoë om te sien waarmee God besig is maak dat ons nie die tekens van lewe in die stad sien nie. Daarom nooi ek jou om tog iers saam te kom op “'n Plegrims in die Stad” geleentheid.

Dink aan jou eie lewe. Dink aan waar jy jou nou in jou eie lewe bevind. Aan die donker wat dalk iewers oor jou lewe toegesak het, maar kyk fyn, God is besig om iets nuuts in jou te doen.

Watter buitengewone dinge is God dalk besig om in die donker tye in jou lewe te laat oopbreek?
Word stil en leeg

In die donker tye in ons lewe moet ons stil genoeg word sodat ons God se stem kan hoor wat ons uitnooi na dieper diemnsies in die manier hoe ons bestaan. Ons word leeggemaak van die ou dinge in onsself, sodat daar plek kan kom vir nuwe maniere van dink en leef, maar hierdie leegword proses is altyd pynlik. Wanneer jy jouself oorgee aan God se pad, sal jy gou agterkom dat God jou nooi na plekke waar jy nog nie was nie, plekke verby jou natuurlike grense. Of soos iemand een maal gesê het: If you sign up for God’s hike, don’t bother to pack the tent. Just when you’re ready to make camp, God will wave you on to a new frontier.

Die lang pad

God se pad is meestal nie die kort pad nie, maar die lang pad. En dikwels neem hierdie pad jou deur ‘n donker woud. Maar dit beteken nie ons het verdwaal nie, want onthou, ons loop mos nie die pad alleen nie. Jesus stap voor en daarom weet ons al teen dié tyd die donker is deel van die reis. Ons, ek inkluis, raak heeltemal te paniekerig in die donker. Ons verstaan selde dat dit ‘n heilige soort donker is en dat ons eintlik veronderstel is om ons aan God in die donker oor te gee en te vertrou dat Hy jou na die lig sal neem.

As ons pyn vermy

God roep ons altyd na heelheid en lewe. Maar dit kan nie gebeur as ons die heeltyd die pyn probeer vermy van daardie dinge in onsself nodig het om deur God aangeraak te word nie. Sue Monk Kidd skryf in When the heart waits: Real suffering burns clean. Neurotic suffering creates more and more soot. Creative suffering is the pain we encounter in confronting our lives honestly, expanding our vision, choosing a new way, owning our shadow, and healing our wounds.

Lewe uit die dood

God maak dikwels ‘n nuwe begin wanneer die nag op sy donkerste is. Om ons uiteindelik van die donker na die lig te neem het Jesus sy lewe gekos. God spesialiseer daarin om lewe te bring uit die dood.

God stel nie belang in die skyn van godsdiens of in die skyn van ‘n verhouding met hom nie.

Hy stel belang in jou hart, in jou lewe.

Hy stel daarin belang om sy lewe te laat kom in elke aspek van jou lewe.

Hy stel daarin belang om jou vasgeloopte lewe te herstel.

Om nuwe uitkoms te bring in ‘n situasie of in ‘n verhouding of in ‘n probleem waarin jy absoluut geen uitkoms sien nie.

En dis waaroor Paasfees gaan: Om te midde van donker en dood in areas van jou lewe alreeds die onblusbare saad van lewe in jou te sien ontkiem.



Tuesday, February 19, 2013

Die beste "original"

Ons mense voel tog so maklik bedreig deur ander. As iemand anders hom of haarself op dieselfde gebied begewe as ek laat voel dat my baie onveilig en onseker oor myself en vra ek onbewustelik vir myself: Is ek goed genoeg? Om so te leef maak my net vyandig. Dit veroorsaak dat ek vanuit ‘n posisie van bedreiging en antagonisme teen ander stelling innneem. Amper soos ‘n dier wat sy grondgebied met grommende jaloesie wil beskerm.
Waarom doen ons dit? Dalk omdat ons nie besef dat daar regtig niemand anders soos ek op hierdie aarde is nie. Al is daar honderde ander wat ook eksperts is op die gebeid waarop ek my bevind, is daar net een persoon met my persoonlikheid, my aanslag, my unieke manier van verstaan en kyk na die lewe. Moet daarom asseblief nie probeer om ‘n afdruk van iemand anders te word nie. Of anders gestel: We all suck at being copies of other people. Daar is een ding wat ek beter kan doen as enigiemand op aarde: ek kan myself wees.
Die storietjie word vertel van die woestynvader wie se naam ek nie kakn onthou nie. Kom ons noem hom abba Pumen.  Hy vertel: Wanneer hy voor God se troon te lande kom, gaan God nie vir hom vra waarom hy nie Moses of Elia of selfs Jesus was nie. Hy gaan vir hom vra waarom hy nie Pumen was nie.
So, wees maar net die beste “original” wat jy kan wees en dis meer as genoeg.

Friday, January 18, 2013

Geluide van 'n Begenadigde Lewe

Dit is Saterdagoggend en skielik word ek oorweldig deur die geluide van my begenadigde lewe: die reën wat onverstoord op die dak neersif, die kinders se geklets agter 'n toe kamerdeur met Julio Iglesias op Katinka se CD spelertjie as agtergrond, die badwater wat intap, oupa se gekug terwyl hy Al-Jazeera kyk, die woef se rustige asemhaling nadat ons vir twee dae gewonder het of sy 'n onbekende siekte gaan oorleef en die tik-tak van my vingerpunte op die rekenaar se toetsbord...

Monday, January 14, 2013

Three ways

One way to work on yourself is by being present in the body.
Another way is by expanding the heart.
A third way is by quieting the mind.
The wise person finds a way to work on all three at the same time.
(Understanding the Enneagram, 327)

Genade



te midde van wêreldoorloë, massamoorde
en verval van die bestel
pleit ek vir genade vir my klein heelal
vir my miniatuur-bestaan:
my brose kinders
my sagmoedige man

Somer

Niks kom by die smake van somer nie,
bloedrooi, yskoue waatlemoen,
die sap van 'n mango wat in strepe teen jou ken afdrup,
klein robynrooi, framboos juweeltjies
en die heuningsoet smaak van 'n vy...