Tuesday, April 1, 2014

Jy en jou nageslag



Daar is baie van ons wat maklik geneig is om aan onsself te dink as die slagoffer. Die slagoffer van gebroke of mislukte verhoudings, die slagoffer van teëspoed of skewe klappe wat deur die lewe aan ons uitgedeel is. Dikwels is hierdie slagoffers-identiteit so fyn in ons ingeweef dat ons dit regtig nie raaksien nie en hoegenaamd nie na onsself as slagoffers sal verwys nie. Tog sien mens dit meermale in die futloosheid of verslaendheid waarmee ons leef.
Daar is aansienlik minder van ons wat besef dat ons oor baie mag beskik. Nie net mag oor ander mense en ons invloed op hulle nie, maar veral ook mag oor die keuses en die pad wat ekself loop.

Een so man is Jadav Payeng. ‘n Raps meer as 30 jaar gelede het Jadav Payeng as ‘n 16-jarige tiener naby sy dorp in die Noorde van Indië gaan stap en tot sy verbystering afgekom op ‘n klomp slange wat op ‘n sandrif gestrand was na ‘n vloed ‘n paar dae vantevore. Die slange kon nêrens heen nie en daar was geen skuiling in die omgewing nie en hulle het almal in die skroeiende son verbrand. Dit het Jadav se hart gebreek.
"The snakes died in the heat, without any tree cover. I sat down and wept over their lifeless forms. It was carnage. I alerted the forest department and asked them if they could grow trees there. They said nothing would grow there. Instead, they asked me to try growing bamboo. It was painful, but I did it. There was nobody to help me. Nobody was interested," sê Payeng, nou 47.
Hy het in sy beskeidenheid gou besef dat niemand omgee nie en as hy bekommerd is oor die lot van die wilde diere in die omgewing, wat al meer deur habitat verlies geteister word, sal hy iets daaraan moet doen. Hy het begin om saad wat hy oral opgetel het in die barre sand te plant. Dit was harde werk, veral omdat sy dorpie afgeleë was en hy soms ver moes loop om water vir sy saadjies aan te dra en hy hoegenaamd geen fondse gehad het nie. Tog het hy uitgehou – vir 30 jaar lank. Hy het dit sy lewenstaak gemaak om van die barre sandrif ‘n heenkome vir diere te maak en selfs op ‘n stadium daarheen getrek om voltyds na sy plante om te sien.
Vandag, dertig jaar later, staan daar ‘n woud van 1 360 akker! Vandag is sy woud ‘n veilige hawe vir voëls, bokke, renosters, tiers en olifante. Hy het selfs ‘n kolonie miere daar hervestig.
In ‘n ander land was Jadav dalk ‘n held, maar in Indië word daar nie veel van hom gemaak nie. Tog is sy grootste nalatenskap die lushof waar hy nou bly en die wye verkseidenheid van diere wat hier ‘n tuiste vind. Die woud en die diere is sy nageslag.

Dit laat vra mens waarmee ek en jy besig is? Gaan daar aan die einde van my tyd op aarde bloot ‘n sandrif agterbly met ‘n paar lyke wat ek agter my los, of is ek besig om ‘n ongenaakbare wêreld saad vir saad in ‘n leefbare, lewegewende plek te omskep?
God staan waarskynlik in afwagting en kyk wat ek en jy gaan maak met die klompie dekades wat ons gekry het. 
Of soos Hy in Deut 30:19 sê:  Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.



Met erkenning aan Bron Taylor, Professor in Godsdiens en Omgewingsetiek aan die Universiteit van Florida, Amerika.

Sunday, March 23, 2014

Najaars oes

Die term "Najaar" is van Nederlands afkomstig en word as wisselterm vir die seisoen Herfs gebruik. In die noordelike is Herfs in die laaste deel van die jaar, of dan Najaar. Die woord het ook sy beslag in Afrikaans gevind, en al word dit nie meer algemeen gebruik nie, roep dit beelde op of van loom middae in die son met 'n hommelby wat stadig verbyvlieg en boorde vol vye, granate, perskes en turksvye. So het nie Najaar van die lewe ook 'n unieke oes - volrond en ryp soos net daardie seisoen kan bied.  En die Gees van God is in die hitte van die Son.


Friday, March 21, 2014

Posisie vakant



Die Engelse woord “sage” dui op iemand wat werklik wys is. Iemand met lewenservaring wat al self genoeg foute gemaak het, iemand wat met ‘n diep selfbewustelikheid en ‘n diep bewustelikheid oor die algemeen leef. Iemand wat nie hom- of haarself te hoog aanprys nie en veral weet hoe feilbaar en kwesbaar hy of sy dikwels is. Iemand wat iets van afhanklikheid van God verstaan. Iemand by wie ander mense kan aanklop.
 Of in William Shakespeare se woorde: 


 Hoeveel sulke mense ken jy? Ek moet eerlik wees dat ek nie baie sages ken nie. Dalk so handvol. Mens sou verwag om heelwat sulke mense te vind, maar hoe harder mens soek, hoe minder van hulle kry jy.
John Ortberg sê: The world badly needs wise and flourishing human beings… As jy na jou eie lewe kyk, wat is die kans dat jy besig is om te groei tot ‘n wise and flourishing mens? Om wys, florerend en heel te wees gaan van die paradoksale voorveronderstelling uit dat ek weet dat ek nie altyd wys is nie, dat ek nie altyd gesond funksioneer nie en dat ek ver van heel af is. Of soos 1 Kor. 3:18 sê: Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word.
Net soos wat ‘n sekere boom nie sommer vanself opkom nie, maar jare neem om te groei tot ‘n boom wat vrug dra en baie aandag en water nodig het om volwassenheid te bereik, net so is ons interne groeiproses intensioneel. Ek gaan nie sommer een oggend wakker word as ‘n wyse, gesonde en heel mens nie. Dit neem baie jare waar groei meestal onsigbaar en onpeilbaar gebeur. Al is die groeiproses intensioneel is die vrug meestal onbewus.
As mens iemand ontmoet wat werklik wys is, is dit so seldsaam dat mens dit amper nie eers vir daardie persoon moet sê nie, want meestal weet hulle dit nie.
In die sielkunde (onder andere Carl Jung en Erik Erikson se werk) praat hulle van hierdie wyses of sages onder ons as mense wat ‘n heel ander pad loop as die meerderheid ander. Trouens is dit een van die belangrikste menslike ontwikkelingstake: om die integrasie te bereik waar ek as ‘n mentor in ander se lewe kan funksioneer. Hier gaan dit natuurlik nie daaroor om ‘n mentor in vakkennis te wees nie (want dis nie so moeilik nie), maar om ‘n mentor van die lewe te wees. En dan nie omdat ek die lewe reggekry het nie, maar omdat daar ‘n diepte, egtheid en deursigtigheid is waarmee ek die lewe leef, wat van my iemand sou maak by wie mense kan tuiskom.
Dalk is die woorde van Lao Tzu belangrik as ek dink oor die soort mens wat ek besig is om te word: Mind the end as the beginning, then it won't go wrong. Mag die pad wat jy kies jou meer en meer vorm, om sonder dat jy dit weet, ‘n geskikte kandidaat te word.




Sunday, March 16, 2014

Te midde van die storm



So met die reën wat nou al vir amper twee weke aanhou en aanhou het ek gedink dat dit dikwels is hoe dit in ons lewe ook gaan. Die storm hou net aan en woed net voort en dit voel of dit nooit gaan ophou nie. Ons natuurlike reaksie is om so vinnig as moontlik uit die storm weg te kom, maar enige poging is gewoonlik futiel. Dis moeilik om te verstaan dat God ons ontmoet net waar ons is, en dat die storm nie noodwendig verby hoef te wees voor ek weer iets van God se vrede kan ervaar nie.
Die verhaal van Jesus wat die storm stil maak in Matteus 8 laat wens mens dikwels dat Jesus ook maar net so maklik die storm in my en jou lewe wil stil maak. Ongelukkig werk dit nie altyd so nie. Wat wel gebeur is dat Jesus te midde van die storm die nie-angstige teenwoordigheid in my boot wil wees. In krisistye neem die krisis dikwels soveel van ons eksterne en interne energie op, dat ons onsself uitgemergel deur elke dag sleep. Die uitdaging is juis om in die oog van die storm teenoor Jesus in die boot te gaan sit en toe te laat dat sy nie-angstige teenwoordigheid die storm van my hart vir ‘n wyle laat bedaar sodat ek, al is dit net vir ‘n wyle, ook ‘n nie-angstige teenwoordigheid midde-in die storm kan wees.
Dalk is die geheim juis om te midde van ‘n storm so gereeld moontlik die plek van stilte in die middel van die storm op te soek en daar vir Jesus te ontmoet. Om selfs toe te laat dat ek te midde van die storm gevorm word, al voel dit hoe pynlik of onwaarskynlik. May Sarton stel dit mooi:
...the storm, painful as it is, might have had some truth in it. 
Soms is al wat ons werklik in ‘n storm kan doen om soos die voëltjie in die storm my kop te buig, te vertrou en te wag…, want iewers sal die son weer skyn…


Thursday, February 20, 2014

Small straws in a soft wind



SMALL STRAWS IN A SOFT WIND by MARSHA BURNS:  

Achieve and maintain tranquility, beloved.  Even though the opportunity to be drawn into someone else's chaos presents itself, you must stand your ground of peace.   Refuse to allow anything to disturb you.  Be level-headed and trust Me to give wisdom and to direct your steps in situations that take you off guard.  Keep looking up, says the Lord.  

Isaiah 26:3 You will keep him in perfect peace, Whose mind is stayed on You, Because he trusts in You. 


Wees wat jy is








Ons almal ken hierdie twee bekende beelde uit Matteus 5 redelik goed: Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê kan mos nie weggesteek word nie! ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en maak dit onder ‘n emmer toe nie! Inteendeel! Jy sit dit bo-op ‘n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
Wanneer mens die woorde lees is een van die eerste dinge wat mens opval dat die beeld so oorbekend is dat dit bykans niks meer vir ons sê nie. Maar – het jy al werklik die beeld geHOOR?
Jesus sê nie “kom leer hoe om sout te wees” of “kom leer hoe om lig te wees nie”. Hy sê “julle is dit”. As God se kinders IS ons reeds die sout en IS ons reeds die lig. Al wat van ons gevra word is om onsself oor te gee om aangewend te word vir waarvoor ons gemaak is.
Die oomblik as sout in kos gegooi word transformeer dit die smaak.
Die oomblik as die stad se ligte teen laatskemer aangeskakel word transformeer dit die donker horison.
Dalk lê die antwoord presies hierin: hou op probeer om iets te wees en gee jou oor om te wees wie jy reeds is. Vir elkeen van ons met ons eie persoonlikheid gaan die manier hou ek sout is en die manier hoe ek lig is verskil van die ander mense in my lewe, en dis ook hoe dit hoort. Ek het beslis ander gawes om te bring as jy, en jy verryk die wêreld op ‘n ander manier as ek. Tog kan sekere minder opbouende aspekte van my persoonlikheid juis in die pad daarvan staan dat ek sout en lig is. Weet ek wat dit is of is ek blind vir hierdie donkerder dele van myself?
Die beeld gaan verder: as die sout nie oor die kos gestrooi is nie en die lig nie skyn nie kom mens dit dadelik agter. Dit laat vra my ‘n belangrike vraag: Maak my teenwoordigheid in die wêreld waar ek leef so ‘n verskil, dat mense my bydrae en my gawes mis as ek nie daar is nie, of kom hulle dit skaars agter?
Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. Kom ons wees dit…