Saturday, July 26, 2014

Die Taal van Kleur




Daar is baie tale op aarde wat nie woorde het nie: wiskunde, musiek, emosies, kuns.

En dan is daar kleur.
Kleur is waarskynlik een van God se grootste wonders.
Die eerste maal as jy met moeite probeer om name op ‘n kleurwiel te leer kan nie vergelyk met die dag waneer jy die naam van die kleur hoor en dit nie net voor jou sien nie, maar voel hoe dit soos ‘n klein vuurwerk in jou hart ontplof.
As jy na die wolke kyk en nie net blou en wit en grys sien nie, maar ‘n hele reënboog van subtiele skakerings.
As jy ‘n rooi blom verf en sewe kleure moet gebruik.
As jy besef swart is nie net swart nie, maar afhangende van die palet word seker bloue en rooie, of sekere groene en rooie die diepste, rykste fluweelswart denkbaar.

Cadmium Red Hue, Cadmium Red Deep Hue, Alizarin Crimson, Naples yellow,
Lemon yellow, Indian yellow, Pthalo, Cerulean, Indigo, Burnt Siena, Van Dyke,
Viridian, Sap green, Cobalt Violet, Titanium White.
 
Met tyd word die name musiek, prente en emosies.

Skoonheid




Ek was nog altyd behep met skoonheid, enige vorm daarvan. Trouens dink ek ek is verslaaf daaraan. Tog moes ek leer om nie verslaaf te wees aan die skoonheid as sulks nie, maar aan die Een wat binne die skoonheid staan. Ek moes leer om dieper te kyk as die perfekte en volmaakte en om skoonheid ook in die aardse, alledaagse, onperefekte, selfs lelike raak te sien, want dis nie net daardie skone dinge wat aan ons onnatuurlike menslike standaard van skoonheid voldoen wat skoonheid vergestalt nie, maar elke lewende ding wat God se wese diep adem.

Ann Voskamp (2012:110-112) verwoord dit aangrypend:
I want to see beauty. In the ugly, in the sink, in the suffering, in the daily, in all the days before I die, the moments before I sleep. Isn't beauty what we yearn to burn with before we die? That is what I crave: I hunger for Beauty. Beauty is the voice endlessly calling and so we see, so we reach. Doubt the philosophies, doubt the prophecies, doubt the Pharisees, but who can doubt this, Beauty? Beauty requires no justification, no explanation; it simply is and transcends. See beauty and we know it in the marrow, even if we have no words for it. Someone is behind it, in it. Beauty Himself completes.

All beauty is only reflection. An whether I am conscious of it or not, any created thing of which I am amazed, it is the glimpse of His face to which I bow down. Do I have eyes to see it's Him and not the thing? True, authentic beauty requires of us, lays claim to us, and it is this, the knees bent, the body offered in obedience. A pantheist's god is a passive god, but omnipresent God is Beauty who demands worship, passion, and the sacrifice of a life, for He owns it.

Thursday, July 24, 2014

Gewoontediere




Ons mense is mos maar gewoontediere. Ons het vaste patrone waarvolgens ons funksioneer en ons lewens inrig. Ons voorkeure en afkeure het oor jare diep kepe in ons manier van leef ingegraveer. Natuurlik het ons ‘n hele aantal goeie gewoontes, maar ons het ook gewoontes wat nie noodwendig vir ons of ander goed is nie. Dis hierdie gewoontes wat ook nie so maklik verander nie.
Hier dink ek onder andere aan bepaalde denkpatrone oor myself en die lewe, my manier van konflik hanteer, hoe ek reageer in tye van krisis en spanning, en so meer. Natuurlik is baie van ons nie eers mooi bewus van ons ingewortelde patrone nie.
Daarom is ‘n ordentlike skoot selfkennis onontbeerlik op ons geloofspad. Te veel gelowiges skram weg van selfkennis omdat hulle voel dat dit hulle selfbehep maak, maar die realiteit is dat die meeste van ons nie insig in ons gedrag en optrede sal ontwikkel as ons nie weet wat die dieper dinamika in my persoonlikheid is wat my gedrag of manier van dink bepaal nie.
Ann Voskamp haal op ‘n stadium vir Desiderius Erasmus aan wat eenmaal gesê het: A nail is driven out by another nail; habit is overcome by habit. Net soos ek nodig het om ‘n spyker wat al vir jare in die hout vassit, van die ander kant af met ‘n ander spyker en hamer uit te slaan, so het ek nodig om dikwels ou, uitgediende of nadelige gewoontes te vervang met nuwes.
Sien jy kans om die Timmerman toe te laat om jou te wys watter van jou ou gedrags- en denkpatrone is dalk uitgedien of nadelig; watter ou gewoontes moet dalk plek maak vir nuwes?
Die proses wat nodig is om van ou gewoontes ontslae te raak is redelik intensioneel. Die spyker val nie op ‘n dag vanself uit die hout nie. Op ‘n bewustelike manier sal ek van die ander kant af moet begin om die ou dinge te takel, te dekonstrueer en veral te verstaan hoe dit gekom het dat ek hierdie gewoontes het.
Die beste manier om ou gewoontes te verander is waarskynlik om in die teenoorgestelde gesindheid op te tree as my natuurlike voorkeur. Om doelbewus nie by die kafee te stop vir daardie sjokolade nie. Om willens en wetens my stapskoene aan te trek al is ek hoe lui. Om my wekker te stel vir my tyd saam met God al is ek glad nie lus nie. Om intensioneel te bid vir vrede as die angs my wil oorweldig. Om te besluit om oop te wees vir vertroue as bekommernis my wil insluk. Om te kies vir geduld en vriendelikheid as my gewoonte is om af te jak en nors te wees.
Hiervoor is dit natuurlik nodig dat ek gereeld sal gaan stil sit om te verstaan wat die dieper motiewe is wat in die donker water van my hart roer.
Om my oop te stel om deur God geleer te word,
om dit in te oefen en
myself vrywillig aan te meld om afgerig te word
 is die moeilikste deel van transformasie,
 maar daarsonder gebeur diepgaande, egte transformasie eenvoudig nie.
Dalk kan CS Lewis se woorde ons so bietjie help: If you think of the world as a place intended only for our happiness, you find it quite intolerable: think of it as a place of training and correction and it’s not so bad. Of die woorde van Romeine 12:2:
Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. So gryp daai hamer...


U sien alles

Here, U sien alles.
En ek hoop U sien meer
as die skouspelagtige gemors
wat ons mense hier op aarde
veroorsaak het.
Want vanaand sukkel ek...

Saturday, July 19, 2014

Die Kweekhuis




In die afgelope vakansie het ek en my kinders by die familie in die Kaap gekuier. Tydens een van ons uitstappies het ons die Kirstenbosch botaniese tuin besoek. Ek was al eenmaal vantevore daar, maar wat ‘n ongelooflike plek! Elkeen wat al daar was sal met my saamstem dat dit ‘n absolute lushof is. Trouens, dit is die grootste inheemse tuin in die wêreld. Terwyl ons daar was hoor ek onder andere dat daar in die tuin etlike kweekhuise is, maar dis veral die een kweekhuis wat my diep aangegryp het. Anders as al die ander kweekhuise is hierdie kweekhuis se taak nie om die plante vogtig te hou en teen uitdroging te beskerm nie, maar presies die teenoorgestelde.
Binne hi
érdie kweekhuis word die temperatuur so gereguleer dat dit so droog en warm as moontlik daar binne is, aangesien die kweekhuis volledig gewy is aan die behoeftes van plante wat uit die droogste, mees barre, warmste gebiede van Suid-Afrika kom, soos onder andere die Richtersveld. As hierdie plante dieselfde hoeveelheid water en koue as die res van die plante in die reuse tuin moes kry sou hulle doodgaan en verskrompel.
Dit het my onmiddelik laat dink dat hierdie plante in die “droë” kweekhuis tenoor die res van die plante, metafories is van ons mense en ons geestelike behoeftes.
Net soos die plante in die tuin het ons nie almal dieselfde behoeftes nie en is die ideale klimaat vir groei nie noodwendig vir ons elkeen dieselfde nie. Trouens, dit verskil dramaties! Dis dalk presies hoekom ons as gelowiges so sukkel: ons probeer voortdurend soos iemand anders wees wat ons dalk bewonder, of probeer op dieselfde manier groei as die ander mense om my. Kort voor lank kom ek agter dat dit nie vir my werk nie, dat ek nie tuis voel nie, maar ek sukkel maar voort, want ek glo as dit vir sus en so werk, dan moet dit vir my ook werk. So gebeur dit dan, dat ek in plaas van groei en floreer, mettertyd verskrompel en kwyn.
Dit kan natuurlik ook gebeur dat ek met die oortuiging leef dat as iets vir my goed is, dit vir ander ook moet goed wees, en nie kan verstaan hoekom ander so sukkel nie – dis mos eenvoudig!
Dalk is die dilemma dat die meeste van ons maar op ‘n manier aan geestelike luiheid (of “sloth” in Engels) ly. Ons wil nie noodwendig die werk en die moeite doen wat nodig is om uit te vind wat die optimale groei-omstandighede vir my met my persoonlikheid en spiritualiteit is nie, en verloor dan vinnig moed as ek nie groei soos ek gehoop het ek gaan groei nie. Die wyse woorde van die ou mistikus, Meister Ekchart, is hier uiters relevant:
We are all called to God on a different path. Do not follow the path of others. Follow the path that God has given to you.
Wanneer jy vir jouself vra watter omstandighede optimale groei in jou lewe sal meebring sal jy dalk heel verras ontdek dat dit nie is wat jy gedink het dit gaan wees nie.
Alhoewel die plante in Kirstenbsoch se kweekhuis se behoeftes verskil van die res van die tuin, het al die plante in die tuin een gemene deler en dit is dat die Tuinier, nadat hulle in die mees optimale omgewing geplaas is, vertrou dat hulle sal groei, vrug dra en floreer. Dieselfde is waar van ons. Die Tuinier wil met sorg na ons omsien (Johannes 15), sodat ons kan vrug dra in ons gemeenskappe en ons wêreld en vrug voortbring wat tot voordeel is van elke konteks waarbinne ons ons mag bevind.
Die vraag is nou of ek bereid is om my oop te stel vir God se Gees om my te neem na daardie plekke van groei en of ek bereid is om te besef dat dit wat vir my goed is en tot lewe lei, nie net lekker is nie.
Mag die “kweekhuis” die plek wees waar ek en jy die volhoubare krag kry om te gaan wees wat ons kan wees, want na alles is ons nie plante nie, maar mense met hande en voete en lywe.


Friday, July 4, 2014

Wees stil...





Dit is winter. Die nagte is koud. Ons maak sop en bou kaggels en probeer so bietjie langer tussen die warm komberse broei. Sommige van ons beleef selfs hoe ons ‘n hunkering ervaar om effens meer in pas met die natuur te leef, stadiger, stiller.
Stilte is nie ons natuurlike modus nie. Daar is sommige van ons wat vanuit ons persoonlikhede meer van stilte hou as ander, maar vir die meeste van ons is stilte nie iets wat ons kies nie. Tog kan die belang van stilte op my geloofspad nie genoeg beklemtoon word nie.
Baie van ons skram weg van stilte af en daar is baie redes hiervoor. Sommige sê ons is nie veronderstel om so na binne gefokus te wees nie en moet buite in die wêreld besig wees. Ander is weer bang vir stilte omdat daar in die stilte donker en ontstellende stemme uit my onderbewussyn met my kom praat oor dinge in my lewe waaraan ek verkieslik so min aandag as moontlik wil skenk. Stilte konfronteer my met my diepste self en as ek stil is, is daar niks waaragter ek kan wegkruip of wat ek kan gebruik om my eie ongemak te ontvlug nie. Selfs so iets soos ‘n oproep, sms, facebook, die radio of televisie wat in die agtergrond speel, kom steel my stilte sodat ek doelbewus nie hoef stil te wees nie. Interessant genoeg is dit ook dikwels my stiltye wat eerste by die deur uitwaai as dit met my swaar gaan of ek ‘n uitsonderlike veeleisende tyd by die werk of in my lewe deurgaan. Veral dan beskou ek stilte as ‘n luukse, wat my net beskore is in tye wat ek dit kan beskostig.
Ek vermoed dat ons denke oor stilte uiters skraal en gebrekkig is. Stilte is nie ‘n luukse waarin ek my kan verlekker as ek genoeg tyd het of iets wat ek myself mag gun as my lewe nie soveel van my eis nie. Stilte is nie soos wyn of sjokolade wat ek elke nou en dan nadertrek om my lewe bietjie interessanter te maak nie. Stilte is soos water en minerale en vitamine – ek kan nie eintlik daarsonder nie.
Groot geloofsleiers het deur die eeue lang tye van elke dag aan stilte spandeer. Martin Luther het byvoorbeeld elke dag twee tot drie ure saam met God stil geword en gelees en gebid. Eers daarna het hy aktief en met passie die res van sy dag spandeer in die wêreld. Moeder Teresa en haar Sisters of Mercy het elke dag begin met ‘n uur en ‘n half gebed en daagliks smiddae en saans langerige tye van stilte gehad om hulle die krag te gee en te energeer vir hulle uiters opofferende en fisies veeleisende werk. Ek praat nie eers van die rol wat stiltye in Jesus se lewe gespeel het nie.
Dit beteken nou nie dat ek presies soveel tyd in stilte sal deurbring nie, maar die dilemma is dat ons so gewoond daaraan is om ons lewens teen ‘n geweldige vinnige tempo te leef dat die haastigheid en gejaagdheid ongesiens elke hoek van ons bestaan binnegesluip het. Die geraas en geluide van ons wêreld is so oorverdowend dat dit die stilte vinnig en kragtig verdun, sodat die tye van stilte in ons lewe tot die minimum beperk word.
Dit laat my besef dat ons baie meer intensioneel met stilte sal moet omgaan. Daar sal doelbewuste tegnologievrye tye in ons huise en gesinne moet wees. Daar sal doelbewuste nie-sosiale tye moet wees waar ek kies om nie tussen mense te wees of besig te wees om te werk nie. Ek sal intensioneel met my lewe moet gaan sit en gaan soek na tye en plekke wanneer ek stil kan word. As ek dit nie doen nie, gaan my natuurlike behoefte aan stilte en aan God nie aangewakker word nie. Dis deur tye van intensionele stilte dat my siel weer spontaan begin roep na God en dat my soeke meer soos honger en dors word as soos die meganiese handelings wat ek van tyd tot tyd uitvoer om te probeer om vir God ruimte te skep.
Christopher Jamison, ‘n Benediktynse monnik sê die volgende eenvoudige, maar merkwaardige dinge oor die belang van stilte in ons verhouding met God: “If you want to be deeply connected with God and yourself, you need silence. Silence is something to welcome and embrace. Silence is a gateway to the soul, and the soul is the gateway to God. Yet this is a lifetime’s work. Entering silence can be painful and will lead to unexpected places.” Hy sê dat ons tydens stilte in ons diepste self vasloop en dat dit soms ‘n ontnugtering is, want ons ontdek dat ons nie met sulke suiwer motiewe leef nie, en dit opsigself is geweldig konfronterend, maar as ek die proses toelaat kom ek agter dat die modder wat my water vertroebel, stelselmatig sak en ek al duideliker kan sien waarmee ek besig is en ook waarheen God met my oppad is. Volgens hom lei ‘n lewe vol gereelde stilte tot groter helderheid en dit bring jou in kontak met jou siel. “Life would be transformed for the better if we embraced silence.” Dalk het dit tyd geword dat ons gaan soek na tye en plekke waar ons so gereeld moontlik kan stil word.