Monday, September 29, 2014

Gebed vir dié in die wêreld - Sheila Cussons



Dat ons leef omdat U leef is die eerste
van alles wat wonderlik is.
‘n Wisselvloei is daar tussen U en ons.
U vloei in ons in en ons in U, en in U word
ons arme vog gesuiwer en vernuwe,
en ons self keer uit U terug en in ons in
deur die membraan wat tyd en wêreld is.
Membraan of illusie, so dun is dit, so nie,
so nêrens vir u begenadigdes -
Dankie dat ons wat onsself versteek vir ons naastes
gans oop is vir U en U oop.
Dankie vir die gladder as asemhaling heen en weer
tussen U en ons; dat tyd en ewigheid
mekaar deurdring, nie twee is nie maar een.
Dankie, God, vir die wonder, waarin die harde seer
wat wêreld is, sagter as asem oplos en verdwyn.
Ons mense kom uit God se gedagtes en as ons doodgaan gaan ons terug na God toe.

Saturday, September 27, 2014

Die Drakemeester




Daar is ‘n gewilde reeks kinderverhale met die naam “How to train dragon”. In die storie sien ons hoe ‘n seun daarin slaag om iets reg te kry wat niemand nog ooit vantevore reggekry het nie. Hy vang ‘n draak en in plaas daarvan dat die draak hom vernietig, tem hy die draak en maak hom mak. Deur die draak se gedrag dop te hou, leer hy om met deernis en insig die draak se vertroue te wen en bo alle verwagtings word hy die meester van die drake, en maak ‘n nuwe wêreld oop vir die mense en die drake.
Ons kan waarskynlik meer met die storie identifiseer as wat ons dink, want ons loop ook maar elkeen met ons eie draak. Die naam van hierdie draak is die ego. Op die mees onverwagte en onvanpaste tye steek die ego-draak sy of haar kop uit en blaas vuur oor alles en almal wat naby kom. Wanneer mens egter van die ego begin bewus word, raak dit al meer skrikwekkend omdat mens verstom staan oor die krag daarvan.

Ons weet al te goed dat die ego nie sal sterf nie. Dit is immers deel van ons psigiese struktuur en mens het inderdaad ‘n sterk ego nodig om in die wêreld oor die weg te kom, maar terselfdertyd sal die ego altyd sterk weerstand bied teen God en die transformasie waarmee God deur sy Gees in ons lewens wil besig wees, omdat die ego altyd self wil septer swaai.

Tog is dit vir ons onmoontlik om op ons eie en in ons eie krag te probeer om hierdie ego-draak te tem. Daarvoor het ons die enigste ware Drakemeester nodig. Die Een wat die diepte van alle vorme van dood kon oorwin. Die Een wat die vuur in die draak se maag kan blus.

Sonder die Drakemeester sal die ego-draak ons altyd probeer oortuig dat hy of sy sterker as ons ware self is. Die draak sal ons altyd half beangs in die hoek laat skuil terwyl ons wonder hoe lank ons nog aan die neus rondgelei gaan word.

Saam met die Drakemeester kan ons met vertroue voor die draak stelling inneem en voor die vuur geblaas word, reeds sê: “Ek sien jou! Ek weet waarmee jy besig is. Hier is jy nie meer die baas nie.”


Thursday, September 18, 2014

Die Mineraloog in die Grot





(Die derde beeld op die visuele reis saam met Carl Spitzweg.)

Met die eerste oogopslag is hierdie nie dadelik ‘n inspirerende skildery nie: ‘n man in die bek van ‘n grot.
Dis eers as jy die titel lees dat die skildery nuwe betekenis kry: Die Mineraloog in die Grot.
Die mineraloog is ‘n wetenskaplike, met ‘n fyn oog, op soek naspesifieke kristalle, spesifieke klippe. Wanneer hy met sy beitel al dieper die grot inloop raak hy mateloos opgewonde oor die onontginde rykdom om hom. Hy kan nie wag om dit wat hy ontdek het, te gaan wys nie. Die meeste ander mense wat daar sou inloop sou doodgewoon nie weet waarna hulle kyk nie, maar hy weet...

Dis dieselfde met God. Die diep, donker spelonke van die binnewêreld is dalk vir óns skrikwekkend, selfs onooglik of oninteressant, maar nie vir God nie. God kyk met ‘n kennersoog. Hy weet presies wat om raak te sien. Hy weet al te goed dat daar onvoorstelbare skatte tussen
die donker, onontginde rotse skuil.
 

Die narratiewe terapeut, David White, sê op ‘n stadium dat ons mense gewoonlik soos chirurge met ander en onsself omgaan en soek na die kwaadaardige tumors wat ons dan redelik geweldadig kan uitsny. Soms is ‘n goeie “operasie” onafwendbaar, maar meestal word ons waarskynlik eerder genooi om soos delwers te wees wat tydsaam met ‘n sif in ‘n stroom tussen baie klippies sit en delf vir die goud in onsself en ander.

Of om soos ‘n mineraloog in ‘n grot, soos God, met ‘n beiteltjie en ‘n geoefende oog te soek na die kosbaarhede in ons eie en ander se binnewêreld. So word die pad elke dag ‘n ontdekkingstog, ten spyte van ons broosheid. Dan kan ons met deernis ander en ons eie vreemdhede, geite en giere aanskou, omdat ons weet dat daar binne iets kosbaars lê. Of soos 2 Korinthiërs 4:7 sê:

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.








Wednesday, September 17, 2014

Einde van die Karnaval



Ons kom nou by deel twee van die visuele reis saam met die Duitse skilder, Carl Spitzweg. Die skildery word geken aan twee titels: Einde van die Karnaval of As-Woensdag.

As kind het ek baie die volgende woorde by my Ouma gehoor: “Jy’s weer lekker uit jou kassie vandag!” en “Hmmm-mm! Van lekker lag kom lekker huil.”
 
Soos ek ouer geword het, het dit my al meer gepla, want dit het vir my gevoel asof ek geïnhibeer word
en nie mag wees wie ek wil wees nie. Soveel so dat ek later van tyd baie bewus was van my gedrag tussen die grootmense en mooi stil en stemmig geword het – soos dit ordentlike mense betaam!

Noudat ek my eie kinders het geniet ek dit vreeslik om te sien hoe mal en laf hulle kan wees en hoe hulle  lawwigheid en gejil en gil dikwels tog in trane eindig, want dis mos maar hoe die lewe werk. Hoe anders leer ons oor die lewe?

In hierdie skildery sien ons die nar, na die karnaval, eensaam, alleen, gestroop van sy grappe, met die  skaduwee van die tronksel se tralies teen die muur. Stel jou voor hoe het hierdie dag vir hom begin.

Hoe hy sy kostuum aantrek, by die skare aansluit, dans op maat van die musiek in die strate, en homself  uiteindelik so oorgee aan die genot van die oomblik dat hy heeltemal oorboord gaan, homself verloor  en iets aanvang wat hom die woede van die gesag  op die hals haal. En hier sit hy nou…
 
Ek en jy is dikwels hierdie nar. Ons kan so opgaan in ons eie dinge, die drama van ons lewe, die verwikkeldheid van ons verhoudings, die sekerheid van ons standpunte en ons eiegerigtige baldadigheid. En dan skielik word ons teruggeruk na die realiteit met die vraag: Wat is regtig hier aan die gebeur? Wat is my aandeel in die situasie? Wat het ek gedoen om die storm te veroorsaak?
Die enigste verskil tussen die nar en ons is dat ek nie alleen sit en wag vir die koue nag agter tralies nie. God sit by my en help my om ten spyte van my bravade van vroeër, ten spyte van my skeefgetrekte eiegeregtigheid, met my gesmeerde grimering, skewe hoed en verkreukelde narpak terug te stap huis toe, in ‘n warm bad en bed te klim, en toegevou te word in God se sagte kombers van tweede kanse. Waar sou ek wees sonder God se eindelose kanse?

Thursday, September 4, 2014

Die Portretskilder



Vir die volgende weke nooi ek julle saam op ‘n visuele reis waar ons by sommige van die meer prominente werke van die Duitse skilder Carl Spitzweg (5 Februarie 1808 – 23 September 1885) gaan stilstaan. Spitzweg word beskou as een van die mees prominente kunstenaars in die Biedermeier era (‘n era na die Napolitaanse oorlog in sentraal Europa, waar kunste meer toeganklik vir die groter
wordende opkomende middelklas geword het). Spitzweg het daarop gefokus om momente in die lewe van gewone mense vas te vang. Waneer mens sy werke bestudeer kom jy agter dat sy werk diep simbolies interpreteerbaar is en baie handig kan wees in ons refleksie oor ‘n dieper pad met God.



In die eerste skildery, getiteld Die Portretskilder, sien ons drie karakters. Die edelman met sy deftige klere, die skilder aan die werk en die dienskneg wat toekyk. Ek vermoed daar is ‘n sterk moontlikheid dat hierdie skildery in terme van die Ware Self/Valse Self geïnterpreteer kan word. Kom ons verbeel ons:

Die edelman sit gereed, opgetof in sy fynste uitrusting, sodat die skilder ‘n beeld van hom kan vaslê wat hy graag die wêreld wil instuur. Die edelman se hoop is dat die skilder hom so goed as moontlik sal laat vertoon. 

Terwyl die skilder aan die werk is kom hy dalk agter dat die edelman nie heeltemal is wat hy voorgee om te wees nie. Hy kom agter dat die edelman maar ‘n gewone mens is wat diep onseker is oor homself en wat wil seker maak dat hy so goed as moontlik vertoon. Dis die skilder se taak om dit ten alles koste reg te kry – dis waarvoor hy betaal word. Hy moet onverwyld werk en daarop fokus om seker te maak dat die edelman tevrede sal wees met die eindresultaat en dat die edelman eintlik beter vertoon as wat hy werklik daar uitsien – dalk effens maerder, effens mooier, effens deftiger, meer suksesvol...

En dan is daar die dienskneg. Op die oog af vervul hy nie veel van ‘n funksie nie. Hy staan net en kyk. Hy sien die hele prentjie. Hy sien die edelman – wat hard probeer om sy beste voetjie voor te sit, maar weet ook presies wie die man werklik is. Hy sien die skilder, wat intensioneel en tydsaam ‘n beeld skep van die persoon wat voor hom sit. Die beeld wat hy skep is nie ‘n leuen nie, maar dis ook nie heeltemal die waarheid nie. Laastens sien die dienskneg ook die skildery – die beeld wat deur die skilder daargestel word om die edelman so goed as moontlik te laat vertoon.

Dit laat my dink: wie sou elkeen van hierdie karakters in jou binnewêreld verteenwoordig? Dalk is die edelman jou ego, die skilder jou valse self en die dienskneg die objektiewe waarnemer. 

Ek vermoed God is die Helder Daglig wat die hele vertrek verlig en wat aan al drie die partye helderheid wil gee. Die vraag is nou: sal ek toelaat dat die Helder Daglig so val dat dit my wys hoe dinge werklik is of kies ek om eerder te werk met die persepsies en idees waaraan ek oor jare gebou het?