Friday, October 9, 2015

Jesus se Geslagsregister - 'n verhaal vol paradoks en lewe



Matteus 1: 1-17 Geslagsregister van Jesus

In die 1800’s was daar ‘n man met die naam John Godfrey Saxe wat hierdie gedig geskryf het met die titel:


The Blind Men and the Elephant
John Godfrey Saxe (1816-1887)
It was six men of Indostan
To learning much inclined,
Who went to see the Elephant
(Though all of them were blind),
That each by observation
Might satisfy his mind.

The First approach'd the Elephant,
And happening to fall
Against his broad and sturdy side,
At once began to bawl:
“Heaven bless me! but the Elephant
Is very like a wall!"

The Second, feeling of the tusk,
Cried, -"Ho! what have we here
So very round and smooth and sharp?
To me 'tis mighty clear
This wonder of an Elephant
Is very like a spear!"

The Third approached the animal,
And happening to take
The squirming trunk within his hands,
Thus boldly up and spake:
"I see," quoth he, "the Elephant
Is very like a snake!"

The Fourth reached out his eager hand,
And felt about the knee.
"What most this wondrous beast is like
Is mighty plain," quoth he,
"'Tis clear enough the Elephant
Is very like a tree!"

The Fifth, who chanced to touch the ear,
Said: "E'en the blindest man
Can tell what this resembles most;
Deny the fact who can,
This marvel of an Elephant
Is very like a fan!"

The Sixth no sooner had begun
About the beast to grope,
Then, seizing on the swinging tail
That fell within his scope,
"I see," quoth he, "the Elephant
Is very like a rope!"

And so these men of Indostan
Disputed loud and long,
Each in his own opinion
Exceeding stiff and strong,
Though each was partly in the right,
And all were in the wrong!



Hierdie gedig sal nooit sy trefkrag verloor nie, want dit beskryf ‘n baie basiese fenomeen: die feit dat ons as mense so maklik kan dink dat ons presies weet wat die antwoord is. Dat ons so maklik kan dink ons sien dinge soos dit regtig is.
In die week wat kom is die sitting van die Algemene Sinode waar daar gepraat gaan word oor komplekse sake wat ons as gelowiges raak.
Daar gaan ook tydens die oggendwydings gekyk word na die verhaal van Rut en hoe hierdie verhaal ons begelei in die tyd waarin ons ons tans bevind.
Dis teen hierdie agtergrond dat ons Matteus se geslagsregister lees, aangesien Rut nie net ‘n belangrike rol in die geslagsregister speel nie, maar haar verhaal wil ons as gelowiges in 2015 in Suid-Afrika op ‘n spesifieke manier begelei.

Matteus 1
‘n Mens lees nie sommer geslagsregisters nie. Al bevat dit waardevolle inligting is dit nie eintlik baie interessant nie. Gelukkig weet ons hierdie geslagsregister is ‘n hele verhaal insigself.

Waarom skryf Matteus sy Evangelie en aan wie?
·        Die Brief word geskryf om die gemeente vir wie Matteus skryf se identiteit te help vorm.
·        Die geslagsregister begin dan hierdie soeke na identiteit met die vraag na wie Jesus is.
·        Daarom word die geslagsregister nie net Jesus se geslagsregister nie, maar ook die gemeente s’n en uiteindelik die groter kerk s’n.

Iets meer oor Matteus se Gemeente
·        Die gemeente aan wie Matteus skryf is waarskynlik geleë in Antiochië. Dit is dus ‘n stadsgemeente.
·        Die gemeente is, sover ons weet, nie gestig deur Matteus nie, maar deur Christene wat daar beland het ná die vernietiging van die tempelgodsdiens rondom 70 nC. Hierdie gebeure het die volgelinge van Jesus forseer om hul identiteit los te maak van die tempel en nuut te begin dink oor wie God hulle roep om te wees.
·        Hierdie era was ‘n onstabiele tyd in die vroeë kerk se verhaal. Skielik word Jesus se volgelinge gekonfronteer daarmee dat hulle nie, soos die Joodse tradisie waaruit hulle kom, by voorkeur net na hul eie groep kan omsien nie, maar dat die Evangelie hulle tot ‘n groter werklikheid roep.

·        Navorsing toon dat die lewensomstandighede in die Antiocheense gemeenskap allesbehalwe rooskleurig was. Dit was baie onhigiënies en het aanleiding gegee tot ‘n vlaag van peste en plae.
·        In hierdie tyd het Jesus se volgelinge nie weggeskram van die siekes nie. Hulle het nie soos die Romeine en Grieke voor die plaag uit die stad weg te vlug en die siekes aan hulle eie genade oor te laat nie.
·        Hulle het die siekes verpleeg en sterk immuniteit opgebou sodat hulle mense daadwerklik kon help. Heel spontaan het mense wat gesond geword het deel van die Christengemeenskap geword.
·        Hulle het agtergebly saam met die siekes en selfs saam met die sterwendes en dooies. Hulle het nie net omgesien  na hulle eie mense nie, maar het gekies om niemand te los nie, omdat hulle geglo het dat Jesus vir almal gekom het.
·        Stel jou voor in watter mate hierdie tipe omstandighede ‘n groep mense sal laat nadink oor wie hulle is.

Die Geslagsregister
·        Deur die skryf van die Matteus Evangelie wys Matteus vir hulle ‘n prototipe van hoe die volgelinge van Jesus in enige omstandighede behoort op te tree.
·        Deur die geslagsregister wys hy vir die gelowiges dat Jesus deur Josef aangeneem word, maar meer nog, dat Jesus Josef en sy hele voorgeslag aanneem. Dis dus duidelik dat Jesus deel word van ‘n familie wat met groot agterdog bejeën kan word en wat nie die suiwerste en mees rasegte voorbeeld van ‘n vooraanstaande Joodse familie is nie.

·        In die eerste 17 verse onmoet ons 46 mense wat oor honderde jare geleef het.
Daar is:
·        Groot geloofshelde soos Abraham, Isak en Dawid,
·        Gewone mense soos Gesron, Nagson en Agim
·        Eiegeregtige mense soos Manasse en Abia
·        En dan is daar natuurlik die 5 vroue met hul twyfelagtige reputasie
- Ragab was nie ‘n Israeliet nie , en ook ‘n prostituut, en tog gee sy uitkoms aan God se mense.
- Tamar is deur haar man se familie verontreining, en tog bring God haar saak in die reine.
-        Batseba word deur Dawid verlei en haar man word deur hom vermoor. Sy baar sy buite-egtelike kind, en tog word sy die groot-ouma van Jesus se verhaal.
-       
Rut, die Moabiet, wat nie mag deel wees van God se volk nie, maar uiteindelik die lewe skenk aan Dawid se Oupa.
-       
En dan Maria self – die jong meisie wat volgens die persepsie van die gemeenskap buite-egtelik swanger word en die skande daarvan met haar saamdra.
-       
Ons weet natuurlik dat die blote feit dat vroue genoem word merkwaardig is.

Die geslagsregister word dan ook op ‘n spesifieke manier uiteengesit:
·        14 geslagte van Abraham tot by Dawid
·        14 geslagte tot by die Ballingskap
·        14 geslagte tot by Jesus
·        Die simboliek van die getalle is belangriker as die historiese opeenvolging,
want die getal 14  dui op 7 x 2, die volmaaktheid van God se handelinge.
·        Matteus skryf dit doelbewus so om aan te toon hoe God se hand, wat deel is van die gebroke geskiedenis, ook deel is van sy plan met Jesus en dit wat Jesus vir die wêreld bring.

·        Daar is baie verhale van gebrokenheid in hierdie geslagsregister verweef.
·        God se werk in die geskiedenis word  genadiglik nie beperk deur mense se mislukkings en verkeerde keuses nie.
·        Matteus wys daar was nooit ‘n tyd wat God nie by sy mense was nie, selfs al het sy mense anders gelyk en opgetree as die verwagte stereotipe.
·        Matteus kom wys dat ons as volgelinge van Jesus geslagsgrense, nasiegrense, sosiale grense en nog verskeie ander grense moet kan transendeer en met hierdie spanning in ons midde moet kan saamleef.

Wit of swart
·        Matteus se verhaal is duidelik vol paradoks.

·        Alhoewel die gemeente oorspronlik uit die Joodse tradisie kom word hulle geforseer om in die wêreld in te beweeg. Hulle sou dalk eintlik net wou seker maak dat húlle groep oorleef, maar besef gou dat die Evangelie daar is vir alle mense.

·        So sien ons later verdere paradoks in Matteus, naamlik dat die Koninkryk van God reeds hier is, maar dat dit eers kom daar waar ons as gelowiges dit moontlik maak.

·        Ons sien ook oral in Matteus hoe Jesus een persoon genees, maar nie noodwendig die volgende persoon nie. Jesus doen die wonder, maar Hy doen nie vir elkeen wat Hy teëkom ‘n wonder nie. Dit beteken nie dat God se Koninkryk teenwoordig is daar waar die wonder gebeur, en daar waar die wonder nie gebeur nie, is God se Koninkryk afwesig nie.God se Koninkryk is oral teenwoordig, ook te midde van die feit dat die wonder nie vir daardie persoon gebeur nie.

·        Daniel Louw het al ’n klomp jare gelede na hierdie teenstellende aard van ons as gelowiges se wese verwys met die term “bipolêre spanning”. Ons praat vandag van paradoks.
·        Daarteenoor staan dualisme of dualistiese denke, wat as die verdeling van die realiteit in twee teenoorgestelde standpunte beskryf kon word.
·        Dis hierdie manier van dink wat maak dat ek heeltyd óf aan hierdie kant, óf aan daardie kant moet staan.
·        Daar is baie van ons in die kerk wat sukkel om die paradoks te omhels en om te leer om eerder vanuit die paradoks met die werklikheid om te gaan.
·        In ons tyd word ons dikwels gekonfronteer met ons dualistiese manier van dink, waar alles ingedeel word in groepe of kategorieë of faksies van reg en verkeerd, in-uit, wit-swart denke.

·        Ek wonder of daar dalk ’n kans is dat ons reg-verkeerd of wit-swart of in-uit manier van dink, nie eerder aan die kant van ’n onvolwasse Christenspiritualiteit staan nie en dat dit beslis nie die denkrigting van die Evangelie van Christus onderskryf nie? Dit wil inderdaad so voorkom.
·        Vandag is dit ongelukkig so dat baie gelowiges baie meer dualisties is as Jesus, of as Matteus of Paulus en Johannes.
·        ’n Dualistiese manier van dink sê dat Rut ’n Moabiet is en daarom nie welkom is nie, terwyl God se manier van dink haar nie net verwelkom nie, maar van haar Jesus se oumagrootjie maak.

Alreeds en nog nie
Matteus kom leer ons dat God waarskynlik nie werk met dualisme nie, maar veel eerder met  paradoks:
- met teenstellende dinge wat eintlik nie logies sin maak nie
- met die groot beginsel dat ons in Jesus alreeds die ewige lewe het, maar nog nie die ewigheid betree het nie
- dat die Koninkryk van God alreeds aangebreek het, maar dat dit eers aanbreek daar waar ons as gelowiges dit deur ons lewe laat aanbreek
- dat ons in Jesus alreeds heel mense is, maar nie in alles aspekte van ons lewe nie en
- dat ons in Jesus alreeds met God verenig is, maar nog nie volledig vanuit daardie eenheid lewe nie.
Dis interessant dat, as ek vir mense vra hoe hulle werklik hieroor voel, dit tog sin maak, maar dit maak die meeste van ons geweldig ongemaklik, want ons mense soek sekerheid en nie hierdie onsekere, paradoksale logika wat volgens ons manier van dink eintlik geen logika is nie.

Die wysheid van Matteus
·        In die komende week gaan daar uitdagende sake op die Algemene Sinode se tafel kom.

·        Die meeste van ons wil waarskynlik eerder outomaties ‘n dualistiese manier van dink kies wanneer ons uitgedaag word.
Ons sien dikwels nie hoe ons vasgevang is in ons wit-swart, reg-verkeerd, my-interpretasie-van-die-waarheid denkpatroon nie.
Dualisme, waar daar net een manier van dink is, voel vir ons soos die enigste uitweg, maar ons besef nie dat dit die maklike uitweg is en dat ons armoede in die kerk dalk juis in ons dualisme lê nie.
·        Soos by Jesus en Matteus sê die paradoks nie dat “anything goes” nie of dat alle paaie na Rome lei nie, maar dat die werklikheid baie meer kompleks is as wat ons kan verstaan.
·        Daar is byvoorbeeld heelwat sake, soos godsdienstigheid, geld en goed, waaroor Jesus sterk standpunt inneem en ‘n redelike strakke dualistiese keuse vra, wat ons dikwels ignoreer.

·        Die persoon wat dit vir my die heel beste opsom is Richard Rohr (in Eager to Love 2014:95):
 Jesus does indeed force us toward clear dualistic choices with stories like the camel and the eye of the needle, Lazarus and the rich man, the sheep and the goats, and lines like “You cannot serve both God and money”. It often seems that where Jesus is truly dualistic, we refuse to be, and where Jesus was very unclear or never spoke, we have arrived at absolutely certain conclusions! Check it out for yourself. Organized religion has paid much more attention to some things that Jesus never once mentioned and rather totally ignores other things that he stated with utter clarity, like “Go sell what you have and give it to the poor”.

·        Hieroor kan ons natuurlik vir dae aaneen redeneneer as ons sou wou, maar dit ís ironies, nie waar nie?
Dis ‘n baie moeiliker pad om tussen die spanning van twee werklikhede te gaan staan en te besef dat God se realiteit waarskynlik groter is as ons manier van dink.

·        Mag Matteus se riglyn ook vir ons, soos vir daardie eerste Christene, duidelik wys dat ons as gelowiges nie met ‘n of-of benadering teenoor mekaar kan leef nie, maar dat ons dapper keuses sal moet maak en mekaar meermale sal moet vind in die spanning en paradoks van ‘n en-en wêreld, in die spanning en paradoks van die kruis wat die horisontale en vertikale werklikheid integreer, en ons ook inspireer om dit te doen.

·        En mag ons veral ontdek dat ons ook nie soos die ses mans van Indostan die enigste perspektief op die waarheid het nie en genooi word om oper en meer ontvanklik te wees as wat vir ons gemaklik is.

And so these men of Indostan
Disputed loud and long,
Each in his own opinion
Exceeding stiff and strong,
Though each was partly in the right,
And all were in the wrong.

·        
God se hand in die detail van Jesus se geslagsregister het die gelowiges van die eerste dag af verbaas.
Mag hierdie sinode dieselfde verbasende effek op Suid-Afrika hê.

Sunday, September 20, 2015

Help ons om ons stront te stop



Die afgelope Donderdag het ek en ‘n vriendin by ‘n vriend gaan kuier wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly en reeds heeltemal bedlêend is. Hy kon nog praat en sluk, maar ook dit is net ‘n kwessie van tyd. Ons het hom lanklaas gesien - ‘n jaar gelede net voor die siekte gediagnoseer is. Toe ons instap was hy so geweldig bly om ons te sien. Sy hele gesig het gestraal. Eintlik het alles aan hom gestraal. Natuurlik nie oor ons nie, maar oor wat diep binne hom aan die gebeur is. 

Soos ek vermoed het, het ons nie eintlik gegaan om vir hom iets te beteken nie. Inteendeel. In die relatief lang tyd wat ons by hom gekuier het, het hy onophoudelik gepraat, sag, maar duidelik, dringend en diep. Hy was ook dikwels baie emosioneel, want om te lê en wag om te sterf is nie maklik nie. Ons was uit die aard van die saak so emosioneel saam met hom dat die trane later onkeerbaar teen ons nekke afgeloop het.

Hy het met ons oor so baie dinge gepraat. Oor sy liefde vir Jesus en sy vrou en hoeveel rousmart hy het om van haar afskeid te neem, maar oor hoe hy sien hoe Jesus hom roep. Hy het gepraat oor hoe hy eintlik maar net ‘n klein seuntjie met ‘n paar broodjies en vissies was en hoe hy dit vir Jesus probeer gee het, en Jesus wonder bo wonder daarvan ‘n maaltyd vir baie mense gemaak het. Hy het vertel hoe hy sien hoe die sirkel van sy lewe besig is om voltooi te word en hoe hy kan ervaar dat hy besig is om nader te beweeg aan die Bron van sy ontstaan. Hy het vertel hoe bang en onseker hy is oor die oorgang wat voorlê en hoe hy ons sal inwag as hy die oorgang gemaak het. Hy het gesê dat niks eintlik meer saakmaak nie en dat hy letterlik van alles gestroop is, behalwe van Jesus en dat sy liefde vir God nou al is wat hy oor het. Hy het nog oor baie ander dinge gepraat en vir ‘n uur en twintig minute het ons geluister na die grootste waarheid en wysheid wat ek in my hele lewe nog ooit aangehoor het.

Vroeër die oggend, op pad in die kar, nog voor ons kon weet hoe diep hy ons gaan raak, het ons gepraat oor hoe moeilik dit is om God se pad te stap, veral in ons tyd. Daar is so baie opinies, soveel oortuigings, en baie voel dat hy of sy reg is en die volle waarheid beet het. In die geloofswêreld is daar deesdae soveel nuanses, soveel skakerings van grys, dat dit onmoontlik is om die skakerings van mekaar te onderskei.
 
Selfs die terminologie wat ons gebruik stem nie ooreen nie. Wat ek met verlossing of God se liefde of dualisme of die kontemplatiewe of die belang van Jesus bedoel is nie vanselfsprekend met presies dieselfde inhoud gevul as hoe jy dit verstaan nie. Dit opsigself hoef nie so krisis te wees nie.
Die krisis is dat ons dink ons weet, en onsself die reg toeëein om die ander persoon wat nie op dieselfde manier as ek dink nie, te beoordeel en te veroordeel en na die kantlyn te rangeer omdat hy of sy nie met my saamstem nie.
 
Ek dink nie daar was al ooit ‘n tyd in die geskeidenis wat daar soveel skakerings van Christene was soos nou nie. Die van ons wat vanuit ‘n bepaalde perspektief daarna kyk raak geweldig ongemaklik daaroor en wil hê dat almal dieselfde moet dink, en die van ons wat uit ‘n ander perspektief daarna kyk voel weer heel gemaklik met die variasie en kan glad nie verstaan hoekom elkeen nie maar net sy of haar pad kan vind nie, en kan glad nie die ander kant duld nie.
En so verwyt en kritiseer en veroordeel ons mekaar heen en weer en verteer mekaar op ‘n daaglikse basis.  

En dan op ‘n dag sit jy langs die bed van ‘n sterwende vriend wat ‘n leeftyd van ‘n verhouding met God en ‘n pad saam met mense agter hom het. In die tydjie by hom was die realiteit nie wit of swart of baie skakerings van grys nie, maar helder lig en reg voor ons was Jesus, soos ‘n Bloedrooi Tou, van wie ek al meer besef ek nog bitter min verstaan.

Ek stap daaruit, terug na die geskakeerde grys realiteit waarin ek elke dag leef en waarin mense, God se mense, volgelinge van Jesus, mekaar verskeur omdat hulle nie die spanning van mekaar se radikaal verskillende maniere van dink oor God kan hanteer nie. Ek hou vas aan die Bloedrooi Tou en ek sê vir myself: And so we men of Indostan, disputed loud and long. Each in his own opinion, exceeding stiff and strong. Though each was partly in the right and all were in the wrong.


Soms het jy ‘n sterwende vriend nodig om jou te help om te gaan stilstaan en te sien. En ek kerm-pleit met ‘n pyn in my hart:
Ag, Here Jesus Christus, help ons om ons stront te stop en regtig te verstaan!

Naskrif - Vrydag: Neels is vanoggend oorlede, net minder as 24 uur na ons gister by hom ingestap het.

Die Man op die Olifant



In die afgelope week gesels ek met ‘n jong man wat vertel van ‘n kursus waar hy was waar die fasiliteerder gesê het die teenwoordigheid van ons onderbewussyn (en daarmee saam ons hele binnewêreld) werk soos ‘n man op ‘n olifant. Ons dink óns bestuur die olifant (ons onderbewussyn of diepste binnekant), maar as ons nie mooi kyk wat ons dink nie, dan neem die olifant ons net waar hy wil, en is die olifant eintlik in beheer.

Ek kon nie help om dadelik te dink aan ‘n ervaring wat ek Jaco eendag in Indië gehad het nie. Dit was die eerste keer wat ek saam met hom in Indië was en een van my groot drome was om van daardie pragtige beskilderde olifante te sien. Toe ons met die tuk-tuk teen ‘n steil heuwel uitry kom daar toe skielik so einste olifant van voor af gestap. Behalwe dat ek amper die tuk-tuk laat omval het van opwinding, en Jaco heel rustig gesê het dat ek nog baie gaan sien, was ek totaal verstom. Wat my die heel meeste verbaas het was dat daar bo-op die olifant ‘n man in ‘n mandjie onder ‘n sambreel gelê en slaap het. Die olifant het die pad wat hy moes loop al so goed geken dat die man letterlik nie eers nodig gehad het om te dink waarheen om te gaan nie.

Ons denkprosesse is regtig baie belangrik en ek is dikwels verbaas oor hoe naïef gelowiges soms hieroor kan wees. Ons moenie die fout maak om te dink dat as ons God se kinders is, ons sommer so vanself die regte dinge gaan dink of sommer net spontaan met God se soort gedagtes gaan besig wees nie. Dis ‘n groot illusie. Of ons dit wil weet of nie, ons denke word in die eerste plek deur ons persoonstruktuur bepaal. Of soos iemand eenmaal gesê het: My pattern sticks in my limbs, in my bones, it’s in my blood, it’s my skin, my breath, my way of thinking,.... My ego of sondige natuur sal hierdie patroon altyd wil inspan om my te laat dink dat ek in beheer is van my denkprosesse, soos die man op die olifant, terwyl my diepste patrone en manier van dink mý eintlik aan die neus rondlei.

Ons elkeen se “default setting” is maar altyd weer die ego. Dis as ek hiervan bewus word dat God se Gees my al meer daarop kan wys en ek met Sy hulp al meer kan kies om my aan Jesus se kant te skaar en vanuit die Gees van Christus in my, kan lewe. Soos God my meer bewus help wees, word God se manier mettertyd my basiese vertrekpunt of “default setting”.

Spreuke 4:23  stel dit mooi:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (1983 vertaling) of
Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed (Die Boodskap) of
Keep vigilant watch over your heart; that’s where life starts. (The Message)
Om bewus te word van my diepste patrone en om agter te kom hoe die olifant in my vesels my eintlik beheer,
is waarskynlik een van die groot prosesse waarmee God deur sy Gees in my en jou kan besig wees.
So, hou daai olifant dop, want hy ken die pad beter as wat jy dink.

Laat gaan, aanvaar en pas aan



Scott Peck begin sy boek, The Road Less Travelled met hierdie woorde: Life is difficult. Baie mense sal met hom saamstem, maar dit hang natuurlik ook van jou persoonlikheid, lewensfase en lewensituasie af of jy jou met sy stelling kan assosieer al dan nie. Ons kan bepaald nie daarvan wegkom dat daar elke nou en dan iets uitdagends in die lewe opduik nie.
So stap ek ‘n rukkie gelede in die apteek in en kry iemand wat ek ken voor die rak met aanvullings vir artritis. Sy is skoon moedeloos toe sy vertel hoe alles nie meer wil werk soos sy wil hê dit moet nie, en boonop, sê sy, is sy nog nie eers oud nie! Toe sê sy hierdie wyse woorde: “My pa het altyd gesê die lewe gaan oor laat gaan en aanvaar.” Ons praat nog so sin of twee voor ek verder stap, maar vir die res van die week wil hierdie woorde my net nie los nie: laat gaan en aanvaar…
Dink net daaroor: as jy ‘n baba is, is daar ‘n laaste keer wat jy aan jou mamma drink of jou fopspeen suig. As jy ‘n kind het is daar ‘n laaste keer wat jy jou kind optel omdat sy te swaar geword het. Daar kom ‘n dag wanneer jy die laaste keer sonder ‘n bril kon lees of wat jy ‘n laaste keer jou kar bestuur het of die laaste aand in jou eie huis geslaap het. En so sou elkeen van ons nog eindelose voorbeelde uit ons eie lewe kon noem.
My persoonlikheid is in besonder sleg daarmee om te laat gaan en dinge te aanvaar vir wat dit is. Ek beleef laat gaan altyd as verlies en aanvaar neem my dikwels jare. In daardie opsig moet ek maar altyd op die uitkyk wees vir Lot-se-vrou-sindroom, wat elke nou en dan by my wil kop uitsteek.
So kom ek toe ‘n paar dae later na die ontmoeting in die apteek by my oefengroep. Die spesifieke oggend is dit net ek en Victor, ‘n 83 jarige Engelssprekende man. Hy is altyd reg met ‘n grappie oor sy ouderdom en sê dat Vader Tyd die oggend hard aan sy deur klop. Ons gesels toe oor die wyse woorde van ‘n paar dae vantevore: om te laat gaan en aanvaar. Ek sien hy herkou die gedagte en sê toe: “Yes, that’s true. Let go, accept… and adjust…” Inderdaad wysheid: Miskien is dit nie die laat gaan en aanvaar waarmee ons mense die meeste sukkel nie, maar die aanpassing.
Prediker was reg toe hy gesê het dat daar ‘n tyd is vir alles onder die son. As ons as God se kinders, ongeag van ons persoonlikhede, kan leer om te laat gaan, te aanvaar én aan te pas, sal die lewe waarskynlik vir ons en die mense wat saam met ons leef makliker wees.

Heraklitus het al in 500 vC gesê dat die enigste konstante in die menslike lewe, verandering is. Of soos iemand eenmaal gesê het: Seasons change, and so do we… Ons lewens en onsself is veranderlik. Selfs ons verstaan van God bly nie dieselfde nie, daarom verstaan ons waarskynlik nie eers mooi wat Hebreërs 13:8 vir ons sê nie: “Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees.”
Dalk is dit een van die grootste paradoksale uitnodigings: om in God se stabiele hart tot rus te kom, terwyl ek te midde van konstante verandering laat gaan, aanvaar en aanpas.