Wednesday, February 19, 2014

Drie Paaie - ons is nie almal op dieselfde pad nie




Baie van ons ken die gedig van Robert Frost

Two roads diverged in a wood,
And sorry I could not travel both
And be one traveler, long I stood
And looked down one as far as I could
To where it bent in the undergrowth.

I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I-
I took the one less traveled by,
And that has made all the difference.



Robert Frost praat van twee paaie, maar daar is dalk eerder drie paaie het om van te kies.

Die eerste pad is die pad van om so goed as moontlik na buite te vertoon, van ‘n soeke na en idealisering van mensgemaakte sukses, welvaart en uiterlike weelde. Hierdie pad gaan ongelukkig dikwels gepaard met ‘n innerlike woestyn.

Die tweede pad is die pad waar ek besef dat daar meer aan die lewe behoort te wees, en dit probeer bevredig deur uiterlike godsdientige beoefening. Dit bring tydelike innerlike verligting, maar mettertyd eervaar ek weer die gevoel van dors en droogte.
Die derde pad is die dieper pad van na binne keer, toelaat dat God se Gees my “warts and all” voor die spieël laat staan en werklik begin toelaat dat God my laat bewus word, vernuwe, herskep, transformeer en laat groei. Waar ek nie meer weerstand bied teen dit waarmee God in my lewe wil besig wees nie. Ek word ‘n lewende geskenk van God se liefde in die wêreld.
Op watter pad is jy?

Wednesday, December 18, 2013

Deur die mis




My hele ou gesinnetjie van herkoms het so klompie jare gelede besluit dat hulle na die Natalse Midlands trek. Twee maal per jaar, wanneer ons die 5 uur lange tog aanpak, kondig die digte mis anderkant Mooirivier aan dat die eindbestemming om die draai is. Gister was geen uitsondering nie. Elke keer, gister weer, trek my keel ondmiddelik toe en my hart klop in my keel, want skielik herinner die mis my aan ‘n oorweldigende geloofswaarheid: EK KAN NIE SIEN NIE!
Die lewe is nie anders as hierdie mistige stukkie pad nie. Ek dink ek het soveel insig en beheer, maar dit neem maar iets kleins om my in my spore te stuit en bewus te maak van my kwesbaarheid en uitgelewerdheid. Die onvoorspelbaarheid van die lewe roep my chronies om nie op myself nie, maar op God se droom vir my lewe te vertrou. Die groot uitdaging is natuurlik, soos met die pad buite Mooirivier, om maar net aan te hou om die petrol te trap, om maar net die pad te volg, om meter vir meter te beweeg en, al moet dinge effens stadiger as wat ek wil, te vertrou dat ek wel aan die ander kant sal uitkom en dat die Son aan die anderkant van hierdie miswolk skyn.

Met letsels en al









Iewers het Joaquin Sabina geskryf: I like eating, conversing, kissing and falling in love in a passionate and intense way. When you live this way, it is normal to have scars.
Dit klink natuurlik tegelyk romanties en skrikwekkend, maar die realiteit is dat die meeste van ons se lewe nie so passievol geleef word nie, al probeer ons hoe hard. Op 'n manier gebeur die lewe maar met elkeen van ons, en ons kan daarteen rebelleer so hard soos ons wil: die rekenings moet betaal word, om te eet kos geld en die sleur van 'n lewe maak kry ons maar altyd weer ongevraagd aan die hakskeen beet. Of jy nou daarin slaag om passievol te leef en of  'n passievolle lewe beperk is tot uitskieter geleenthede in jou lewe, jy gaan in elk geval met letsels daar wegstap.
Die lewe het eenvoudig die manier om ons met letsels te laat, maar dis maar hoe dit is. Hoe anders sal ons groei? Die groot vraag is of ek daarin kan slaag om die letsels met trots saam met my verder te dra, soos 'n diploma, en of ek gaan toelaat dat die letsels my wind uitskop en ek verksrompel in die hoek bly leef. 
Richard Rohr stel dit treffend: If you don't transform your pain, you will transmit it. Wat doen jy met jou letsels en pyn? Wend jy dit aan in die lewe wat jy elke dag leef sodat jy juis in die gewone met meer passie kan leef of word jy die slagoffer van jou eie vrese en verskonings, omdat jy iewers seergekry of teleurgestel is.
Dalk is dit deels wat Jesus bedoel in
Joh 10: 10 Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.