Friday, July 4, 2014

Wees stil...





Dit is winter. Die nagte is koud. Ons maak sop en bou kaggels en probeer so bietjie langer tussen die warm komberse broei. Sommige van ons beleef selfs hoe ons ‘n hunkering ervaar om effens meer in pas met die natuur te leef, stadiger, stiller.
Stilte is nie ons natuurlike modus nie. Daar is sommige van ons wat vanuit ons persoonlikhede meer van stilte hou as ander, maar vir die meeste van ons is stilte nie iets wat ons kies nie. Tog kan die belang van stilte op my geloofspad nie genoeg beklemtoon word nie.
Baie van ons skram weg van stilte af en daar is baie redes hiervoor. Sommige sê ons is nie veronderstel om so na binne gefokus te wees nie en moet buite in die wêreld besig wees. Ander is weer bang vir stilte omdat daar in die stilte donker en ontstellende stemme uit my onderbewussyn met my kom praat oor dinge in my lewe waaraan ek verkieslik so min aandag as moontlik wil skenk. Stilte konfronteer my met my diepste self en as ek stil is, is daar niks waaragter ek kan wegkruip of wat ek kan gebruik om my eie ongemak te ontvlug nie. Selfs so iets soos ‘n oproep, sms, facebook, die radio of televisie wat in die agtergrond speel, kom steel my stilte sodat ek doelbewus nie hoef stil te wees nie. Interessant genoeg is dit ook dikwels my stiltye wat eerste by die deur uitwaai as dit met my swaar gaan of ek ‘n uitsonderlike veeleisende tyd by die werk of in my lewe deurgaan. Veral dan beskou ek stilte as ‘n luukse, wat my net beskore is in tye wat ek dit kan beskostig.
Ek vermoed dat ons denke oor stilte uiters skraal en gebrekkig is. Stilte is nie ‘n luukse waarin ek my kan verlekker as ek genoeg tyd het of iets wat ek myself mag gun as my lewe nie soveel van my eis nie. Stilte is nie soos wyn of sjokolade wat ek elke nou en dan nadertrek om my lewe bietjie interessanter te maak nie. Stilte is soos water en minerale en vitamine – ek kan nie eintlik daarsonder nie.
Groot geloofsleiers het deur die eeue lang tye van elke dag aan stilte spandeer. Martin Luther het byvoorbeeld elke dag twee tot drie ure saam met God stil geword en gelees en gebid. Eers daarna het hy aktief en met passie die res van sy dag spandeer in die wêreld. Moeder Teresa en haar Sisters of Mercy het elke dag begin met ‘n uur en ‘n half gebed en daagliks smiddae en saans langerige tye van stilte gehad om hulle die krag te gee en te energeer vir hulle uiters opofferende en fisies veeleisende werk. Ek praat nie eers van die rol wat stiltye in Jesus se lewe gespeel het nie.
Dit beteken nou nie dat ek presies soveel tyd in stilte sal deurbring nie, maar die dilemma is dat ons so gewoond daaraan is om ons lewens teen ‘n geweldige vinnige tempo te leef dat die haastigheid en gejaagdheid ongesiens elke hoek van ons bestaan binnegesluip het. Die geraas en geluide van ons wêreld is so oorverdowend dat dit die stilte vinnig en kragtig verdun, sodat die tye van stilte in ons lewe tot die minimum beperk word.
Dit laat my besef dat ons baie meer intensioneel met stilte sal moet omgaan. Daar sal doelbewuste tegnologievrye tye in ons huise en gesinne moet wees. Daar sal doelbewuste nie-sosiale tye moet wees waar ek kies om nie tussen mense te wees of besig te wees om te werk nie. Ek sal intensioneel met my lewe moet gaan sit en gaan soek na tye en plekke wanneer ek stil kan word. As ek dit nie doen nie, gaan my natuurlike behoefte aan stilte en aan God nie aangewakker word nie. Dis deur tye van intensionele stilte dat my siel weer spontaan begin roep na God en dat my soeke meer soos honger en dors word as soos die meganiese handelings wat ek van tyd tot tyd uitvoer om te probeer om vir God ruimte te skep.
Christopher Jamison, ‘n Benediktynse monnik sê die volgende eenvoudige, maar merkwaardige dinge oor die belang van stilte in ons verhouding met God: “If you want to be deeply connected with God and yourself, you need silence. Silence is something to welcome and embrace. Silence is a gateway to the soul, and the soul is the gateway to God. Yet this is a lifetime’s work. Entering silence can be painful and will lead to unexpected places.” Hy sê dat ons tydens stilte in ons diepste self vasloop en dat dit soms ‘n ontnugtering is, want ons ontdek dat ons nie met sulke suiwer motiewe leef nie, en dit opsigself is geweldig konfronterend, maar as ek die proses toelaat kom ek agter dat die modder wat my water vertroebel, stelselmatig sak en ek al duideliker kan sien waarmee ek besig is en ook waarheen God met my oppad is. Volgens hom lei ‘n lewe vol gereelde stilte tot groter helderheid en dit bring jou in kontak met jou siel. “Life would be transformed for the better if we embraced silence.” Dalk het dit tyd geword dat ons gaan soek na tye en plekke waar ons so gereeld moontlik kan stil word.

Friday, June 27, 2014

Gewoon buitengewoon



So sit ek toe een oggend en voel ‘n kriewelrigheid diep in my donkerste hoek. Eintlik was die kriewelrigheid al vir ‘n paar dae daar, maar nou kon ek dit nie meer ignoreer nie. Wat gebeur hier, vra ek myself? En soos ‘n koue Kaapse brander tref dit my – ek is verveeld met die gewoonheid van my lewe.
Vir sommige van ons is gewoon maar net hoe dit is en ons bevraagteken dit nie veel nie. Ander van ons is allergies vir gewoon. Maar wanneer raak iets gewoon? Dalk maar net as ek gewoond raak daaraan!
Toe ek so rukkie sit met my frustrasie en ek gee een treë terug en beskou my lewe vanuit ‘n ander hoek, besef ek skielik dat daar eintlik niks gewoon in my lewe is nie. Ek deel my lewe en my huis met buitengewone mense. Ek het ‘n buitengewone werk, tussen buitengewone mense. Ek het buitengewone vriende en het elke dag buitengewone ervarings. Ek woon in ‘n buitengewone stad met ‘n  buitengewone klimaat. Vergeleke met miljoene ander het ek buitengewone geleenthede, in ‘n buitengewone konteks, met buitengewone voorregte.
Dalk is die dilemma dat as ons gewoond raak aan die buitengewone, word dit later gewoon, en daarom moet ons elke nou en dan buite die gewone gaan staan om ons te herinner dat dit wat vir ons gewoon geword het, vanuit enige ander perspektief niks anders as buitengewoon is nie.
Die oomblik as ons toelaat dat God se Lig vanuit ‘n ander hoek op die landskap van ons lewe val, verander dit voor ons oë en dit waarby ons elke dag verbystap sonder om ‘n oog te knip, beskik meteens oor kwaliteite wat ander stom sou slaan.
Mag die Here ons vandag oorval met die diep besef van hoe buitengewoon dankbaar ons kan wees dat dit wat ons as gewoon beskou vir baie ander doodgewoon ‘n onbereikbare, buitengewone droom sou wees.


Saturday, June 21, 2014

Die donker in



Ek het altyd geglo dat God ‘n gentleman is. Hy sal my nie dwing as ek nie wil nie. Hy sal my nie forseer waar ek nie wil in nie. Hy gee my selfs die ruimte om teen Hom te kies en weerstand te bied. Ek dink dis meestal waar, maar ontdek meer en meer dat God dalk ook anders kan wees…
Soms is God vir ‘n geruime tyd met my besig met ‘n bepaalde proses, maar ek weier om bes te gee. Ek weet God praat met my, roep my, nooi my, lok my; maar ek wil nie, sal nie, kan nie meegee nie. Ek kies om willens en wetens op my ou pad te stap terwyl ek weet dat God my op ‘n ander pad roep.  En dan gebeur daar op ‘n dag ‘n ding.
God gryp my. Hy kry my beet aan die enkel en Hy sleep my. Ek skop en skree en rebelleer. Ek word oorweldig deur die besef dat ek nie weet waarheen God met my op pad is nie, en die vrees verlam my. Skielik vind ek in myself baie min van glo en vertou.
Soos in ‘n tonnel tussen twee wêrelde word ek ingetrek deur God en spiraal ek iewers heen, sonder beheer, angstig en benoud omdat ek nie weet waarheen nie.
En dan, meteens, kom die gelatenheid. Die ingee. Die oorgee.
Dan besef ek wat ‘n totale wonder dat God hom s
ó met my bemoei . Dat Hy soveel omgee wat in my mikroskopiese bestaan gebeur en wié ek in my tyd op aarde word, dat Hy my hoegenaamd beetkry. Wat ‘n absolute, oorweldigende en verblindende wonderwerk.
En dan word ek stil voor Sy groter wil.
Dan sê ek soos Augustinus honderde jare gelede: Ek glo, Here, kom my ongelooflik tot hulp.
Ek onthou om te vertrou dat God se pad met my goed sal wees en dit voel selfs of ek vir ‘n slag weer vrywillig agter Hom wil aanloop.
Dan stap ek bitter onseker, tree vir tree die donker  in, al fladder my hart wild in my bors, want van iewers kom ‘n Lig en ek weet dis nie uit myself nie. 


Friday, June 6, 2014

Lighartig



In die Bybel kry ons so dikwels die verwysing na ‘n rein hart of ‘n opregte hart, maar presies wat is dit? Ek vermoed dis vir ons belangrik om iets hiervan te verstaan, want soos Spreuke 4:23 sê “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe”. 
In Psalm 51:12 staan daar “Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”
Iemand het eenmaal gesê: The goal of a relationship with God is purity of heart. Dit klink eerlikwaar nie baie opwindend nie, maar wat is die definisie van ‘n rein hart?
‘n Rein hart gaan daaroor om my diepste motiewe en redes oor hoekom ek optree soos ek optree te ken en om al meer bewus te word van wie ek vir myself en mense sê ek is, en al minder te maak of ek iets is wat ek nie is nie. Dis ‘n moeilike proses, want ek glo mettertyd myself.
Maar die gevolg is soos my hart rein word, word my gees vernuwe, want wie ek werklik is laat God se lewe in my opborrel, en dit maak my standvastig, omdat ek dan nie meer gryp na die verbygaande giere van wie ek dink ek moet wees nie, maar omdat ek al meer en meer en sterker en sterker groei om die mens te WEES wat God met my bedoel het.
Psalm 101: 2 gaan nog verder: Ek wil my daaraan toewy om opreg te lewe. In my huis wil ek lewe met ‘n opregte hart.
Om opreg te lewe vra dat ek my diepste motiewe sal ken en die moed sal hê om waar nodig teen my motiewe te kies. Dit vra dat ek myself en al my streke sal ken, myself sal waarneem en agterkom wat my gedrag onderlê. Om opreg te lewe vra dat ek al eerliker en deursigtiger sal word. Dit impliseer dat ek nie probleme onder die mat kan invee nie, maar dit in die gesig staar en hanteer. Hoe meer ek met so opregte hart begin leef, hoe minder word my bagasie en hoe ligter kan ek reis. Ek ontdek selfs stelselmatig dat ek gelukkiger voel, want daar’s al minder dinge in myself wat in die donker hoeke skuil en my aftrek. Ek begin vir God in die mees onverwagse detail raaksien. Ek begin leef met verwondering.
Om tussen ander mense voor te gee dat ek met ‘n opregte en rein hart leef is nog relatief maklik – ons almal doen dit van tyd tot tyd. Maar om in jou eie huis met ‘n opregte en rein hart te leef is nie so eenvoudig nie. Om jou diepste motiewe tussen die mense naaste aan jou te ondersoek is moeisaam en daarom kan dit selfs pynlik wees om met ‘n opregte hart te leef, maar as ek dit nie doen nie word my bagasie swaarder tot ek myself later deur die lewe sleep. God nooi ons op die pad van die rein en opregte hart sodat ek lig-hartig deur die lewe kan reis.

Wednesday, May 28, 2014

'n Drie-letter woord



Elizabeth Gilbert, die skywer van Eat, Pray, Love het eenmaal gesê: “I met an old lady once, almost a hundred years old, and she told me, 'There are only two questions that human beings have ever fought over, all through history. How much do you love me? And Who's in charge?”
Die fundamentele beginsel wat hierdie vraag onderlê is die kwessie van mag. Om een of ander rede skram ons weg van die tema van mag. Dalk omdat mag in ons konteks soveel negatiewe konnotasies het. Tog kan mens nie daarvan wegkom dat ons almal oor mag beskik nie. Natuurlik is daar die werklik magteloses in ons samelewing, die randfigure van die samelewing wat maar soos blare in ‘n stroom geneem word na waar die stroom ook al gaan. Ons wat hier lees val waarskynlik nie in hierdie kategorie nie. Ons beskik oor mag.

Ons beskik oor die mag om besluite te neem oor ons lewens (al voel ons soms vasgevang),
om te besluit of ons ‘n pad gaan soek na die lig en of ons deur die gewig van die sorge om ons oorweldig gaan word.
Ons beskik oor die mag om te besluit hoe ons ander mense gaan behandel en
oor hoe ons op moeilike omstandighede gaan reageer.
Ons beskik oor die mag om lewe vir ander moontlik of onmoontlik te maak.
Ons beskik oor die mag om potensiaal vir ander te ontsluit of in te perk.
H. Ginott skryf op ‘n stadium hierdie aangrypende woorde: I have come to the frightening conclusion: I am the decisive element in the home. It is my personal approach that creates the climate. It is my daily mood that makes the weather. As a parent I possess tremendous power to make a child's life miserable or joyous. I can be a tool of torture or an instrument of inspiration. I can humiliate or humour, hurt or heal. ln all situations, it is my response that decides whether a crisis will be escalated or de-escalated, and a child humanised or de-humanised.
Hierdie woorde is waar van ons elkeen in enige konteks.

Op die dag van Jesus se hemelvaart speel hierdie toneel in Handelinge 1 af:
6 Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” 7 Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” 9 Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, so dat hulle Hom nie langer kon sien nie.
’n Ruk later ontvang hulle dan die Heilige Gees, en daarmee gee God aan hulle die mag om alles wat Jesus self hier op aarde kom leef het verder te leef. Die keuse lê egter by elkeen van ons of ons saam met die stroom van God se Gees deur die wêreld gaan beweeg en of ons die mag waaroor ons beskik gaan misbruik om moontlikhede van lewe toe te sluit en die lewende water in ons en ander se lewe toe te stop. Of soos  Abraham Lincoln eenmaal gesê het:“Nearly all men can stand adversity, but if you want to test a man's character, give him power.” Gaan ek en jy ons mag misbruik om lewe te onderdruk, of gaan ons ons mag gebruik om in alle omstandighede ‘n pad vir die lewe te soek? Wat gaan jy doen met die porsie mag waarmee jy leef?