So
ruk gelede wys my swaer vir my hierdie indrukwekkende foto’s deur die New
Yorkse fotgraaf Bing Wright. Hy het gebreekte spieëls gebruik en die refleksie
van sonsondergange daarop vasgevang, met ‘n asemrowende eindresultaat.
Dit
verg ‘n besondere uitsig op die werklikheid om te besef dat gebreekte spieëls
so unieke refleksie teweeg kan bring dat die eindresultaat buitengewoon mooi
kan wees. ‘n Klompie jare gelede sou baie mense heel ontstig hul harte
vasgegryp het, want daar is mos op ‘n stadium vas geglo dat ‘n gebreekte spieël
die begin van sewe jaar se teëspoed is. (Waarskynlik kom die bygeloof uit die
Romeinse tyd toe spieëls geweldig duur en skaars was en die sewe jaar
dreigement gebruik is as afskrikmiddel vir enigeen wat roekeloos met die
kosbare item sou omgaan. Sewe jaar was die tyd wat hulle geglo het dit vir die
liggaam en gees neem om vanself te hernu).
Dikwels
bevind ons ons ook in situasies waar ons voor die gebreekte refleksie van ‘n
ideale prentjie in ons lewe bevind, en dan dink ons dalk ook dat dit die begin
van teëspoed of die begin van ‘n die einde is, maar vir ons as gelowiges bring
elke dag ‘n nuwe begin en as ons glo in die Opstandingskrag van Christus kan
ons nie anders as om die gebreekte spieëls in ons lewe eerder te sien as ‘n
nuwe perspektief wat ons kan help om op nuwe maniere na onsself en na ou of
gebroke situasies te kyk nie.
Ons kan nie anders as om aan die woorde Klaagliedere 3: 21-23 vas te hou
nie: Maar dít sal ek ter harte neem en om
dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is
groot.
Wanneer jy weer voor ’n gebreekte spieël in jou
lewe staan, probeer onthou dat gebreekte glas die materiaal is waarvan katedrale se
loodglasvensters gemaak word en dat God besig is met groot en mooi werk in jou
lewe, te midde van oënskynlike gebrokenheid. Dalk het jy nuwe perspektief
nodig.