Thursday, August 14, 2014

'n Skitterende Diamant



Baie mense vra: Waar is God in die proses van die Enneagram? Wat maak die Enneagram anders as kwasi-sielkunde? Hoekom moet ons so krap en delf in onsself? Kan ons nie net fokus op die positiewe en daardie negatiewe dinge wat ons in elk geval nie van bewus is nie in vrede los nie?

Ek is diep oortuig dat God graag sou wou sien dat ons werklik insig in onsself ontwikkel. Baie Christene skram so van selfsinsig weg dat mens eintlik wonder of hulle bang is vir wat hulle daar gaan vind. Hulle sal dikwels sê dat hulle maar net die Here vertrou en alles aan die Here oorlaat, maar dis ongelukkig nie hoe dit werk nie. Gaan kyk mooi: daar bestaan nie ‘n mens op aarde wat ‘n diep pad van groei gestap het en nie deur die donker, onbekende, selfs skrikwekkende, vallei van die binnewêreld moes gaan nie. 

Dit is my binnewêreld, en daarmee saam my persoonlikheid, wat bepaal hoe ek optree en mense behandel; en dis my binnewêreld en persoonlikheid wat God se transformasie en nuutmaking nodig het. Daar’s nie ‘n ander manier nie. Sover dit my persoonlikheid aanbetref, gryp God nie magies met ‘n towerstaf in my lewe in nie. Hy neem my saam deur die donker, dikwels vreesaanjaende vallei, want daar’s maar een manier om anderkant uit te kom. Sonder diepgrondige selfkennis, refleksie oor ander se reaksie op my en waarneming van my gedrag, kom daar nie insig nie.

Die diepste doel van selfkennis is transformasie. Hoe kan jy deur die Here getransformeer word as jy nie weet wat dit is wat jy moet laat sterf nie? Hoe kan jy groei in die manier hoe jy ander mense hanteer as jy blind is en nie belangstel om uit te vind hoe jou manier van doen ander mense laat voel nie? Hoe kan kan jy jouself al meer raaksien voor God as jy nie bereid is om van jou kritiese gees of valse nederigheid of jou oordrewe fokus op sukses of jou selfbeheptheid of jou vrees vir mense of jou vermyding van konflik of jou manipulasie of jou traagheid om inisiatief te neem, bewus te word en toelaat dat God dit stelselmatig transformeer nie?

God wil graag die kloof tussen jou binnewêreld en buitewêreld oorbrug. Hoe beter ek myself begin ken, en hoe meer ek begin agterkom wat die dinge is wat ek nie wil sien nie, hoe meer gaan ek begin sien wat die effek is wat ek op ander mense het. Hoe beter ek myself ken, hoe vryer kan ek tussen ander leef omdat ek al meer weet wat my verkeerde knoppies druk en hoe meer kan ek myself in vryheid gee vir ander en vir die wêreld om my. Hoe beter ek myself ken, hoe deursigtiger gaan ek word en hoe naatloser gaan ek begin leef. 

As ek vir jou ‘n stukkie kerswas gee sal jy dit redelik maklik kan stukkend druk. ‘n Albaster sal bietjie moeiliker gaan. Die sal jy met ‘n hamer moet stukkend slaan. ‘n Stuk marmer gaan ‘n aansienlik groter uitdaging wees, maar met ‘n skerp beitel en hamer sal jy ‘n merk kan maak. Maar ‘n diamant is ‘n ander storie. As jy ‘n diamant wil vorm het jy uitsonderlike toerusting en vaardigheid in die hand van ‘n Vakman nodig.



Ons binnewêreld is soos die rowwe diamant. Daaroor moet ons nie naïef wees nie. As jy dapper genoeg is om die ingewikkelde en uitdagende instrument van kennis oor jouself in die hande van ‘n Vakman oor te gee sal jy gou agterkom dat jy tegelykertyd bewus raak van gawes wat diep verskuil lê en waarvan jy dalk voorheen onbewus is. Beide die skadu en die gawe (of die drif en die deug/vice or virtue) is nodig om die diamant in sy volle glorie te laat skitter.
Of soos iemand eenmaal gesê het:
Everybody wants to be a diamond, but very few are willing to get cut.

Saturday, August 9, 2014

Vlammesee

U ontvlam in my
soos 'n veldbrand 'n Vrystaatvlakte
in 'n vlammesee hul,
lek die asem uit die lug,
skroei die wortels uit die grond.
Ek wil hardloop maar kan nie,
staan vasgevang, vasgenael, starend,
magies verwonderend -
wag vir U vuur om my te verswelg,
in my te ontbrand.


Thursday, August 7, 2014

Gemaklik in my groef




In Februarie hierdie jaar het daar ‘n berig soos ‘n veldbrand oor sosiale media versprei. Dit het gehandel oor ‘n 14 jarige seun met die naam Jordan Nichols. Sy broer het op ‘n gedig afgekom wat hy blykbaar geskryf het en ingehandig het vir ‘n skooltaak. Sy broer was verbyster oor sy klein boetie se insig in die lewe en letterkundige vaardigheid. Binne twee dae het dit egter uitgekom dat dit nooit die seun was wat dit geskryf het nie, maar ‘n ene Jonathan Reed wat dit reeds in 2011 geskryf het.
Baie mense was ontsteld omdat die seun plagiaat gepleeg het, maar dit het my nogal gefassineer dat die seun juis hierdie gedig gekies het om as syne voor te stel. Ek dink hy het probeer om daarmee te sê dat sy generasie desperaat opsoek is na ‘n stem van hoop en nuwe perspektief. Die gedig lui as volg:


Our generation will be known for nothing.
Never will anybody say,
We were the peak of mankind.
That is wrong, the truth is
Our generation was a failure.
Thinking that
We actually succeeded
Is a waste. And we know
Living only for money and power
Is the way to go.
Being loving, respectful, and kind
Is a dumb thing to do.
Forgetting about that time,
Will not be easy, but we will try.
Changing our world for the better
Is something we never did.
Giving up
Was how we handled our problems.
Working hard
Was a joke.
We knew that
People thought we couldn’t come back
That might be true,
Unless we turn things around
(Read from bottom to top now)



Die merkwaardige van die gedig is dat die betekenis 180
˚ verander as jy dit van die ander kant af lees, as jy met ander perspektief daarna kyk. Hoe bereid is ek en jy om ons manier van dink, ons vertekpunte, ons “view points” nuut te bekyk en dit selfs te bevraagteken en te dekonstrueer? Sou jy bereid wees om oop te wees dat jou manier van dink dalk skeef of verwronge is? Sou jy kans sien om die mense in jou lewe teen wie jy baklei dalk, soos die gedig, van ‘n ander kant af te beskou en te ontdek dat daar ‘n hele nuwe wêreld oopgaan as jy op ‘n nuwe manier begin kyk en dink.


Baie van ons sit so vas in ons idee van hoe die lewe is, wie ons is en wie die ander in ons lewe is, dat ons glo dit kan nie verander nie. Trouens lyk dit asof ons nie wil verander nie (soos Ken Wilbur sê). Al kom ek agter ek is in ‘n groef, verkies ek my groef, want ek voel gemaklik daar. Tog gaan dit op ons pad saam met God nie oor verandering as sulks nie, maar oor diepgaande transformasie. 
Iemand soos Scott Peck is weer oortuig dat ons mense oor ‘n merkwaardige vermoë beskik om te transformeer, soveel so dat dit wat vroeër vir ons normale optrede was mettertyd baie abnormaal word, en dit wat voorheen met moeite gekom het, kom na afloop van transformasie amper vanself. 

Hierdie transformatiewe vermoë is nog ‘n groter realiteit as ons vanuit God se perspektief na onsself kyk. God is 100% aan die kant van diepgaande transformasie. Ons sien dit dikwels in die Bybel.
Onder andere ook in Jesaja 1:18 Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.
En Psalm 51:
11 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees. En dan, die glinsterende woorde van 2 Kor 3:18: Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.


God staan ten diepste aan die kant van my transformasie. Dis God wat my help snap, besef, dat die verskil tussen ‘n groef en ‘n graf net die diepte is. Dis God wat my nooi om my perspektief te verander. Om gedigte van agter af te lees. Om mense vanuit nuwe hoeke te beskou. Om myself te begin raaksien as iemand wat op ‘n diep vlak kán verander. God se proses is altyd ‘n pad van transformasie. Mag die gedig van jou lewe aan die einde van jou reis getuig van ‘n dieper, lewegewende pad en nie van ‘n groef nie.

Tuesday, August 5, 2014

Die Enneagram: 'n Instrument van Bekering



In die veld waarin ek werk is daar min hulpmiddels wat kan kers vashou by die Enneagram.
Die Enneagram is na my mening werklik ‘n instrument van bekering. Elke keer as iemand die Enneagram ontdek op sy/haar geloofsreis en dit as metgesel begin omarm, staan ek verstom hoe God dit in mense se lewens gebruik om te ontwortel, af te skil, skoon te stroop en bemiddelend te wees in die ontdekking van die essensiële self. Mense sien hulself vir die eerste keer werklik raak en begin vir hulself verantwoordelikheid aanvaar op ‘n manier wat hulself verbaas laat. Uit die aard van die saak is dit dikwels ‘n pynlike proses, aangesien jy met dinge in jouself gekonfronteer word wat jy vroeër eerder onder die mat sou wou invee.
Natuurlik reageer ons nie almal ewe positief op die Enneagram nie. Daar is heelwat van ons wat uit die staanspoor sterk weerstand bied teen wat ons daar ontdek en dan op die plek besluit dat ons nie van die Enneagram hou nie. Een van die gewildste reaksies is: “Ek laat my nie in ‘n boks druk nie”. Die ironie is dit: Jy is in ‘n boks! Jy sien dit net glad nie raak nie! Die Enneagram gaan juis daaroor om jou van jou boks bewus te maak en jou te help om die boks só raak te sien, dat jy meer word as wat jy is en mettertyd werklik buite die boks begin leef. Diegene wat hierdie beswaar opper sal maklik oor hulself sê: “Ek dink buite die boks”, maar as jy mooi daaroor dink is presies dít hulle boks. Die slegte nuus is dat niemand so vry is soos ons dink ons is nie. Vryheid is ‘n intensionele proses waarby beide ek en God betrokke is.

Een van die mees merkwaardige eienskappe van kuns is dat die oomblik as dit uit die hande van die kunstenaar is, dit oop is vir interpretasie. Die Amerikaans-Griekse beeldhouer Zenos Frudakis
(gebore 1951) het ‘n merkwaardige reuse beeldhouwerk getiteld Freedom gemaak wat by GlaxoSmithKline se hoofkantoor in Philadelphia te sien is. Volgens my is die beeldhouwerk ‘n skitterende metafoor vir die proses waarin die Enneagram ons wil begelei. 



Kyk fyn na elke figuur: die rigiditeit van die eerste, die kriewelende ongemak van die tweede, die smagting en soeke van die derde en uiteindelik die bevryding en vryheid van die vierde – ‘n skitterende verloop van die (meestal sikliese) interne, psigo-spirituele proses. 

Kan jy die merkwaardige simboliek hierin sien?
Dit is presies die proses wat die Enneagram wil help bemiddel...
Ek kan paragraaf na paragraaf die Enneagram se deugde besing, maar vermoed dat dit met die Enneagram ook gaan soos met die Evangelie, en met die fliek Matrix: No one can tell you what the matrix is, you have to experience it for yourself.
 

Thursday, July 31, 2014

Op jou eie voete




Die bekende skrywer Scott Peck sê op ‘n stadium : “It is the most psycologically and spiritually mature among us who are the least likely to grow old mentally.”
Hy skryf verder dat  daar baie mense is wat in die lang volwasse fase van hul lewe nooit werklik emosioneel en geestelik volwasse word nie, nooit werklik vir hulself en hul eie lewe verantwoordelikheid aanvaar nie. Wanneer hulle dan ouer word skuur die ouderdom die dun lagie vernis oor die mondering van volwassenheid af en kom daar iemand uit wat eintlik maar nog die verwagtings het van ‘n kind wat nooit tevrede gestel is nie. Scott Peck vertel verder dat baie van die mense wat by hom beland vir terapie soos emosionele kinders is wat grootmensklere dra. ‘n Mens sien dit aan die veeleisende, manipulerende en selfgesentreerde manier hoe hulle optree. Hy vertel ook van ‘n mentor van hom wat eenmaal gesê het: Ah , Scotty, an adult is a marvelous thing! Daarmee het hy natuurlik bedoel iemand wat werklik volwasse is, is ‘n plesier om te beleef en te aanskou, want daar is so min van hulle. Dis interessant genoeg juis diegene wat gekies het vir die ongemaklike pad van diep emosionele en geestelike groei en transformasie wie se ouer jare inderdaad goue jare is, want vir hulle hou groei nooit op nie, nie tot die dag van hulle dood nie. (Scott Peck Different Drum:143).
Wat ‘n vreesaanjende gedagte: tussen ons loop baie mense wat volwasse voorkom – hulle maak kos en het kredietkaarte, hulle ry karre en besit besighede, hulle doen belangrike werke, het self kinders en huishoudings waarvoor hulle verantwoordelik is, maar diep in hulself is hulle nie besig is om as eg geestelik en emosioneel volwasse mense te leef nie.

 Natalie Smith, die skywer van “Stand on your own feet” vertel van Thomas Merton se heel laaste toespraak voor sy dood in Bangkok in 1968. In die toespraak vertel hy die storie van ‘n monnik wat uit Tibet moes vlug en hoe hy aan ‘n ander monnik in dieselfde situasie vra wat nou gedaan. Die ander monnik reageer toe so: From now on we all stand on our own feet. Dit beteken natuurlik nou weer nie dat ons na die anderkant toe oorhel en dink dat ons nie afhanklik van God hoef te leef en selfvoldaan en eiegeregtig word nie. Selfvoldaanheid en eiegeregtigheid is eintlik maar net nog ‘n vorm van geestelike onvolwassenheid. Volledig op ons eie het ons almal voete van klei. Dis juis as ons afhanklik van God leef dat ons begin sien hoe nodig ons Sy uitdagende leiding en rigtinggewende groei in ons lewe het. Dis juis as ons op God se insig vertrou dat ons insig in ons eie onvolwassenheid kry en tot voordeel van die mense om ons kan begin leef. As gelowiges nooi God ons om verantwoordelikheid vir onsself en ons keuses te aanvaar en ander te bevry van die emosionele las wat ons dikwels op hulle plaas.

Maya Angelou het die onderskeid gemaak tussen veroudering en volwassenheid. Ons kultuur kort desperaat ware wyse mense. Mense wat nie net verouder nie, maar mense wat emosioneel en geestelik so wys en heel is dat die res van ons by hulle kan leer oor ‘n lewe van wysheid en heelheid, mense wat mettertyd self God se gawe aan die mense om hulle geword het. Is jy besig om een van daardie ware wyse mense te word?