Friday, October 24, 2014

Die Slapende Wag




Hierdie skildery van Carl Spitzweg  is weereens fassinerend in die eenvoud en eerlikheid daarvan. Aanvanklik moet mens fyn kyk, maar as jy dit sien voel dit amper of jy self die wag uitgevang het.


Stel jou voor hoe die wag heel verveeld daar gestaan het en die middagsonnetjie al warmer op hom neergebak het. Hoe hy al vaker word en heel terloops ‘n plannetjie begin bedink. Skielik besef hy dat dit glad nie so slegte plan is nie en dat hy dit inderdaad sal kan doen. Hy soek ‘n stok en plant dit. Dan maak hy doodseker dat niemand hom van onder die dorp af beloer nie en hy trek vinnig sy baadjie uit en hang dit om dit stok en met een sekere beweging swiep hy sy hoed van sy kop af oor na sy stok-verteenwoordiger. Hy buk af en sluip hande viervoet tot in die skadu van die rankplant, vlei hom neer in die groen gras en raak lomerig-lui aan die slaap.

Mens kan nie help om te wonder hoeveel keer hiervoor of hierna speel die toneel af nie. Mens kan ook nie help om te dink wanneer iemand hom gaan uitvang en in hoeveel verskillende soorte moeilikhede hy hom dan gaan bevind nie.

Ek vermoed ons almal is maar soms op een of ander manier die Slapende Wag. Vanuit die perspektief van innerlike transformasie is die dilemma nie noodwendig dat hy die middagslapie neem nie, maar die fyn berekende voorgee wat daaragter lê. Hy besef waarskynlik dat dit in sy beste belang is om te máák asof hy op sy pos is, om die indruk te skep, terwyl hy werklik nie is nie.


Dit laat mens wonder hoe bewus elkeen van ons is van hierdie dinamika in onsself: die geneigdheid om ander onder die indruk te bring dat dinge anders is as wat dit werklik is. Sou ons kon sien hoe dikwels ons op subtiele maniere ander mislei, sodat hulle dalk dink dat ons meer spiritueel of meer toegewyd of meer opreg of meer betroubaar of iemand met meer integriteit is  of flukser of eerliker as wat ons werklik is?
 
Die dilemma hiermee is dat die voorgee so subtiel en fyn is dat ons onsself glo. God nooi ons op ‘n moeilike pad waar ons eerstens aan onsself sal erken dat ons nie altyd is wie ons voorgee om te wees nie en daarna vir onsself sal vra waarom ons ander so graag onder die indruk wil bring dat ons iemand is wat ons nie ten diepste is nie.

By God hoef ons nie voor te gee dat ons altyd op ons pos is nie. Ons mag maar ‘n middagslapie in die skaduwee neem.

Saturday, October 4, 2014

Die ongedierte - Sheila Cussons



Ek sién jou: my oog is al lank op jou
van ek jou, Goddank, die eerste keer sien roer het,
verskriklike, potige ongedierte,
skurf soos die seerots skurf.
Ek ken jou naam oplaas, die moeilikste
om te raai want oorbekend
tot byna dofheid, geringheid toe,
tót jy geroer het in al jou gruwelike lyflengte:
o wélbedeeld, en so tuis, oervas, dat jy
volkome versmelt met die wande, íngewande
van my duister, onbewuste, ondersese self.
Maar my oog is op jou en my oog sal op jou bly
tot jy verskrompel, Selfsúg.

Friday, October 3, 2014

Die Verbode Weg





Daar word dikwels na ons verhouding met God verwys as ‘n reis of ‘n pad. Die bekende skildery wat in menige sitkamer gehang het, van “De breede en de smalle weg”, ken ons ook goed.

Volgens hierdie skildery is daar ‘n breë pad met allerhande onsedelikhede daarlangs, en dit bring jou uiteindelik uit by ‘n vuurpoel. Hierdie pad is maklik en aanloklik en baie mense stap hierdie pad.
Die tweede pad is smal en moeilik begaanbaar, met verskeie struikelblokke en uitdagings en ‘n lewe van uiterste morele onthouding, maar die uiteinde van die pad is God se stad met goue strate.
Bo-aan die skildery is God se alsiende oog wat alles fyn dophou.

“De breede en de smalle weg” is natuurlik gebaseer op die teks in Matteus 7:
13 -
“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die
verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed,
en dié wat daardeur ingaan, is baie.
14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad
daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Volgens hierdie skildery (en baie van ons se verstaan) begin ons verhouding met God by ons moraliteit en ons morele keuses oor wat reg en verkeerd is, maar dis beslis nie waaroor  ’n verhouding met God gaan nie.  Om ’n kind van God te wees gaan nie daaroor om net weg te bly van ’n klomp sonde af nie. ’n Verhouding met God gaan in die eerste plek oor wie God is en of ek dít verstaan. As ek iets verstaan van wie God is, verander dit alles, want dit verander hoe ek na myself kyk. Daarom gaan ’n verhouding met God ten diepste oor wie ek is. Wat ek doen vloei met ander woorde uit wie ek is. Wat ek doen (die morele aard van my verhouding met God) is dus ondergeskik aan wie ek is (die ontologiese aard).
In die skildery van Carl Spitzweg met die titel “Die verbode weg” sien ons drie mense. ’n Paartjie in die verte wat wel  besluit het om die “verbode pad” te kies en die man op die voorgrond wat homself voor die versperring bevind. Nou is die vraag: Wat sou hom verhoed om die versperring op te lig en ook die “verbode pad” te kies?

Vanuit ons perspektief is dit nie in die eerste plek sy moraliteit of sy sin vir wat reg of verkeerd is wat hom sal verhoed nie, maar in die eerste plek sy identiteit, wat baie diep binne hom ’n stem laat hoor wat sê: God se karakter bepaal my karakter. Wie God is bepaal wie ek is. Daarom kies ek om sekere paaie nie te stap nie. Nie omdat die pad in die eerste plek verkeerd is nie, maar omdat ek vanuit my identiteit as God se kind nie kan sien hoe ek daardie pad, en die meegaande gevolge, kan kies nie.

Dikwels kies ons natuurlik die pad wat nie na die lewe lei nie, selfs al weet ons wie ons ten diepste is. God nooi ons om toe te laat dat die trek-kragte na Hom en die stoot-kragte weg van die spreekwoordelike “verbode pad”, al sterker word sodat ek in die diepste aspek van my bestaan getransformeer kan word tot iemand wie se lewe in meer en meer opsigte getuig van ’n pad wat na die Lewe lei.

Tuesday, September 30, 2014

Drieluik III - Sheila Cussons



III
My vuil, my stank wil ek uit my hê.
Jaag dit nie weg nie: weg kom terug -
Neem dit in U op, Grond van my wese;
verwerk dit, versoet dit tot kraakvars lewe.
Aarde waarin alles wat boos is vergaan,
verpulwer my fyn, verander my grondig
tot stof waaruit ek opnuut kan kiem,
kan verrys met my beste in my behou,
eindelik myself, myself in U!

Monday, September 29, 2014

Drieluik II - Sheila Cussons



II
Wat ek die meeste in U aanbid
is hoe U is.
Kyk, ek wou noem en toe noem ek alles.
U gee so vry, U vra so min, u pas
gemeet aan myne.
Hoe ho
ër ek klim hoe groener die velde,
soeter die die strome, hoe meer U knel.
U buig my reg, U ruk my in lit in
en ek byt op die pyn.
Ek moet net ja! sê en U verras my
hoe meer ek niks daarop verwag nie –
Daar is geen ding in dingigheid
waarmee ek U kan vergelyk nie.
U breek my kundig en hoe meer ek toegee
hoe meer si
én ek, laat U my sien –
die hele verskil tussen pyn en vervoering
d
ít, en dit U.
Want nooit is U hard of ek w
íl dit gou,
en dan, my God, hoe oorvloediglik troos U!

Drieluik I – Sheila Cussons


I
Hoe onkundig is ek! Ek sien skaars
tittel of jota van wat U sien,
sou nie kon nie en nog menslik bly.
Van al die afskuwelikhede
wat etter uit ellende van vlees en gees
skerm U my af.
Maar U kyk vol – deurklief alles
tot op die eerste oorsaak, en dit met liefde . . .
toe, blind-toe, bid ek die een gebed
wat nooit sal vrug voor die einde nie:
Christus, ontferm U oor u verskeurde Hart!

Brood op my balkon - Sheila Cussons

Ek het brood gebreek op my balkon
in brokke gerieflik vir 'n duif,
en wag op 'n afstand binne. Nie lank nie:
instink kom klapperend op die reling sit.
Links, regs, bespied sy; op, af, oorweeg sy,
fladder dan neer en ruk-pik gretig -
Net, ek moet nou daar verby, en weet alreeds:
en daar skiet sy weg - Ag, vertrou my tog:
ek is bloot 'n onkuldige mens,
of erfskuld se invalide - Wie kan dit nog betwyfel:
ons het 'n skaduwee
ook oor hule, oor die ganse skepping gebring.
Daarom breek ek brood, breek ek in die brood
u liggaam, Heer, vermenigvuldig my hande U,
my hart, my wil; poog ek om alles weer heel te maak