Saturday, February 7, 2015

Om die rede bly ek hoop




Ons weet al te goed dat elkeen van ons ons eie idee het van hoe ons graag wil hê die lewe moet verloop, maar dat dit nie altyd so werk nie. Ons weet nie watter uitdagings en moeilikhede ons nog in ons lewens moet trotseer nie. Wat ons wel weet is dat ons as God se kinders, soos alle mense, aan die uitdagings van die lewe onderworpe is. Daar is niks wat ons uitsluit van die gebrokenheid van ons menslike realiteit nie.

‘n Verhouding wat onherstelbaar beskadig is en tot ‘n einde kom.
‘n Dreigende miskraam.
‘n Finansiële krisis.
Die skrikwekkende nuus dat jy jou werk verloor het.
Komplekse gesinsverhoudings.
Trauma van ‘n ernstige aard.
Die virus wat jou takel en op die rand van die dood laat draai.
As ons maar daarvan gevrywaar kon wees, maar helaas…

Die vraag is: Wat doen ons wanneer hierdie dinge gebeur?
Iemand verduidelik in die week vir my dat sulke omstandighede soos ‘n sleurstroom of baie sterk seestroom is. Jy kan so hard probeer as wat jy wil om daar uit te kom, maar jy kan nie. Al wat jou te doen staan is om toe te laat dat die stroom jou maar saamneem en wag tot die stroom jou vanself teruggooi op die strand, in die wete dat God ook in die stroom saam met jou teenwoordig is.



Dis eers wanneer ‘n mens terugkyk en die tyd al verloop het dat ons as God se kinders met dankbaarheid kan sien dat selfs die moeilikste omstandighede die voorbereiding was vir waar ons ons vandag bevind. Dan kan ons ons hele lewe in die groter perspektief van God se genade leef, al is dit vir ons hoe swaar.

Henri Nouwen stel dit so: As long as we keep dividing our lives between events and people we would like to remember and those we would rather forget, we cannot claim the fullness of our being as a gift of God to be grateful for. 

Klaagliedere 3 sê dit anders: 21 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Alles wat my lewe voorafgegaan het, het van my die mens gemaak wat ek vandag is en daarom bly dit altyd my keuse of uitdagende omstandighede my gaan vernietig en of ek gaan toelaat dat God my daardeur transformeer, al is daardie proses hoe pynlik. Ek nooi jou: gaan sit stil by God met jou lewe sodat jy kan bewus word hoe Hy jou oor jare voorberei het vir waar jy nou is.

Saturday, January 31, 2015

Soekers na die Waarheid




Ons weet al te goed dat die vraag na die waarheid kompleks is. Wat vir jou waar is, is vir my ‘n leuen. Van die grootste gevegte onder gelowiges gaan oor die vraag na die waarheid. Ons sal vir maande hieroor kan debatteer en nooit by ‘n finale antwoord kan uitkom nie. Dit maak baie van ons geweldig ongemaklik.

Tog is ‘n uitdagender vraag nie of ons bereid is om te gaan soek na objektiewe waarheid waarmee ons ander kan bydam nie, maar of ons bereid is om te soek na die waarheid oor onsself. 

Dit wil nogal lyk asof die meeste mense nie so gretig is om die waarheid oor hulself te ontdek nie, want die waarheid oor wie ek en jy is, is baie meer omvangryk as wat ons ooit sou kon dink. Vir sommige van ons lê die ontdekking van die waarheid daarin dat ons agterkom ons is nie heeltemal so oulik soos ons gedink het ons is nie. Vir ander is dit om te besef dat ek glad nie so aaklig is soos ek geglo het nie. Die meeste van ons sit vas in stereotipiese persepsies oor onself wat ons verstaan van wie ons is verskraal. 

As ek al meer kan oop word vir hoe God my sien en die volheid van wie God my gemaak het sal ek ontdek dat my idees oor myself die stukkie voor die verhoog se gordyn is, maar dat daar agter die gordyn ‘n hele wêreld wag om ontgin te word – mits ek bereid is om die volle waarheid, goed, sleg en alles tussenin, oor myself te soek. 


Die Enneagram Institute skryf so oor die ontdekking van die waarheid aangaande myself: If we are interested in personal growth, no element is more important than developing a love of truth. Seeking the truth means being curious about what is going on in ourselves and around us, not settling for the automatic answers our personality feeds us. If we observe ourselves, we will see that many of the stock explanations that we give ourselves for our behavior or for the actions of others are a form of resistance.
One central aspect of a mature love of ourselves is caring about our growth sufficiently not to flee from the discomfort or pain of our actual condition. We must love ourselves enough not to abandon ourselves—and we abandon ourselves to the degree that we are not fully present to our own lives.

Hierdie is gewigtige woorde, maar ek nooi jou om Jesus se eie uitnodiging in Johannes 8:32 in die volste sin daarvan te aanvaar:
en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak. Dalk ontdek jy dat die waarheid oor jouself jou in so mate vry maak dat jy die vraag na ander dieper waarhede met groter insig kan soek. 

(Die volledige artikel van die Enneagram Institute, Seven Tools for Personal Growth, is beskikbaar op die Viam Dei Facebook groep onder Files.)

Friday, January 23, 2015

In die klein gemeentes - TT Cloete



In die klein gemeentes hou ons liefde boek
van die foute van die ledemate,
van ons broers en susters, ons ondersoek
ry op ry, ry af, na links, na regs mekaar se kwaad...
ons hou rekening van en ons reken af met
mekaar in die klein gemeentes voor die diens,
met ons ledemate se foute voor Gods wet,
gesiens en ongesiens...
ons kam mekaar uit
soos primate met die skerp nael mekaar
uitkam tot diep in die huid,
tot in die wortel van die haar...
van gehoresegge en ongehoord
en vermoed, voor en tydens en na die diens;
soort vermy en veroordeel soort
gesiens en ongesiens.
Maar God, God is anders as ons. Hý
is vol genoegdoening as die sondiges iets weer reg kry...
God geniet dit as die alkoholis
gerehabiliteer is.
God vergeet. God
vergeet tot uitgediende hoerery, diefstal, tot
uitgediende moord, tot die onthouers
so goed as en saam met die verbrouers.
Maar óns, ons geheue is sterk
wat oortredings betref, ons is sensitief vir boos
en heilig, ons hou die sonde lewend binne-in die kerk,
tot die vierde geslag. En God? Gods liefde is geheueloos.


Terra Incognita



Ek bly al 22 jaar in Pretoria. Na 22 jaar ken mens ‘n plek redelik goed. Tog moes ek so ruk gelede een laatmiddag, in die spitsverkeer, met ‘n dreigende donderstorm in die agtergrond, na twee totaal uiteenlopende plekke aan weerskante van die stad ry. Interessant genoeg was beide plekke in areas waarmee ek glad nie goed bekend is nie. Ek was al in die omgewing van die eerste plek, maar nie genoeg dat ek hoegenaamd weet hoe dinge in daardie gebied inmekaarsteek nie. Die tweede plek, waar ek net na donker moes wees, was vir my totaal onbekend.
Gelukkig het ek ‘n baie goeie GPS en met die adres ingetik is ek gou op koers. Om tot by die eerste plek te kom was nie ‘n uitdaging nie, want ek het min of meer geweet waarheen ek op pad was. Maar om by die tweede plek uit te kom was ‘n heel ander storie. Toe ek die adres van die tweede bestemming ingetik het en begin ry, het ek baie gou besef dat ek nou glad nie weet waar ek is. Dat ek nog minder weet waarheen ek op pad is. Anders as die eerste keer, toe ek nog ‘n vae idee gehad het, was ek nou volledig oorgelewer aan die GPS se onbekende instruksies op ‘n nog meer onbekende roete en moes ek doodeenvoudig draai wanneer sy sê draai en aanhou waaneer sy sê aanhou. 
As ek vir iemand moes verduidelik waar ek was sou ek nie weet wat om te sê nie. Daardie aand het die term terra incognita, of te wel onbekende land, nuwe betekenis gekry. En tog, soos te verwagte, bevind ek my toe na 40 minute se kronkels en draaie in sterk skemer met reën op die ruit en nat paaie, heeltemal betyds op die regte plek. 



Is dit nie maar presies hoe die lewe werk nie? Dikwels is ons op bekende paaie en voel ons redelik seker van die pad. Ander kere is ons op minder bekende paaie, maar voel tog nie verdwaal of verlore nie. Maar soms bevind ons ons op plekke waar ons nog nooit was nie. Dis in sulke tye dat God ons nooi om Hom blindelings te vertrou, soos ek met die GPS daardie someraand. Dan kan ek nie my eie kop volg nie, want die uiteinde sal eenvoudig wees dat ek verdwaal in my eie insigte. Dan kan ek nie my eie planne beraam in ‘n poging om die noodwendige oorgawe te systap nie. Dan het ek geen ander keuse as om te fokus, te luister en tree vir tree in die oomblik teenwoordig te wees en te doen wat die volgende tree van my verwag nie.

Die dilemma is dat ons dikwels met God se roete aanwysings stry, al sê God dat Hy met al ons paaie goed bekend is (Ps 139). As ons so maklik met ons werklike GPS’e stry of doelbewus ander rigtings inslaan, al hoor ons oor en oor die woorde: Recalculating… , hoeveel te meer probeer ons nie eksperts van ons eie lewenspad wees nie. Gelukkig sê Jesus dat Hy self die pad (Joh. 14:6) is en dat ons in vertroue moet leer om Hom te volg, want dis Hy wat ons sal neem na die plek waarheen God met ons pad is.

Friday, January 16, 2015

'n Lewe van Oorvloed




In die tyd waarin ons leef is ons almal baie bewus daarvan dat daar groot druk op die aarde en haar hulpbronne is. Meer as ooit vantevore besef ons dat ons nie maar net oordadig kan leef na gelang van ons eie begeertes nie.
Baie mense in ontwikkelde en ontwikkelende lande dink eenvoudig nie aan die gevolg van hulle individuele leefstyl in die groter geheel nie.

Hieroor het Ghandi op ‘n stadium gesê: The world has enough for everyone’s need, but not for everyone’s greed. Ten spyte daarvan dat baie mense leef asof daar maar net altyd meer as genoeg sal wees, sien mens aan die ander kant by mense ongekende interne suinigheid.

Diep binne onsself leef baie van ons met ‘n gesindheid van skaarsheid. Daar is iets krampagtig aan ons interaksie met mekaar. Dis opmerklik dat mens hierdie gesindheid beslis ook by gelowiges aantref. En tog sou mens verwag dat ons, van alle mense, met ‘n gesindheid van vrygewigheid sal leef. 

Lyk ons nie maar presies soos al die ander mense om ons nie? Sou ons nie dalk kon bewus word hoe min van onsself ons gee en hoe geslote ons harte vir ander is nie? Is ons nie veronderstel om meer vrygewig te wees met ons geld en ons goed nie? Kan daar nie by ons meer ruimte wees om stil te staan en in mense se oë te kyk en te luister nie? Sou ons dit nie dalk in onsself kon vind om al meer met ‘n gesindheid van oorvloed teenoor mense te leef nie, en minder emosioneel armoedig en suinig te wees in ons interaksie met die mense met wie ons elke dag te doen kry nie? 

Dink net hoe suinig is ons soms met onsself teenoor ons huismense. Hoe skaars is ons soms aan openheid en ruimte vir ander. Hoe krampagtig klou ons soms aan ons ego’s vas, bang dat ons die bietjie wat ons dink ons het gaan verloor.
Jesus het presies die teenoorgestelde gesindheid kom leef en so vir ons kom wys dat God se hart en God se wêreld ‘n plek van oorvloed en vrygewigheid is. Dink maar net aan die bekende woorde van Johannes 10:10 Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Of Johannes 14:2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek.(Ek hoor eintlik hoe Jesus sê: In die huis van my Vader is daar baaaaaaaaaaaie woonplek!) Of selfs Jesaja 55:1 Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.En dink aan die oorvloed van die Boom van die Lewe in Openbaring 22:2 Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Ek dink God sou graag wou sien dat ons in navolging van Jesus groei in ‘n gesindheid van vrygewigheid en oorvloedigheid van hart, en dat ons al meer sal sterf aan ons ingeboude gesindheid van skaarsheid, gebrekkigheid en krampagtigheid. Mag ons elkeen leer om nie suinig te wees met onsself nie.

Thursday, January 8, 2015

Die dag toe Paddington God se stem gehoor het



‘n Mens vind van die waardevolste skatte in die flieks. So gaan kyk ek in die afgelope week saam met die kinders na Paddington.

Die verhaal begin met Paddington se sorgrvrye lewe in die woude van Peru. ‘n Natuurramp forseer hom om na Londen te vlug, waar hy hoop om die ontdekkingsreisiger, wat die bere 40 jaar vantevore aan onder andere marmelade bekend gestel het, te ontmoet. In Londen aangekom is die stad baie koud en onvriendelik tot ‘n gesin besluit om hom, redelik teësinnig, in te neem. Met die verloop van tyd word hulle natuurlik lief vir hom, en toe hy in lewensgevaar is begin hulle na hom soek.
Voor hulle hom egter kan vind word hy deur ‘n bose vrou met ‘n “slaappyltjie” geskiet sodat sy hom kan opstop vir die museum. Die volgende toneel speel dan af.
Paddington lê alleen en bewusteloos op ‘n ystertafel terwyl die bose vrou gaan ondersoek instel na ‘n kragonderbreking. Die pa van die gesin, mnr. Brown, roep van buite in die koue deur die venster na Paddington om hom te probeer wakker kry. Nog steeds in ‘n beswyming dink Paddington dat hy dood is en sê: “God?”….(stilte, en dan) “You sound a lot like mr. Brown.”

Hierdie toneel het my aangegryp. Is dit nie presies hoe dit met ons werk nie? In ons soeke na God vind ons dikwels mense wat soos God klink en lyk. Mense in wie ons God hoor en sien. Soms is dit die mense saam met wie ons tot lewensveranderende insigte kom. Soms is dit die mense in ons lewe wat ongenaakbaar eerlik met ons is sodat ons onsself kan sien. Soms is dit die mense wat bereid is om nie net die hele pad saam met ons te loop nie, maar wat ook bereid is om ons te konfronteer oor ons gedrag en die effek van ons gedrag op ander. Soms is dit die mense wat bel en daar is en gesels in moeilike of traumatiese tye. Soms is dit die mense wat kos en blomme bring wanneer ons of ons geliefdes siek is of swaar kry. God verskyn elke dag op eindelose maniere aan ons deur die mense in ons lewe.

Terselfdertyd word ek en jy natuurlik genooi om God se teenwoordigheid vir ander te beliggaam deur voortdurend met liefde, deernis, begrip, fyn aanvoeling, insig, dapperheid, eerlikheid en deursigtigheid teenoor hulle te leef.
Wanneer ons toelaat dat God ons harte al meer verruim sodat daar plek is vir Hom om in ons beliggaam te word, en nie net heeltyd met ons eie dinge besig is nie, word ons byna outomaties God se teenwoordigheid in ander se lewens, soos Mnr. Brown in die lewe van die beertjie, Paddington.