Thursday, April 7, 2016

Bewaar my van maklike antwoorde



Die tema van sterf aan jouself is waarskynlik een van die mees sentrale, maar terselfdertyd ook die mees ingewikkelde Evangeliese konsepte om te verstaan.  As daar maar iewers ‘n bloudruk bestaan het vir presies wat dit behels en as daardie bloudruk vir almal dieselfde was, sou dit tog wonderlik wees, maar ek is bevrees dat dit nie so eenvoudig is nie.

Daar is baie mense wat bely dat hulle in Jesus glo, maar wat waarskynlik nie met hulle lewens verstaan wat “sterf aan jouself” beteken nie. Ek kan nie bely dat ek in Jesus glo, maar in my lewenskeuses en lewenstyl swaai ek nog steeds op alle gebiede self die septer nie. Hierdie tendens onder gelowige mense veroorsaak ‘n teenreaksie en bring mee dat sommige die uitnodiging om aan jouself te sterf op só manier verstaan, dat hulle heeltemal na die anderkant oorhel. Dat hulle hulself so misken en ontken en ooreis dat hul verstaan van “sterf aan jouself” nie meer tot eer van God is nie, maar destruktief en selfvernietigend.

Ek bevind my byvoorbeeld ‘n week of wat gelede twee dae na mekaar in min of meer dieselfde situasie. Die een dag skep ek vir nege mense kos op en aan die einde van die pot het ek nie vir myself ‘n porsie oorgehou nie. Die volgende dag skep ek weer vir dieselfde groep mense kos op, maar toe al die borde uitgedeel is, is daar nie ‘n bord vir my nie. Ek het vergeet om myself te tel! Mens sou kon reageer en sê: “Sjoe, dit is darem selfloos”, maar dis nie selfloos nie. Dis ook nie sterf aan myself nie. Dis sommer net hartseer.

Om een of ander rede sukkel ons mense om ekwilibrium te vind en is ons soos die spreekwoordelike pendulum voortdurend aan die kant van twee uiterstes.
Wanneer ons genooi word om onsself prys te gee gaan dit nie oor ‘n asketiese prysgawe van alles in die wêreld, van alles waarvan ons hou en van alles wat bepaal wie ons is en ons diepste behoeftes nie. Dit gaan wel daaroor om myself meer en meer aan God se wil vir my lewe te onderwerp. Om met ander woorde elke dag as ek opstaan, soos Jesus daardie aand in Gestsemané te bid: “Laat nie my wil vandag seëvier nie, Here, maar U wil.”


Wanneer ek myself aan God se wil onderwerp, leer ek al meer om te onderskei wat die werklik belangrike dinge is. Leer ek oor tyd om agter te kom op watter pad van sterf aan myself Jesus my nooi. En dit is helaas nie ‘n maklike saak nie. Trouens, dis ‘n hoogs persoonlike saak wat ons nie sommer met ‘n generiese antwoord durf aanspreek nie. Mag die Here my en jou help om in die diepste kern van ons bestaan te leer wat “sterf aan myself” in my lewe beteken en my bewaar van maklike antwoorde.



Dieper as die oppervlak



Ek is seker jy het al min of meer die volgende scenario beleef.
Jy sit in 'n restaurant met die spyskaart in jou hand en besluit op ‘n gesonde alternatief. Jy soek ‘n slaai, wat darem so min of meer die verbeelding ook aangryp. Die  beskrywing klink oortuigend en jy bestel die gekose item. Vol verwagting wag jy vir jou bestelling om sy opwagting te maak. Die kelner kom na ‘n paar minute en sit die reuse bak slaai voor jou neer en jy is diep beïndruk. Dit lyk lekkerder as wat dit op die spyskaart beskryf is. Jy begin eet en na die eerste paar happe maak jy ‘n skokkende ontdekking: behalwe vir die boonste laag, wat jy so pas in ‘n paar happe opgeëet het, bestaan die res van die slaai wat so aanskoulik aan jou opgedis is hoofsaaklik uit blare! Nie lekker sappige baba slaaiblaartjies nie. Sulke harde, wit, stokkerige blare.

Jy is onmiddelik ontsteld, maar besef dan dat die probleem met jou slaai op twee vlakke lê: aan die een kant het jy verwag dat die hele slaai met die verleidelike bestanddele deurtrek gaan wees. Aan die ander kant kan jy nie vir die restaurant kwaad wees nie, want alles wat hulle gesê het daarin is, was daarin; net heelwat minder as wat jy verwag het.
Baie mense is ook soos die restaurant se slaai. Mense wil graag ander op die oppervlak van hul lewe onder die indruk bring dat hulle meer het om te bied as wat noodwendig die geval is. Ongelukkig weet ons maar al te goed dat die spreekwoord, “Die vere maak nie die voël nie”, ongenaakbaar waar is. Mens beleef ongelukkig dikwels hoe mense wat voor die hand liggend indrukwekkend is en volgens wêreldse standaarde baie suksesvol is, nie altyd ‘n ryk, lewegende en diep binnewêreld het nie.
Dis presies hierteen dat Jesus dikwels teenoor die Fariseërs te velde getrek het. Hoeveel keer het hy nie vir hulle gesê dat dit nie help jy lyk indrukwekkend van buite af, maar binne is die beker vuil of die graf vol doodsbeendere nie. Dis ook daarom dat Jesus die mense leer om nie soos die Fariseërs op die oppervlak indrukwekkende dinge te doen nie, maar om eerder besig te wees met die dinge onder die oppervlak, met dit wat op die einde van die dag saakmaak. Jesus leer byvoorbeeld in Matteus 6: 5 en 6: “As julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
In God se wêreld dra dit wat onder die oppervlak gebeur meer gewig, want uiteindelik transformeer dít jou hele lewe en word jou lewe die vrug van wat onder die oppervlak aan die gebeur is. God nooi ons na eindeloos kenbare, lewegewende dieptes waarvan Hyself die vergestalting is. Paulus skryf iets daaroor in in Romeine 11 as hy sê: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy weë...”
God nooi ons elkeen na ‘n dieper verhouding met hom, wat nie soos die restaurant se slaai bolangs indrukwekkend is, maar onder die eerste laag net uit ‘n klomp onbevredigende blare bestaan nie. Dis as ons toelaat dat God se Gees ons hele wese deurtrek dat dit wat op die oppervlak sigbaar is ook ‘n aanduiding is van wat aan die onderkant aangaan.
Dink net hoe verras sal jy wees as jy die dag ‘n slaai bestel en die hele dis
is deurtrek met dieselfde bestanddele as wat jy met die eerste oogopslag

Thursday, February 11, 2016

Herwinning op 'n ander vlak



Dis ‘n voorreg om die lewe deur die oë van ‘n kind te beleef. Met Mathilda wat hierdie jaar in graad 4 is kom sy met allerhande wonderlike nuwe ontdekkings by die huis aan oor hoe die wêreld werk. Hier is die spreekwoord: “Wat ek al vergeet het, moet sy nog leer”, regtig van toepassing.

So kom sy verlede week by die huis en sê: “Mamma sal nie glo wat ons geleer het nie. As ons mense ons vrot asems uitasem, vat die plante dit en maak daarvan suurstof sodat ons weer gesonde lug kan inasem!” Vir ons grootmense is dit algemene kennis, maar as jy 9 jaar oud is, is dit niks anders as ‘n wonderwerk nie. Dink net: as ons koolstofdioksied sou inneem sal ons doodgaan, maar as die plante dit inneem word dit herskep tot iets wat vir ons lewe gee. Hierdie is ‘n ongelooflike metafoor vir die vlak van herwinning waarop God werk.
 
Die Bybel is vol daarvan dat God klaarblyklike onbruikbare en gebroke lewens neem en dit nuut maak, heel maak, transformeer en herwin tot iets baie meer as wat dit voorheen was. Een van vele gedeeltes in die Bybel waaraan ek dink is Esegiël 36:26:
En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee.  
(Sien ook Jesaja 1:18 Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. En Psalm 51:11 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees. En 2 Kor 3:18: Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.)
Daar is letterlik niks in my lewe, geen donker geheim, geen hartseer, geen pyn of bitterheid, geen lewensomstandighede, wat nie in God se herwinningsplan inpas nie. Dis wat God deur Jesus kom doen het:
Hy maak vandag nog alles nuut.
Hy herskep vandag nog alle vorme van koolstofdioksied wat uit ons lewens kom in suurstof,
sodat ons en almal met wie ons te make het, kan lewe.

Daarom kan ons maar baie gereeld hierdie woorde bid:
Here Jesus,                        
Verlig die donker in my                                 
Versterk wat swak is in my                                         
Maak heel wat gebreek is in my                 
Verbind wat gekneus is in my                      
Genees wat siek is in my               
En laastens, Here,                          
Gee lewe aan enige vrede en liefde                         
wat gesterf het in my.                   



Friday, January 15, 2016

Die dogtertjie en die klippie



In verlede week gaan stap ek een laatmiddag in ons buurt. Deur die een heining sien ek toe hierdie toneel afspeel:
‘n klein blonde krulkop dogtertjie (ek dink nie sy is al 2 jaar oud nie) met mollige beentjies staan met haar t-hempie en doek en tandekraletjies om die nek by die kraan in hulle tuin met water wat uit die kraan drup. Haar mamma sit langs haar met kruisbene op die grond en gee vir haar klippies aan wat sy onder die druppels uit die kraan afspoel. Een vir een spoel sy die klippies af en gee dit weer vir haar mamma terug. En dan vra sy met haar klein stemmetjie: Wie se klippie, Mamma? En die mamma sê: Jou klippie, sussie.

Daar is soveel in hierdie toneel wat my raak:
die klein dogtertjie in haar onskuld en onverdorwenheid en die veiligheid en koestering wat sy duidelik by haar mamma beleef;
die mamma se sorgsaamheid en deernis en geduld en liefdevolle verwondering vir haar dogtertjie;
en natuurlik die water wat die klein tuinklippies se grond afwas.
Hoeveel keer vergeet ons nie dat God soos daardie mamma is en ek en jy soos die dogtertjie. Ons verstaan maar nog min, sal ook nooit alles verstaan nie, maar wat ons kan verstaan is dat God met onbeskryflike sorgsaamheid en deernis en geduld en liefdevolle verwondering na ons kyk en met ons besig is. Ons vergeet dit maklik. Te maklik. Ons word so maklik geïndoktrineer deur stemme wat sê dat ons beter moet doen, dat ons nie goed genoeg is nie, dat ons dit nie maak nie, dat ons vergeet wie ons is: God se geliefde kindertjies.
Dis vir ons wat God soos die sorgsame mamma die woorde van Openbaring 2:17 sê: Ek sal ook vir hom/haar ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom/haar bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie.

Die klippie verwys waarskynlik terug na twee gebruike in die wêreld van die Bybel.
Die een waar iemand wat vrygespreek is in ‘n hofsaak ‘n wit klippie kry as teken van die vryspraak. God het my en jou as sy kinders reeds vrygespreek deur Jesus en ons hoef nooit weer na stemme te luister wat ons van die teendeel probeer oortuig nie.


Die ander was die gebruik van “vriedskapsklippe” (Latyn: tesserae). As jy aan ’n persoon jou wit vriendskapsklippie gee‚ waarop sekere tekens en letters geskrywe staan‚ beteken dit dat jy hom die gasvryheid van jou huis aanbied en hom in jou lewe innooi. As hy jou vriendskapsklippie neem‚ is dit sy toegangskaartjie tot jou huis‚ jou tafel en jou familiekring. God het reeds aan ons elkeen ‘n wit vriendskapsklip oorhandig, met ‘n naam op wat net vir my bedoel is, waarmee Hy sê dat ons nie net welkom is by Hom nie, maar deel word van sy familiekring en ‘n spesiale naam dra as sy kind.

As ek en jy hierdie beeld regtig verstaan sal ons nooit weer wonder wie ons is nie, nie weer wonder wie ons moet wees nie en ons nie weer laar mislei deur al die baie ander stemme wat ons anders wil laat dink oor onsself nie.
Voor God wil ek altyd die klein dogtertjie met die klippie by die kraan wees wat vra: Wie se klippie, Mamma?
Want ek weet God gaan antwoord: Jou klippie, sussie.

Op pad na revolusie



So staan ons weereens aan die begin van ‘n nuwe jaar met baie tekens van genade op verlede jaar se pad en meer as genoeg bakens van hoop op die nuwe jaar se roete. Op Oujaarsdag kuier ons en uit die bloute vra Mathilda: “Wat is ‘n New Year’s revolution”. Ons almal lag lekker en ek sê : “Nie revolution nie, resolution.” Maar na so rukkie dink ek, sy’s dalk reg. Miskien is ‘n nuwe jaar veronderstel om ‘n geleentheid vir ‘n revolusie te wees – in die manier hoe ek dink, in my verhouding met God, en in my hele manier van leef.

Soos ek hier skryf is dit Woensdag, 6 Januarie. Die dag van Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. In een van die baie tradisies van die Christendom word Epifanie ook verbind met die verskyning van God aan die drie wyse manne uit die Ooste. Soos die manne van die Ooste bereid moes wees om hulle bekende wêreld te verlaat nooi God ons ook aan die begin van die jaar om die dinge van die ou jaar agter te los en op nuwe, onbekende en onbegane paaie te reis in die vertroue dat God ons sal lei na waar Hy wil hê ons moet wees.
Ruth Haley Barton skryf so oor die wyse manne se reis na die onbekende land:

O God,
who am I now?
Once, I was secure
in familiar territory
in my sense of belonging
unquestioning of
the norms of my culture
the assumptions built into my language
the values shared by my society.

But now you have called me out and away from home
and I do not know where you are leading.
I am empty, unsure, uncomfortable.
I have only a beckoning star to follow.

Journeying God,
pitch your tent with mine
so that I may not become deterred
by hardship, strangeness, doubt.
Show me the movement I must make
toward a wealth not dependent on possessions
toward a wisdom not based on books
toward a strength not bolstered by might
toward a God not confined to heaven
but scandalously earthed, poor, unrecognized…

My gebed is dat iets van hierdie gebed in elkeen van ons se lewe sal waar word in hierdie jaar en dat 2016 se Nuwejaar toe inderdaad die begin van ‘n “New Year’s Revolution” was, omdat die Gees van Christus die Gids op ons pad is.