Thursday, June 9, 2016

Die heiligheid van andersheid


Ek lees vroeër in die week weer hierdie woorde in 1 Petrus 1: 15: Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hewe lewenswandel heilig wees. Ek wonder onmiddellik: Wat beteken heilig wees nou eintlik?

Natuurlik is daar die semantiese betekenis van die woord. Die Hebreeuse woord vir heilig is "qodesh" en beteken "afgesonderdheid of afsonderlikheid”. Mens kan die woord ook vertaal as "andersheid of transendente". In die Nuwe Testament is die woord vir heilig "hagios" en beteken afgesonder en werd om te vereer.

Dis goed en wel om te weet wat heilig beteken, maar op ‘n manier help dit mens nie regtig nie. Dis vir ons maklik om te dink dat God heilig is, maar hoe op aarde kan ons heilig wees?
Dalk is een van die probleme dat ons in ons onderbewussyn heilig wees ook sien as perfek wees, sonder gebrokenheid en foutloos. Weereens is dit maklik om só oor God te dink, maar dis tog mos nou nie waar van ons nie, want ons is allesbehalwe perfek, ons is gebroke en vol foute. So hoe kan ek dan heilig wees? As mens heiligheid so verstaan sal niemnad van ons ooit heilig wees nie.

Vir baie lank loop ons al met die idee dat mense wat heilig is so half verhewe is bo die aarde en nooit iets verkeerd doen nie. Dis natuurlik ook ‘n bedreigende gedagte, dat iemand anders heilig is en ek nie, want as iemand dan nou so vlekkeloos is en ek is nie, voel ek heeltyd dat ek dit net nie maak nie. Al probeer ek hoe hard sal ek dit net nooit regkry om regtig heilig te wees soos sekere heilige mense waarvan ek weet nie. En dan diskwalifiseer ek myself sommer onmiddellik van enige potensiële heiligheid.

So wat presies sou Petrus dan bedoel as hy sê ons moet heilig wees soos God heilig is? Dalk lê die antwoord nie in ons populistiese verstaan van die woord nie, wat ons altyd laat voel dat ons te kort skiet. Miskien moet ons eerder ons verstaan soek in die feit dat God anders is as ons en ons wêreld – soos die woord se betekenis ons leer. Wanneer ons begin verstaan dat God anders is kan ons begin sien dat God se heiligheid juis daarin lê dat Hy ons roep na ‘n vorm van bestaan wat meer is soos wat Hy is, so anders soos Hy. As ek van hierdie roepstem van God bewus word wat my roep om ook soos God heilig te wees, om so anders soos God te wees, word heiligheid nie meer ‘n kriteria waaraan ek onmoontlik kan voldoen nie, maar word dit ‘n roepstem, ‘n smagting, ‘n  droom van ‘n ander manier van bestaan.

Dan gaan heiligheid skielik nie meer daaroor dat ek aan ‘n sekere kriteria moet voldoen om heilig te wees of sekere dinge nie doen nie en daarom nie heilig is nie. As ek heiligheid begin verstaan as ‘n roepstem om so anders soos God te wees, word dit iets wat my nader trek, my lok en my wil insluit in Sy groter realiteit, wat inderdaad baie anders is as die wêreld waarbinne ons leef. Dit bring mee dat ek nie net w
íl heilig wees nie, maar besef dat my hele lewe en lewenstyl met verloop van tyd heilig kán wees, omdat God graag wil sien dat my realiteit met syne begin versmelt en ek my vrywillig begin oorgee aan God se manier van wees.

Dis dan waneer ek God se heiligheid in my verhoudings kan begin leef.
Wanneer ek begin sien hoeveel heilige grond daar in en om my is.
Dat ek na my lewe en ervarings kan kyk en kan sê: “Wat hier gebeur het is heilig”.
Wanneer ek verstaan dat God se heiligheid dalk meer ‘n uitnodiging is tot ‘n kwaliteit van bestaan kan ek dalk begin insien dat om heilig te wees dalk nie so onmoontlik is soos ek gedink het dit is nie, maar dat ek in die gewone handel en wandel al meer so anders soos God kan wees, en dus per definisie heilig word.

Die skrywer, Henry Miller, het dalk ‘n punt beet gehad toe hy gesê het: “We must be holy without holiness (ons tradisionele verstaan van heiligheid). We must be whole, complete. That’s being holy. Any other kind of holiness is false, a snare, and a delusion.”

Ek vermoed Willem Nicol deel ook hierdie verstaan van heilig word wanneer hy hierdie woorde skryf:
“Wanneer ‘n mens nie meer dink jy is beter as ander nie, en nie meer beter as hulle hoef te wees nie, is jy vry! Jy hoef niks meer weg te steek nie, maar kan oop en deursigtig leef. Jy kan ontspanne voortleef sonder kamoeflering en vertonings en pogings om iets besonders te wees; sonder die gedryf om gedurig beter as ander te lyk; sonder die drif om altyd te wen. Jy word dan ‘n mens wat onopvallend, eenvoudig leef. Die heiliges lyk gewoonlik soos gewone mense.”

Mag ons by God leer om te leef uit die heiligheid van ons andersheid.


Die stem van ongemak


Daar is hierdie uitdrukking wat sê: Van sit en staan is lê die lekkerste. Ons mense hou van ons gemak. Nie omdat dit altyd so lekker daar is nie, maar juis omdat ek eerder in my huidige situasie sal voortleef as om te kies om die onbekende wêreld van verandering te trotseer. En tog is Neale Donald Walsch se woorde baie waar: Life starts at the end of your comfort zone. Presies wat sou dit beteken?

Ons val maklik vas in denkpatrone, in sekere gedrag, ‘n manier van praat. Wanneer mens daarvan begin bewus word is dit regtig moeilik om iets daaraan te doen, en daarom kies baie van ons om maar aan te hou met die ou maniere van dink en praat en doen, want om nuwe paaie te bou is net harde werk. Om een of ander rede het baie van ons ‘n soort interne luiheid wat groei en verandering in ons lewe teenstaan.

Ek vermoed een van die groot redes waarom ons nie graag ons ongemak trotseer nie, is juis omdat ons weet dat as ek nou anders gaan dink en optree en praat, impliseer dit nie net vir my verandering nie, maar vir die hele sisteem waarbinne ek funksioneer. Die implikasie hiervan is natuurlik dat die mense wat saam met my lewe nie daarvan gaan hou nie, omdat dit ook hulle manier van leef sal affekteer. Dikwels bring dit konflik mee, en baie van ons sien net nie kans vir hierdie konflik wat uit die verandering spruit nie. Tog is daar ‘n kritiese punt in myself waar die stem van my ongemak so dringend en knaend word, dat  ek nie meer anders kan as om daarop te reageer nie.

Anais Nin het so hieroor geskryf: “And the day came when the risk it took to remain tight in the bud was more painful than the risk it took to blossom”.

Dalk is daar dinge in jou lewe waarmee jy al jare ongemaklik is, maar jy kom net nie sover om die keuse te maak en te kies om iets daaraan te doen nie. Ek glo God wil ons uitdaag om te luister na hierdie stem van ongemak en om te hoor wat dit vir ons wil sê. Ongemak kan een van die kragtigste stemme in ons lewe wees, juis omdat dit uit ‘n baie diep plek in onsself kom. Daardie plek waarvan die meeste van ons nie altyd bewus leef nie. Interne ongemak kan uit ‘n onontginde deel in myself kom wat my wil aanpor om te groei en te transformeer. Wanneer ons kies om die stem van ons ongemak te ignoreer mag dit selfs ‘n passiewe vorm van weerstand wees teen dit waarmee die Here in ons lewens sou wou besig wees.

Dalk het jou ongemak te doen met die manier hoe jy en jou lewensmaat met mekaar praat of teenoor mekaar optree. Miskien gaan jou ongemak oor ‘n lewensveranderende keuse wat jy moet maak, wat jy weet jy nie meer veel langer kan uitstel nie. Dalk het dit te doen met ‘n sekere vorm van gedrag wat jy oor jare aangeleer het wat ander mense goed pas, maar wat jou eie siel verraai. Miskien wil die stem van jou ongemak jou aanspreek oor die manier hoe jy jou nog altyd teenoor ander mense posisioneer het en word jy uitgedaag om minder suinig te wees met jouself. Dalk het die ongemak daarmee te doen dat jy moet leer om vir jouself op te staan of om duideliker grense in jou lewe daar te stel. Miskien wil ongemak jou laat besef dat jy jou oor jare in ‘n web van jou eie onwaarhede vasgespin het en dat jy nou genooi word om te vra wat werklik aan die gebeur is sodat jy vry van hierdie onwaarhede kan begin leef.


Daar is nog duisende ander voorbeelde. Hoe dit ook al sy, wanneer ek bewus raak van die stem van ongemak en nie daarna luister en toelaat dat God my op die grens van ongemak ontmoet nie, is daar ‘n goeie kans dat ek ‘n geleentheid vir groei kan mis. ‘n Mens mis ‘n buitengewone geleentheid as jy die stem van ongemak ignoreer, want saam met ongemak kom daar dikwels die potensiaal vir nuwe lewe. Ongemak is meermale die boodskapper dat die tyd ryp is vir ‘n volgende fase. ‘n Wyse vrou het eenmaal gesê jy kom soms agter dat dinge in jou lewe ryp word soos  die lieflikste vrugte aan ‘n boom. As jy nie die vrugte pluk wanneer hulle ryp is nie, verrot hulle aan die boom en het jy die kans vir groei gemis, al was dit ook hoe ongemaklik.

Ek daag jou uit: kom ons raak meer bewus van die stem van ongemak en laat toe dat God dit as die stukrag vir groei in ons lewens gebruik.

'n Klein asem met 'n groot droom




Om een van ‘n klein groep mense te wees wat een realiteit raaksien, terwyl die groter massa iets totaal anders sien, is glad nie eenvoudig nie.

In die Bybel vind ons die verhaal van Josua en Kaleb in Numeri 13, waar Moses ‘n groep verkenners Kanaän toe stuur om te gaan kyk waarmee hulle moet rekening hou as hulle die nuwe land sou wou inneem. Daar word in die verhaal genoem dat hulle almal leiers is onder die volk. Stel jou voor hoe vertrek die groep op hulle ekspedisie en hoe hulle waarskynlik binne die eerste dae baie beïndruk is met wat hulle sien. Ons hoor dit later in hulle verslag as hulle vertel van die land van melk en heuning en as hulle voorbeelde van die reuse vrugte en produkte van die land na Moses terugbring.

Maar dit wat hulle gesien het was nie net goed nie. Die mense van Kanaän het hulle oorweldig en hulle het binnekort besef dat dit nie so eenvoudig gaan wees om hierdie land in te neem nie. Hulle moed het hulle begewe en hulle kon glad nie sien dat hulle hond haar af sal maak nie, maar dan lees mens die stem van een van hulle met die naam Kaleb, wat hom nie laat meesleur deur die stem van die meerderheid nie, maar kies om doelbewus ‘n ander stem te laat hoor.

So beskryf in Numeri 13 die gebeure:
27 Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.
28 Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”
30 Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” 31 Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

Waarom kon Kaleb ‘n ander stem laat hoor as die res? Waarskynlik het hy verder gekyk as die tasbare bewyse wat hy voor hom gesien het. Hy het heel moontlik God se groter prentjie gesien wat van ‘n nuwe werklikheid gepraat het. Hy het dalk besef dat God se algebra anders werk as ons mense s’n en dat God paaie kan maak daar waar ons as mense geen uitkoms sien nie.

As God se kinders in hierdie wêreld bevind ons ons dikwels in situasies en kontekste waar ons ‘n ander stem moet laat hoor as die mense om ons. En dit geld letterlik alle kontekste waar ons ons moontlik bevind. In ons huise, by die werk, tussen ons vriende, in die kerk, in ons familie en letterlik in elke ander situasie waar ons kom. Selfs in die wêreld van ons eie gedagtes.

Nou wonder ek hoe dikwels is ek maar deel van die heersende opinie, die hoofstroom oortuiging, en hoe dikwels laat hoor ek ‘n ander stem, juis omdat ek anders droom en daarom anders sien? Kan ek in myself die ruimte vind om te besef dat ek ‘n klein asem met ‘n groot droom kan wees, veral wanneer daardie droom nie uit myself uit kom nie, maar iets van God se groter realiteit verteenwoordig.

Will Durant het eenmaal gesê die doel is nie om te probeer om iets te doen wat niemand anders nog ooit gedoen het nie. Die doel is om iets te doen wat enigeen kan doen, maar wat die meeste mense nie sal doen nie.  Of soos Mary Frances Berry dit gestel het: The time when you need to do something is when no one else is willing to do it, when people are saying it can’t be done.

God het mense nodig (so leer Joël ons) wat soos Hy gesigte kan sien en drome kan droom en anders kan kyk na realiteit, veral as min ander kans sien.