Thursday, September 18, 2014

Die Mineraloog in die Grot





(Die derde beeld op die visuele reis saam met Carl Spitzweg.)

Met die eerste oogopslag is hierdie nie dadelik ‘n inspirerende skildery nie: ‘n man in die bek van ‘n grot.
Dis eers as jy die titel lees dat die skildery nuwe betekenis kry: Die Mineraloog in die Grot.
Die mineraloog is ‘n wetenskaplike, met ‘n fyn oog, op soek naspesifieke kristalle, spesifieke klippe. Wanneer hy met sy beitel al dieper die grot inloop raak hy mateloos opgewonde oor die onontginde rykdom om hom. Hy kan nie wag om dit wat hy ontdek het, te gaan wys nie. Die meeste ander mense wat daar sou inloop sou doodgewoon nie weet waarna hulle kyk nie, maar hy weet...

Dis dieselfde met God. Die diep, donker spelonke van die binnewêreld is dalk vir óns skrikwekkend, selfs onooglik of oninteressant, maar nie vir God nie. God kyk met ‘n kennersoog. Hy weet presies wat om raak te sien. Hy weet al te goed dat daar onvoorstelbare skatte tussen
die donker, onontginde rotse skuil.
 

Die narratiewe terapeut, David White, sê op ‘n stadium dat ons mense gewoonlik soos chirurge met ander en onsself omgaan en soek na die kwaadaardige tumors wat ons dan redelik geweldadig kan uitsny. Soms is ‘n goeie “operasie” onafwendbaar, maar meestal word ons waarskynlik eerder genooi om soos delwers te wees wat tydsaam met ‘n sif in ‘n stroom tussen baie klippies sit en delf vir die goud in onsself en ander.

Of om soos ‘n mineraloog in ‘n grot, soos God, met ‘n beiteltjie en ‘n geoefende oog te soek na die kosbaarhede in ons eie en ander se binnewêreld. So word die pad elke dag ‘n ontdekkingstog, ten spyte van ons broosheid. Dan kan ons met deernis ander en ons eie vreemdhede, geite en giere aanskou, omdat ons weet dat daar binne iets kosbaars lê. Of soos 2 Korinthiërs 4:7 sê:

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.








Wednesday, September 17, 2014

Einde van die Karnaval



Ons kom nou by deel twee van die visuele reis saam met die Duitse skilder, Carl Spitzweg. Die skildery word geken aan twee titels: Einde van die Karnaval of As-Woensdag.

As kind het ek baie die volgende woorde by my Ouma gehoor: “Jy’s weer lekker uit jou kassie vandag!” en “Hmmm-mm! Van lekker lag kom lekker huil.”
 
Soos ek ouer geword het, het dit my al meer gepla, want dit het vir my gevoel asof ek geïnhibeer word
en nie mag wees wie ek wil wees nie. Soveel so dat ek later van tyd baie bewus was van my gedrag tussen die grootmense en mooi stil en stemmig geword het – soos dit ordentlike mense betaam!

Noudat ek my eie kinders het geniet ek dit vreeslik om te sien hoe mal en laf hulle kan wees en hoe hulle  lawwigheid en gejil en gil dikwels tog in trane eindig, want dis mos maar hoe die lewe werk. Hoe anders leer ons oor die lewe?

In hierdie skildery sien ons die nar, na die karnaval, eensaam, alleen, gestroop van sy grappe, met die  skaduwee van die tronksel se tralies teen die muur. Stel jou voor hoe het hierdie dag vir hom begin.

Hoe hy sy kostuum aantrek, by die skare aansluit, dans op maat van die musiek in die strate, en homself  uiteindelik so oorgee aan die genot van die oomblik dat hy heeltemal oorboord gaan, homself verloor  en iets aanvang wat hom die woede van die gesag  op die hals haal. En hier sit hy nou…
 
Ek en jy is dikwels hierdie nar. Ons kan so opgaan in ons eie dinge, die drama van ons lewe, die verwikkeldheid van ons verhoudings, die sekerheid van ons standpunte en ons eiegerigtige baldadigheid. En dan skielik word ons teruggeruk na die realiteit met die vraag: Wat is regtig hier aan die gebeur? Wat is my aandeel in die situasie? Wat het ek gedoen om die storm te veroorsaak?
Die enigste verskil tussen die nar en ons is dat ek nie alleen sit en wag vir die koue nag agter tralies nie. God sit by my en help my om ten spyte van my bravade van vroeër, ten spyte van my skeefgetrekte eiegeregtigheid, met my gesmeerde grimering, skewe hoed en verkreukelde narpak terug te stap huis toe, in ‘n warm bad en bed te klim, en toegevou te word in God se sagte kombers van tweede kanse. Waar sou ek wees sonder God se eindelose kanse?

Thursday, September 4, 2014

Die Portretskilder



Vir die volgende weke nooi ek julle saam op ‘n visuele reis waar ons by sommige van die meer prominente werke van die Duitse skilder Carl Spitzweg (5 Februarie 1808 – 23 September 1885) gaan stilstaan. Spitzweg word beskou as een van die mees prominente kunstenaars in die Biedermeier era (‘n era na die Napolitaanse oorlog in sentraal Europa, waar kunste meer toeganklik vir die groter
wordende opkomende middelklas geword het). Spitzweg het daarop gefokus om momente in die lewe van gewone mense vas te vang. Waneer mens sy werke bestudeer kom jy agter dat sy werk diep simbolies interpreteerbaar is en baie handig kan wees in ons refleksie oor ‘n dieper pad met God.



In die eerste skildery, getiteld Die Portretskilder, sien ons drie karakters. Die edelman met sy deftige klere, die skilder aan die werk en die dienskneg wat toekyk. Ek vermoed daar is ‘n sterk moontlikheid dat hierdie skildery in terme van die Ware Self/Valse Self geïnterpreteer kan word. Kom ons verbeel ons:

Die edelman sit gereed, opgetof in sy fynste uitrusting, sodat die skilder ‘n beeld van hom kan vaslê wat hy graag die wêreld wil instuur. Die edelman se hoop is dat die skilder hom so goed as moontlik sal laat vertoon. 

Terwyl die skilder aan die werk is kom hy dalk agter dat die edelman nie heeltemal is wat hy voorgee om te wees nie. Hy kom agter dat die edelman maar ‘n gewone mens is wat diep onseker is oor homself en wat wil seker maak dat hy so goed as moontlik vertoon. Dis die skilder se taak om dit ten alles koste reg te kry – dis waarvoor hy betaal word. Hy moet onverwyld werk en daarop fokus om seker te maak dat die edelman tevrede sal wees met die eindresultaat en dat die edelman eintlik beter vertoon as wat hy werklik daar uitsien – dalk effens maerder, effens mooier, effens deftiger, meer suksesvol...

En dan is daar die dienskneg. Op die oog af vervul hy nie veel van ‘n funksie nie. Hy staan net en kyk. Hy sien die hele prentjie. Hy sien die edelman – wat hard probeer om sy beste voetjie voor te sit, maar weet ook presies wie die man werklik is. Hy sien die skilder, wat intensioneel en tydsaam ‘n beeld skep van die persoon wat voor hom sit. Die beeld wat hy skep is nie ‘n leuen nie, maar dis ook nie heeltemal die waarheid nie. Laastens sien die dienskneg ook die skildery – die beeld wat deur die skilder daargestel word om die edelman so goed as moontlik te laat vertoon.

Dit laat my dink: wie sou elkeen van hierdie karakters in jou binnewêreld verteenwoordig? Dalk is die edelman jou ego, die skilder jou valse self en die dienskneg die objektiewe waarnemer. 

Ek vermoed God is die Helder Daglig wat die hele vertrek verlig en wat aan al drie die partye helderheid wil gee. Die vraag is nou: sal ek toelaat dat die Helder Daglig so val dat dit my wys hoe dinge werklik is of kies ek om eerder te werk met die persepsies en idees waaraan ek oor jare gebou het?

Thursday, August 28, 2014

Wat die hart roer


Een ding wat ons almal in gemeen het is ons emosies. Dis onder andere ons emosies wat van ons mense maak. Sonder emosies sal ons robotte wees. Dis redelik voor die hand liggend dat God ons gemaak het om emosies te hê, maar watter funksie sou emosies in ons dieper pad met God speel? Emosies is die seismograwe wat die trillings van ons binnewêreld optel. Daarom moet ons leer om baie mooi na ons emosies te luister.

Emosies kan een van ons grootste vyande wees. Baie van ons word so deur ons emosies op loop geneem en oorheers dat dit ons totale funksionering bepaal. Ons word so maklik kwaad, en word so maklik omvergegooi. Net een klein dingetjie gebeur, of iemand sê net een enkele sin, en dit ontlont ‘n vloedgolf van emosies.
Vir sommige van ons is ons emosies soos ‘n trop wilde perde wat onbeheersd die vlakte injaag, en dan is dit baie moeilik om hulle weer terug te bring. Dikwels besef ons dit nie, maar ons word ons emosies. 

Die skrywer Oscar Wilde het op ‘n stadium oor sy emosies gesê: “I don't want to be at the mercy of my emotions. I want to use them, to enjoy them, and to dominate them.” Hartseer genoeg was hy juis bekend vir sy emosionele onstabiliteit en komplekse verhoudings wat daaruit voortgevloei het.
Dit laat my dink aan die woorde van Jakobus 1:6  :(so persoon is) soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.  Hierdie woorde is ‘n mooi beskrywing vir hoe baie van ons aan ons emosies uitgelewer is en nie eintlik weet wat om met hulle te maak nie.
Om te besef dat ek baie meer as my emosies is en om so bietjie op ‘n afstand te gaan staan as die emosie oor my rol is een van die belangrike vaardighede wat ons as God se kinders kan aanleer. 


Tog speel ons emosies ook ‘n baie belangrike rol en daarom is emosies bepaald ook ‘n gawe van God.
My emotiewe wêreld kan my oneindig baie leer. In plaas daarvan om bloot passief te ervaar hoe emosies my oorspoel, sou ek God kon toelaat om my emosies te gebruik om my te leer wat in my binnewêreld aangaan.
Daarvoor moet ek natuurlik al meer bewus word van my emosies en leer om aan hulle name te gee.
As ek voel hoe ‘n emosie in my roer, kan ek vir ‘n oomblik stil word, een treë terug gee en vra: Wat beleef ek nou? In God se hand word my emotiewe lewe ‘n kragtige hulpmiddel wat God sou kon gebruik om my te lei op ‘n dieper pad met Hom.

God gebruik ook my emosies om my hart te roer en my diep aan te raak: mooi musiek wat ‘n heilige plek in my oopsluit. ‘n Beeld of foto of film wat my daarheen neem. Iets onverwags in die natuur wat my op ‘n emotiewe vlak raak. Mooi woorde, iemand wat op ‘n sekere manier na my kyk, die aanraking van iemand na aan my. Dalk moet ons meer bewus raak van dit wat ons harte roer, want daarsonder sluit ons ons op ‘n emotiewe vlak af vir ‘n dieper ervaring van God.

In God se hand kan emosies sleutels wees tot ‘n merkwaardige realiteit waarvan ek dalk voorheen onbewus was. Of soos Helen Keller gesê het:“The best and most beautiful things in the world cannot be seen or even touched. They must be felt with the heart”.

Saturday, August 23, 2014

Onwaarskynlike Geskenke



Vir heelwat van ons is dit ontstellend om in onsself rond te krap en dinge oor onsself te ontdek wat voorheen aan ons onbekend was. Vir ander is dit weer bevrydend. Waarom is dit belangrik? Kom ons gee een belangrike treë terug en sien die groter prentjie.

Jesus was God se geskenk aan die wêreld. In Jesus se tyd op aarde het Hy ons kom wys wat vir God belangrik is. Hy het God kom leef hier op aarde. In Jesus was al die skatte van die Koninkryk opgesluit. Maar wat het van hierdie skatte geword? Na Sy hemelvaart het God die potensiaal van sy skatte eksponensieel kom vermenigvuldig deur aan elke gelowige die Gees van God te gee en deur die Gees God se skatte in ons kom ontsluit. Dis dalk wat Jesus bedoel het in Johannes 14:12  Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen...

Hierdie skatte is egter niks bonatuurlik nie. God het sy geskenke aan die wêreld op die mees onwaarskynlike plek kom plaas - toegedraai in die persoonlikhede van gewone mense. Tog leef die meeste mense totaal onbewus hiervan. Hulle besef nie wat hulle diep binne hulle dra nie. Om dit te werklik te sien en te besef is nogal ‘n moeilike proses omdat jy nie by diamante uitkom sonder om ook deur die klippe en modder te delf nie. 

Daar diep binne elke mens lê ongekende gawes wat God nie net aan ons gee nie, maar wat Hy veral deur ons aan die wêreld wil gee. Hier is natuurlik nie net tasbare en sigbare gawes ter sprake nie, maar veral ook die tipe dinge wat die Enneagram ons van bewus wil maak, die geskenke wat saam met ons persoonlikhede kom. 

Daar is een ding wat ek beter kan doen as enigiemand anders op aarde: ek kan myself wees, soos God dit bedoel het. Een van my belangrikste take sal wees om te leer hoe om hierdie geskenke aan te wend soos God dit oorspronklik beplan het. Ek, soos jy, word geroep om met my gewone, klein lewe, op my unieke manier God se geskenk aan die wêreld  te word.


Hieroor sê Shaine Claiborne: Not everyone responds in the same way, but we must respond. We must seek our vocation. We each have a different vocation, but the calling is the same: to love God and our neighbors with our whole lives, careers and gifts.

So wat is die geskenke wat jy in jou ronddra?
Verstaan jy dalk al meer wat Jesus bedoel het toe hy hierdie woorde gesê het: Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook (Johannes 20: 21) ? Sien jy kans om die skatte van die Koninkryk wat in jou verskuil lê uit te delf, te laat slyp en aan te wend? 

Thursday, August 14, 2014

'n Skitterende Diamant



Baie mense vra: Waar is God in die proses van die Enneagram? Wat maak die Enneagram anders as kwasi-sielkunde? Hoekom moet ons so krap en delf in onsself? Kan ons nie net fokus op die positiewe en daardie negatiewe dinge wat ons in elk geval nie van bewus is nie in vrede los nie?

Ek is diep oortuig dat God graag sou wou sien dat ons werklik insig in onsself ontwikkel. Baie Christene skram so van selfsinsig weg dat mens eintlik wonder of hulle bang is vir wat hulle daar gaan vind. Hulle sal dikwels sê dat hulle maar net die Here vertrou en alles aan die Here oorlaat, maar dis ongelukkig nie hoe dit werk nie. Gaan kyk mooi: daar bestaan nie ‘n mens op aarde wat ‘n diep pad van groei gestap het en nie deur die donker, onbekende, selfs skrikwekkende, vallei van die binnewêreld moes gaan nie. 

Dit is my binnewêreld, en daarmee saam my persoonlikheid, wat bepaal hoe ek optree en mense behandel; en dis my binnewêreld en persoonlikheid wat God se transformasie en nuutmaking nodig het. Daar’s nie ‘n ander manier nie. Sover dit my persoonlikheid aanbetref, gryp God nie magies met ‘n towerstaf in my lewe in nie. Hy neem my saam deur die donker, dikwels vreesaanjaende vallei, want daar’s maar een manier om anderkant uit te kom. Sonder diepgrondige selfkennis, refleksie oor ander se reaksie op my en waarneming van my gedrag, kom daar nie insig nie.

Die diepste doel van selfkennis is transformasie. Hoe kan jy deur die Here getransformeer word as jy nie weet wat dit is wat jy moet laat sterf nie? Hoe kan jy groei in die manier hoe jy ander mense hanteer as jy blind is en nie belangstel om uit te vind hoe jou manier van doen ander mense laat voel nie? Hoe kan kan jy jouself al meer raaksien voor God as jy nie bereid is om van jou kritiese gees of valse nederigheid of jou oordrewe fokus op sukses of jou selfbeheptheid of jou vrees vir mense of jou vermyding van konflik of jou manipulasie of jou traagheid om inisiatief te neem, bewus te word en toelaat dat God dit stelselmatig transformeer nie?

God wil graag die kloof tussen jou binnewêreld en buitewêreld oorbrug. Hoe beter ek myself begin ken, en hoe meer ek begin agterkom wat die dinge is wat ek nie wil sien nie, hoe meer gaan ek begin sien wat die effek is wat ek op ander mense het. Hoe beter ek myself ken, hoe vryer kan ek tussen ander leef omdat ek al meer weet wat my verkeerde knoppies druk en hoe meer kan ek myself in vryheid gee vir ander en vir die wêreld om my. Hoe beter ek myself ken, hoe deursigtiger gaan ek word en hoe naatloser gaan ek begin leef. 

As ek vir jou ‘n stukkie kerswas gee sal jy dit redelik maklik kan stukkend druk. ‘n Albaster sal bietjie moeiliker gaan. Die sal jy met ‘n hamer moet stukkend slaan. ‘n Stuk marmer gaan ‘n aansienlik groter uitdaging wees, maar met ‘n skerp beitel en hamer sal jy ‘n merk kan maak. Maar ‘n diamant is ‘n ander storie. As jy ‘n diamant wil vorm het jy uitsonderlike toerusting en vaardigheid in die hand van ‘n Vakman nodig.



Ons binnewêreld is soos die rowwe diamant. Daaroor moet ons nie naïef wees nie. As jy dapper genoeg is om die ingewikkelde en uitdagende instrument van kennis oor jouself in die hande van ‘n Vakman oor te gee sal jy gou agterkom dat jy tegelykertyd bewus raak van gawes wat diep verskuil lê en waarvan jy dalk voorheen onbewus is. Beide die skadu en die gawe (of die drif en die deug/vice or virtue) is nodig om die diamant in sy volle glorie te laat skitter.
Of soos iemand eenmaal gesê het:
Everybody wants to be a diamond, but very few are willing to get cut.