Sunday, September 20, 2015

Help ons om ons stront te stop



Die afgelope Donderdag het ek en ‘n vriendin by ‘n vriend gaan kuier wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly en reeds heeltemal bedlêend is. Hy kon nog praat en sluk, maar ook dit is net ‘n kwessie van tyd. Ons het hom lanklaas gesien - ‘n jaar gelede net voor die siekte gediagnoseer is. Toe ons instap was hy so geweldig bly om ons te sien. Sy hele gesig het gestraal. Eintlik het alles aan hom gestraal. Natuurlik nie oor ons nie, maar oor wat diep binne hom aan die gebeur is. 

Soos ek vermoed het, het ons nie eintlik gegaan om vir hom iets te beteken nie. Inteendeel. In die relatief lang tyd wat ons by hom gekuier het, het hy onophoudelik gepraat, sag, maar duidelik, dringend en diep. Hy was ook dikwels baie emosioneel, want om te lê en wag om te sterf is nie maklik nie. Ons was uit die aard van die saak so emosioneel saam met hom dat die trane later onkeerbaar teen ons nekke afgeloop het.

Hy het met ons oor so baie dinge gepraat. Oor sy liefde vir Jesus en sy vrou en hoeveel rousmart hy het om van haar afskeid te neem, maar oor hoe hy sien hoe Jesus hom roep. Hy het gepraat oor hoe hy eintlik maar net ‘n klein seuntjie met ‘n paar broodjies en vissies was en hoe hy dit vir Jesus probeer gee het, en Jesus wonder bo wonder daarvan ‘n maaltyd vir baie mense gemaak het. Hy het vertel hoe hy sien hoe die sirkel van sy lewe besig is om voltooi te word en hoe hy kan ervaar dat hy besig is om nader te beweeg aan die Bron van sy ontstaan. Hy het vertel hoe bang en onseker hy is oor die oorgang wat voorlê en hoe hy ons sal inwag as hy die oorgang gemaak het. Hy het gesê dat niks eintlik meer saakmaak nie en dat hy letterlik van alles gestroop is, behalwe van Jesus en dat sy liefde vir God nou al is wat hy oor het. Hy het nog oor baie ander dinge gepraat en vir ‘n uur en twintig minute het ons geluister na die grootste waarheid en wysheid wat ek in my hele lewe nog ooit aangehoor het.

Vroeër die oggend, op pad in die kar, nog voor ons kon weet hoe diep hy ons gaan raak, het ons gepraat oor hoe moeilik dit is om God se pad te stap, veral in ons tyd. Daar is so baie opinies, soveel oortuigings, en baie voel dat hy of sy reg is en die volle waarheid beet het. In die geloofswêreld is daar deesdae soveel nuanses, soveel skakerings van grys, dat dit onmoontlik is om die skakerings van mekaar te onderskei.
 
Selfs die terminologie wat ons gebruik stem nie ooreen nie. Wat ek met verlossing of God se liefde of dualisme of die kontemplatiewe of die belang van Jesus bedoel is nie vanselfsprekend met presies dieselfde inhoud gevul as hoe jy dit verstaan nie. Dit opsigself hoef nie so krisis te wees nie.
Die krisis is dat ons dink ons weet, en onsself die reg toeëein om die ander persoon wat nie op dieselfde manier as ek dink nie, te beoordeel en te veroordeel en na die kantlyn te rangeer omdat hy of sy nie met my saamstem nie.
 
Ek dink nie daar was al ooit ‘n tyd in die geskeidenis wat daar soveel skakerings van Christene was soos nou nie. Die van ons wat vanuit ‘n bepaalde perspektief daarna kyk raak geweldig ongemaklik daaroor en wil hê dat almal dieselfde moet dink, en die van ons wat uit ‘n ander perspektief daarna kyk voel weer heel gemaklik met die variasie en kan glad nie verstaan hoekom elkeen nie maar net sy of haar pad kan vind nie, en kan glad nie die ander kant duld nie.
En so verwyt en kritiseer en veroordeel ons mekaar heen en weer en verteer mekaar op ‘n daaglikse basis.  

En dan op ‘n dag sit jy langs die bed van ‘n sterwende vriend wat ‘n leeftyd van ‘n verhouding met God en ‘n pad saam met mense agter hom het. In die tydjie by hom was die realiteit nie wit of swart of baie skakerings van grys nie, maar helder lig en reg voor ons was Jesus, soos ‘n Bloedrooi Tou, van wie ek al meer besef ek nog bitter min verstaan.

Ek stap daaruit, terug na die geskakeerde grys realiteit waarin ek elke dag leef en waarin mense, God se mense, volgelinge van Jesus, mekaar verskeur omdat hulle nie die spanning van mekaar se radikaal verskillende maniere van dink oor God kan hanteer nie. Ek hou vas aan die Bloedrooi Tou en ek sê vir myself: And so we men of Indostan, disputed loud and long. Each in his own opinion, exceeding stiff and strong. Though each was partly in the right and all were in the wrong.


Soms het jy ‘n sterwende vriend nodig om jou te help om te gaan stilstaan en te sien. En ek kerm-pleit met ‘n pyn in my hart:
Ag, Here Jesus Christus, help ons om ons stront te stop en regtig te verstaan!

Naskrif - Vrydag: Neels is vanoggend oorlede, net minder as 24 uur na ons gister by hom ingestap het.

Die Man op die Olifant



In die afgelope week gesels ek met ‘n jong man wat vertel van ‘n kursus waar hy was waar die fasiliteerder gesê het die teenwoordigheid van ons onderbewussyn (en daarmee saam ons hele binnewêreld) werk soos ‘n man op ‘n olifant. Ons dink óns bestuur die olifant (ons onderbewussyn of diepste binnekant), maar as ons nie mooi kyk wat ons dink nie, dan neem die olifant ons net waar hy wil, en is die olifant eintlik in beheer.

Ek kon nie help om dadelik te dink aan ‘n ervaring wat ek Jaco eendag in Indië gehad het nie. Dit was die eerste keer wat ek saam met hom in Indië was en een van my groot drome was om van daardie pragtige beskilderde olifante te sien. Toe ons met die tuk-tuk teen ‘n steil heuwel uitry kom daar toe skielik so einste olifant van voor af gestap. Behalwe dat ek amper die tuk-tuk laat omval het van opwinding, en Jaco heel rustig gesê het dat ek nog baie gaan sien, was ek totaal verstom. Wat my die heel meeste verbaas het was dat daar bo-op die olifant ‘n man in ‘n mandjie onder ‘n sambreel gelê en slaap het. Die olifant het die pad wat hy moes loop al so goed geken dat die man letterlik nie eers nodig gehad het om te dink waarheen om te gaan nie.

Ons denkprosesse is regtig baie belangrik en ek is dikwels verbaas oor hoe naïef gelowiges soms hieroor kan wees. Ons moenie die fout maak om te dink dat as ons God se kinders is, ons sommer so vanself die regte dinge gaan dink of sommer net spontaan met God se soort gedagtes gaan besig wees nie. Dis ‘n groot illusie. Of ons dit wil weet of nie, ons denke word in die eerste plek deur ons persoonstruktuur bepaal. Of soos iemand eenmaal gesê het: My pattern sticks in my limbs, in my bones, it’s in my blood, it’s my skin, my breath, my way of thinking,.... My ego of sondige natuur sal hierdie patroon altyd wil inspan om my te laat dink dat ek in beheer is van my denkprosesse, soos die man op die olifant, terwyl my diepste patrone en manier van dink mý eintlik aan die neus rondlei.

Ons elkeen se “default setting” is maar altyd weer die ego. Dis as ek hiervan bewus word dat God se Gees my al meer daarop kan wys en ek met Sy hulp al meer kan kies om my aan Jesus se kant te skaar en vanuit die Gees van Christus in my, kan lewe. Soos God my meer bewus help wees, word God se manier mettertyd my basiese vertrekpunt of “default setting”.

Spreuke 4:23  stel dit mooi:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (1983 vertaling) of
Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed (Die Boodskap) of
Keep vigilant watch over your heart; that’s where life starts. (The Message)
Om bewus te word van my diepste patrone en om agter te kom hoe die olifant in my vesels my eintlik beheer,
is waarskynlik een van die groot prosesse waarmee God deur sy Gees in my en jou kan besig wees.
So, hou daai olifant dop, want hy ken die pad beter as wat jy dink.

Laat gaan, aanvaar en pas aan



Scott Peck begin sy boek, The Road Less Travelled met hierdie woorde: Life is difficult. Baie mense sal met hom saamstem, maar dit hang natuurlik ook van jou persoonlikheid, lewensfase en lewensituasie af of jy jou met sy stelling kan assosieer al dan nie. Ons kan bepaald nie daarvan wegkom dat daar elke nou en dan iets uitdagends in die lewe opduik nie.
So stap ek ‘n rukkie gelede in die apteek in en kry iemand wat ek ken voor die rak met aanvullings vir artritis. Sy is skoon moedeloos toe sy vertel hoe alles nie meer wil werk soos sy wil hê dit moet nie, en boonop, sê sy, is sy nog nie eers oud nie! Toe sê sy hierdie wyse woorde: “My pa het altyd gesê die lewe gaan oor laat gaan en aanvaar.” Ons praat nog so sin of twee voor ek verder stap, maar vir die res van die week wil hierdie woorde my net nie los nie: laat gaan en aanvaar…
Dink net daaroor: as jy ‘n baba is, is daar ‘n laaste keer wat jy aan jou mamma drink of jou fopspeen suig. As jy ‘n kind het is daar ‘n laaste keer wat jy jou kind optel omdat sy te swaar geword het. Daar kom ‘n dag wanneer jy die laaste keer sonder ‘n bril kon lees of wat jy ‘n laaste keer jou kar bestuur het of die laaste aand in jou eie huis geslaap het. En so sou elkeen van ons nog eindelose voorbeelde uit ons eie lewe kon noem.
My persoonlikheid is in besonder sleg daarmee om te laat gaan en dinge te aanvaar vir wat dit is. Ek beleef laat gaan altyd as verlies en aanvaar neem my dikwels jare. In daardie opsig moet ek maar altyd op die uitkyk wees vir Lot-se-vrou-sindroom, wat elke nou en dan by my wil kop uitsteek.
So kom ek toe ‘n paar dae later na die ontmoeting in die apteek by my oefengroep. Die spesifieke oggend is dit net ek en Victor, ‘n 83 jarige Engelssprekende man. Hy is altyd reg met ‘n grappie oor sy ouderdom en sê dat Vader Tyd die oggend hard aan sy deur klop. Ons gesels toe oor die wyse woorde van ‘n paar dae vantevore: om te laat gaan en aanvaar. Ek sien hy herkou die gedagte en sê toe: “Yes, that’s true. Let go, accept… and adjust…” Inderdaad wysheid: Miskien is dit nie die laat gaan en aanvaar waarmee ons mense die meeste sukkel nie, maar die aanpassing.
Prediker was reg toe hy gesê het dat daar ‘n tyd is vir alles onder die son. As ons as God se kinders, ongeag van ons persoonlikhede, kan leer om te laat gaan, te aanvaar én aan te pas, sal die lewe waarskynlik vir ons en die mense wat saam met ons leef makliker wees.

Heraklitus het al in 500 vC gesê dat die enigste konstante in die menslike lewe, verandering is. Of soos iemand eenmaal gesê het: Seasons change, and so do we… Ons lewens en onsself is veranderlik. Selfs ons verstaan van God bly nie dieselfde nie, daarom verstaan ons waarskynlik nie eers mooi wat Hebreërs 13:8 vir ons sê nie: “Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees.”
Dalk is dit een van die grootste paradoksale uitnodigings: om in God se stabiele hart tot rus te kom, terwyl ek te midde van konstante verandering laat gaan, aanvaar en aanpas.

Saturday, August 29, 2015

Wanneer God aan my hart raak



Mense vra dikwels vir my wat hulle kan doen om God te ervaar. Baie gelowiges wat ‘n diep pad met God stap sal soms amper geheimsinnig vir my sê dat hulle eintlik nog bitter min in hul lewe die bewustheid gehad het dat hulle God regtig beleef, en tog smag die meeste van ons op ‘n diep manier na God. Hoe kan dit wees dat die Bybel so vol daarvan is dat God na my soek en hoe kan die gelowiges in die Bybel so vol oortuiging van ervaring van God praat, maar ons beleef dit so moeilik?

Ek onthou ‘n baie lang tyd in my lewe waar ek beslis nie vir God ervaar het nie. Dit was my grootste wens, en tog het dit nooit gebeur nie. Nou, jare later, weet ek dat daardie tyd van geestelike droogte  - woestyntyd - goed was, want dit het my geleer dat my belewenis van God veel verder strek as my sintuiglike of emosionele ervaring van hom.
Hiermee sê ek nie dat sintuiglike of emosionele ervaring van God verkeerd of leeg is nie, maar ek vermoed tog dat ons sulke ervarings kunsmatig kan probeer aanwakker om onsself te laat voel dat ons God beleef, terwyl ons dalk meer verlief is op die idee van ‘n belewenis met God.
Party gelowiges praat so aanhoudend oor hulle ervaring van God se Gees en sê voortdurend hoe God met hulle praat, dat dit ongeloofwaardig word. Ek vra dan vir myself waarom dit my so pla? Die groot rede is dalk dat daar gemaak word asof God heeldag en aldag direk met jou praat en asof daar iets fout is met jou verhouding met God as dit nie gebeur nie. As ons na die grote Paulus kyk was sy ervarings van God se Gees allesbehalwe soetsappig, alledaags of terloops, maar uitsonderlik, raar en lewensveranderend. Dit was nooit iets wat hy geïniseer het nie, maar iets wat van God af gekom het. Werklike mistieke ervarings met God gebeur sonder twyfel, maar dit kan nie deur my eie pogings aangewakker word nie. Dis iets wat God se Gees in my werk. Mens kan dit nie met ‘n tegniek in ‘n kursus of boek leer nie.
Baie van ons het mistieke ervarings, maar omdat dit hoogs persoonlik, intiem en onverklaarbaar is, praat mens nie eintlik daaroor nie, of as jy daaroor praat, praat jy met baie min mense wat dan wel iets daarvan sal verstaan. Dis iets wat tussen ‘n persoon en God gebeur. Trouens is daar van die skrywers in ons tyd wat sê dat mens nie eintlik oor hierdie tipe ervarings kan praat nie, juis omdat dit so diep en subjektief en misties is en beslis nie as normatief voorgehou moet word nie. Persoonlik is ek baie versigtig vir groepe wat mistieke ervarings as die norm verhef, maar terselfdertyd is die ervarings wat ek al op hierdie vlak met God se Gees gehad het so eg dat ek eenvoudig nie kan maak of dit nie gebeur het nie. Ek is versigtig vir groepe wat van oortuiging is dat daar bonatuurlike manifestasies van God se Gees MOET plaasvind, anders is God se Gees nie in jou nie.
In die laaste tyd begin ek agterkom dat een manier om myself oop te stel vir die ervaring van God in my eie lewe en die belewenis van God saam met ander, my eie kwesbaarheid is. Die oomblik as ek bereid is om my skanse te laat sak, my voorgee van in beheer wees te laat vaar, en eerlik oor die areas van kwesbaarheid in my lewe te wees, gebeur daar diep binne my iets heiligs wat my van my weerloosheid en broosheid bewus maak. Dit gebeur dan amper sonder uitsondering dat as ek so rukkie hiermee sit ek voel hoe daar iets van God in my binnewêreld roer.
Ek begin al meer om God te ervaar wanneer ek kwesbaar, broos en gestroop is. Dit wil klink asof dit ook is wat met ander mense gebeur. Nou begin ek wonder of die moontlikheid dat ek iets van God kon beleef, nie nog altyd daar in die kwesbaarheid geskuil het nie, maar dat my hart nog altyd te hard en my ego te trots was om myself toe te laat om my skanse te laat sak en my kwesbaarheid en broosheid in die gesig te staar. Dis as ek op my eie en saam met ander kwesbaar en broos is dat ek bewus word dat God aan my hart raak. Miskien moet jy dit toets en kyk of jy ook, soos ek, agterkom dat dit een van die heilige plekke is waar jy iets van God kan ervaar.


Thursday, August 20, 2015

Om God te ontmoet





Sondagnag word ek wakker met ‘n nek so styf soos ‘n stok en my kop in ‘n baie vreemde posisie tussen die bedkassie en die matras. Nodeloos om te sê het die twee Panado’s wat ek gedrink het nie gehelp nie en het ek die week in relatiewe ongemak aangepak.

Oortuig dat die stywe nek gou sal wyk, drink ek Maandagaand die twee spierverslappers wat my so hoog soos ‘n toring laat voel. Maar, o wee! Dinsdagoggend 3:30 is ek wakker en kan letterlik nie roer nie. Die geringste beweging is loutere hel. Ek drink al die regte medisyne en is diep bewus dat hierdie stywe nek my aandag trek. Die wilde woeste drie weke wat soos ‘n trop wilde perde deur my lewe gejaag het maal in my gedagtes.

Ek loop die hele Dinsdag soos ‘n trapsuutjies en Woensdagoggend besef ek hier sal nou iets drasties moet gebeur. Vroeg-vroeg sms ek my fisio vriend en hy laat weet ek moet kom. Halfpad deur die oggend kom ek by sy praktyk aan en weet hierdie goue hande gaan my beslis help. Na allerhande maneuvers en skrikwekkende lang naalde in die brose nekspiertjies kan ek sowaar my kop draai. Ek klim baie verlig in die kar, maar toe ek daar wegtrek word ek skielik oorweldig deur ‘n vloedgolf van emosies.

Waar sou dit vandaan kom? Is dit die verligting dat ek weer my kop kan draai of dalk iets anders?
En toe besef ek – die emosies het niks te doen met my nek nie, maar met my hart.

Terwyl ek daar by hom was, was ek so geweldig broos en gestroop van enige voorgee en pretensie, so kwesbaar in my ongemak dat ek hoegenaamd geen skanse gehad het nie.
Juis darem was ek ontvanklik vir sy omgee, deernis, teerheid, sy nabyheid en oorweldigende sorgsaamheid. Hy het met soveel sagmoedigheid en egtheid met my gewerk, dat dit wat ek daar beleef het vir my ontsettend heilig was.

Daar in die laatoggend verkeer by die rooi robot met die son wat warm op my stywe, effens beweeglike nek skyn, besef ek dat ek vandag vir God gesien en gevoel het, in die hande van ‘n doodgewone mens, omdat ek gestroop genoeg was van my ego om ontvanklik te wees daarvoor.

Dalk is dit juis my en jou ego en verdedigingsmeganismes en skanse wat maak dat ons nie altyd ontvanklik is vir daardie liefde en deernis wat direk van God, na ons, deur ander kom nie. Die woorde van die eenvoudige Taize lied het op ‘n Woensdagoggend vir my nuwe betekenis gekry: Ubi caritas et amor Deus ibi est. Waar daar liefde is en deernis, daar is God.

Dis nou laataand,
alles is stil,
die pyn in my nek is grootliks weg en
terwyl ek voel hoe die slaap oor my toesak
brand daar heilige trane agter my ooglede,
want vandag het God my deur ‘n mens ontmoet.