Friday, May 8, 2015

The Holy Longing by Wolfgang von Goethe



because the mass man will mock it right away.
I praise what is truly alive,
what longs to be burned to death.
In the calm water of the love-nights,
where you were begotten, where you have begotten,
a strange feeling comes over you,
when you see the silent candle burning.
Now you are no longer caught in the obsession with darkness,
and a desire for higher love-making sweeps you upward.
Distance does not make you falter.
Now, arriving in magic, flying,
and finally, insane for the light,
you are the butterfly and you are gone.
And so long as you haven't experienced this: to die and so to grow,
you are only a troubled guest on the dark earth.

Thursday, May 7, 2015

Sonsondergang

Waarmee ek vir etlike weke
pynlik presies
met kwas en pigment
worstel
doen U heel terloops
in enkele minute

Tussen net-nou en nou-nou



Die tegnologie van slimfone het ons samelewing nogal soos ‘n golf getref. Daar is ‘n redelike goeie kans dat as jy hier lees, jy wel ‘n slimfoon het. Om die waarheid te sê lees jy dalk hierdie woorde op jou slimfoon. Dit is iets wat tien jaar gelede totaal ondenkbaar was. 

Ons selfone het vir baie van ons soos ‘n tipe lewensaar geword, want daar word ons dagboeke gestoor, ons doen al ons sosiale media van daar af, dis ons kamera en jare se foto’s word saam met ons rondgedra en die meeste van ons musiek word met ons slimfone gekoop, daarop gestoor en daarop geluister. Ons foto-redigeringsprogramme is daarop gelaai, ons kan ons e-pos daarvandaan ontvang en ons kan selfs ons banksake van daar bedryf. Dis ‘n wekker, ‘n tydhouer, ‘n sakrekenaar, herinner ons aan take om te doen en aan verjaarsdae, sê vir ons hoe die weer gaan wees, daar is ‘n GPS op wat ons neem presies waarheen ons wil gaan en baie van ons lees ons Bybel daarvandaan. Daar is ook nog eindelose apps met enigiets van wanneer en hoe laat die volgende fliek wys, hoe laat die volgende Gautrein vertrek en arriveer, en nog eindelose ander voorbeelde van speletjies tot oefenprogramme tot resepjoernale.

Inderdaad nogal oorweldigend en absoluut merkwaardig!
Geen wonder dat die werklike gevaar bestaan dat ons ‘n generasie word wat totaal afhanklik en verslaaf aan ons fone is nie. Dink net hoe angstig raak sommige van ons as ons ons fone iewers neergesit het en dit nie kan vind nie. 



‘n Paar jaar gelede het ek ook vir die eerste keer ‘n slimfoon gekry. Ek was sommer gou baie beïndruk met wat die masjientjie alles kon doen. Op ‘n dag kom ek toe agter dat hierdie tegnologiese
wonder van my skielik vreeslik stadig werk, die battery wil net nie hou nie en boonop word dit warm (nie ‘n goeie teken nie!).
Ek vra so effens verbouereerd vir my man, wat toe al die ding mooi onder die knie het, wat fout kan wees met die foon. Sy eerste vraag, sonder om eers op te kyk of te vra om die genoemde foontjie te sien, was : “Hoeveel apps het jy oop?”
“Hoe bedoel jy?”, wou ek weet. So verduidelik hy toe vir my dat as jy nie elke nou en dan die apps toemaak nie, dan bly hulle in die agtergrond van die foon se verwerkingsisteem oop.
Toe hy my wys was ek totaal verstom om te sien hoeveel apps toe wel oop is… Een-en-twintig! Stel jou dit voor. Een-en-twintig apps, wat oop lê en bietjie vir bietjie aandag vra van my foon se batterylewe en werksvermoë. Van toe af maak ek maar elke nou en dan al die apps toe, veral as iets hang wat nie moet hang nie.

Ek dink dat hierdie beeld ‘n kragtige metafoor vir my eie funksionering is. Ek het soveel verskillende “apps” in my lewe oop dat ek regtig sukkel om te fokus. Daar is soveel dinge wat my aandag vra en soveel plekke waar ek op ‘n daaglikse basis moet wees en aktiwiteite wat ek moet doen en mense wat ek moet sien en tevrede stel, dat ek binnekort agterkom my battery raak baie vinniger leeg as gewoonlik en ek sukkel om deur my dagtaak te kom. Dalk voel jy ook dikwels so.

Die vraag is of die Here ons nie juis in hierdie tyd waarin ons leef kom leer om minder te probeer om alles vir almal te wees nie, om minder te poog om soveel as moontlik dinge in ‘n dag in te pak en alles gelyk te probeer doen nie, maar om op ‘n meer gefokusde manier te begin leef. Die meeste van ons sukkel eintlik om soveel dinge gelyk te doen. Ek weet nie van jou nie, maar ek is nie regtig so goed met multi-task soos ek sê nie, want alhoewel ek dit op die oog af regkry om so klomp goed gelyk te doen, kry ek dit eintlik glad nie reg om te fokus of om bewustelik te leef nie. Ek kry dit nie reg om in die hier en nou te leef nie, want daar is te veel dinge van net-nou wat my vashou en te veel dinge van nou-nou wat my trek.

Dalk moet ons leer om elke nou en dan net iewers te gaan sit, diep asem te haal en al die “apps” toe te maak, sodat ons weer bewustelik teenwoordig kan kom en oop raak vir God se stem in ons lewens op ‘n gefokusde manier.

Tuesday, May 5, 2015

as selfs Nouwen dan bely
hoe hy tot sy einde
aan homself sou ly
wat bly dan oor vir my?

Monday, May 4, 2015

Kort voor dagbreek
het ek begin gly
teen die donker, glibberige hang
na my duisternis.
Vang my
in die ragfyn, skitterende web
van U lewe.

Sunday, May 3, 2015

Oor Groei, Grense en Gemaksones



Daar is hierdie aanhaling van Neal Donald Walsch wat sê: “Life begins at the end of your comfort zone.” Vir my is een van my grense, baie naby aan die einde van my gemaksone, turbulensie.
So ruk gelede is ek in ‘n vliegtuig op pad van die Kaap af. Alles gaan goed, tot ons net duskant Johannesburg kom. Skielik word die vliegtuig toegevou in ‘n donker, digte wolk en sonder enige waarskwuwing vlieg ons in die verskriklikste storm in, met die mees angswekkende turbulensie. Dit voel asof die vliegtuig soos ‘n speelding rondgeruk word. Daardie middag het ek regtig vir ‘n paar minute gedink ons gaan dood en ek onthou hoe ek by myself gebid het: “Ag Here, asseblief tog net nie so nie.” (Later het ‘n vriend wel verduidelik hoe onwaarskynlik dit is dat turbulensie jou einde sal beteken…)
‘n Ruk later bevind ek my weer in ‘n vliegtuig. Die keer baie hoër in die lug as die vorige keer, iewers tussen Arabië en Europa. Die vliegtuig is donker. Ek probeer slaap so goed ek kan. Skielik gaan die sitplekgordel-liggie aan en die klokkie wat sê dat hier ‘n aankondiging oppad is lui. Die vlieënier sê: “Cabin crew, please take your seats for severe turbulence ahead.” Skielik is ek wawyd wakker, maar hou my oë styf toe en ek bid: “Ag Here, net nie weer nie.” Enkele minute later begin die reuse vliegtuig heen en weer skud en my hart klop weer in my keel. Iewers in hierdie ewigheid, wat waarskynlik nie langer as ‘n paar minute was nie, maak ek my oë oop. Skuins voor my sit die lugwaardin. Sy kyk vir my. Ewe koel en kalm, met gekruisde bene en ‘n salige glimlag, knik sy haar kop – so asof sy wil sê: “Ek doen hierdie baie. Ons gaan OK wees.”

Of ons daarvan hou of nie, turbulensie, in watter vorm ook al, is ‘n onlosmaaklike deel van ons lewens. Elke dag in eindelose situasies word ons uit ons gemaksones geruk en dan het ek en jy die keuse of ons daarteen gaan weerstand bied (wat terloops niks gaan help nie) en of ons maar diep gaan asemhaal en fokus op God se groter realiteit binne die situasie. Daar is nie een situasie in die lewe wat nie deur die Here in ons lewe vir groei en transformasie aangewend kan word nie.

Dalk help dit as ons binne-in die turbulensie kan onthou dat die son skyn aan die ander kant van hierdie wolk, al voel dit nie nou so nie.
Die siklus van die lewe, van goeie tye en swaar tye, van maklike dae en uiters uitdagende dae is
eenvoudig deel van die lewe – of ons daarvan hou of nie.
Dalk moet ons leer om meer gereeld stil te word en diep asem te haal en God te vertrou as die Een aan die stuur van die vliegtuig en ongeag van die situasie, oorgee aan Sy groter prosesse in ons lewe.


Luister fyn



In haar navorsing oor kwesbaarheid sê Brené Brown dat daar nog nooit mense op aarde was wat so oorgewig is, so baie alhohol gebruik, aan soveel dinge verslaaf is en so swaar gemedikeer is soos ons geslag
nie. Volgens haar probeer ons baie hard om onsself deur hierdie dinge te verdoof teen die emosionele pyn wat ons as deel van die lewe ervaar.
 
Ek is bevrees sy is reg. Die vraag is natuurlik hoe het dit gebeur?Hierop is daar helaas nie ‘n eenduidige antwoord nie.

Een van die redes is dalk dat ons oor die laaste klompie dekades so half die stem van ons lywe as die vyand begin beskou het. Ons het ons lywe begin sien as iets wat ons terughou en maak dat ons nie onverstoord
kan voortsnel nie. As ek hoofpyn het of gespanne of angstig is of sukkel met my bloeddruk maak ek net so gou as moontlik ‘n plan om van die simptome ontslae te raak, sonder om te vra waar hierdie simptome vandaan kom en wat my liggaam daardeur aan my probeerkommunikeer. 

Ek wonder of God nie besig is om ons te nooi om met groot aandag en agting na ons liggame leer luister nie. Dalk moet ons ook begin besef dat die stem van my lyf nie my vyand is nie, maar een van die helderste ligte op my pad. 


Hoeveel keer probeer jou lyf nie met jou praat nie? Hoe dikwels sê jou lyf nie vir jou dat hy onder spanning verkeer of dat sy nie die druk wat jy op haar plaas kan hanteer nie?  Is daar dalk ‘n moontlikheid dat jy meer kan begin ag gee as jou lyf met jou praat en selfs besef dat God se Gees moontlik deur jou lyf met jou wil praat? Hierdie gedagte is nie vir die Bybel vreemd nie. In die Boodskap word die bekende 1 Korinthiërs 6:19 byvoorbeeld so vertaal: Het julle dan vergeet dat julle liggaam die blyplek van die Heilige Gees self is? Die Gees bly mos in julle; God self het die Gees vir julle gegee. Dit beteken dat julle nie julle eie baas is nie en dat julle nie maar met julle liggaam kan doen wat julle wil nie.

Natuurlik is dit so dat dat daar dikwels veel dieper emosionele en geestelike redes agter ons fisiologiese dilemmas skuil (lewensstylverwante siektes is nie verniet in ons soort samelewing die grootste oorsaak van voortydige sterftes nie), maar ook nie altyd nie. Soms word ek maar net siek, of val ek en breek my been of verstuit my enkel, of moet ek geopereer word, of saai my hormone chaos, of word ek met ‘n siektetoestand gediagnoseer, of moet ek een of ander vorm van chroniese medikasie neem. Ons lywe is broos en kwesbaar en kan nie vir ewig hou nie.
 
Selfs te midde van fisieke broosheid wil ons liggame nog steeds met ons praat en kan ek as God se kind altyd vra:
Wat is besig om hier te gebeur?
Waarheen sou God my hierdeur wou lei?
Waarvan maak die Here my bewus deur die broosheid van my lyf?
Dalk was jy nog nooit regtig daarvan bewus nie, maar luister fyn,
wat daar’s ‘n kans dat God met jou wil praat deur jou eie lyf.