Sunday, June 21, 2015

In die Winter






In die Winter is ek intens bewus van die vloeiende aard van seisoene en bring dit my telkens weer voor die realiteit van die seisoene in my eie lewe. Ook op my geloofspad is die seisoene ‘n werklikheid. Ongeag van ons ouderdom of lewensfase waai God se Gees deur die seisoene van die hart en die landskap van my siel om my weer en weer op nuwe plekke uit te bring.
Wanneer dit winter word in my nooi God my om myself te stroop van maskers en eerlik na my agendas te kyk. God nooi my ook om myself oop te stel vir dinge waarvoor ek vantevore dalk nog nooit oop was nie. Om bewus te raak waar in myself ek verstok geraak het en vasgeval het. Om agter te kom dat die grond waarin ek geplant staan armoedig begin word het en in voorbereiding van ‘n nuwe seisoen ernstig aandag kort.

Wintertyd is ook ‘n tyd om stiller te word en toe te laat dat daardie ontstuimige dele binne my tot rus kom. Dis ‘n tyd van oorgawe en vertroue dat ek weet dat God, ten spyte van my onvermoë om te sien wat wag, in die lang, koue, donker nagte besig is met ‘n ander proses waarin ek bitter min insig het. Dis ‘n tyd van wag, kyk, luister en nog wag. Dis ‘n tyd van vertrou dat donker nagte en koue dae wel op die regte tyd ‘n ander karakter sal aanneem en dat daar op die aangewese tyd ‘n nuwe seisoen sal aanbreek. Wintertyd roep my om God te leer ken as die Een wat alle seisoene in Hom saamdra.
Natuurlik is die versoeking daar om in hierdie tyd vas te val in neerslagtigheid en depressiwiteit, om te rasionaliseer of te ontken en selfs te blameer. Ek sou ook kon voorgee dat dinge anders is as wat dit is en toelaat dat bitterheid en isolasie die oorhand oor my kry. Maar God roep my juis om nie in myself te verdwaal nie, maar om die donkerste plekke in my vir God oop te stel sodat die Gees van Lewe wat destyds oor donker waters gesweef het ook oor my donker waters sal sweef.
Op Sondag, 21 Junie is dit die kortste dag en die langste nag van die winter in die suidelike halfrond, en dit is ook die draaipunt op pad na ‘n nuwe seisoen. Dit beteken nie dat die nuwe seisoen al aangebreek het nie, maar dit vra dat ek sal vertrou dat die nuwe seisoen vanself sal kom. Winter het nie die laaste sê oor waar ek my op my pad met God bevind nie. As ek God sal toelaat sal Hy self sy son oor die vasgevriesde plekke laat skyn en daardie bevrore plekke, waarmee ek al hoop opgegee, het ontdooi.

Of soos Adele Ahlberg Calhoun dit stel: The presence of God within us is loaded with thawing power.
Mag jy in hierdie winter diep bewus wees hiervan.

Tuesday, June 9, 2015

Lesse wat ek by Ebert geleer het




Ebert het vir 2 jaar en 8 maande teen kanker geveg en uiteindelik op 31 Mei die stryd verloor.

Hy het teologie studeer en was vir ‘n paar maande voor hy regtig siek geword het ‘n dominee.

Hy was nog nie 26 nie.

Ek het in die afgelope 2 jaar die volgende lesse by hom geleer:
           
      1. Hoe ons oor God dink is baie belangrik
Ebert het my geleer dat hoe ons oor God dink baie belangriker is as wat ons dink, want nie alleen bepaal die manier hoe ek oor God dink my hele funksionering nie, dit bepaal veral ook hoe ek in tye van swaarkry gaan reageer. In die tyd wat hy siek was het Ebert nooit kwaad geword vir God nie, want hy het nie geglo dat God die oorsaak van die kanker was nie. Op my vraag oor hoekom hy dink hy kanker gekry het, het hy gesê: Hierdie dinge gebeur maar. Vir hom was siekte en swaarkry doodgewoon deel van die lewe, en God was in dit alles heeltyd by hom.   
     
       2.Die aardse lewe is nie die enigste realiteit nie
Die meeste van ons as gelowiges sal sê dat ons op ‘n manier in die ewigheid glo, maar tog leef ons nie altyd so nie. Ons leef dikwels asof die aardse realiteit al is wat ons het – terwyl daar ‘n baie groter realiteit anderkant hierdie werklikheid lê. Dit sou wonderlik gewees het as Ebert gesond kon word. Daar was soveel mense wat vir hom gebid het. Tog was hy baie gereed om te gaan. Natuurlik was hy ook hartseer, want hy het aan sy ouers en meisie en familie se swaarkry na sy dood gedink. Op meer as een geleentheid het hy gesê: “Dis ongelooflik dat die mense so vir my bid, maar hulle moet nou ophou om my in die lewe in te bid. Hulle kan my nou maar uit die lewe uitbid.” Ebert kon so praat, want hy het besef dat hy nie ophou bestaan wanneer hy sterf nie. Hy het verlang daarna om sonder pyn en in vrede by God te wees.
     
      3. ‘n Kwaliteit lewe is nie noodwendig gemaklik nie
Een van sy gunsteling sê-dinge was: “Dis nie hoeveel dae daar in my lewe is nie, maar hoeveel lewe in my dae is.” In 2013 terwyl Ebert se ander klasmaats besig was om hulle skripsies klaar te maak was hy te siek, en gevolglik kon hy nie daardie November gelegitimeer word nie. In Desember het hy skielik beter gevoel en met nuwe entoesiasme aan die werk gespring en in ‘n rekordtyd die skripsie klaargemaak, want hy het gesê dat hy nie weet wanneer hy weer so goed gaan voel nie. In Februarie is hy op ‘n spesiale geleentheid gelegitimeer en kon sy droom om ‘n dominee te wees, waar word. Hy het geen geleentheid laat verbygaan om voluit te leef nie. Tot op die einde het Ebert probeer om ‘n kwaliteit lewe te leef. Selfs die middag van sy dood sou hy saam met sy familie vleis gebraai het, ten spyte van geweldige pyn, asemnood en ongemak.
      
      4. Roeping is groter as siekte
Selfs in sy siekte was Ebert diep bewus van sy roeping. Hy het nogal sterk opinies oor genadedood gehad en gevoel dat daar heeltemal ‘n goeie saak daarvoor te make is. Op ‘n dag het ek aan hom gevra wat hy sal doen as iemand nou vir hom iets in die hand gee waarmee hy ‘n einde aan alles kan maak. Hy het geantwoord: “Ek sal dit nie doen nie. Dis nie my pad nie. Hoe weet ek wat God nog deur hierdie siekte en lyding in ander se lewe wil doen?”
     
      5. Mens kan tegelyk ‘n dromer en ‘n realis wees
By hom het ek gesien dat mens tegelyk ‘n dromer en ‘n realis kan wees en dat mens hoegenaamd nie een van die twee hoef te kies nie. Die twee werklikhede kan heel gemaklik, pluralisties, langs mekaar funksioneer. So sou hy in een gesprek vertel hoe hy droom van ‘n lewe saam met Antoinette en ‘n paar minute later, toe ek vra wat hy dink hier gebeur, het hy baie realisties geantwoord: “Dis duidelik. Ek gaan dood.”
 
      6. Kanker is ‘n genadesiekte
Hierdie was seker een van die sterkste uitsprake wat Ebert tydens sy siekte gemaak het. Aanvanklik was ek totaal uit die veld geslaan dat mens so oor kanker sou kon dink, want volgens my is kanker ‘n siekte wat net lewens wil steel. Tog het Ebert verduidelik hoe dit ‘n geleentheid gee om al jou verhoudings in plek te kry, hoe dit jou stroop van jou ego en jouself, hoe dit jou in ‘n besonder verhouding voor God laat staan. Daar was soveel genades op sy pad, van vriende se hulp tot ander aardse genades. Die grootste genade was waarskynlik dat hy nie nodig gehad het om hospice toe te gaan nie, maar in sy ma en pa se huis, op sy ma se skoot, sy laaste asem kon uitblaas.
    

     7. Al verstaan ons God nie, hoef ons nie oor Hom te twyfel nie
In die loop van sy siekte het Ebert enkele mistieke ervarings gehad. Ons het baie gesels oor wat hierdie ervarings sou beteken, maar oor een ding was hy seker en dit is dat God daardeur aan hom wou kommunikeer dat die realiteit waarheen hy oppad is nie net ‘n wolhaarstorie is nie, maar ‘n onverklaarbare, mistieke werklikheid.

Ebert van der Westhuizen is oorlede op 31 Mei – die laaste dag voor die winter sou aanbreek. Dit herinner my dat die winter inderdaad ‘n tyd van gestrooptheid en sterf is, maar dat die winter reeds die belofte van nuwe lewe dra.
31 Mei was ook die dag van Comrades. Dis betekenisvol dat Ebert juis op hierdie dag sy eie wedloop op aarde voltooi het.
Ebert se lewe sal ons bly roep tot ons soos die dienaar in sy geliefde Jesaja 42 verstaan dat God ons as geknakte riete wil gebruik, waardeur ons te midde van watter omstandighede ook al, die kanale van God se liefde kan wees.

Ek salueer jou, Ebert. Dankie vir wat jy vir my geleer het. Vanaand pyn my hart van vooraf. Die aarde is armer sonder jou…




Onder die oppervlak




 Ons mense is tog so geneig om alles in kategorieë te wil indeel.  So asof ons voel dat ons beter beheer het oor dinge as ons weet in watter boks dit inpas. So verdeel ons ook in ons verhouding met God die hele lewe in kategorieë van heilig en wêrelds of sakraal en sekulêr.
Ek onthou so goed hoe die jaarlikse kerkkonsert verdeel is in die geestelike en die beestelike deel, met die beestelike deel na pouse, want dit was pret. As die geestelike deel na pouse was, sou net die dominee, die kerkkantoor tannie en die hoof-ouderling en hulle gesinne gebly het. Miskien is dit nou regtig tyd dat ons hierdie uiters gebrekkige verdeling van die realiteit laat vaar.
Richard Rohr is van mening dat ons manier van leef wêrelds of sekulêr word wanneer ons bloot op die oppervlak van die lewe funksioneer. Hy sê: It’s not that the sacred is here and the profane is over there. Everything is profane if you live on the surface of it, and everything is sacred if you go into the depths of it – even your sin. 
Hiermee bedoel hy dat as ek die moed sou hê om die binnewerke van my eie sondigheid en gebrokenheid en foute te betree, sal ek vir God daarbinne ontdek. Karl Rahner het hierna verwys as die mistiek van die alledaagse. Maar as ek op die oppervlak leef, selfs op die oppervlak van dinge wat met God verband hou, soos die Bybel, die kerk en ander geestelike dinge, vervlak ek dit tot iets wat glad nie heilig of sakraal is nie, maar word dit juis as gevolg van die vlakheid daarvan wêrelds en sekulêr, selfs goddeloos.
Daarom is die onderskeid vir iemand wat diep en eg met God op pad is, nie tussen heilig en wêrelds nie, maar tussen kunsmatige en oppervlakkige dinge aan die een kant en diep en egte dinge aan die ander kant. Die dieptes nooi ons altyd dieper en wanneer mens die dieptes van enige saak begin verken, kan mens nie anders as om God en sy diep prosesse daar te ontdek nie, selfs in oënskynlike alledaagse dinge.

DEUR ANDER SE OË



Hoe gereeld dink ek en jy regtig aan die effek wat ons op ander mense het. Waarskynlik nie genoeg nie. Daarmee bedoel ek nie dat ek op ‘n kunsmatige manier probeer om my gedrag en woorde aan te wend om mense se guns te wen nie, maar eerder dat ek myself sal waarneem en bewus sal wees van die effek van my optrede en die impak van my woorde.

In die Bybel is daar heelwat gedeeltes wat hierop sou dui. Ek dink byvoorbeeld aan Spreuke 15: 1 en 4: 'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam. Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense. Ek dink ook aan Jesus se woorde in Johannes 13:35: Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. Beide hierdie gedeeltes gaan oor my en jou sigbare dade en hoorbare woorde en die effek daarvan op ander mense.

Bewustelikheid gaan vir ons as God se kinders oor baie meer as om meer en meer bewus te word van God se realiteit. Dit gaan beslis ook daaroor om meer bewus te word van hoe ek optree, wat ek sê, die effek wat ek op ander het en hoe my teenwoordigheid mense oor hulleself laat voel. Dra ek iets van God se realiteit in mense se lewens in of vervreem ek mense eerder? Watter werklikheid skep ek?
 
Is ek dalk geneig om af te praat na mense? Lyk ek moontlik kwaai en ontoeganklik? Het ek miskien die manier om voortdurend op myself te fokus of stel ek regtig in mense belang? Is ek in ‘n groep heeltyd besig om te dink hoe ek ‘n eiertjie in ‘n gesprek kan lê of hou ek my dalk so eenkant dat ek die indruk skep dat ek nie werklik belangstel nie? Is ek miskien heeltyd krities of versmoor ek mense moontlik met my belangstelling? So kan ons aan eindelose voorbeelde dink. Dis presies om hierdie rede dat ek myself al beter moet leer ken en ruimte maak vir daardie pynlike proses waar ek mense na aan my toelaat om soms aan my terugvoer te gee oor hoe hulle my beleef.

Brennan Manning skryf op ‘n keer in sy boek Furious Longing: You are going to leave people feeling a little better or a little worse. You are going to affirm them or deprive them, but there’ll be no neutral exchange.

Hierdie woorde het my nogal in my spore gestop. Dink net hoe sal die wêreld lyk as ons elkeen dit besef. Hy bedoel natuurlik nie dat ons nou moet begin om almal wat ons teëkom heuning om die mond te smeer nie. Hy bedoel wel dat ons mense sal word wie se woorde en dade gekenmerk word deur liefde, deernis, begrip, aanvaarding, eerlikheid, integriteit, sagtheid en ‘n bereidheid om dieper as die oppervlak te kyk. Kan ek met ander woorde besef dat ek in navolging van Jesus so kan optree en praat dat ek mense help om nader aan God te beweeg, sonder om selfs veel oor God te hoef ? Kan ek die ruimte in myself begin skep dat ek deel word van God se helende teenwoordigheid in ander mense se lewe?

Manning skryf ook hierdie woorde:
The question is not can we heal?
The question, the only question,
is will we let the healing power of the risen Jesus
flow through us to reach and touch others,
so that they may dream and fight and bear and run
where the brave dare not go?




Friday, May 22, 2015

Meer as genoeg



In Johannes 6 vind ons die storie van die seuntjie wat saam met ’n klomp ander mense na Jesus luister. Naby aan die einde van die dag por die dissipels Jesus aan om die mense huistoe te stuur, omdat hulle nie vir almal kan kos gee nie. Dis dan wanneer die kind met sy kospakkie vorentoe kom en die volgende gebeure afspeel.

9 “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” 10 Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11 Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. 12 Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.” 13 Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. 

In hierdie storie word daar tradisioneel so op die wonderwerk gefokus dat daar dalk ’n ander belangrike detail verbygaan – die seuntjie met sy skrampse kospakkie. Baie van ons vra gereeld vir onsself watter bydrae ek kan maak wat hoegenaamd ’n verskil sal maak in die wêreld. Hoe kan ek met my klein lewe enigsins ’n impak op die groter geheel hê?

Ons almal het die volgende situasie al beleef. Jy word genooi na ’n funksie en almal word gevra om iets te ete te bring. Elkeen kom daar aan met ’n kleinerige bordjie eetgoed en aan die einde van die geleentheid bly daar soveel kos oor, dat mens verstom staan. In ’n sekere sin is dit presies wat in hierdie verhaal in Johannes 6 gebeur. 

Die seuntjie bevind hom tussen ’n groot skare mense en bied gewillig sy klein bietjie kos aan, waarop die dissipels heeltemal tereg vra hoe so bietjie kos ooit die massa mense sal kan voed. Maar in Jesus se hande word die bietjie letterlik meer as genoeg.

Miskien word ons genooi om al meer met hierdie gesinsheid te leef, naamlik om maar net die klein bietjie wat ek het te bring en te vertrou dat dit in God se hande meer as genoeg sal wees. As elkeen van ons dit bring wat ons het - gawes, vermoëns, vaardighede, wysheid, insig, ervaring, ook geld en goed en al die ander dinge wat ons kan bring - word dit wat ons het om te bied inderdaad God se gawe aan die wêreld, al lyk dit vanuit ons eie perspektief heeltemal te min. Gee wat jy het. God sal dit gebruik.



Op soek na geluk




Een van die fundamentele menslike behoeftes is om gelukkig te wees. Tog is geluk vir die meeste van ons nie so vanselfsprekend nie. Daar is maar altyd een of ander stok in die speke wat maak dat baie van ons nie sommer net gelukkig kan wees nie.
Ek wonder of een van die redes waarom geluk ons ontwyk nie juis die feit is dat geluk so ‘n doel opsigself begin word het nie. As iemand nie meer in ‘n verhouding wil wees nie, hoor mens hoe die persoon sê : “Ek is nie meer gelukkig nie”. As iemand ‘n sekere werk nie meer wil doen nie, hoor mens weer: “Ek is net nie gelukkig nie.” As iemand moeg is vir ‘n kerk is dit dikwels dieselfde rede: “Ek voel nie gelukkig daar nie”. Ek het al self baie keer gesê of gedink: “Ek is nie gelukkig nie”, so asof geluk die hoogste doel is.
Nou is die vraag: Hoe definieer ons geluk? Wanneer is ek gelukkig? Is dit wanneer alles presies loop soos ek wil hê dit moet? Of dalk wanneer ek die ervaring het dat die realiteit en my droom parallel is? Moontlik voel ons ook ons is gelukkig as ‘n situasie of iemand aan al my behoeftes voldoen. As dit die voorwaardes moet wees vir geluk, is dit geen wonder dat baie van ons sukkel om geluk te ervaar nie. As ons moet eerlik wees is dit onrealisties dat situasies altyd gaan loop soos wat ek wil hê dit moet. Daar is ook ‘n baie goeie kans dat my droom en my idee van hoe dinge moet wees so ver van die werklikheid verwyder is, dat die twee net nie met mekaar versoen kan word nie. Dink maar aan verhoudings of situasies waarin jy jouself bevind- dit loop dikwels nie soos jy wil hê nie, en die realiteit van die situasie is dikwels baie anders as jou droom of ideaal daarvoor.
Jeanne Els skryf iewers:
To me, to be satisfied and at peace, outweighs happiness.
Dink so oomblik hieroor na. Wat gebeur as ek tevrede is? Miskien is dit om vrede maak met hoe my lewe is en dat ek kan besef dat ek genoeg het – genoeg het om van te lewe, genoeg het in my verhoudings, sommer net genoeg... As ek kan vrede maak met hoe my lewe is en voel dat ek nie
veel meer nodig het nie, kan ek tevrede wees. Dit beteken nie dat dit verkeerd is om in ‘n gegewe situasie meer te wil hê nie, maar ek kan nie altyd meer wil hê nie.Om vrede te ervaar werk baie dieselfde. As ek vrede het word my verhoudings waarskynlik nie op daardie stadium gekenmerk deur
 konflik nie, smag ek nie voortdurend na meer nie, tob ek nie heeltyd oor hoe dinge anders kon wees nie.

Beide tevredenheid en vrede word gekenmerk deur aanvaarding. Aanvaarding van die ander persoon en sy of haar andersheid. Aanvaarding dat die situasie of die ander persoon nie die vervulling van my droom kan of gaan wees nie. Aanvaarding van die realiteit van die situasie en die plek waar ek my tans bevind. 

Dalk kan jy glad nie by tevredenheid kom nie en kan jy ook glad nie vrede maak met hoe dinge is nie. Dan is dit dalk inderdaad tyd om dinge anders te doen of ‘n verandering te maak. Jy is die enigste een wat daaroor beheer het, wetende dat geen situasie sommer perfek gaan wees nie.
As ek tevrede is en vrede ervaar, bring dit waarskynlik ‘n groot mate van gelykmatigheid in my lewe wat die grond voorberei vir ‘n diep en onverklaarbare lewensgeluk wat kan wortel skiet en nie sommer deur die eerste beste wind of storm ontwortel word nie. Miskien sien mens iets hiervan in Prediker 9:7 as dit gaan oor die lewe van God se kinders: Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Of anders gestel: To me, to be satisfied and at peace, outweighs happiness.

As ek vanaand in my bed klim en ek kan eerlik vir God sê dat ek tevrede is en vrede ervaar, is dit waarskynik die naaste aan geluk wat enige mens kan hoop om te wees. Dan herskryf ek dalk sommer die woorde en sê:  To me, to be satisfied and at peace, is all the happiness I need. En dan hoef ek nie verder te soek na geluk nie.