Daar is hierdie
gesegde wat lui: Maturity is mastering the basics. Hoe meer ek daaroor dink,
hoe meer besef ek dit is waar. Om geloofsvolwasse te wees beteken nie dat ek my
met allerhande boheemse en buitengewone geloofsdinge besig hou nie, maar juis
dat ek besig is om met die fundamentele of basiese dinge te worstel en dit te
leef. Dit klink natuurlik nie baie spiritueel of romanties nie. Ek vermoed dat
baie mense dink hoe langer jy met God op pad is, hoe meer maanskyn en rose is
daar in jou geloofslewe. Die waarheid is eerder dat hoe langer en hoe dieper jy
die pad stap, hoe meer uitdagend word dit en hoe minder naïef raak mens oor die
maklikheid of gemaklikheid van ‘n verhouding met God. Of soos iemand eenmaal
gesê het: The first step is extremely difficult, from there on it gets more
difficult.
Waarom sou dit so
wees? Ek dink soos die tyd aangaan begin mens jouself stelselmatig meer raaksien
en sien jy dinge in jouself raak waarvoor jy voorheen totaal blind was. Dit
opsigself is geweldig konfronterend, want waar ek voorheen doodeenvoudig nie
van sekere dinge bewus was nie staar dit my nou in die oë. Dit lei daartoe dat
ek elke keer op nuwe maniere met my maskers en mure en verdedigingsmeganismes
gekonfronteer word, en dat ek nooit by ‘n punt in my verhouding met God kom
waar ek kan dink ek het dit nou mooi bemeester nie. Die oomblik as ek dit dink,
moet ek weet daar wag ‘n groot verrassing op my slinkse en heilige ego. Die
gevolg is dat ek meer gestroop, meer ontmasker, meer agendaloos en meer nederig
voor God staan.
Ek beleef hierdie elke
jaar met ‘n nuwe rondte van Viam Dei aan my eie lyf.
Hierdie jaar besef ek
weer opnuut hoe kontrakultureel ‘n dieper pad met God is en dat dit alles van
mens vra om jou aanhoudend oop te stel vir God se Gees en om voortdurend toe te
laat dat God in jou werk en jou transformeer. Dinge wat ek 5 jaar gelede gedink
het ek mooi onder die knie gehad het is nou vir my moeilik, nie noodwendig omdat
ek slegter vaar nie, maar omdat ek al meer besef wat die volle implikasie
daarvan in my lewe is en hoe dit my uitdaag om te sterf en te groei.
Gelukkig weet ons dat
hierdie proses nie in ons eie hande is nie. Wat ‘n reuse genade is dít nie!
Hoeveel keer nooi Jesus ons nie om agter Hom aan te kom en Hom te volg nie? Boonop het hy aan ons die wonderlike gawe van sy Gees gegee wat ons voortdurend teruglei na Sy pad, en ons aanhoudend leer en herinner waaroor ‘n verhouding met God nou weer gaan en wat Jesus se pad behels.
Hoeveel keer nooi Jesus ons nie om agter Hom aan te kom en Hom te volg nie? Boonop het hy aan ons die wonderlike gawe van sy Gees gegee wat ons voortdurend teruglei na Sy pad, en ons aanhoudend leer en herinner waaroor ‘n verhouding met God nou weer gaan en wat Jesus se pad behels.
As ek met anders
woorde voel dat dinge moeiliker en meer uitdagend raak, is dit nie omdat ek
slegter vaar nie, maar is dit juis omdat ek beter begin sien en God se Gees my
na dieper plekke wil lei in my verhouding met Hom en in my eie proses van
transformasie tot die nuwe mens wat God my bedoel het om te wees.
Niemand het ooit gesê
dat ‘n verhouding met God op hierdie aarde eenvoudig gaan wees nie. Maar die
uiteinde van hierdie pad kan met geen ander proses vergelyk word nie.
No comments:
Post a Comment