|
|
|
|
Een populêre manier waarop Christene uit ’n bepaalde tradisie kies om hul verantwoordelikheid vir hulself te ontduik is die konsep van bloedlynvloeke. Hier word ’n teks soos Eksodus 20: 5 redelik uitmekaar geruk: Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat... Volgens hierdie teorie word jou voorgeslag of bloedlyn die rede waarom jy sekere gedrag openbaar en glo mense dan maklik dat dit nie entlik hulle skuld is dat hulle so is of optree nie, maar dat hulle willose slagoffers is van die “sondes van die vaders”. Dis ’n baie gevaarlike manier om hierdie teks te gebruik, want of mens dit nou wil weet of nie, dit is ’n baie slinkse manier om nie voor jou eie deur te vee nie.
Carl Jung het vanuit ’n ander hoek oor dieselfde saak geskryf: “But no matter how much parents and grandparents may have sinned against the child, the man who is really adult will accept these sins as his own condition which has to be reckoned with. Only a fool is interested in other people's guilt, since he cannot alter it. The wise man learns only from his own guilt. He will ask himself: Who am I that all this should happen to me? To find the answer to this fateful question he will look into his own heart.”
Die laaste sê oor ons verhaal behoort nie aan ons genetiese predisposisie of ons oorerflike eienskappe of die verhaal van ons verlede nie, maar aan die realiteit van Jesus se opstanding in ons lewe en die pad van lewe waarop God ons wil lei. Of soos die Eksodusteks in vers 6 sê: “...maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam”.
Omdat ons
as gelowiges vanuit die krag van die opstanding kan leef, gee God ook aan my
die moed om vir myself en my eie gedrag en geneigdhede verantwoordelikheid te
aanvaar, om inderdaad te leer hoe om voor my eie deur te vee, nie ander te
beskuldig vir hoe dit met my gaan en wie ek is nie en veral, toe te laat dat
die Here my transformeer tot die mens wat Hy gedroom het ek sal wees.
No comments:
Post a Comment