So paar Sondae gelede
is dit tyd vir Nagmaal by die Ooskerk. Dis my beurt by die Gesinsdiens. Ek
verduidelik baie mooi dat ons eers die brood en die wyn (in die Gesinsdiens se
geval altyd druiwesap) gaan uitdeel en dit dan almal saam gebruik. Ek
verduidelik weer waaroor die Nagmaal gaan en alles verloop sonder chaos. Na die
Nagmaal is die diens basies verby. Ek bid, ons sing een laaste liedjie en ek
spreek die seën uit. Na die seën is daar gewoonlik so halfminuut waar ons almal
stilsit sit en na ‘n kort naspel luister. Almal sit doodstil. Maar die oomblik
toe die eerste mense begin opstaan, is daar omtrent ‘n ontploffing van kinders.
Hulle pyl op die Nagmaalstafel af en begin dadelik al die oorblywende brood
opeet en sap opdrink. Ek staan geamuseerd en kyk hoe baldadig die klomp kinders
die klein blokkies brood en die glasies wyn verorber – asof dit die lekkerste
ding is wat hulle nog ooit gesien het. Daar bly letterlik nie ‘n krummel of ‘n
druppel oor nie.
Ek staan en dink dat ek
so bly is vir die tradisie waarbinne ons staan, want in ander tradisies sou dit
wat hier gebeur het ontheiliging van die Nagmaal wees. In ons tradisie is dit een
van die hoogste vorms van viering – dat die kinders, wat verstaan, maar tog ook
nie, sonder skroom soveel van die brood en wyn eet as wat hulle kan, tot alles
op is.
Daardie oggend besef
ek weer dat die tekens van die brood en wyn nie een of ander spesiale maatreël
was waarmee Jesus mense wou uitsluit nie, maar juis ‘n manier om mense in te
bring. Soos die aand toe ons nie genoeg diakens gehad het om die Nagmaal te
bedien nie en die eerste ou wat aanbied om daarmee te help ‘n jong man is wat
pas geskei is omdat hy sy vrou vir die soveelste keer verkul het, maar by die
kerk kom troos soek het vir sy gebrokenheid. Die Nagmaal was nie oorspronklik
bedoel om die wat dink dat hulle heilig is nog heiliger te laat voel nie. Dit
was juis bedoel om die wat weet dat hulle gebroke is, te help besef dat hulle
in Jesus Christus ingenooi word tot ‘n heel lewe. Die intieme simboliese
handeling, van om die brood as Jesus se liggaam en die wyn as Jesus se bloed in
jou in te neem, wou juis bevestig dat Jesus in jou wil inkom en deel van jou
bloedstroom word en jou hele lewe wil nuut maak en oorrompel.
Johan Heyns het op ‘n
stadium vir ons vertel hoe hy as jong dominee die oggend na Nagmaal by die
koster se huis verby huis toe stap en deur die draad geskok sien hoe die koster
die Nagmaalsbrood aan die hoenders uitdeel om te eet. Net daar besef hy dat dit
is hoe dit veronderstel is om te wees – dat selfs die hoenders mag deel aan die
Goeie Nuus van Jesus se kruisiging, sterwe en opstanding.
In die Laudate diens
lees Jaco elke week hierdie aangrypende woorde:
The table of bread is now to be made ready.
It is the table of company with Jesus,
And all who love him.
And all who love him.
It is the table of sharing with the poor of the world,
With whom Jesus identified himself.
It is the table of communion with the earth,
In which Christ became incarnate.
In which Christ became incarnate.
So come to this table, You who have much faith,
And you who would like to have more;
And you who would like to have more;
You who have been here often,
And you who have not been for a long time;
And you who have not been for a long time;
You who have tried to follow Jesus,
And you who have failed;
And you who have failed;
Come.
It is Christ who invites us to meet him here.
It is Christ who invites us to meet him here.
Jesus nooi
my en jou nie net telkens deur die Nagmaal nie, maar elke dag deur die
sakrament van die lewe om nie ver te staan en kyk nie, maar om soos die kinders
daardie Sondagoggend sonder skroom van die wyn en brood te eet. Hy sê elke dag op
allerhande maniere, en spesifiek deur die tekens van die wyn en brood: Kom. Ek
nooi jou. Ek ontmoet jou hier.
No comments:
Post a Comment