Verlede Sondag is ek
en die kinders bietjie laat vir kerk en ons kry nie plek aan die kant waar ons
gewoontlik sit nie, met die gevolg dat ek vir die eerste keer in amper 20 jaar
op ‘n plek op die gallery gaan sit waar ek nog nooit gesit het nie. En hoe
insiggewend was dit! Om dinge skielik uit ‘n totaal ander hoek te beskou is
soms baie goed vir mens.
So sien ek dinge raak wat ek nog nooit gesien het nie:
die een vroetel met ‘n lekkergoedpapiertjie, daardie een sukkel om die oë oop
te hou, nog iemand op die oorkantste gallery sing glad nie saam nie, maar kyk
mense, soos ek. Ek sien ou bekendes wie se lewenstories ek tot in die fynste
detail ken. Ek sien totaal onbekendes en wonder wie is hulle. So kom dit toe by
my op hoe divers elkeen van ons is, maar terselfdertyd hoe ons sukkel om mense
te aanvaar.
Aanvaarding is waarskynlik
een van die moeilikste dinge. Om in myself die ruimte te vind dat mense werklik
anders as ek is en dat hulle nooit gaan maak soos ek wil hê hulle moet nie, is
vir die meeste van ons bitter swaar. Iemand het eenmaal gesê: “Accepting all
the good and bad about someone, is a great thing to aspire to. The hard part is
actually doing it.” En dan die mooi uitnodiging van Romeine 15:7 Aanvaar mekaar
dan soos Christus julle aanvaar het.
Daar is natuurlik ‘n
groot verskil tussen om iemand te aanvaar en iemand te verdra. As ek jou verdra
beteken dit dat ek maar uithou en aanhou
met jou en jou geite en giere maar verduur, al wil ek eintlik hê dat jy op ‘n
ander manier moet optree of sommer net anders moet wees as wat jy is. Om iemand
te aanvaar is ‘n heel ander storie. Ek aanvaar jou wanneer ek jou toelaat om
die mens te wees wat jy is. Ek aanvaar jou wanneer ek jou nie heeltyd by my
agenda wil inforseer nie. Ek aanvaar jou wanneer ek vir jou die ruimte skep om
te ontwikkel en te groei en foute te maak en daardie mens te word wat God wil
hê jy moet wees.
Natuurlik is daar
sekere gedrag wat ons nie kan aanvaar nie. Destruktiewe, vernietigende gedrag
en houdings wat ons teen mekaar uitleef is in geen konteks aanvaarbaar nie en
daarteen moet ons opstaan. Maar aanvaarding gaan oor wie die ander persoon ten
diepste is.
Dalk is een van die
groot redes waarom ons ander nie kan aanvaar nie omdat ons sukkel om onsself te
aanvaar. Ons sukkel aan die een kant om ons gawes te omarm en vanuit dit te leef, en ons sukkel aan die
ander kant om ons skadukant toe te eien en te aanvaar dat daar aspekte deel is
van my wese wat nie vir myself of ander goed is nie. Dis op hierdie pad wat God
ons nooi om myself te sien en te aanvaar soos ek werklik is, myself te aanvaar
soos Hy my aanvaar en toe te laat dat Hy daardie dinge in my transformeer wat
nie tot heil van myself of ander is nie. Hierdie pad is God se met ons en nie
‘n bestemming nie.
Hieroor skryf
Elizabeth Meluch: "Each of us is still in the
making, but as responsible for our lives as we are, we do not have to do it all
alone. God is creating the world through us, but we are part of the world that God is helping us to create.
If at times we can just be, just quietly sit in the sun of God’s love for us,
if we can believe that the One who formed us in the first place is waiting to
transform us in the embrace of love, then in what we are doing with our lives,
God will increase and we will decrease in the best sense of the word."
Wanneer die Bybel
sê ons moet ander lief hê soos onsself, kan ons sekerlik ook byvoeg ons moet
ander aanvaar soos onsself. As ek met sagte oë na myself kan kyk (soos God) en
met liefdevolle deernis met myself kan omgaan, sal ek sien dat dit met tyd
makliker word om dit met ander ook te doen.
No comments:
Post a Comment