So ruk gelede lees ek die verhaal van ‘n vrou met die naam Concetta
Antico. Haar storie het my op ‘n besondere manier geraak. Sy ly aan
tetrachromasie, ‘n rare genetiese kondisie, wat haar meer as een honderd
miljoen skakerings van kleur kan laat sien. Vergelyk dit met die gemiddelde
menslike oog wat ongeveer een miljoen skakerings kan onderskei. Daar is minder
as 1% van alle mense wat deur die kondisie beïnvloed word.
Sy verduidelik dat as ek en jy na ‘n blaar kyk sien ons groen. As sy na
die blaar kyk sien sy magenta strepe in die binnekant met allerhande skakerings
van turkoois en groen om die rand van die blaar. Waar die lig ‘n skaduwee teen
die muur gooi en ons net grys sien, sien sy skakerings van laventel en violet
en turkoois. Volgens die neuroloog wat haar toestand navors, sien sy inderdaad
die wêreld anders as ander mense.
As ‘n dogtertjie van sewe het sy al agtergekom dat sy ‘n ander manier
van sien het as alle ander mense. Sy het toe alreeds reproduksies van Cézanne, Van Gogh en Monet
geskilder. Dis ook nie verbasend dat sy vandag ‘n kunsonderwyser en kunstenaar
is nie.
Die wrede ironie is dat haar dogter aan kleurblindheid ly, wat deur
dieselfde genetiese mutasie veroorsaak word, en soos Concetta se kondisie is daar niks wat daaraan
gedoen kan word nie. Stel jou die kontras tussen hulle voor: vir albei lyk die
wêreld anders as vir die meerderheid van mense, maar vir die een omdat sy alle
kleure en nog meer kan sien, en vir die ander omdat sy sekere kleure glad nie kan
sien nie. En dis hulle werklikheid. Nie een van hulle kan hulle manier van kyk
verander nie, al probeer hulle ook.
Dit klink wonderlik om só soos sy te kan sien, maar dikwels beleef sy
sensoriese oorlading. Van die oomblik dat sy haar oë soggens oopmaak word sy
oorweldig deur die ongelooflikste kleure: in die houtvloer, in die tandepasta,
in die vrugtebak op die kombuistafel. Voortdurend is daar golwe en golwe kleur
wat oor haar spoel. Natuurlik is dit ‘n ongelooflike gawe om so te kan sien en
sy besef dit, maar soms word haar sintuie net heeltemal oorlaai. Die vraag is
dan: Wat is haar gunstelingkleur? En die antwoord is: suiwer wit… Want dit gee
haar vrede en maak haar rustig.
Haar verhaal het my laat dink aan die verhaal van Paulus in Handelinge 9.
Ons lees daar hoe Paulus vol bravade dink dat hy kan sien en dan letterlik met
blindheid geslaan word sodat hy kan besef dat hy nie sien nie. Wanneer Ananias
daarna vir hom bid, sê die Bybel, het daar iets soos skille van sy oë afgeval,
en skielik het hy die hele realiteit anders gesien. Skielik het daar ‘n
kaleidoskoop van kleur voor hom oopgebars waarvan hy voorheen totaal onbewus
was en nou vir die eerste keer begin hy sien soos God sien.
Natuurlik kan ons oorlaai word deur alles wat ons sien en ervaar en
beleef, en daarom het ons ook, soos Concetta Antico, wit spasie nodig waar ons
by God tot rus kan kom voor ons weer ons oë oopmaak vir ‘n ander manier van
sien.
No comments:
Post a Comment