Monday, November 10, 2014

Spaanse Geloofsbelydenis



SPAANSE GELOOFSBELYDENIS

Ons glo in God die Almagtige,
Skepper van die hemel en aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Heer,
God wat vlees geword het as ‘n mens vir die mensdom,
God wat vlees geword het in tyd vir alle tye,
God wat vlees geword het in een kultuur vir alle kulture,
God wat vlees geword het in liefde en genade vir heel die skepping.

Ons glo in die Heilige Gees
deur wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid bekend maak in ons mense en in ons kulture,
deur  wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan ons die krag gee om nuwe skepsels te word,
wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die Liggaam van Christus.

Ons glo in die Kerk
wat universeel is omdat dit die teken van God se heerskappy is,
wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word,
waar al die kleure saam net een landskap teken,
en alle tonge dieselfde lof besing.

Ons glo in die Heerskappy van God – die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ‘n harmonieuse reënboog sal vorm, wanneer alle mense sal deelneem aan ‘n vreugdevolle feesmaal,
wanneer alle tonge van die heelal dieselfde lied sal sing.

En omdat ons glo, verbind ons ons
om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ‘n werklikheid word.

AMEN.

Saturday, November 8, 2014

Diep vrede



Ek sit in die hospitaal voor die deur van die teater en wag dat Jaco van sy niersteen bevry word. Ekself is vrot-siek en sit hoog op ‘n medisynetrip en roggel soos ‘n oergedierte en dink dat hulle my enige oomblik met my gehoes en proes uit die hospitaal gaan verban. 

So vra ek toe vir myself: Hoe voel mens in hierdie omstandighede die Here se teenwoordigheid, wanneer die lewe onbepland verloop en blatant hoogs uitdagend word?
Ek weet Hy is hier, net hier, by my. Maar ek voel dit nie. Waar soek ek nou na God?
 
Na ‘n hele ruk raak ek bewus van iets diep en stil en helder en lig in myself – Vrede.
Kan dit wees? Kan d
ít God wees? Meteens besef ek dat ek dikwels na God soek in eksterne bewyse en nie so maklik bewus is dat ek sy teenwoordigheid in myself kan soek nie. Maar ek dink dis die antwoord: nie daar buite nie, maar hier binne... Vanmiddag het ek nie veel van ‘n keuse nie. Ek kan net sit. En wag. Asemhaal. En diep hier binne die onmiskenbare, byna tasbare, byna nie, misterieuse Teenwoordigheid…

Uiteindelik ry ek terug huis toe. Dis half ses en die perfekte aand. Die heilige laatmiddag-uur vol sagte lig met die maan wat, byna vol, reeds in die lug hang. Ek stop voor ons huis. Ek hoor die kinders lag in die bad. Ek stap in die vriendelike gesig van ons Christina vas en op die kas staan ‘n goudgeel Gerbera in ‘n pot en ‘n sak met twee dae se kos en lekkernye van ‘n vriendin. Ek haal diep asem en voel dit weer – die Vrede… Paulus het dit lank terug al geweet: En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil 4:7).

In my gedagtes hoor ek die woorde en
musiek van Libera se Galliese seënbede,
Deep Peace, en haal diep asem,
want hierdie kom nie uit myself nie
en ek weet onwrikbaar:
dít is hoe God voel...

Deep peace of the running wave to you
Deep peace of the flowing air to you
Deep peace of the quiet earth to you
Deep peace of the shining stars to you
Deep peace of the gentle night to you
Moon and stars pour their healing light on you
Deep peace of Christ, the light of the world to you
Deep peace of Christ to you
(Gaan luister hierna op Youtube:
http://www.youtube.com/watch?v=nqyU7SKyklY


Aanspreeklikheid



Elkeen van ons wat God se pad wil stap, moet van tyd tot tyd stilstaan en vra: Wat gebeur hier? Om te vra wat in my lewe aan die gebeur is, is meestal ’n moeilike oefening en die meeste mense hou nie noodwendig daarvan om so reflektief met hul eie lewens om te gaan nie. Tog is dit juis hier dat die groei plaasvind, want as ons kan eerlik wees sien ons dinge soos dit regtig is en nie soos ons dink dit is of soos ons onsself en ander oortuig dit is nie. In hierdie opsig is ons elkeen aanspreeklik vir ons eie lewe. Romeine 14:12 stel dit nogal sterk: 
Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.
Die meeste van ons wat hier lees sal sê dat ons ernstig is oor ons verhouding met God en oor ons lewe, wat ingebed is in God se realiteit. Die vraag is egter, is ek werklik so oorgegee aan God se pad soos ek sê? Kies ek nie dalk om in ’n poel van emosionele pyn en my eie emosionele moeras vas te val? Soek ek nie dalk na geleenthede om ander verantwoordelik te maak vir hoe dit met my gaan en om ander saam met my in my moeras in te trek nie? In watter mate veroorsaak ek storms waarby ek ander probeer betrek, terwyl daardie storm ten diepste binne myself woed?
Bestaan daar ’n kans dat ek weet wat al die regte antwoorde is, maar nie die voor die hand liggende dinge doen wat God van my sou vra op ’n pad van transformasie nie? Of ons nou daarvan hou of nie, tyd alleen saam met God is essensieel op die dieper pad. Indien ek nie veel van ‘n aktiewe gebedslewe het nie, moet ek myself dalk vra waarom nie? Wat weerhou my daarvan? Kan dit wees dat ek in beginsel erns maak hiermee, maar in praktyk dalk nie? 
Tyd saam met God is hoegenaamd nie so romanties oos dit klink nie. Dit vra koue, harde commitment, maar daarsonder gaan die ruimte waarbinne God my diep in my Gees wil transformeer nie soos ’n misterieuse wolk uit die hemel verskyn nie. God wil my tot ’n heel geïntegreerde lewe lei, maar dit gaan dalk impliseer dat die ou patrone waarbinne ek altyd so vasval sal moet verander.

Iemand wat oor-emosioneel in sy/haar binne-wêreld vasval word waarskynlik deur God geroep tot groter objektiwiteit en gelykmatigheid. Iemand wat geweldig rasioneel en krities deur die lewe gaan word weer daartoe geroep om meer van sy/haar emosies bewus te word en kwesbaar te word en met deernis na jouself en ander te begin kyk.
Daar is net een persoon wat my keuses kan maak, en dis ekself. Ek kan nie op my pad saam met God my aanspreeklikheid op die mense in my lewe, soos my lewensmaat of vriende of kleingroep, of selfs op God, afskuif nie. Dit is my eie verantwoordelikheid om toe te sien dat ek die prosessse in plek het waardeur God my kan transformeer.
Dalk spreek hierdie vraag ’n pynlike realiteit vir die meeste van ons aan:
As ek werklik ernstig is oor God se pad, waarom reflekteer my keuses dit nie?

Friday, October 24, 2014

'n Besoek





Ons leef sulke besige lewens, veral hierdie tyd van die jaar, dat dit soms voel asof ons soos masjiene 
voortbeur. As mens weer sien is dit reeds weer Vrydag en nog ‘n week verby.

Die implikasie van hierdie manier van leef is dat ons werklik sukkel om bewustelik te leef.
In ons tipe kultuur is daar soveel dinge wat op ‘n uurlikse basis ons aandag verg, dat ons totaal
ge-oorstimuleer is.
Baie van ons voel dat ons doodgewoon nie tyd het nie. Per implikasie word die kleiner dinge, wat eintlik aan ons die ervaring gee dat ons leef en bewustelik teenwoordig is, afgeskeep.

In hierdie skildery van Carl Spitzweg, sien ons ‘n man druk aan die werk, maar skielik raak hy bewus van ‘n voëltjie wat op die vensterbank kom sit. In die beeld wat ons sien bevind hy om in daardie splitsekonde waar hy moet besluit of hy die voëltjie geïrriteerd gaan wegjaag en of hy sy boek gaan laat sak om op te kyk en aandag te gee aan hierdie rare, kosbare, byna mikroskopies onbelangrike oomblik.
Wanneer ons onsself toelaat om bewustelik te begin leef is daar nie meer een oomblik wat nie potensieel heilig is nie. Die voëltjie op die vensterbank, die waterdruppel teen my glas, ‘n koue skyf waatlemoen, die geluid van die eerste druppels reën op die dak... En dan praat ons nog nie oor ons gewone kontak met gewone mense nie. Alledaags, gewoon, maar vol van God self. Dit laat my dink aan die mistieke hasidiese Jode, wat geglo het die engele besoek ons 100 maal per dag maar omdat ons nie bewustelik leef nie, sien ons dit nie raak nie.
Ek is bevrees dat om in bewustelikheid te groei, stiller en oper te word en soms rustiger te leef, nie vir ons natuurlik gaan kom nie. Ons gaan dit moet kies. En ons gaan dinge in plek moet stel wat dit vir ons moontlik maak.
Dit gaan waarskynlik ook beteken dat ek nie meer alles kan doen nie en dat ek klein, maar belangrike besluite sal moet neem wat dit vir my moontlik maak om selfs net soms meer bewustelik te leef.

Dalk is ‘n verdere beginpunt om te besef dat ons as oor-gestimuleerde wesens leef en doelbewus substansiële ruimtes in my lewe daar moet stel waar ek ge-onderstimuleer is, sodat ek kan oop word vir God se groter realiteit in die miniskule detail om my. Elkeen van ons moet natuurlik self uitwerk wat onderstimulasie vir ons beteken.

Ek sal so vies wees vir myself as ek aan die einde van my lewe vir God sou vra waarom Hy my nie tog maar iewers kon besoek nie, en Hy antwoord dat Hy my verskeie kere op ‘n dag besoek het, maar ek het dit nie gesien nie.

Die Slapende Wag




Hierdie skildery van Carl Spitzweg  is weereens fassinerend in die eenvoud en eerlikheid daarvan. Aanvanklik moet mens fyn kyk, maar as jy dit sien voel dit amper of jy self die wag uitgevang het.


Stel jou voor hoe die wag heel verveeld daar gestaan het en die middagsonnetjie al warmer op hom neergebak het. Hoe hy al vaker word en heel terloops ‘n plannetjie begin bedink. Skielik besef hy dat dit glad nie so slegte plan is nie en dat hy dit inderdaad sal kan doen. Hy soek ‘n stok en plant dit. Dan maak hy doodseker dat niemand hom van onder die dorp af beloer nie en hy trek vinnig sy baadjie uit en hang dit om dit stok en met een sekere beweging swiep hy sy hoed van sy kop af oor na sy stok-verteenwoordiger. Hy buk af en sluip hande viervoet tot in die skadu van die rankplant, vlei hom neer in die groen gras en raak lomerig-lui aan die slaap.

Mens kan nie help om te wonder hoeveel keer hiervoor of hierna speel die toneel af nie. Mens kan ook nie help om te dink wanneer iemand hom gaan uitvang en in hoeveel verskillende soorte moeilikhede hy hom dan gaan bevind nie.

Ek vermoed ons almal is maar soms op een of ander manier die Slapende Wag. Vanuit die perspektief van innerlike transformasie is die dilemma nie noodwendig dat hy die middagslapie neem nie, maar die fyn berekende voorgee wat daaragter lê. Hy besef waarskynlik dat dit in sy beste belang is om te máák asof hy op sy pos is, om die indruk te skep, terwyl hy werklik nie is nie.


Dit laat mens wonder hoe bewus elkeen van ons is van hierdie dinamika in onsself: die geneigdheid om ander onder die indruk te bring dat dinge anders is as wat dit werklik is. Sou ons kon sien hoe dikwels ons op subtiele maniere ander mislei, sodat hulle dalk dink dat ons meer spiritueel of meer toegewyd of meer opreg of meer betroubaar of iemand met meer integriteit is  of flukser of eerliker as wat ons werklik is?
 
Die dilemma hiermee is dat die voorgee so subtiel en fyn is dat ons onsself glo. God nooi ons op ‘n moeilike pad waar ons eerstens aan onsself sal erken dat ons nie altyd is wie ons voorgee om te wees nie en daarna vir onsself sal vra waarom ons ander so graag onder die indruk wil bring dat ons iemand is wat ons nie ten diepste is nie.

By God hoef ons nie voor te gee dat ons altyd op ons pos is nie. Ons mag maar ‘n middagslapie in die skaduwee neem.

Saturday, October 4, 2014

Die ongedierte - Sheila Cussons



Ek sién jou: my oog is al lank op jou
van ek jou, Goddank, die eerste keer sien roer het,
verskriklike, potige ongedierte,
skurf soos die seerots skurf.
Ek ken jou naam oplaas, die moeilikste
om te raai want oorbekend
tot byna dofheid, geringheid toe,
tót jy geroer het in al jou gruwelike lyflengte:
o wélbedeeld, en so tuis, oervas, dat jy
volkome versmelt met die wande, íngewande
van my duister, onbewuste, ondersese self.
Maar my oog is op jou en my oog sal op jou bly
tot jy verskrompel, Selfsúg.

Friday, October 3, 2014

Die Verbode Weg





Daar word dikwels na ons verhouding met God verwys as ‘n reis of ‘n pad. Die bekende skildery wat in menige sitkamer gehang het, van “De breede en de smalle weg”, ken ons ook goed.

Volgens hierdie skildery is daar ‘n breë pad met allerhande onsedelikhede daarlangs, en dit bring jou uiteindelik uit by ‘n vuurpoel. Hierdie pad is maklik en aanloklik en baie mense stap hierdie pad.
Die tweede pad is smal en moeilik begaanbaar, met verskeie struikelblokke en uitdagings en ‘n lewe van uiterste morele onthouding, maar die uiteinde van die pad is God se stad met goue strate.
Bo-aan die skildery is God se alsiende oog wat alles fyn dophou.

“De breede en de smalle weg” is natuurlik gebaseer op die teks in Matteus 7:
13 -
“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die
verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed,
en dié wat daardeur ingaan, is baie.
14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad
daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Volgens hierdie skildery (en baie van ons se verstaan) begin ons verhouding met God by ons moraliteit en ons morele keuses oor wat reg en verkeerd is, maar dis beslis nie waaroor  ’n verhouding met God gaan nie.  Om ’n kind van God te wees gaan nie daaroor om net weg te bly van ’n klomp sonde af nie. ’n Verhouding met God gaan in die eerste plek oor wie God is en of ek dít verstaan. As ek iets verstaan van wie God is, verander dit alles, want dit verander hoe ek na myself kyk. Daarom gaan ’n verhouding met God ten diepste oor wie ek is. Wat ek doen vloei met ander woorde uit wie ek is. Wat ek doen (die morele aard van my verhouding met God) is dus ondergeskik aan wie ek is (die ontologiese aard).
In die skildery van Carl Spitzweg met die titel “Die verbode weg” sien ons drie mense. ’n Paartjie in die verte wat wel  besluit het om die “verbode pad” te kies en die man op die voorgrond wat homself voor die versperring bevind. Nou is die vraag: Wat sou hom verhoed om die versperring op te lig en ook die “verbode pad” te kies?

Vanuit ons perspektief is dit nie in die eerste plek sy moraliteit of sy sin vir wat reg of verkeerd is wat hom sal verhoed nie, maar in die eerste plek sy identiteit, wat baie diep binne hom ’n stem laat hoor wat sê: God se karakter bepaal my karakter. Wie God is bepaal wie ek is. Daarom kies ek om sekere paaie nie te stap nie. Nie omdat die pad in die eerste plek verkeerd is nie, maar omdat ek vanuit my identiteit as God se kind nie kan sien hoe ek daardie pad, en die meegaande gevolge, kan kies nie.

Dikwels kies ons natuurlik die pad wat nie na die lewe lei nie, selfs al weet ons wie ons ten diepste is. God nooi ons om toe te laat dat die trek-kragte na Hom en die stoot-kragte weg van die spreekwoordelike “verbode pad”, al sterker word sodat ek in die diepste aspek van my bestaan getransformeer kan word tot iemand wie se lewe in meer en meer opsigte getuig van ’n pad wat na die Lewe lei.