Tuesday, April 12, 2016

Voor my eie deur






Een van die dinge wat ons mense graag doen is om ander mense of omstandighede te blameer vir waar ons ons bevind. Dis natuurlik ’n volkome menslike verskynsel. Soms blameer ons nie blatant of doelbewus nie, maar vind ons onbewuste redes oor waarom ons is soos ons is, of optree soos ons optree. Deel van geloofsvolwassenheid is dat ek sal leer om vir myself, my gedrag en my optrede verantwoordelikheid te aanvaar. Hierdie is ’n moeiliker saak om te takel as wat ons dink.


Een populêre manier waarop Christene uit ’n bepaalde tradisie kies om hul verantwoordelikheid vir hulself te ontduik is die konsep van bloedlynvloeke. Hier word ’n teks soos Eksodus 20: 5 redelik uitmekaar geruk: Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat... Volgens hierdie teorie word jou voorgeslag of bloedlyn die rede waarom jy sekere gedrag openbaar en glo mense dan maklik dat dit nie entlik hulle skuld is dat hulle so is of optree nie, maar dat hulle willose slagoffers is van die “sondes van die vaders”. Dis ’n baie gevaarlike manier om hierdie teks te gebruik, want of mens dit nou wil weet of nie, dit is ’n baie slinkse manier om nie voor jou eie deur te vee nie. 

Carl Jung het vanuit ’n ander hoek oor dieselfde saak geskryf: “But no matter how much parents and grandparents may have sinned against the child, the man who is really adult will accept these sins as his own condition which has to be reckoned with. Only a fool is interested in other people's guilt, since he cannot alter it. The wise man learns only from his own guilt. He will ask himself: Who am I that all this should happen to me? To find the answer to this fateful question he will look into his own heart.”

Die laaste sê oor ons verhaal behoort nie aan ons genetiese predisposisie of ons oorerflike eienskappe of die verhaal van ons verlede nie, maar aan die realiteit van Jesus se opstanding in ons lewe en die pad van lewe waarop God ons wil lei. Of soos die Eksodusteks in vers 6 sê: “...maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam”.

Omdat ons as gelowiges vanuit die krag van die opstanding kan leef, gee God ook aan my die moed om vir myself en my eie gedrag en geneigdhede verantwoordelikheid te aanvaar, om inderdaad te leer hoe om voor my eie deur te vee, nie ander te beskuldig vir hoe dit met my gaan en wie ek is nie en veral, toe te laat dat die Here my transformeer tot die mens wat Hy gedroom het ek sal wees.

Thursday, April 7, 2016

'n Ander manier van sien



So ruk gelede lees ek die verhaal van ‘n vrou met die naam Concetta Antico. Haar storie het my op ‘n besondere manier geraak. Sy ly aan tetrachromasie, ‘n rare genetiese kondisie, wat haar meer as een honderd miljoen skakerings van kleur kan laat sien. Vergelyk dit met die gemiddelde menslike oog wat ongeveer een miljoen skakerings kan onderskei. Daar is minder as 1% van alle mense wat deur die kondisie beïnvloed word.
Sy verduidelik dat as ek en jy na ‘n blaar kyk sien ons groen. As sy na die blaar kyk sien sy magenta strepe in die binnekant met allerhande skakerings van turkoois en groen om die rand van die blaar. Waar die lig ‘n skaduwee teen die muur gooi en ons net grys sien, sien sy skakerings van laventel en violet en turkoois. Volgens die neuroloog wat haar toestand navors, sien sy inderdaad die wêreld anders as ander mense.

As ‘n dogtertjie van sewe het sy al agtergekom dat sy ‘n ander manier van sien het as alle ander mense. Sy het toe alreeds reproduksies van Cézanne, Van Gogh en Monet geskilder. Dis ook nie verbasend dat sy vandag ‘n kunsonderwyser en kunstenaar is nie. 

Die wrede ironie is dat haar dogter aan kleurblindheid ly, wat deur dieselfde genetiese mutasie veroorsaak word, en soos  Concetta se kondisie is daar niks wat daaraan gedoen kan word nie. Stel jou die kontras tussen hulle voor: vir albei lyk die wêreld anders as vir die meerderheid van mense, maar vir die een omdat sy alle kleure en nog meer kan sien, en vir die ander omdat sy sekere kleure glad nie kan sien nie. En dis hulle werklikheid. Nie een van hulle kan hulle manier van kyk verander nie, al probeer hulle ook.

Dit klink wonderlik om só soos sy te kan sien, maar dikwels beleef sy sensoriese oorlading. Van die oomblik dat sy haar oë soggens oopmaak word sy oorweldig deur die ongelooflikste kleure: in die houtvloer, in die tandepasta, in die vrugtebak op die kombuistafel. Voortdurend is daar golwe en golwe kleur wat oor haar spoel. Natuurlik is dit ‘n ongelooflike gawe om so te kan sien en sy besef dit, maar soms word haar sintuie net heeltemal oorlaai. Die vraag is dan: Wat is haar gunstelingkleur? En die antwoord is: suiwer wit… Want dit gee haar vrede en maak haar rustig.

Haar verhaal het my laat dink aan die verhaal van Paulus in Handelinge 9. Ons lees daar hoe Paulus vol bravade dink dat hy kan sien en dan letterlik met blindheid geslaan word sodat hy kan besef dat hy nie sien nie. Wanneer Ananias daarna vir hom bid, sê die Bybel, het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en skielik het hy die hele realiteit anders gesien. Skielik het daar ‘n kaleidoskoop van kleur voor hom oopgebars waarvan hy voorheen totaal onbewus was en nou vir die eerste keer begin hy sien soos God sien. 


Hoe werk dit dat soveel van ons vir jare deel is van die kerk en selfs op ‘n sekere vlak in Jesus glo, maar werklik “kleurblind” is en nie die kleure van God se realiteit kan sien nie? Dis eers as God iets in ons geestelike genetika verander dat ons op ‘n dag begin agterkom dat ons anders sien, anders as die res van die wêreld. Geleidelik kom ons agter dat daar ‘n kaleidoskoop van kleur in God se palet is wat ons wil help om die werklikheid en ander mense en onsself en Hom en ons lewensprosesse op ‘n totaal ander manier te sien as voorheen. 

Natuurlik kan ons oorlaai word deur alles wat ons sien en ervaar en beleef, en daarom het ons ook, soos Concetta Antico, wit spasie nodig waar ons by God tot rus kan kom voor ons weer ons oë oopmaak vir ‘n ander manier van sien.

Die uiteinde van hierdie pad



Daar is hierdie gesegde wat lui: Maturity is mastering the basics. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dit is waar. Om geloofsvolwasse te wees beteken nie dat ek my met allerhande boheemse en buitengewone geloofsdinge besig hou nie, maar juis dat ek besig is om met die fundamentele of basiese dinge te worstel en dit te leef. Dit klink natuurlik nie baie spiritueel of romanties nie. Ek vermoed dat baie mense dink hoe langer jy met God op pad is, hoe meer maanskyn en rose is daar in jou geloofslewe. Die waarheid is eerder dat hoe langer en hoe dieper jy die pad stap, hoe meer uitdagend word dit en hoe minder naïef raak mens oor die maklikheid of gemaklikheid van ‘n verhouding met God. Of soos iemand eenmaal gesê het: The first step is extremely difficult, from there on it gets more difficult.
Waarom sou dit so wees? Ek dink soos die tyd aangaan begin mens jouself stelselmatig meer raaksien en sien jy dinge in jouself raak waarvoor jy voorheen totaal blind was. Dit opsigself is geweldig konfronterend, want waar ek voorheen doodeenvoudig nie van sekere dinge bewus was nie staar dit my nou in die oë. Dit lei daartoe dat ek elke keer op nuwe maniere met my maskers en mure en verdedigingsmeganismes gekonfronteer word, en dat ek nooit by ‘n punt in my verhouding met God kom waar ek kan dink ek het dit nou mooi bemeester nie. Die oomblik as ek dit dink, moet ek weet daar wag ‘n groot verrassing op my slinkse en heilige ego. Die gevolg is dat ek meer gestroop, meer ontmasker, meer agendaloos en meer nederig voor God staan.
Ek beleef hierdie elke jaar met ‘n nuwe rondte van Viam Dei aan my eie lyf.
Hierdie jaar besef ek weer opnuut hoe kontrakultureel ‘n dieper pad met God is en dat dit alles van mens vra om jou aanhoudend oop te stel vir God se Gees en om voortdurend toe te laat dat God in jou werk en jou transformeer. Dinge wat ek 5 jaar gelede gedink het ek mooi onder die knie gehad het is nou vir my moeilik, nie noodwendig omdat ek slegter vaar nie, maar omdat ek al meer besef wat die volle implikasie daarvan in my lewe is en hoe dit my uitdaag om te sterf en te groei.
Gelukkig weet ons dat hierdie proses nie in ons eie hande is nie. Wat ‘n reuse genade is dít nie!

Hoeveel keer nooi Jesus ons nie om agter Hom aan te kom en Hom te volg nie? Boonop het hy aan ons die wonderlike gawe van sy Gees gegee wat ons voortdurend teruglei na Sy pad, en ons aanhoudend leer en herinner waaroor ‘n verhouding met God nou weer gaan en wat Jesus se pad behels.
As ek met anders woorde voel dat dinge moeiliker en meer uitdagend raak, is dit nie omdat ek slegter vaar nie, maar is dit juis omdat ek beter begin sien en God se Gees my na dieper plekke wil lei in my verhouding met Hom en in my eie proses van transformasie tot die nuwe mens wat God my bedoel het om te wees.
Niemand het ooit gesê dat ‘n verhouding met God op hierdie aarde eenvoudig gaan wees nie. Maar die uiteinde van hierdie pad kan met geen ander proses vergelyk word nie.


Ek ontmoet jou hier



So paar Sondae gelede is dit tyd vir Nagmaal by die Ooskerk. Dis my beurt by die Gesinsdiens. Ek verduidelik baie mooi dat ons eers die brood en die wyn (in die Gesinsdiens se geval altyd druiwesap) gaan uitdeel en dit dan almal saam gebruik. Ek verduidelik weer waaroor die Nagmaal gaan en alles verloop sonder chaos. Na die Nagmaal is die diens basies verby. Ek bid, ons sing een laaste liedjie en ek spreek die seën uit. Na die seën is daar gewoonlik so halfminuut waar ons almal stilsit sit en na ‘n kort naspel luister. Almal sit doodstil. Maar die oomblik toe die eerste mense begin opstaan, is daar omtrent ‘n ontploffing van kinders. Hulle pyl op die Nagmaalstafel af en begin dadelik al die oorblywende brood opeet en sap opdrink. Ek staan geamuseerd en kyk hoe baldadig die klomp kinders die klein blokkies brood en die glasies wyn verorber – asof dit die lekkerste ding is wat hulle nog ooit gesien het. Daar bly letterlik nie ‘n krummel of ‘n druppel oor nie.
Ek staan en dink dat ek so bly is vir die tradisie waarbinne ons staan, want in ander tradisies sou dit wat hier gebeur het ontheiliging van die Nagmaal wees. In ons tradisie is dit een van die hoogste vorms van viering – dat die kinders, wat verstaan, maar tog ook nie, sonder skroom soveel van die brood en wyn eet as wat hulle kan, tot alles op is.
Daardie oggend besef ek weer dat die tekens van die brood en wyn nie een of ander spesiale maatreël was waarmee Jesus mense wou uitsluit nie, maar juis ‘n manier om mense in te bring. Soos die aand toe ons nie genoeg diakens gehad het om die Nagmaal te bedien nie en die eerste ou wat aanbied om daarmee te help ‘n jong man is wat pas geskei is omdat hy sy vrou vir die soveelste keer verkul het, maar by die kerk kom troos soek het vir sy gebrokenheid. Die Nagmaal was nie oorspronklik bedoel om die wat dink dat hulle heilig is nog heiliger te laat voel nie. Dit was juis bedoel om die wat weet dat hulle gebroke is, te help besef dat hulle in Jesus Christus ingenooi word tot ‘n heel lewe. Die intieme simboliese handeling, van om die brood as Jesus se liggaam en die wyn as Jesus se bloed in jou in te neem, wou juis bevestig dat Jesus in jou wil inkom en deel van jou bloedstroom word en jou hele lewe wil nuut maak en oorrompel.
Johan Heyns het op ‘n stadium vir ons vertel hoe hy as jong dominee die oggend na Nagmaal by die koster se huis verby huis toe stap en deur die draad geskok sien hoe die koster die Nagmaalsbrood aan die hoenders uitdeel om te eet. Net daar besef hy dat dit is hoe dit veronderstel is om te wees – dat selfs die hoenders mag deel aan die Goeie Nuus van Jesus se kruisiging, sterwe en opstanding.
In die Laudate diens lees Jaco elke week hierdie aangrypende woorde:
The table of bread is now to be made ready.
It is the table of company with Jesus,
And all who love him.
It is the table of sharing with the poor of the world,
With whom Jesus identified himself.
It is the table of communion with the earth,
In which Christ became incarnate.
So come to this table, You who have much faith,
And you who would like to have more;
You who have been here often,
And you who have not been for a long time;
You who have tried to follow Jesus,
And you who have failed;
Come.
It is Christ who invites us to meet him here.
Jesus nooi my en jou nie net telkens deur die Nagmaal nie, maar elke dag deur die sakrament van die lewe om nie ver te staan en kyk nie, maar om soos die kinders daardie Sondagoggend sonder skroom van die wyn en brood te eet. Hy sê elke dag op allerhande maniere, en spesifiek deur die tekens van die wyn en brood: Kom. Ek nooi jou. Ek ontmoet jou hier.

Stof tot stof



Ek moes al ‘n klomp kere met mense se as te doen hê by begrafnisse.  Elke keer verbyster dit my om te dink dat die persoon se aardse bestaan nou tot hierdie hopie as gereduseer is wat omtrent in ‘n papbakkie kan pas.
Die afgelope tyd het ons weer Aswoensdag as die begin van Lydenstyd herdenk.  Baie mense dink dat Aswoensdag daaroor gaan om spreekwoordelik as op my kop te gooi omdat ek so slegte mens is, maar eintlik wil Aswoensdag baie meer as dit doen.
Die teoloog, Walter Brueggeman, help ons om by ‘n ryker verstaan te kom. Eerstens wil Aswoensdag my herinner dat ek maar net ‘n mens is.  Ons vergeet soms ons dat ons uit die “stof”, uit die niks ontstaan het, dat ons aan die aarde behoort en dat ons mense nie lewe as sulks kan skep nie, maar van God se lewensasem afhanklik is.  Die lewe binne-in ons is met ander woorde nie “self-starting” nie, maar afhanklik van God se lewensasem.  Al die stemme wat ons roep na mag en sukses en beheer en welvaart hou ons soms onder die waan dat ons meer onafhanklik en selfonderhoudend is as wat ons is.
Tweedens word ons bewus gemaak dat ons as mense van die aarde ook ‘n verantwoordelikheid het teenoor die aarde en daarom nie sommer maar net op ons selfgerigte en egosentriese manier kan voortgaan nie. Ons word geroep om met verantwoording te leef teenoor die plek, die mense en die omgewing waar ons daagliks leef.  Om ‘n lewe te leef wat sin maak, binne God se groter droom.
In die derde plek roep Aswoensdag ons om te besef dat God getrou is en ons te midde van ons menslikheid nooit los of aan ons eie genade oorlaat nie, maar juis vir ons menslikheid lief is en ons in groot deernis koester met ‘n onsterflike liefde.  Niks beaam dit beter as die woorde van Psalm 103 nie:

8 Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. 9 Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. 10 Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 11 want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. 12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. 13 Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. 14 Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. 15 Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n veldblom wat oopgaan: 16 as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. 17 Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte...
 
Volgende keer as ek weer met die klein boksie as in my hande staan sal ek nie net dink “Stof tot stof nie”, maar sê “Dankie vir my stoflikheid, Here.  Help my om voor ek stof word, terug te ploeg in die lewe en elke dag diep bewus van my afhanklikheid van U te leef.”

Bewaar my van maklike antwoorde



Die tema van sterf aan jouself is waarskynlik een van die mees sentrale, maar terselfdertyd ook die mees ingewikkelde Evangeliese konsepte om te verstaan.  As daar maar iewers ‘n bloudruk bestaan het vir presies wat dit behels en as daardie bloudruk vir almal dieselfde was, sou dit tog wonderlik wees, maar ek is bevrees dat dit nie so eenvoudig is nie.

Daar is baie mense wat bely dat hulle in Jesus glo, maar wat waarskynlik nie met hulle lewens verstaan wat “sterf aan jouself” beteken nie. Ek kan nie bely dat ek in Jesus glo, maar in my lewenskeuses en lewenstyl swaai ek nog steeds op alle gebiede self die septer nie. Hierdie tendens onder gelowige mense veroorsaak ‘n teenreaksie en bring mee dat sommige die uitnodiging om aan jouself te sterf op só manier verstaan, dat hulle heeltemal na die anderkant oorhel. Dat hulle hulself so misken en ontken en ooreis dat hul verstaan van “sterf aan jouself” nie meer tot eer van God is nie, maar destruktief en selfvernietigend.

Ek bevind my byvoorbeeld ‘n week of wat gelede twee dae na mekaar in min of meer dieselfde situasie. Die een dag skep ek vir nege mense kos op en aan die einde van die pot het ek nie vir myself ‘n porsie oorgehou nie. Die volgende dag skep ek weer vir dieselfde groep mense kos op, maar toe al die borde uitgedeel is, is daar nie ‘n bord vir my nie. Ek het vergeet om myself te tel! Mens sou kon reageer en sê: “Sjoe, dit is darem selfloos”, maar dis nie selfloos nie. Dis ook nie sterf aan myself nie. Dis sommer net hartseer.

Om een of ander rede sukkel ons mense om ekwilibrium te vind en is ons soos die spreekwoordelike pendulum voortdurend aan die kant van twee uiterstes.
Wanneer ons genooi word om onsself prys te gee gaan dit nie oor ‘n asketiese prysgawe van alles in die wêreld, van alles waarvan ons hou en van alles wat bepaal wie ons is en ons diepste behoeftes nie. Dit gaan wel daaroor om myself meer en meer aan God se wil vir my lewe te onderwerp. Om met ander woorde elke dag as ek opstaan, soos Jesus daardie aand in Gestsemané te bid: “Laat nie my wil vandag seëvier nie, Here, maar U wil.”


Wanneer ek myself aan God se wil onderwerp, leer ek al meer om te onderskei wat die werklik belangrike dinge is. Leer ek oor tyd om agter te kom op watter pad van sterf aan myself Jesus my nooi. En dit is helaas nie ‘n maklike saak nie. Trouens, dis ‘n hoogs persoonlike saak wat ons nie sommer met ‘n generiese antwoord durf aanspreek nie. Mag die Here my en jou help om in die diepste kern van ons bestaan te leer wat “sterf aan myself” in my lewe beteken en my bewaar van maklike antwoorde.