Wednesday, March 17, 2010

Sterre in die Stad



Baie mense se jy sien nie sterre in die stad nie. Totdat jy een oggend halfvier om geen rede by jou kombuisvenster staan en uitloer en die geluid van 'n verbygaande vliegtuig jou in die lug laat opkyk. Dan sien jy dit skielik: sterre in die stad. Baie van hulle. Jy hoor ook die honde van die buurt iewers blaf en die veraf suising van die nanag karre op die snelweg, jy hoor die tip-tap van gisteraand se laataand reen, jy ruik die sterk, soet, heilsame geur van nat grond, en al se wie wat, jy sien sterre in die stad.