Wednesday, December 18, 2013

Deur die mis




My hele ou gesinnetjie van herkoms het so klompie jare gelede besluit dat hulle na die Natalse Midlands trek. Twee maal per jaar, wanneer ons die 5 uur lange tog aanpak, kondig die digte mis anderkant Mooirivier aan dat die eindbestemming om die draai is. Gister was geen uitsondering nie. Elke keer, gister weer, trek my keel ondmiddelik toe en my hart klop in my keel, want skielik herinner die mis my aan ‘n oorweldigende geloofswaarheid: EK KAN NIE SIEN NIE!
Die lewe is nie anders as hierdie mistige stukkie pad nie. Ek dink ek het soveel insig en beheer, maar dit neem maar iets kleins om my in my spore te stuit en bewus te maak van my kwesbaarheid en uitgelewerdheid. Die onvoorspelbaarheid van die lewe roep my chronies om nie op myself nie, maar op God se droom vir my lewe te vertrou. Die groot uitdaging is natuurlik, soos met die pad buite Mooirivier, om maar net aan te hou om die petrol te trap, om maar net die pad te volg, om meter vir meter te beweeg en, al moet dinge effens stadiger as wat ek wil, te vertrou dat ek wel aan die ander kant sal uitkom en dat die Son aan die anderkant van hierdie miswolk skyn.

Met letsels en al









Iewers het Joaquin Sabina geskryf: I like eating, conversing, kissing and falling in love in a passionate and intense way. When you live this way, it is normal to have scars.
Dit klink natuurlik tegelyk romanties en skrikwekkend, maar die realiteit is dat die meeste van ons se lewe nie so passievol geleef word nie, al probeer ons hoe hard. Op 'n manier gebeur die lewe maar met elkeen van ons, en ons kan daarteen rebelleer so hard soos ons wil: die rekenings moet betaal word, om te eet kos geld en die sleur van 'n lewe maak kry ons maar altyd weer ongevraagd aan die hakskeen beet. Of jy nou daarin slaag om passievol te leef en of  'n passievolle lewe beperk is tot uitskieter geleenthede in jou lewe, jy gaan in elk geval met letsels daar wegstap.
Die lewe het eenvoudig die manier om ons met letsels te laat, maar dis maar hoe dit is. Hoe anders sal ons groei? Die groot vraag is of ek daarin kan slaag om die letsels met trots saam met my verder te dra, soos 'n diploma, en of ek gaan toelaat dat die letsels my wind uitskop en ek verksrompel in die hoek bly leef. 
Richard Rohr stel dit treffend: If you don't transform your pain, you will transmit it. Wat doen jy met jou letsels en pyn? Wend jy dit aan in die lewe wat jy elke dag leef sodat jy juis in die gewone met meer passie kan leef of word jy die slagoffer van jou eie vrese en verskonings, omdat jy iewers seergekry of teleurgestel is.
Dalk is dit deels wat Jesus bedoel in
Joh 10: 10 Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Tuesday, December 10, 2013

Boeke wat werelde oop kan sluit



















Inspirerende stories vir die vakansie


Die stem van die lyf






Gister was een van daardie dae wat jy die oggend jou oë oopmaak en weet ek kan nie meer nie. ‘n Dag waarop jou lyf in groot hoofletters skree STOP! Een van die dilemmas van ons tyd is dat ons al meer en meer verleer om na die fluisterende intuïteiwe stem van my lyf te luister. Ek verwonder my altyd oor die dispariteit in ons verstaan van die liggaam en die siel. So asof die liggaam op ‘n ander planeet woon as die siel. Deel van ons spiritualiteit is tog dat God aan ons liggame gegee het waarmee ons vir ‘n paar dekades die aarde kan bewandel. As hierdie lyf dan sê, ek is moeg of ek voel siek of ek het nou te veel gehad, lê daar tog iets daarin om na haar te luister.
Hiermee sê ek nou nie dat ons na die ander kant van die pendulum moet swaai en die stem van my lyf gebruik as die verskoning om so min as moontlik te doen nie, want dis natuurlik die volgende gevaar. Juis daarom is rustye, Sabbatstye, vakansietye, so onontbeerlik. Dis in sulke tye, wat ek doelbewus en vooraf moet kies, dat ek my met groot vrymoeidgheid aan die intuïtiewe stem van my lyf oorgee en STOP. Nie omdat daar niks meer oor is om te doen nie, maar doodgewoon omdat dit tyd is om te stop.
Die lysie op die tafel kan regtig wag vir more. Die leë yskas kan maar nog ‘n dag leeg bly. Daai dringende taak is dalk regtig nie so dringend soos ek glo nie. So het my dag gister daaruit bestaan om nadat almal gevoer en afgelaai is, ‘n fliek te kyk (Pope Joan – wat my diep geraak het), vyf rye te hekel met Anna se nuwe wol, te luister na Obama op TV, te lê en staar na die kers op my bedkassie, ‘n sjokoladesous te bou en salig en rustig saam met Francois en Liezl te kuier terwyl ons diep dinge en nonsens praat.
Ons almal sukkel natuurlik nie met dieselfde goed nie, maar ek sukkel maar om na my lyf te luister. Hierdie tyd van die jaar gee ek my oor aan al die nie-rasionele realiteite van my lewe en ek luister fyn. So, in die stilte en die fisiese vrede, word altyd nuwe dinge gebore.



Gedenkdiens vir Madiba

Ag, Here God,
mag die geluid van reën
op sinkdakke,
stofstrate en
teerpaaie
op hierdie vreemde dag
die eerste note wees
van 'n nuwe dans
vir my en elkeen
in ons breekbare, brose,
beeldskone land.