Saturday, December 6, 2014

Die mees patetiese winkel



Ek stap by Waverley se Checkers uit en voor my storm ‘n woedende tannie verby met drie pakkies en  ‘n verdwaasde omie agterna. Sy sis deur haar tande:  Hierdie is is wragtag die mees patetiese #$%@& winkel wat ek nog ooit gesien het. Sy storm voort. En die omie op ‘n draffie agter haar.
En ek sê vir myself:  Ek dink nie hierdie is regtig die mees patetiese #$%@&  winkel wat ek nog ooit gesien het nie. Ek was ook nou net daarbinne. En my ervaring was heel aangenaam. Trouens is my ervaring hier meestal heel aangenaam, en ek kom een maal per week hier. Toe dink ek: Dalk voel sy elke keer hierdie is regtig die mees patetiese #$%@& winkel wat sy nog ooit gesien het, want dalk kom sy ook een maal per week hier. Maar aan die ander kant beleef sy dalk vandag net ‘n werklike slegte dag en ek sal mos nou nooit weet presies wat alles vooraf in haar dag gebeur het en wat op daardie oomblik in haar gemoed en hart aangaan nie.

Wat ek wel besef is dat ons persepsies inderdaad ons werklikheid bepaal. En dat hierdie persepsies nie noodwendig op die werklikheid gebaseer is nie, maar uit en uit op my manier van dink. Hoeveel keer was ek nie al self in situasies waar ek na maande en selfs jare se vaste oortuiging besef dat die sogenaamde realiteit waaraan ek vasklou en waarvoor ek kwaad is regtig net in my kop bestaan het nie. En dit is nogal ‘n vernederende besef, want dit beteken dat ek nie net onnodig vir jare ander mense se lewe hel gemaak het oor hoe ek dink nie, maar dat veral ek ‘n gevangene was van my eie skewe manier van dink.

Bewustelikheid in my verhouding met God gaan onder andere ook daaroor om al meer daarvan bewus te word dat die realiteit dalk anders daaruit sien as wat ek dink en dat ek oop genoeg raak om daarvan oortuig te word, selfs al voel dit onmoontlik. Die eerste stap om die hok se deurtjie oop te maak is om te vra: Is daar ‘n kans dat hoe ek hieroor dink op ‘n onwaarheid gebaseer is?, en dan werklik oop te wees vir die proses wat volg.

Dalk nooi God my om nie net hierdie tyd van die jaar te reflekteer oor gebeure en verhoudings en keuses nie, maar ook om te reflekteer oor die oortuigings en persepsies van ander en myself en die lewe, en toe te laat dat my persepsies al meer in lyn kom met God se manier van kyk en dink oor die lewe as sulks.



Net 'n kind



Ek staan in die hospitaal langs die bed van ‘n baie siek man. Hy slaap. As ek nie later vir hom laat weet nie, sal hy nooit weet dat ek daar was nie. Hy lê klein en broos opgekrul onder die lakens, sy hare nat van koors. Ek staan doodstil, bang dat ek hom sal wakker maak. Ek bid vir hom in my hart. Ek draai sag om en loop op my tone uit.
Toe ek buite die hospitaal kom is dit oral net sonskyn en karre en voëls in die bome. ‘n Gewone dag. Maar agter my, aan die anderkant van die glasdeur, is ‘n wêreld vol broosheid en kwesbaarheid, elkeen uitgelewer aan die genade van ander.
Meteens wonder ek of die wêreld waarbinne ek nou staan nie soms die skans verteenwoordig wat ons almal moet voorhou nie, naamlik dat ons sterk en selfstandig en onbreekbaar is. Is die hospitaal-wêreld nie dalk die plek wat vir ons iets wys van wie ons mense meermale in onsself is nie – broos, blootgestel en bang. Skuil daar nie dalk diep en stil in ons elkeen ‘n brose, blootgestelde, bang kindjie nie? Is ons ego’s en persoonlikhede en maskers nie miskien die fasade waaragter ons skuil in ‘n poging om die brose kind in onsself te verdoesel nie?

 
In die daaropvolgende dae sien ek die brose kind oral om my. In die man wat woedend en ongeskik op die winkelassistent skree. In die ma wat haarself afsloof vir haar familie en verwerp voel omdat niemand raaksien wat sy doen nie. In die pa wat sy kinders dryf tot perfeksie, tot breekpunt toe. In die vrou wat nie die pyn van haar lewe wil hanteer nie en haarself onder narkose plaas met witwyn en pynpille. In die oupa wat nog steeds loop en spog met al sy besittings en prestasies en sukses. In die ou tannie wat nooit kon groei tot gelykmatigheid nie en haar familie ‘n lewe lei met haar wisselende buie en onuithoudbare verwyte. Agter hierdie fasade skuil daardie kind.

Sou die wêreld nie dalk ‘n sagter plek word as ons kon begin om van ons eie broosheid en kwesbaarheid bewus te word nie? Stel jou voor wat sou kon gebeur as ons daarmee voor God kon gaan staan en aan God en aan onsself sou kon erken dat ons meermale broos, blootgestel en bang voel. Ons sou dalk onsself in die oë kon kyk en, meer nog, by ons eie “show” verby kon kyk. Ons sou waarskynlik kon omdraai en besef dat die meeste ander om ons maar ook, onsigbaar diep, ‘n brose kind saamdra.

Daarom sou ons met groter deernis met mekaar omgaan, effens langer stilstaan om iemand begrypend in die oë te kyk, minder veroordelend wees omdat ons agter die bravade van die fasade insien, en vanuit ons eie broosheid oop wees sodat God ons kon aanraak om in ons diepste kern heel en gesond te word.

Dalk is dit in hierdie tyd die grootste guns wat ons aan onsself en almal om ons sou kon bewys:
om te erken – hierbinne is ek dikwels maar net ‘n kind – broos, blootgestel en bang. En God weet dit.