Thursday, February 11, 2016

Herwinning op 'n ander vlak



Dis ‘n voorreg om die lewe deur die oë van ‘n kind te beleef. Met Mathilda wat hierdie jaar in graad 4 is kom sy met allerhande wonderlike nuwe ontdekkings by die huis aan oor hoe die wêreld werk. Hier is die spreekwoord: “Wat ek al vergeet het, moet sy nog leer”, regtig van toepassing.

So kom sy verlede week by die huis en sê: “Mamma sal nie glo wat ons geleer het nie. As ons mense ons vrot asems uitasem, vat die plante dit en maak daarvan suurstof sodat ons weer gesonde lug kan inasem!” Vir ons grootmense is dit algemene kennis, maar as jy 9 jaar oud is, is dit niks anders as ‘n wonderwerk nie. Dink net: as ons koolstofdioksied sou inneem sal ons doodgaan, maar as die plante dit inneem word dit herskep tot iets wat vir ons lewe gee. Hierdie is ‘n ongelooflike metafoor vir die vlak van herwinning waarop God werk.
 
Die Bybel is vol daarvan dat God klaarblyklike onbruikbare en gebroke lewens neem en dit nuut maak, heel maak, transformeer en herwin tot iets baie meer as wat dit voorheen was. Een van vele gedeeltes in die Bybel waaraan ek dink is Esegiël 36:26:
En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee.  
(Sien ook Jesaja 1:18 Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. En Psalm 51:11 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees. En 2 Kor 3:18: Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.)
Daar is letterlik niks in my lewe, geen donker geheim, geen hartseer, geen pyn of bitterheid, geen lewensomstandighede, wat nie in God se herwinningsplan inpas nie. Dis wat God deur Jesus kom doen het:
Hy maak vandag nog alles nuut.
Hy herskep vandag nog alle vorme van koolstofdioksied wat uit ons lewens kom in suurstof,
sodat ons en almal met wie ons te make het, kan lewe.

Daarom kan ons maar baie gereeld hierdie woorde bid:
Here Jesus,                        
Verlig die donker in my                                 
Versterk wat swak is in my                                         
Maak heel wat gebreek is in my                 
Verbind wat gekneus is in my                      
Genees wat siek is in my               
En laastens, Here,                          
Gee lewe aan enige vrede en liefde                         
wat gesterf het in my.